Resensie: Kroniek van Donkerhoek deur Kees van Dijkhorst

  • 0

kroniek280Kroniek van Donkerhoek

Kees van Dijkhorst

Naledi 2016

Een van die voortreflikhede van hierdie boek is die slotsinne van die kort hoofstukke. Met elke hoofstuk behou jy jou konsentrasie baie goed, want die teks stu kragtig voort na die einde van elke  hoofstuk. Dis dan dat jy jou kan verlustig in die stemmingsvolheid van dié afsluitings. So is daar reeds in die heel eerste hoofstuk al iets helders wat jou bybly.

Daar’s tydaanduidings by sommige hoofstukke. Dit sluit aan by die “Kroniek” van die boektitel. Die kroniek, die verhaal van die plaas Donkerhoek, begin in 1982. Dis reeds vier geslagte in die Vorsters se besit. Hier word geboer met beeste en skape, en iets minder gewoon – ook met bome: plantasies denne, wattel en bloekom. Voortdurend is daar ’n brandgevaar.

Teen die einde van die 1982-hoofstuk word die Vorster-patriarg  Jaap, bruingebrand en bonkig, gedryf deur ’n stille woede oor die jongste skaapdiefstal.  Hy, sersant Smit en konstabel Khumalo is nou saam met ’n swart Duitse herdershond genaamd Wotan besig om die saak te ondersoek. Die soekgeselskap kom uit by ’n stat vir Swazi’s. Konstabel Khumalo druk verby ’n vrou en gaan ’n donker kookhut  binne. Hier vind hulle ’n skottel vleis. Sy probeer die manne weglei van  die verdagte, Sibanyoni. Maar hy word aangekeer en in ’n vol putlatrine afgedruk. Hulle dwing hom om te praat. Uiteindelik vertrek die geselskap. Die verdagte moet hom eers was voor hy geboeid saam met hulle weggaan.

Van Dijkhorst sluit  dié hoofstuk van vyf bladsye só af:

Vanuit die deur van die kookhut kyk die vrou hul agterna, ’n baba aan die bors en ’n kleuter aan die hand. Op die werf skrop die hoenders. In die stil oggendlug krys ’n witborskraai.

Daar is feitlik aan die einde van elke hoofstuk sulke evokatiewe sluiting. ’n Voorbeeld op bl 107:

Die treurige stoet vertrek met Jaap se lyk voor in Koos se Toyota, gevolg deur ’n drietal bakkies en heel agter die trekker   van Alpheus met sy twee seuns op die waterkar. In die koue nanag val die ligstrale van die voertuie flou op die buitenste bome van die dreigende dennebos.

Op die platagter van die boek word genoem dat Kees van Dijkhorst ’n oudregter, arbiter en bosbouer is. Van hom het twee bundels anekdotes verskyn: Die Hof verdaag en Arnoster en die prokureurtjie en ander vertellinge. Kroniek van Donkerhoek bevestig met dié sterk eindes dat hy beslis ’n aanleg vir kortkuns het.

Die kroniek strek van 1982 tot Oktober 2005. Hoe het die mense op Donkerhoek en die gemeenskap  van Mpumalanga as ’n geheel die regime van PW Botha en FW de Klerk beleef? Die Grensoorlog, die noodtoestand, die stryd om grondbesit en lone, regstellende aksie, moord en geweld? Kan blanke ouers dit aanvaar dat hul seun met ’n swart vrou trou?

Van Dijkhorst sluit in ’n sin hom aan by romanskrywers soos Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Eben Venter, Mark Behr, Berta Smit, Marita van der Vyver, Francois Loots en ander deurdat hulle ook ons land se geskiedenis sedert die jare sewentig, tagtig tot by die hede vergestalt. Hy skryf egter nie so omvangryk soos hulle nie.

Kees van Dijkhorst sluit ook by ’n ander tradisie aan. In ons letterkunde is daar nogal ’n aansienlike groep regslui wat ook ’n verskeidenheid literêre genres beoefen. Maar hulle skryf nie noodwendig oor hulle ervarings in die howe nie. Dit is daarom werklik opwindend om te sien hoe hy sy regskennis betrek by die dramatiese uitbeelding van ’n  hofsitting  (bl 266 tot 276). Dis ’n hoogtepunt in die boek. Boonop gebeur daar iets wat seker min van die karakters verwag het. Ook nie die lesers nie? 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top