Resensie: Manet – Portraying Life

  • 0

Manet: Portraying Life

Dokumentêre reeks: Exhibition: Great Art on Screen

 

Geruime tyd al kan liefhebbers van opera en teater van die beste internasionale produksies by die Cinema Nouveau-teaters sien. Nou is dit kunsliefhebbers se beurt met die reeks “Exhibition: Great Art on Screen”. Dié dokumentêre films van verskillende groot kunsuitstallings is spesiaal vir die rolprentkringloop gemaak, met Tim Marlow as aanbieder.

Die eerste in die reeks is Manet: Portraying Life, by die Royal Academy of Arts in Londen. Dit open op 20 Julie vir net vier vertonings elk by die V&A Waterfront, Brooklyn, Rosebank en Gateway. In September volg ’n film oor Edvard Munch en in Oktober oor Johannes Vermeer.

Manet (1832-1883) word algemeen – en verkeerdelik – beskou as die vader van Impressionisme. Hy had noue bande met die Impressioniste in Parys, maar het nooit saam met hulle uitgestal nie, en hy was by uitstek ’n kunstenaar wat sy eie kop gevolg het. In ’n tydperk toe portretkuns oorheers het, het hy dié genre vernuwe deur sy subjekte in ’n betekenisvolle sosiale konteks te plaas. Daardeur kan hy eerder beskou word as een van die vaders van moderne kuns.

Om ’n kunsdokumentêr te kyk, is so ’n bietjie soos rugby op Nuweland vs TV-rugby in jou sitkamer: die atmosfeer is nie dieselfde nie, maar jy sien soveel beter. Niks kom daarby om in die Prado te staan en na Hieronymus Bosch se Tuin van luste te kyk nie, of Guernica van vloer tot dak in die Thyssen Bornemisza, of jou te vergaap aan Dalí se kaperjolle in Figueras nie. Maar op die grootskerm kan jy elke kwashaal sien, elke kleurnuanse en gesigsuitdrukking. Kortom, jy kan die kunstenaar se briljantheid soveel meer waardeer as in ’n galery, en daarvoor verdien hierdie filminisiatief groot lof.

Tog het Manet: Portraying Life ’n paar dowwe kolle wat niks met die kuns te doen het nie. Eerstens moet jy vyftien minute wag voor die film begin, oënskynlik vir geen goeie rede nie (dit word darem opgekikker met veelkeusevrae oor die kunstenaar). Hier en daar voel dit soos ’n advertensie vir die Royal Academy, en daar is onnodige panoramaskote deur die vier vertrekke wat die uitstalling beslaan (as jy dit een keer gesien het, hét jy dit gesien). Die ergste is ’n stukkie musiek wat tot die graad van irritasie herhaal word.

Klagtes tersyde: daar is baie om te geniet, leer en waardeer in hierdie film, so al die kunskaatjies moet SterKinekor bedank en sorg dat hulle gaan kyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top