Resensie: In Mamelodi het ek my God gevind deur Nico Smith

  • 0

In Mamelodi het ek my God gevind. My lewe in die township en hoe dit my geloof verander het.
Nico Smith
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321152

Hoe uitsonderlik is hierdie boek tog nie! Bloot sy titel, My lewe in die township, is al ongewoon in ’n Afrikaanse konteks. Dit is immers selfs in ons tyd nie iets alledaags om in Afrikaans te lees hoe ’n Afrikaanse wit man in ’n "township" geleef het nie – en dit boonop in die donker dae van apartheid. Nog meer uitsonderlik as mens weet dat die skrywer op ’n stadium ’n stoere Afrikaanse NGK-predikant en ywerige apartheidsondersteuner was.

Ons het, soos Nico Smith self tereg in die voorwoord skryf, baie boeke vol menings en verhale oor die politiek van daardie tyd. Maar daar is nie een wat vir Afrikaanse mense vertel hoe dit was om van dag tot dag in ’n swart woonbuurt te leef en te woon nie. Die meeste mense uit die wit deel van die bevolking was heeltemal uitgesluit uit daardie buurte. Dit was selfs ’n oortreding van die Groepsgebiedewet om sonder regeringstoestemming selfs in só ’n buurt in te gaan, laat staan nog om daar te woon. Smith se boek is daarom een van die weiniges wat op ’n helder, direkte manier, soos hy hom voorgeneem het (bl 7) oor die "praktiese belewing" van apartheid skryf.

Die boek word ’n boeiende relaas wat op eerstehandse ervaring steun. Smith, wat in 2010 gesterf het, het nie net lank daar gewoon nie, maar was boonop ’n gemeenskapsleier in ’n vertrouensposisie met wie mense hul lewens op die mees intieme vlakke gedeel het. Hy het hulle beste, intiemste, maar ook swaarste oomblikke saam met hulle beleef, hulle bygestaan in hulle nood, in lewenskrisisse, en hulle lewens vanaf geboorte tot die graf meegemaak. In al die tye het hulle hom in hulle vertroue geneem oor dinge wat hulle met min ander sou deel. Hier is ’n skrywer wat deel was van ’n gemeenskap waardeur hy soos min ander die township van binne uit leer ken het. Hy sal goed weet hoe dit was om in ’n township te leef.

Die boek vertel tog ’n opsienbare verhaal: Mense het destyds vir Nico Smith as ’n "beroerder in Israel" gesien – soos magtige kerkleiers destyds die kritici van apartheid in hul midde graag in die naam van die Bybel verdag gemaak het. Hierdie stilmaak van kritici loop ’n ver pad, want reeds in oertye het die magtige, korrupte koning Agab van Israel dreigend vir Elia, die lastige, knaend kritiese profeet, met die skelnaam verloeder (1 Konings 19).

Smith, die bevoorregte professor aan die "kweekskool" op Stellenbosch en hoë kerkman, was al ’n tyd lank weens sy profetiese verwerping van apartheid uit die binnekringe van die Afrikaans maghebbers uitgeskuif en verdag gemaak toe die skoknuus bekendgemaak is dat hy die ondenkbare gedoen het om as professor uit te tree en ’n beroep as predikant na ’n swart gemeente in Mamelodi aan te neem.

Hoe opsienbarend dit was, kan ’n mens jou goed voorstel as jy sy voorgeskiedenis ken. Nico Smith was een van die witbroodjies van die destydse kerklike maghebbers: Hy was puur Afrikaans, vroom Christelik, ’n bloubloed-Afrikaner, ’n passievolle nasionalis. Hy was die produk van ’n lang geskiedenis van onreg. Die dood van sy familie in ’n konsentrasiekamp in die Boereoorlog en die verlies van hul politieke vryheid het by hom van jongs af ’n sterk nasionale bewussyn gekweek. In 1948, skryf hy, vier hy uitbundig die onverwagte oorwinning van die Nasionale Party. Vroeg reeds word hy lid van die invloedryke Broederbond. (In 2009 het hy in ’n opspraakwekkende boek die Afrikanerbond "van binnekant af" ontmasker.) Hy het selfs, soos sommige van die mees fanatiese Afrikaanse jongmense van daardie tyd, aangesluit by die Ossewabrandwag wat gewapende opstand teen die destydse regering beplan het (105). Stoerder, en meer fanaties, kan dit nouliks.

