Resensie: Klaskamer deur Vita du Preez

  • 7

Titel: Klaskamer
Skrywer: Vita du Preez
Uitgewer: Wenkbrou
ISBN: 9780799397277

Dit sou onbillik wees om Klaskamer met Fifty Shades of Grey te vergelyk. Die inleidingsparagraaf van laasgenoemde is so swak geskryf dat dit vir sommige van ons boektoemaak beteken het.

Daarteenoor kán Vita du Preez skryf. Sy is bekend vir tradisionele liefdesverhale. En gewild. Met Klaskamer betree Du Preez nuwe terrein. Sy skryf ’n liefdesverhaal waarin die hoofkarakters alternatiewe seks beoefen.

Die voorblad van ’n vrou se hande met swart naels en boeie om haar polse is reeds ’n aanduiding van die tema. Die Wenkbrou-druknaam voorspel ook iets meer gewaagds. ’n Tradisionele liefdesverhaal verwag jy dus in elk geval nie.

Of so ’n verhaal met BDSM gekombineer behoort te word, kan wisselende menings ontlok. Die BDSM-sambreel sluit immers magspel of dominansie en onderdanigheid (“DS”) in. Een deelnemer neem dan beheer oor ’n ander, al is dit nominaal. Sado-masochisme (“SM”) sluit in pyntoediening deur byvoorbeeld wasgoedpennetjies in te span, slae toe te dien, verbaal aggressief te wees, of een of ander intense sensasie te ontlok. Die gebruik van warm waks is ’n voorbeeld. Gebondenheid en dissipline (“BD”) sluit die beperking van beweging (deur middel van byvoorbeeld boeie) in. Pare het seks tydens BDSM-aktiwiteite, maar nie noodwendig nie.

Die Klaskamer-verhaal is doodgewoon. Emma Louw gaan op ’n Karooplaas as au pair werk. Sy ontdek dat die aantreklike Daniel Swart ’n kink is. (Dis iemand wat BDSM beoefen.) Hy is klein Neal, na wie Emma omsien, se pa. Nou wonder mens of ’n vrou soos Emma, wat met weersin vervul is deur Daniel se “donker kant” (so noem sy dit) en daarom vreesbevange is, haar wel sal laat betrek by boeie en swepe. Daniel is boonop ’n beneukte entjie mens, arrogant, manipulerend en ’n beheervraat. Emma verwys selfs na die “donker duiwel”. Dis nie enige vrou wat vir so ’n verhouding kans sien nie, veral nie iemand soos die naïewe Emma wat pas uit ’n onvervulde verhouding kom nie. Sy glo ook fisieke verhoudings sonder ’n emosionele verbintenis is ’n resep vir seerkry. Van ’n emosionele verbintenis met Daniel is daar maar min sprake.

Dis te betwyfel of Klaskamer die “deure van die kink-wêreld vir Afrikaanse lesers sal oopmaak”. Die skrywer spreek dié hoop in die outeursnota uit. Lesers van die Fifty Shades of Grey-reeks is reeds aan BDSM voorgestel. Tydskrifte en koerante het ook oor die aktiwiteite berig. Dan is daar die ware feite.

Eerder as om oral die korrekte BDSM-inligting weer te gee, versterk die roman enkele wanpersepsies. Dis ’n mite dat hierdie vorm van spelmishandeling weird en onmenslik is. Tot dusver het die media die pyn wat die onderdanige beleef, grootliks uit verband geruk. BDSM is buitendien meer teatraal as eg. Wanneer dit volgens etiese riglyne en met ’n omgee-dominant beoefen word, is dit nie mishandeling nie. Soos Jay Wiseman, die Amerikaanse skrywer van SM 101, oor sado-masochisme sê: Dis nie nodig om vasgebind te word, swepe in te span of mondklemme te gebruik om iemand te mishandel nie. In liefdevolle hande kan die toerusting seksuele opwinding meebring. Deelnemers kan die interaksie of “toneel” geniet vir wat dit is: goeie, skoon, erotiese pret. Waar BDSM pyn veroorsaak, word dit noukeurig deur die onderdaan beheer. Anders as wat mens dalk dink, is dit juis die onderdaan wat die grense vooraf duidelik stel.

Die hoofkarakters in Klaskamer bespreek nie vooraf die besonderhede van hul spel nie en in ’n stadium ruk dit totaal handuit. Dít is mishandeling. In ’n gewone liefdesverhaal hoop jy beslis nie dat die vroulike hoofkarakter eerder behoort te vlug nie. Dié resensent was angsbevange vir Emma se onthalwe. Van werklike romanse is daar ook maar min sprake. Die duur geskenke, skaars nadat Daniel vir Emma ontmoet het, getuig eerder van omkopery.

