Konfetti
Regisseur: Zaheer Bhyat
Spelers: Louw Venter, Casey B Dolan, Nico Panagio, Kim Engelbrecht, Casper de Vries, Suzanne Beyers
Komedie is die soort fliek wat ons Suid-Afrikaners die beste doen. Nie romantiese komedie nie, maar komedie soos hierdie wat nie die geykte “boy meets girl”-ding is nie.
Dis Jean (Nico Panagio) en Sherryl (Casey B Dolan) se troudag. Lukas (Louw Venter) is Jean se beste vriend, sakevennoot, troudagbeplanner én strooijonker. Tussen die drie van hulle is ook ’n ou liefdesdriehoek – inderwaarheid ’n vierhoek, want die uiters sexy sanger Bianca (Kim Engelbrecht) is deel van dieselfde geskiedenis. Nou ja, ’n goeie resep vir ’n ramp, en natuurlik is ’n troue die perfekte geleentheid vir almal se geraamtes om uit die kas te klater.
Benewens die hoofstorie, waarop die fokus heeltyd is en waarmee die spanningslyn volgehou word, is daar ook ’n klomp systories: Jean se Afrikaanse familie (Suzanne Beyers is wonderlik as sy ma) teenoor Sherryl se Joodse familie. Die skoonfamilie met die stout kinders. Die hoog Britse oom en tante wat die kosbare ring, ’n familie-erfstuk, uit Londen moet bring (die oom reeds in kakie en topi, reg vir die safari ná die tyd). Die eg Kaapse visverkoper en die hulpvaardige Rasta. Die suur eienaar (Casper de Vries) van die trou-venue, ’n pragtige ou herehuis op ’n historiese Bolandse wynplaas. En die klein probleempie dat Lukas hom te buite gegaan het by die ramparty ...
Dit is nou maar so dat ’n mens eiegoed met ’n skerper oog bekyk as ingevoerde produkte, heel moontlik omdat jy gou agterkom wanneer die bekende nie outentiek uitgebeeld word nie. By Afrikaanse flieks vrees ek altyd die cringe-faktor (ook die verveling-faktor), maar in Konfetti is daar absoluut niks waarvoor ek my geskaam het nie. Die balans tussen die komiese en die ernstige is nét reg, met ’n klomp akteurs wat uithalerspel lewer.
Kom ons klink ’n glasie op eg Suid-Afrikaanse flieks – met eish, ja!
Sterre: 4
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

