Resensie: Madness: Stories of uncertainty and hope deur Sean Baumann

  • 0

Madness. Stories of uncertainty and hope
Sean Baumann
Illustrasies: Fiona Moodie
Uitgewer: Jonathan Ball 
ISBN: 9781776190133

Dr Baumann skryf in sy inleiding dat hierdie boek ’n poging is om die skadelike maniere waarop ons aan geestesgesondheid dink, te verander. “Dit bring ook hulde aan diegene wat elke dag in ons gedeelde wêreld met hierdie misterieuse gewysigde geestestoestand saamleef.”

Hy het vir meer as ’n kwarteeu as kliniese psigiater in die manstoelatingsafdeling van Valkenberg-hospitaal in Kaapstad gewerk. Hy was ook ’n senior dosent in die Departement Psigiatrie en Geestesgesondheid by die Universiteit van Kaapstad. Hy het elke dag te make gehad met die innerlike stryd en versugting van pasiënte wat met geestesversteurings leef.

Sy spesifieke belangstelling is psigotiese siektes, veral die skisofreniespektrum versteurings en chroniese pyn. Hy is die redakteur van Primary care psychiatry: A practical guide for Southern Africa (1998, 2007, 2015). Sy kantata Madness: Songs of hope and despair is in 2017 by die Baxterteater in Kaapstad opgevoer.

Die hoofstukke sluit onder meer in: geweld; die idee van malheid; die gemeenskap se houding jeens geestesversteurings; depressie; skaamte; malheid en kuns; malheid en die teater; die biologie van waansin en medikasie.

Sy vertellinge is respekvol, vol empatie en deurdag. Dit neem die pasiënte se gesigloosheid onder ’n sambreelterm van “versteurdheid” weg. Dit gee waardigheid en insig. Sommige van sy beskrywings is só vol deernis dat dit trane na jou oë bring. Een of twee paragrawe uit sy gevallestudies is met soveel empatie uitgebeeld dat dit voel of jy daar was; asof jy deel was van die gebeurtenis.

Daar is aangrypende beskrywings van ’n pasiënt wat glo die hospitaal is deel van ’n sameswering wat hom sy lewe gaan kos; ’n ander jong man wat halflyf in die rivier staan, besluiteloos of hy na die ander kant moet stap of moet omdraai, terug hospitaal toe. Die verpleërs staan geduldig op die wal vir hom en wag. Maande later is dit ’n ander jong man wat daar in die water staan. Sy lyf word verteer deur Huntingtonsiekte. Die water is te vlak om in te verdrink. Sy mislukte selfdoodpoging was absurd en futiel; slegs ’n uiting van wanhoop. ’n Ander man word deur ’n stem aangehits om sy eie oog met ’n lepel uit te haal; ’n ander berei voor om die president te vermoor, omdat hy “voorgesê word” om dit te doen.

Die druk van te min beddens; die voortdurende waglyste van nuwe pasiënte wat hulp benodig, maar bestaande pasiënte wat nog nie gereed is om ontslaan te word nie, is ook ’n onderliggende spanning op hierdie man se skouers. En dan hier en daar die dokter se emosionele moegheid, maar altyd die hoop dat hy die volgende oggend met hernude hoop sal terugkeer. Tot hy ’n pasiënt verloor, en hy erken dis een van die moeilikste byprodukte van sy beroep.

Hy skryf dat die idee van malheid ’n problematiese en kontroversiële een is. “Deel van die probleem is terminologie. Malheid is ’n volksterm en is buite die konserwatiewe medisyneveld en deurtrek van die metafore.” Hy is voortdurend bang vir aanstoot gee, of dat hy misverstaan sal word, want hy wil niemand wat met enige versteuring saamleef – of hul familie en vriende – leed aandoen nie.

Dis die tipe boek wat jy in stukke kan (of in my geval, moet) lees. Dis asof ek met elke nuwe hoofstuk nie alleen insigte kry in die alleenwêreld waarmee mense met versteurings leef nie, maar ook insigte in my eie onkunde en gebrek aan empatie.

Hoe maklik maak mens uitlatings soos “Ek wil mal word”, “Dit dryf my tot raserny”, of “Inperking maak my gek.” Hoe ligtelik spot jy saam met jou vriendin oor haar selfgediagnoseerde AAD of sê jy vir ’n geliefde om uit die put van depressie te klim – “Dinge is tog nie só erg nie.”

Of soos Baumann skryf: “Valkenberg-hospitaal doem steeds beelde van vrees en afgryse by menige op. Dis ’n refrein van verwerping en vervreemding. Jy tel nie; jy is nie een van ons nie; jy is te anders as ons. Jy moet toegesluit word.”

Sy historiese perspektief oor die Liesbeekrivier en dat wat anderkant die rivier is – soos Valkenberg – illustreer hierdie opvattinge net verder.

Iets wat my bybly sedert ek die boek gelees het, is sy opmerking dat hy, wanneer hy saans ná werk huis toe ry, by die sterrewag verbyry, waar sy kollegas na die eindes van die heelal kyk. “Ek stel my ’n groot stilte voor; ’n ontsaglike kalmte – heeltemal in teenstelling met die hospitaal se tumult.” Maar dan erken hy dat hy hom misgis het. Sy kollegas sê die heelal is ’n draaiende chaos, wat enige dag kan kers vashou met die brein se waansin in ’n staat van uiterse nood. ’n Foto wat hy glo in ’n sterrekundejoernaal oor die uitspansel se buitewyke gesien het, is bykans ononderskeidbaar van ’n foto van die sentrale senuweestelsel.

Mens dink mos altyd iemand anders het dit makliker, of eenvoudiger, as die warboel waarin jy jou dalk kan bevind.

Sy epiloog oor die noodsaaklikheid van hoop laat jou besef dat in die donkerste tye van ons lewens, hoop nooit beskaam nie. En in ’n tyd in die wêreld wanneer dit soms voel asof alles mal geword het, is dit dalk die grootste boodskap wat hierdie boek by my laat.

Dit is ook wat Antjie Krog se aanhaling op die binneblad weergee: “Die boek dwing jou om te glo dat anderkant al die ellende en wanhoop, daar altyd hoop sal wees.”

Elke hoofstuk is treffend geïllustreer deur Fiona Moodie, ’n bekroonde kunstenaar. Haar wit-en-swart tekeninge bring die hoofstuk se tema en stemming by jou tuis, voor jy nog die eerste woord gelees het.

Baumann se boek illustreer vir my dat sy spesialisveld net vir ’n besondere tipe mens beskore is – jy gaan beslis nie in hierdie loopbaan in as jy van die kollig hou nie. Jy begewe jou in ’n donker wêreld waar wanhoop eerder as geluk en hoop die mantra is. Maar danksy mense soos hy is daar veilige plekke, waar daar hulp, hoop en heling kan gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top