Boyhood
Regisseur: Richard Linklater
Spelers: Ellar Coltrane, Patricia Arquette, Ethan Hawke, Lorelei Linklater
Die opset van hierdie fliek kan maklik soos ’n gimmick klink: dis oor twaalf jaar geskiet sodat die tema “boyhood” chronologies gevolg en deur dieselfde akteur (Ellar Coltrane) vertolk word, van ’n sesjarige tot ’n agtienjarige. Dieselfde geld vir die ander hoofkarakters: sy ouers (Patricia Arquette en Ethan Hawke) en ouer suster (Lorelei Linklater).
Mason en Samantha word groot in ’n taamlik disfunksionele huis met ouers wat baklei dat die hare waai. Hulle het bloedjonk getrou en kinders gekry en dis moederinstink teen ’n feitlik dertigjarige hippie wat nog nie uitgepaartie is nie en wat skop teen sy verantwoordelikhede. Egskeiding is onafwendbaar. Hul ma is vasberade om ’n nuwe begin te maak en sy gaan studeer verder om haar studies van destyds te voltooi. Nóg ’n swak huwelikskeuse en nog meer disfunksionaliteit bly die patroon van Mason en Samantha se kinderjare.
Eers sien hulle hul pa min, maar soos hulle ouer word, al meer. Hy is regtig lief vir hulle en op sy eiesoortige manier bied hy tog vir hulle ’n mate van stabiliteit. Mason is ’n oddball en kom mettertyd agter omtrent niemand dink so ernstig oor die lewe soos hy nie. Hy het ’n aanleg vir fotografie en verdiep hom daarin, maar ook nie volgens die verwagting van ander (ouer) mense nie. Die jare verloop met oppe en affe maar darem geen rampe nie, net soos die meeste middelklasmense se lewens.
Die fliek is drie uur lank, maar dit het my heeltyd geboei, tot by die pragtige, stilweg bevredigende einde. Geleidelik word Mason iemand van wie ek regtig hou en vir wie ek regtig omgee.
Boyhood is ’n besonderse stuk filmkuns, maar as jy van die ongeduldige soort is wat maklik verveeld raak, moet jy liewer wegbly.
Sterre: 
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

