Resensie: Katerina se mojo deur Kristel Loots

  • 0

Katerina se mojo (foto: Izak de Vries, LitNet-blogs)

Katerina se mojo

Kristel Loots

LAPA-Uitgewers

ISBN: 9780799372335

Ek moet bieg: ek het nog nooit in my lewe 'n liefdesroman gelees nie, laat staan nog een geresenseer! Toe die opdrag kom om Katerina se mojo van Kristel Loots te resenseer, het hierdie effens skeptiese, óngetroude taalkundige, wat normaalweg woordeboeke en naslaanwerke resenseer, tog die uitdaging aanvaar, want bang was ek nog nooit nie (behalwe dalk vir die strop) ... Ek het egter so traag op die geposte resensie-eksemplaar gewag soos 'n verkeersoortreder op sy spoedkaartjie en heimlik gewonder hoe 'n nugter mens óóit deur oor die 300 sappige bladsye vol soene en snikke gaan worstel. Maar ek was darem om velerlei redes geïnteresseerd in die skrywer, want Kristel Loots se naam lui selfs by my 'n hele swetterjoel klokkies. Sy het immers al amper 50 boeke op haar kerfstok, waarvan hierdie haar sesde liefdesroman is. Verder is sy bekend vir haar heerlike, humoristiese skryfstyl, wat ook hierdie boek kenmerk. Haar dogter is ook 'n bekende skrywer wat reeds in haar skoolloopbaan 'n wenner was van die nasionale skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging waarby ek betrokke is, dus loop die skrywersink dik in die Loots-familie se are. Verder is van Kristel se boeke al met ATKV-veertjies in die liefdesromankategorie vereer en dis geen geringe prestasie nie, al is die liefdesgenre vir my Griekser as Grieks.

Wat 'n onverwagse verrassing toe ek die boekpakkie oopmaak en 'n woord op die omslag alreeds my taalkundige interesse prikkel. Katerina se "mojo". Tipies leksikograaf tel ek die woordeboek op, want 'n titel verklaar in 'n groot mate die gees van 'n roman. Die woord is toe glad nie so sinister soos dit klink nie. 'n Mojo is doodgewoon, in hierdie konteks, daardie unieke en betowerende "iets" wat elke mens uitstraal wat ander na jou (kan) aantrek – 'n onontbeerlike bestanddeel in enige liefdesroman. Ek kom agter dat die hoofkarakter, Katerina, geseënd met 'n eiesoortige skoonheid, maar effens oorgewig, alewig besig is met binnewroeginge (moontlik weens 'n effense swak selfbeeld) oor haar man, sy mooi kollega, haar onmoontlike tweeling, die gemeenskap, haar ouers, veral haar ma wat heeltyd kyf en haar pa domineer en haar bitsige skoonma. Verder is sy amper 50, eintlik nog in haar "hot-flush naughty forties" ('n mens kan net soveel keer 49 word). Dis al klaar 'n tameletjie op sigself. As sy boonop voel dat sy besig is om haar mojo te verloor, begin die situasie alreeds "epidermiese proporsies" aanneem (soos Oubaas van Zyl van 7de Laan sou sê).

Loots klits nog boonop by hierdie alreeds-gedoem-resep 'n paar agterdogwekkende bestanddele, soos: Katerina se man, 'n oormoeg dr Simon Rautenbach, wil Kanada toe emigreer en sy skop verbete daarteen vas; hy kom saans laat poegaai tuis, te moeg om oor hul kinders se probleme met haar te praat of om op haar seine vir sy onverdeelde aandag te reageer (versagtende omstandighede: hy is darem 'n knap noodgevalledokter wat gereeld tydens nagdiens stukkende mense moet probeer deurhaal); hy spandeer verder byna al sy wakker werksure in die geselskap van sy regterhand, die mooie verpleegsuster Jennifer Jackson, lag ontspanne-uitbundig in haar geselskap, prewel haar naam in sy slaap en koop selfs vir haar blomme om haar te bedank vir hulp met 'n referaat. (Katerina, daarenteen, moet tevrede wees met 'n mandjie gesonde brokkoli opgedollie met 'n strik, 'n stille vermaning dat sy moet let op wat sy eet, wat sy ewe rebels in 'n dekadente kaasdeurdrenkte dis omtower wat hulle beide sooibrand gee.) (Terloops, Jennifer beplan ook om Kanada toe te emigreer ...) Katerina se teëstribbelinge dat hulle hul bejaarde ouers gaan versaak en dit haar en die kinders se lewens totaal gaan ontwortel, val op dowe ore en Simon bly praat van "Desembermaand (as ek) daar begin ... " (114), asof dit 'n uitgemaakte saak is waaroor die hele gesin konsensus het.