BDSM is in der waarheid sinoniem met vertroue, maar Emma vertrou Daniel nie. Waar vertroue egter wel bo die moontlikheid van leed gestel word, kan dit intimiteit meebring en eroties wees, reken Wiseman. “Baie deelnemers sê dan dat BDSM die liefdevolste, vertroetelendste en intiemste vorm van menslike kontak en spel is.”

Du Preez weerspreek haarself soms. Dat BDSM meestal deur psigies versteurde mense beoefen word, is ’n wanpersepsie. Daniel, die kink, word as ’n emosioneel beskadigde man wat onder meer as kind mishandel is, uitgebeeld. Navorsing toon egter dat die grootste aantal BDSM-beoefenaars beter geestesgesondheid as nie-beoefenaars het. BDSM word trouens nie meer in die gesaghebbende sielkundige handleiding, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, opgeneem nie. Dit sê Klaskamer wel.

Die stelling dat anale seks net deur gay mense beoefen word, is nog ’n wanpersepsie. ’n Vrou hoef ook nie meer te trou omdat sy finansieel afhanklik van ’n man is nie.

Van die korrekte feite oor BDSM wat wel oorgedra word, sluit in:

  • Betrokkenes kom vooraf ooreen oor wat toegelaat word en watter kodewoorde die spel dadelik tot ’n einde moet bring. Nie dat Daniel, die hoofkarakter, hom altyd aan BDSM se reëls steur nie.
  • Ondergeskiktes kan gestraf of beloon word, afhangende van of hulle die reëls nakom of nie.
  • Die BDSM-afkorting en -sambreel word goed verduidelik.
  • Beoefenaars kom uit alle lae van die samelewing.
  • BDSM word nie in mediese kringe as ’n psigiese versteuring beskou nie. Tog is Daniel in vele opsigte ’n beskadigde man.
  • Elke BDSM-verhouding is uniek. (BDSM word ook deur gay mense en tussen vriende beoefen. Selfs poligamiste neem deel.)
  • Die ondergeskikte is in beheer. In Emma en Daniel se geval is dit nie altyd so nie. Hý neem dikwels beheer oor.

In Klaskamer word die navorsing netjies by die verhaal geïntegreer. Net jammer dat die skrywer nie altyd wetenskaplike bronne inspan nie.

Mens wonder of BDSM wel suksesvol as terapie ingespan kan word. Daarvoor is sielkundiges en beraders daar. Tog maak dit in die geval van ’n verkragtingsoorwinnaar sin, soos wat in hierdie roman na vore kom.

’n Vraag wat nie in alle opsigte deur Klaskamer beantwoord word nie, is waarom BDSM so ’n aanhang het. Wat is die positiewe effek daarvan? Volgens die artikel “The Surprising Psychology of BDSM” wat op Times.com verskyn, word deelnemers weggevoer na ’n gewysigde vorm van bewussyn; ’n “vloeistaat”. Jy klim as’t ware uit jou kop, vergeet van die res van die wêreld en fokus geheel en al op waarmee jy besig is. Jy moet ook konsentreer om die aktiwiteite effektief en veilig toe te pas. Deelnemers is daarom mindful. Bewustelikheid kan vergelyk word met die fokus van top-sportmanne en -vroue.

Die bewussynstaat van deelnemers verskil, berig die gesaghebbende Amerikaanse tydskrif Psychology Today. Die ondergeskikte het dan minder pyn, voel vreedsaam en beleef ’n swewende gevoel, terwyl die bewussynstaat van die dominant geassosieer word met gefokuste aandag, die optimale uitvoer van ’n taak en ’n verlies aan selfbewustheid.

Endorfien speel hier ’n rol, reken sommige kenners. Dis ’n neuro-oordragstof, ’n “goedvoelhormoon” wat onder meer pyn verlig. (Soos wanneer jy ná oefening sê jy is “lekker” seer.) Dr Brab Sagarin van Illinois, wat die wetenskap van BDSM bestudeer, vergelyk die effek van endorfien met die euforie wat marathonatlete beleef. So hanteer hulle die pyn.

BDSM het ook ’n effek op die streshormoon kortisol. Die onderdaan se stresvlak styg tydelik, terwyl die dominant s’n afneem.