Sy vurige nasionalisme is net deur sy godsdienstige ywer oortref. Gevorm in die veelgeroemde Andrew Murray se vroomheidstradisie en sendingvisie, gaan hy teologie studeer om "sendingwerk" onder die "heidene" te doen. So puur is sy reputasie en so bekend is hy as ’n leier in die sendingveld dat hy beroep word as dosent in sendingwetenskap aan die Teologiese Seminarie in Stellenbosch. Hy was vir die manipulerende kerkleiers die veilige keuse bo veel beter-gekwalifiseerde en hoogs gerekende sendingwetenskaplikes wat as polities te progressief beskou is – soos destyds dikwels met teologiese aanstellings gebeur het. Hy was die veiligste van veilige beleggings vir die behoud van die status quo.

Smith was dus die toonbeeld van politieke en kerklike uitnemendheid: kosjer in alle opsigte, ’n veilige, betroubare seun van die volk, vrome gelowige met ’n blink toekoms en boonop ’n yweraar vir die sendingtaak. Blinker kon dit nie.

Dinge het egter mettertyd uitgerafel. Die uitgesoekte volksman en kerkleier se pad het, in een groot stuk ironie, mettertyd op die einste Stellenbosch ’n heel ander koers begin inslaan as wat sy mentors en beskermhere verwag het, toe hy al hoe feller die politieke beleid en die kerklike sanksionering daarvan bly kritiseer het.

Die skuif na ’n gemeente in die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het dus groot aandag in die media getrek. Des te meer toe Smith, kort na hul vertrek uit hul idilliese blyplek in Stellenbosch (die boek het ’n foto van die huis op bl 97), besluit om hul gerieflike, groot sendingpastorie in Meyerspark, ’n wit woonbuurt, prys te gee en in Mamelodi self te gaan woon. Dit was opsienbarend. Tot op daardie stadium het slegs ’n paar, meestal Rooms-Katolieke, geestelikes by hoë uitsondering regeringsverlof gekry om in swart woonbuurte te woon.

Só ’n skuif was ook ’n waagstuk, want dit was ’n tyd van noodtoestande, toe die woonbuurte deur gewelddadige opstande geteister is, mense sonder verhoor aangehou is, teenstanders van die regime gemartel en vermoor is en wit mense spesiale verlof moes kry om in woonbuurte in te gaan – laat staan nog om daar te gaan bly. Smith het inderdaad ook weke lank deur ’n burokratiese proses moes sukkel om van die Minister (Piet Koornhof) ’n nodige permit te kry vir sy skuif, vertel hy in die boek. En dit kon hy ook net kry nadat ’n goeie kollega met invloed by die Minister vir hom ’n spesiale woordjie gedoen het.

Daarmee het Smith se bediening in Mamelodi in volle erns begin. Hy skryf hoe hy gereeld saam met ’n ouderling saans na 5-uur huisbesoek (wat hy as sy "belangrikste taak" beskou het – bl 33) gedoen het. Dit is so maklik om sy aparte hoofstuk 3 hieroor as maar nog net ’n teken van sy toewyding en getrouheid as pastor te beskou – wat dit inderdaad ook was. Die hoofstuk se beskrywing van die leefsituasie vertel egter meer en impliseer hoe uitdagend dit vir hom was. Hy moes saans uitgaan in ’n township waar slegs enkele strate, almal sonder name, tussen rye en rye van piepklein en oorbewoonde huise geteer was. Die res was grondpaaie wat meestal onbegaanbaar was. Straatbeligting was so swak dat ’n mens huisnommers nouliks kon uitmaak. Huisvuilis is in die strate uitgegooi en is feitlik nooit verwyder nie. Die neerdrukkendste was vir hom die besoeke aan hostelle waar, onvoorstelbaar, tot 12 000 enkellopende jongmense gebly het.

Met hierdie huisbesoek het hy "in die hart van die wêreld van die lidmate" inbeweeg (34), waar hy honderde gesprekke oor ’n lang tyd in hulle "matchbox"-huise gevoer het (37).

In hierdie deprimerende konteks is Smith nie die vroom bekeringsprediker wat mense met beloftes oor ’n toekomstige hemel sus en hulle werklike lewensituasie onaangespreek laat nie. Sy boodskap, vertel hy herhaaldelik, praat direk in op daardie konteks. Tog het dit steeds weer ’n geestelike karakter wanneer hy as pastor sy geloof deel in ’n God van die noodlydendes wat vir hulle ook volkome vryheid van diskriminasie en vernedering bring. "Vir baie van hulle moes dit vreemd gewees het dat die nuwe wit moruti nie oor hulle siele en hulle sondes praat nie, maar oor bevryding wat vir hulle ’n lewe sonder verdrukking sal bring" (43). Hierdie sensitiwiteit laat Smith herhaaldelik die neerbuigende houding kritiseer van mense wat inwoners wou kom "ophef" of "bekeer".

