Resensie: Die potlooddief se bruid en ander stories

  • 1

Titel: Die potlooddief se bruid
Skrywer: Keina Swart
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2015
ISBN: 9781485302926

Die potlooddief se bruid is ’n versameling essays, rubrieke en kortverhale waarin Keina Swart oor die mense naaste aan haar skryf. Sy dring met ’n fyn waarnemersvermoë tot in die siel van mense en hul omstandighede in.

Keina is die afgelope 14 jaar redakteur en mede-eienaar van die Waterberg-streekskoerant Die Pos, wat al bekroon is as die beste dorpskoerant in die land.

Vir haar skryfwerk het sy al verskeie pryse by die Sanlam-toekennings vir gemeenskapspers gekry. Haar werk verskyn in verskeie publikasies en sy kan oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe skryf, soos dit ’n goeie joernalis betaam.

Baie van die rubrieke in die bundel het die afgelope tien jaar in Die Burger, Beeld, Rapport en Die Pos verskyn. Tien is nuut wat spesiaal vir die bundel geskryf is.

Keina en haar redakteur by Protea Boekhuis, Amelia de Vaal, het besluit om die rubrieke te laat ressorteer onder “Mans van my hart”, “Vroue van my hart”, “Kinders van my hart” en “Stories van my hart”. Voor elke afdeling is ’n inleidende paragraaf om die stemming te skep vir dit wat wag.

Keina het drie ander boeke op haar kerfstok: Hoekom praat grootmense so snaaks? (2010), Bleek Bennie se woeste hoes (2011) en Bloujaar (2014), wat almal by Protea verskyn het.
Sy vertel in ’n onderhoud dat sy as joernalis opgelei is, maar dat hardenuus-stories haar deesdae “droewig” maak. “Ek is nie meer goed daarmee nie. Miskien was ek nóóit goed daarmee nie.”

Ek vind soms dat boeke deur joernaliste nie slaag nie, omdat die ingebore nuussin wat die harde feite moet uitsnuffel, só sterk deurslaan dat die boek half stokkerig lees. Te veel feite, en te veel beskrywings sonder byvoeglike naamwoorde om die rande rond te vyl, maak die boek amper ’n verslag van gebeure, eerder as ’n storie. Maar Keina se vertellinge getuig van iets heel anders. Die vermoë om waar te neem, op te som en feitelik weer te gee, is daar. Die joernalistieke insig ook. Maar dan, dieper weggesteek tussen die reëls, is daar ’n empatie vir die mens; swakhede en al. Sy beskryf byvoorbeeld ’n ma wat haar kind vir ure vasklou nadat hy verdrink het met soveel deernis dat jy voel hoe jou keel dik word.

Haar beskrywing van haar ervaring van ’n Neil Diamond-konsert wat sy jare ná haar pa se dood alleen bywoon en waar haar verlange om dit met hom te deel, só groot is, laat my trane loop. As jy al ooit iemand verloor het met wie jy jare later vergeefs nog goed wou deel, sal jy verstaan hoe sy daar in die stadion in Soweto gevoel het terwyl sy haar keel rou sing aan Neil Diamond-treffers.

Dis nie ’n boek dié wat jy moet optel en in een oorhaastige sitting lees nie – al is die vertellinge kort, meestal net drie of vier bladsye. Dis die tipe boek wat jy voor jou bed los, waarvan jy net een storie lees en dan daaraan herkou, weer lees en probeer om van die pragtige sinne te memoriseer. Want dis die tipe boek wat jou anders na jou geliefdes sal laat kyk. Wat jou sal leer om klein oomblikke in ’n spesiale lêer in jou geheue vas te vang: die plooie op ’n ouerhand; die uitbundige gelag van ’n kind; die blink in ’n oumens-oog as hulle aan hul jong dae dink; die plesier wat ’n vriend put uit ’n kompliment.

En as jy aan jou sielsmaat, of “die een wat ek liefhet” (soos Keina haar man noem), dink, sal jy ook soek vir daardie kosbaarhede wat ons as só vanselfsprekend aanvaar. So asof ons onbeperkte tyd het met geliefdes, asof tweede kanse weer en weer verby kom.

Eendag in ’n oomblik van refleksie, hartseer of wanhoop gaan jy daardie lêer oopsluit en die wonder van jou geliefdes herroep, die warmte van hul nabyheid voel, of hulle nog leef of nie. Ons is tog net die somtotaal van ons ervaringe, gedagtes en herinneringe.

Keina se stories laat my opnuut besef dat elke dag ’n uitdaging is om anders te kyk, anders te voel en ’n klein bietjie meer “effort” in te sit. Ons word só maklik vasgevang in ons banale probleempies dat ons die seer en vreugde om ons miskyk en misken.

Dolf van Niekerk skryf op die agterblad: “Skryf voort, jy wat kán skryf.” En ek kan dit nie beter stel nie.

  • 1

Kommentaar

  • "Dis die tipe boek wat jy voor jou bed los, waarvan jy net een storie lees en dan daaraan herkou, weer lees." Jy leef jou so in dat jy raakpunte in jou eie lewe sien en vogtige oë kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top