In BDSM val die klem op kommunikasie. Mens kan “gewone”, oftewel vanilla seks, hê sonder kommunikasie, onderhandeling of emosionele verbintenis, reken Wiseman. Wat BDSM betref, word alles vooraf via duidelike, intieme kommunikasie gereël. Dit skep ’n spesiale erotiese verbintenis. Daar is pare wat reken dat die onderhandeling wat BDSM inhou, hul “gewone” sekslewe verbeter bloot omdat dit openlike gesels inhou.

Van die ander voordele sluit in ’n verbeterde gemoed, verminderde angs en ’n afname in posttraumatiese stres. In hul daaglikse lewens pas deelnemers minder sielkundige sadisme en sielkundige masochisme toe. Indien hulle geneig is tot paranoia, verbeter dit ook, sê van die kenners.

Dié “roman met ’n romantiese storielyn” (soos in die outeursnota vermeld) bevat ’n onrusbarende aantal clichés. Daniel se stem is gereeld “skor”. ’n Glimlag “pluk aan mondhoeke” en “dit voel vir Emma of hy (Daniel) haar rok met sy oë afskil”. Al is Klaskamer nie la-di-da letterkunde nie, sal oorspronklike uitdrukkings en minder (geykte) byvoeglike naamwoorde die skryfwerk na ’n hoër vlak neem. Die skrywer weet immers hoe. Twee voorbeelde: ’n Manlike karakter het ’n rooi gesig “soos ’n veldbrand” en ’n oester word as ’n stukkie “gestolde see” beskryf.

Die sekstonele laat hierdie leser koud. Dis nie eroties nie, maar kan eerder sommige lesers vervreem. Of permanent van BDSM afskrik. Woorde soos “vagina”, “klitoris”, “labia” en “pubis” is darem te biologies. Dit herinner eerder aan pornografie as erotiek. Die twee vingers wat so gereeld by Emma inglip, wek ook nie juis lus op nie. Daarby kan meer oorspronklike woorde geskep word vir “venusheuwel”, “die kern van haar vrouwees” en om oor die “rand van die afgrond geneem te word” (orgasme). Die noem van “orale seks” en die woord “fellasie” tydens ’n “erotiese” toneel slaag ook nie. Emma se taalgebruik is soms ontoepaslik. Dat juis sý van ’n “rebound fuck” praat, is onrealisties.

Die perspektiefwisseling tussen die hoofkarakters word suksesvol toegepas.

Die einde van die roman hou verrassing in. Dis nie heeltemal wat mens van ’n liefdesverhaal verwag nie, maar is verstaanbaar en gepas. Klaskamer is immers die eerste van ’n beplande trilogie.

Vita du Preez verdien lof vir haar waagmoed om die BDSM-tema (in Afrikaans) te takel. As die Fifty Shades-reeks wel vir jou boeiend was, skaf gerus Klaskamer aan.

  • 7

Kommentaar

  • Welgedaan, Riette! Die boek het my heeltemal koud gelaat. Jy het dit uitstekend gedoen, om sterk en swak punte uit te lig.

  • Malene Breytenbach

    Uitstekende resensie, Riette! Goeie ontleding. Ek het BDSM as blote pornografie beskou.

  • Vita du Preez

    Dankie, Riette, vir jou objektiewe resensie. Jou positiewe kommentaar word waardeer. Ek het so gesoek na jou boek Die AA tot die OE van seks (jammer, is nie nou heeltemal seker van die titel nie), maar kon dit nêrens opspoor nie. Ek neem kennis van waar ek fouteer het.

  • Barend van der Merwe

    Daar is 'n toneel vroeg in die boek waar 'n winkelklerk van 'n juwelierswinkel sommige private inligting oor Emma vir Daniel gee. Oor watter juwele sy in belangstel. Dit is natuurlik strydig met Suid-Afrika se POPIA wetgewing en twyfelagtig of 'n winkelklerk werklik so iets sal doen. Nietemin, ek geniet die boek. Nie meer ver van klaar. Baie nuttige resensie dit plaas die hele boek in perspektief.

  • Ek doen gereeld boekvoorlesings, ek het tot dusver al haar boeke gelees; maar by díe boek het ek glad nie aanklank gevind nie, nog minder die tema. Dít is nie die beste manier om van ń pynlike ervaring as kind tww herstel of psigologies weer jou voete te vind nie, baie mense lees dus die boek bloot omdat die tema gesensualiseer worr, en om geen ander rede nie. Meeate van wat sy sê stem ooreen met "50 shades of grey", en dit is teleurstellend.

  • Vita du Preez

    Die opvolg, Skoolgeld, het pas verskyn en is by alle boekwinkels beskikbaar. Hoop ek het die keer in minder slaggate getrap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top