Resensie: Melk en vleis en Bloed en bodem dur Marina Albertyn

  • 0

Titel: Melk & Vleis // Bloed & Bodem
Skrywer: Marina Albertyn
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485309680

Met die toename in geweld teen vroue in Suid-Afrika, is Marina Albertyn se werk meer relevant as ooit. In beide Melk en vleis en Bloed en bodem word die vroulike karakters tot die uiterste beproef. Albei vroulike hoofkarakters weier egter om as slagoffers beskou te word. 

In Melk en vleis laat 'n aktuaris, Medea, haar lewe in die stad agter om na 'n plaas in agter 'n jong boer, Johannes, aan te trek. Sy offer nie net haar loopbaan op vir hom op nie, maar belê ook haar spaargeld in die plaas. Haar man stel egter net daarin belang om van haar ’n broeikas temaak, al weet hy goed dat haar biologiese klok anders bepaal. Medea probeer voldoen aan haar skoonma en die VLV-dames se vereistes, maar dit is tevergeefs. Sy is middeljarig, bipolêr en nie ’n Christen nie. Medea vind slegs toenadering in Bongi, die huishoudster. Bongi en haar dogter Esona, tree as ’n soort Griekse koor op. Bongi is egter nie heeltemal gemaklik daarmee om uit Medea se teestel te drink nie. Medea stuur Esona na die dorpskool, waar sy deur die wit leerders geboelie word. Medea probeer om 'n helde-rol in hul lewens te vervul, terwyl haar eie lewe in duie stort. 

Toeëiening is vir sommige al ’n vervelige onderwerp, maar in die geval van hierdie drama is dit ooglopend hoe die swart karakters (Sibongile, Bongi en Esona) aan die kortste speen suig. Hulle word slegs  as instrumente ingespan om te wys dat Medea of “Mevrou”, soos hul haar noem, as ’n heldin in hul lewens tree.

Die ware trefkrag van die drama lê egter in die kompleksiteit van Medea en Johannes se verhouding wat met vlymskerp dialoog aan lesers opgedis word.

Met Bloed en bodem bied Albertyn ’n "boeresque"-verhaal met diefwering, dierveltapyte, kluise, Landbouweekblad-tydskrifte, plaasaanvalle en 'n kerkkamp vir mans. Hiermee slaag Albertyn op uitsonderlik wyse daarin om die realiteit op eerlike, soms ongemaklike wyse vir die verhoog oop te skryf. Soos met Melk en vleis speel die drama ook af in een vertrek - dié keer 'n voorkamer en nie 'n kombuis nie.  

Jana, ’n een-en-twintigjarige landboustudent keer terug na die plaas omdat haar oom Johan groot moeilikheid vir die plaas voorspel. Jana se pa is boonop 'n volslae alkoholis en hoogs depressief. Hy is natuurlik ook nie spraaksaam oor sy toestand nie. Die stiltes tussen karakters spreek boekdele, asook die passief-aggressiewe ompaaie waarmee die karakters soms met mekaar praat.

Gou leer ons ook dat Johan, die slinkse maar sjarmante oom, wil hê dat Jana die plase oorneem. Jana het egter ’n politieke agenda met Enele, die seun van ’n plaaswerker wat saam met haar grootgeword het. Met dié karakter kompenseer Albertyn vir die swart karakters in Melk en vleis se tekort aan drie-dimensionaliteit. Nie net word hy opgehemel deur Jana en haar pa, Boet nie, hy word ook as ’n troefkaart vir die plaas beskou. Enele laat hom egter nie om die bos lei nie. 

Dit is uiteindelik nie die magsverhouding wat die oorhand kry nie, maar oom Johan se mag oor Jana en Boet. Eers sodra Jana ’n aanval  herstel en Boet van ’n kerkkamp af terugkeer, besef ons die erns van die broederlike stryd. Dan tref die beskrywing op die omslag mens: “Twee plaasdramas oor grense, tradisie, grond en bloed.” Die ironie is uiteindelik dat die gevaar nie buite die traliehek is nie, maar binne.

Albertyn het ’n wonderlike vernuf met dialoog en dissekteer in hierdie dramas die Afrikaner se psige met ’n kritiese berekendheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top