’n Mens moenie hierdie boek van Smith lees as ’n poging om vir die "arme" townshipbewoners jammer te wees nie, soos te duidelik blyk uit sy vertelling op ble 48–9 oor sy besoeke aan sy lidmate. Hy bewonder eerder hulle innerlike weerbaarheid en krag. Ná ’n huisbesoek se slotgebed, vertel hy, wil die huismense vir hom as die predikant nie laat loop nie; hulle wil hom eers hul gasvryheid laat ervaar. "’n Primusstofie word onder een van die onderste beddens uitgehaal. Een gaan haal water by die kraan in die swart gebrande ketel. Elkeen kry ’n beker met kitskoffiepoeier in en as die water kook, word elkeen se beker volgemaak. Daar’s geen melk of suiker nie. ’n Ander een haal ’n wit brood onder sy bed uit en sny vir elkeen ’n dik sny brood. Willie Cilliers [predikant in die VGK] het dit die Afrika-nagmaal genoem" (49).

In die "Afrika-nagmaal" herken ’n mens eenvoud, die gewone, normale deel van brood en koffie. Dit word egter in daardie konteks van medemenslikheid, gasvryheid en toegeneentheid ’n heilige handeling. Des te meer blyk dit uit die gashere se humor: Oor hierdie "tekens" van swart koffie en brood word dan allerhande grappies oor wit mense met mekaar gedeel. Deur humor, deur grappe oor sy mense, word die dominee deel van hulle, gee hulle hulself aan hom. Hier, laataand, te midde van die harde werklikheid van ’n barre townshipkonteks, word gemeenskap, menslikheid en ontferming duidelik in starre kontras met alles daarbuite wat dit teenspreek en wil verloën.

Net so vol aantreklike eenvoud soos wat hierdie Afrika-nagmaal beskryf en beleef word, was Smith se vroeë pogings om mense bymekaar uit te bring om hulle gemeenskaplike menslikheid met mekaar te deel. Hy het die organisasie Koinonia ("gemeenskap") gestig sodat wit en swart mense by geleentheid by mekaar kon kuier en saam kon eet. (Hy bespreek die organisasie in hoofstuk 7.) Jonger mense het aktief by die beweging betrokke geraak al het dit ’n klomp mense omgekrap. Smith vertel hoe sommige van die swart deelnemers in restaurante deur woedende bystanders met die vuis bygedam is of hoe mense vloekend uit die restaurante gestorm het oor hulle teenwoordigheid. Wat vir deelnemers iewers ’n stuk sakralisering van ’n eenvoudige samesyn was, was vir ander aanstootlik – en daarom ook verdere rede om Smith te viktimiseer.

As dosent op Stellenbosch sou hy by geleentheid sy studente as deel van hul kursus ’n uitstappie na die berugte Crossroads-woonbuurt laat aflê, waar hulle, tot hul groot ontsteltenis, eerstehands kon sien en ervaar hoe die lewe vir mense aan die ontvangkant van apartheid lyk. Net ingryping van kerkleiers het verhinder dat die studente hul ontsteltenis ná die besoek in ’n verklaring aan die media bekend gemaak het. Die kerkleiers het toe ook sommer vir Smith verbied om weer so ’n besoek te reël. Dis onvoorstelbaar, maar insiggewend vir dié wat nie daardie tye beleef het nie, dat besoeke en samesyn nie net onwenslik was nie, maar as gevaarlik beskou is.

Ook hier moet ’n mens nie die nog dieper kant van die eenvoud miskyk nie. Smith het iets uitgeleef wat op ’n diepsinnige manier verwoord is deur Levinas, die bekende spiritualiteitskrywer wat lank die moord van sy nabye familie met die Jodeslagting moes verwerk. Levinas het beklemtoon hoe nodig dit was om in koinonia met ander te leef, selfs met hulle wat jou haat en vernietig. Hy was oortuig dat ’n mens nie onaangeraak kan bly wanneer jy in alle eenvoud ’n ander mens in die oë kyk en van aangesig tot aangesig voor hulle staan nie. Die gesig van die ander persoon raak jou, doen ’n appèl op jou, omvorm jou. In die aangesig van die Ander leer ken ’n mens jou verantwoordelikheid teenoor hulle en herken jy dat julle albei die gawe van mens-wees deel. Hierdie boek van Nico Smith is ’n eenvoudige verpersoonliking van daardie insig van Levinas. Dit word ’n sleutel: Bloot om in eenvoud saam met ander te wees kan jou lewe vir altyd verander.

