Regisseur: Rehad Desai
Hierdie uitstaande dokumentêr was pas te sien by die Three Continents-filmfees. Die film is hoofsaaklik buitelands befonds en sal daar seker ook ’n veel groter gehoor kry as hier, soos dit maar met profete in eie land gaan. Dit terwyl dit eintlik verpligte kykstof in ons wye en droewe land behoort te wees – ernstige fliekkykers moet ’n plan maak om dit te sien.
Iewers in die toekoms gaan ons terugkyk op die geskiedenis van Suid-Afrika en drie gebeurtenisse sal uitstaan: Sharpeville 1960, Soweto 1976 en Marikana 2012. As betrokke filmmaker wat in die ou Suid-Afrika grootgeword het, wou Rehad Desai uiteraard die Marikana-slagting deurgrond, en hy het dit met onderskeiding reggekry. Met ’n dokumentêr soos hierdie het die filmmaker altyd die probleem dat dit ’n agternablik is. Die kyker weet reeds wat die uiteinde gaan wees: 34 mynwerkers is op 16 Augustus deur die polisie doodgeskiet. Desai gebruik die maklikste vertelstruktuur in die boek, naamlik die chronologiese verloop van gebeure vanaf 9 Augustus, maar behou die spanningselement deur te wys hoe die konflik voortdurend opbou, tot die uiteindelike slagting (’n term wat binne die konteks geen oordrywing is nie).
’n Agternablik het, interessant genoeg, ook ’n besondere sterkte: waar ’n mens destyds die nuus in skokkende brokstukke gekry het, verskaf die dokumentêr ’n geheelbeeld – en dan lyk die werklikheid heel anders, veral omdat Desai gebruik maak van beeldmateriaal van die polisie wat voor die Farlam-kommissie moes dien.
Hoe lank ons nog sal moet wag vir die finale bevindings van die kommissie, is onseker, asook of dié wat die bevele gegee het, verantwoordbaar gehou sal word. Te oordeel na die huidige regering se doen en late is die kans maar skraal.
Sterre: 