As twee mense in 'n huwelik mekaar weens selfsug of eiebelang nie ondersteun of 'n sagte plek bied om te land nie en dus nie na dieselfde doelpale mik en bereid is om opofferings te maak nie, is 'n huwelik gedoem. Dit word verder gekompliseer deur alewige rusies oor die emigrasiekwessie, Simon se werk en mooi kollega en ander klein jakkalsies soos die (effense) rebelsheid van die tweeling met die pittige sêgoed en Katerina se gewig.

Nou kyk, soos in enige goeie Agatha Christie-moordverhaal is bogenoemde leidrade al oorgenoeg vir enige skerpsinnige liefdesromanleser om te weet dat hierdie huwelik klaar vermoor is. Die pluksel brokkoli is dan ook die laaste strooi en Katerina dagvaar Simon vir 'n egskeiding.

Vir meer as 'n jaar bou hy sy eie lewe alleen in Kanada (met Jennifer steeds daar as sy regterhand), Skype hy en die kinders gereeld en begin die effens verstokte wewenaarskoolhoof, Gotlieb Liebenberg, wat deur die skoolkinders ou Suutjiespoep gedoop is (met sy ouderwetse klere en die spook van sy oorlede vrou êrens op die agtergrond op die agtersitplek van sy ouerige Mercedes) by Katerina vlerksleep. Sy poging om haar in die donker motor op die skoolgronde (soos 'n waaghalsige skoolkys) te soen en die opsigter wat met sy sterk flitslig die lomp poging fnuik, is skreeusnaaks. Die feit dat Katerina se onbesonne verlede met 'n politikus ook nog soos 'n fynweggesteekte geraamte uit die kas tuimel en in die koerant uitgebasuin word deur 'n oorywerige joernalis, Jolene Lombard, ontmasker haar in die openbaar as glad nie so maagdelik rein soos wat sy Simon voor die huwelik laat verstaan het nie (elke silwerskoon kombuis het ook mos maar sy eie brommer). Dit kompliseer die moontlikheid van versoening met Simon nog verder. Tydens sy latere besoek aan sy ma en die tweeling, en weer met haar pa se begrafnis, word dit duidelik dat die magnetisme tussen hulle twee steeds daar is en Katerina se mojo duidelik nog intakt is en lei die gekafoefel van die geskeides – onder hul ouers se dak, van alle plekke – tot 'n vakansie vir Katerina en die kinders in Kanada. Ag, en net daar in die vliegtuig val die legkaart se stukke van 'n gelukkige gesinnetjie van vier om 'n kaggelvuur met sneeubedekte berge in die agtergrond, vir Katerina in posisie. Simon kry sy sin. 'n Gelukkige einde, soos elke sprokie wat sy sout werd is.

Ter nabetragting besef ek van die liefdesgenre die volgende: waar ek verwag het dat tipiese liefdesromans stroop drup van een romantiese bladsy na die volgende (dalk is dit wel die geval by ander liefdesverhaalskrywers, maar beslis nie in Loots se liefdesromans nie), was dit vir my 'n reuseverrassing, eintlik half 'n ontnugtering, dat Loots se liefdesverhaal deurspek is met eietydse aktualiteite: moord-en-doodslag-slagoffers wat in noodgevalle beland, rebelse kinders met skoolprobleme, egskeiding, skinderbekke, klasseverskille, korrupte landsake, gay-kwessies (ja, die mooie suster Jennifer, oor wie Katerina so haar kop gebreek het, trou toe met 'n ander vróú!), ens. Ek vermoed dat hierdie einste kwessies dalk sommige ontvlugtingsoekende liefdesromanlesers, wat al klaar versadig is deur daaglikse aktualiteite en wreedhede waarmee koerantlesers daagliks gebombardeer word, ietwat kan afskrik, aangesien oënskynlik "ligte leesstof" 'n heelwat swaarder lading verkry as wat van ontspanningslektuur verwag word. Tog verskaf Loots se weldeurdagte en aweregse humor, wat soos 'n silwer randjie om elke donker binnewroegingswolk van Katerina huiwer (die hele boek word eintlik oorheers deur haar onseker, soms patetiese vroulike binnekommentaar) vir heelwat binnepret by die leser.

Is ek bekeer tot liefdesromans en sal ek eendag weer, as ek verveeld is, my op 'n wit strand met die blou oseaan wat aan my tone lek, met 'n liefdesroman tuismaak? Wel, ek is dalk te nugter vir die idilliese eindes van liefdesromans. Dalk, maar slegs agter Kristel Loots se lekker vars humor aan ... want dit het sy tot meesterlikheid vervolmaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top