Dit word nog verder bevestig deur ’n verrassende onthulling in ’n sleuteldeel van die boek (88–9) waarin Smith skryf hoe hy vir Henri Nouwen, een van die bekendste spiritualiteitskrywers van ons tyd, op ’n keer in Pasadena ontmoet het. Ook in hierdie vertelling kom Smith se solidariteitsbewussyn sterk na vore, maar daar word verder veral geïllustreer wat die volle implikasies van ’n uitreik na ander is. Hy het na ’n lesing van Nouwen gaan luister wat, in sy woorde, "verreikende gevolge" vir sy lewe gehad het. Nouwen is veral daarvoor bekend dat hy sy hoë pos by Harvard prysgegee het om in die Ark-gemeenskap vir mense met verstandelik beperkte vermoëns te gaan sorg. Smith skryf hoe Nouwen vir hom gesê het dat identifisering met mense beteken dat ’n mens letterlik by hulle inwoon. Om hulle lyding en lewe te begryp, moet mens deel word van hulle leefwêreld. Anders bly ’n mens bloot ’n buitestander, iemand wat nêrens hoort en nêrens liefde vind nie.

Die uitsonderlike skuif na ’n lewe in die township, en sy bediening in barre omstandighede, was dus die resultaat van ’n diepsinnige geestelikheid. Die skuif het Smith ’n unieke figuur in die politieke en godsdienstige versetbeweging gemaak. Soos hy, het ander Afrikaanse teoloë apartheid openlik verwerp en daardeur verguising ervaar. Dit is een van die jammertes van ons tyd dat van die eerbaarste en indrukwekkendste geestelikes in die destydse kerklike lewe saam met Nico Smith dreig om vergete te raak. Dit sluit in mense wat hy in sy boek noem of wat saam met hom gewerk het, soos Beyers Naudé, Dawid Bosch, Jaap Durand, Willie Cilliers, Eddy Bruwer, Andrew Hofmeyr, Ben Marais, Albert Geyser, Pippin Oosthuizen, Piet Meiring, Willem Nicol, om net enkeles van sy vele tydgenote te noem en om baie van die nog jonger name weg te laat. Hoe ironies dat hierdie name vandag onbekend is of dikwels selfs nie meer onthou word nie (sien bv ook https://www.litnet.co.za/rsquon-afrikaanse-kerkman-wat-apartheidstrukture-laat-steier-het-word-weer-onthou).

Nico Smith het nietemin tog onder hulle uitgestaan in sy solidariteit met mense in die township wat letterlik aan liggaam en lyf gevat het en hom ’n unieke pad laat loop het. Nader aan die mense en sterker uitgelewer aan die institusionele geweld van die weermag en politiek as wat Nico Smith in daardie plek was, soos wat hierdie boek op bladsy na bladsy vertel, kon mens nie wees nie.

’n Mens kry in hierdie boek ’n binnekykie in ’n leefwêreld waaraan die meerderheid wit mense selde, indien wel, blootgestel was en waarvan hulle nie ’n idee gehad het nie. Dit is ’n boek wat mens in hierdie opsig onwillekeurig herinner aan Elsa Joubert se onvergeetlike Die swerfjare van Poppie Nongena wat die leefwêreld van ’n swart vrou op so ’n ingrypende manier onder wit mense se aandag gebring het. Net dat Smith se lewe letterlik elke dag op die spel was in ’n plek van oproer en vernietiging.

Die boek is nie sentimenteel of soetsappig nie. Onreg word meedoënloos en met heilige woede ontmasker. Koud en hard is dit egter ook nie. Daarvoor is daar te veel pyn. Smith skryf hoedat hy in die 10 jaar van sy bediening slegs een keer gevra is om in ’n wit kerk te preek. Hy het die kans gebruik om "versigtig" in sy preek te vra dat mense anders dink oor hul verhouding met swart mense en dat hulle konkreet sal uitreik na hulle. In sy skik met homself, het hy gedink dat sy boodskap nogal positief ontvang is, maar vind daarna uit dat die kerkraad na sy preek stilletjies ’n vergadering gehou het en net daar besluit het dat hy nie weer vir ’n diensbeurt uitgenooi sal word nie (61–2).

Of hy vertel van die verlies van jare lange, intieme huisvriende. Hoe rou sulke ervarings vir hom moes gewees het, kom ’n mens agter deurdat hy sy boek begin met ’n voorbeeld hiervan (15–21). Hy vertel hoe goeie vriende se seun (wat hulle na hom vernoem het), wat dikwels by hom gekuier het, teen hom gedraai het nadat ’n offisier vir die seun tydens sy militêre opleiding vertel het dat Smith ’n "kommunis" is – en dit in ’n tyd toe die kommunisme die groot vyand was teen wie goed en bloed verdedig moes word. So woedend was die seun dat hy spesiaal vir Smith opgesoek het om vir hom te sê dat hy sy bande met hom verbreek.

Die jongman word ’n tydjie later tydens sy grensdiens gedood. Dit is byna onuitstaanbaar pynlik om te lees hoe Smith vertel dat hy, hoewel nie uitgenooi nie, die begrafnis tog uit eerbetoon gaan bywoon het. Maar hy het hom daar, in die teenwoordigheid van die ergste moontlike verlies, in ’n "koue, onvriendelike atmosfeer" vasgeloop met ou kennisse wat hul rug letterlik op hom gedraai het en hom geïgnoreer het.

Uiteindelik bly hierdie boek so uitsonderlike omdat dit nie bloot oor Smith as dapper, verguisde versetstryder of sy persoonlike geloofsreis gaan nie, maar om Mamelodi self, om die townshipmense. Deur hulle ontdek Smith wie God werklik is. Dit is nie hy wat hulle heenwys na God nie. Hy vind God in hulle midde; hulle laat hom God ontmoet.

Aan die einde van die boek skryf Smith (186–9):

In die matchbox-huisies en in die donker kamers van die hostelle in Mamelodi het ek ontdek dat God ook dáár, en júis daar woon. Ek het hom daar gesien in die vriendelike gesigte van die inwoners. Ek kon my saam met hulle verheug in sy bestaan ...

Aan dié God wat op ’n misterieuse wyse, ’n wyse wat ek nie kon verklaar nie, onder die verworpenes aanwesig was, kon ek my op ’n mistieke wyse oorgee. Hy was nie meer vir my ’n God wat deur omvattende teologiese strukture bestudeer en ontleed kon word nie. Hy is in sy wese teenwoordig onder mensekinders, Hy leef met hulle mee. Hy versterk en bemoedig hulle. Op sy eie wyse werk Hy onder mense en voltrek Hy wonders in die lewe van elke individu.

My siel het rus gevind in die God wat in en onder mense woon – en dan veral onder verdrukte en verworpe mense. Daar tussen hulle het ek sy teenwoordigheid beleef. Daar, met sy vertroostende hand op die skouers van hulle wat verdruk was, het ek gesien hoe Hy die trane van hulle wange afvee. En dan het die hemel vir my op die aarde neergedaal. Dan het ek geweet die nuwe aarde het reeds aangebreek. God is by die mense. En dis die nuwe aarde.

Nico Smith het wel uitsonderlike erkenning van die swart gemeenskap gekry, soos blyk uit sy dogter se roerende epiloog tot die boek waarin sy vertel hoe hy met ’n amptelike begrafnis vereer is. Na al die jare vra hierdie boek ook van sy eie gemeenskap om saam met hom in Mamelodi te woon. Dit is sy laaste gesprek met sy eie gemeenskap, ’n passievolle uitnodiging om die onreg van die verlede nie te verdoesel nie, maar te herken vir wat dit was en vir watter gevolge dit tot vandag toe nog het.

Noudat die verhoudinge tussen mense in die land in onlangse tye weer troebel geraak het en spanning dikwels akuut hoog is, is Smith se boek ’n tydige voorbeeld van die waagmoed wat nodig is om kunsmatige en destruktiewe grense tussen mense oor te steek. Om te besef hoe dinge verkeerd loop, help mens om goed te maak, maar motiveer ook om saam te werk aan ’n gedeelde toekoms waarin alle mense hul plek in die son het. So ’n saamreis behels dat ’n mens soms eie belang opsy skuif, en ook dat ’n mens rekening daarmee hou dat die proses van saamwoon soms dalk pynlik en frustrerend kan wees. Vir Nico Smith het so ’n reis rus, vrede en geestelike verryking gebring. Sy boek is ’n praktiese voorbeeld van die goedheid waartoe mense in staat is, as hulle maar net heel eenvoudig van aangesig tot aangesig leef. Net op dié manier kom mense tot rus en vind vrede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top