Calvary
Regisseur: John Michael McDonagh
Spelers: Brendan Gleeson, Chris O’Dowd, Kelly Reilly, Jack Brennan, Orla O’Rourke
Ek kan nie sê ek het daarna uitgesien om hierdie fliek te gaan kyk nie; uit die lokprent en resensies het ek geweet dit sou nie vermaak wees nie. Maar Calvary is een van daai flieks wat jy agterna nie uit jou kop kan kry nie, en dit herinner jou opnuut waarom jy die moeite doen om ernstige flieks te gaan kyk.
Die film open met vader James (Brendan Gleeson) wat in die bieghok sit, ’n gemeentelid aan die ander kant van die skuifvenstertjie. “Ek is as sewejarige deur ’n priester verkrag,” begin die gemeentelid sy bieg. Dis ’n misdryf wat jare lank aangehou het; sy lewe is vernietig deur woede en haat, en hy wil wraak neem deur ’n priester dood te maak. Sy verkragter is reeds dood, daarom val sy keuse op vader James, en juis omdat hy ’n goeie priester is wat nié so ’n dood verdien nie. (Daarmee word die parallel met Christus se kruisdood gevestig, in aansluiting by die fliek se titel.) Vader James het een week om sy sake in orde te kry, en die volgende Sondag moet hy sy afdreiger op die strand ontmoet.
McDonagh is nie die eerste filmmaker wat die Katolieke Kerk aanvat oor hul tragiese geskiedenis van molestering en pedofilie nie. In die onlangse tyd het Pedro Almodóvar dit gedoen met Bad Education en John Patrick Shanley met Doubt, ’n uitstaande film met Philip Seymour Hoffman en Meryl Streep in die hoofrolle. As ek ’n Katoliek was, sou hierdie fliek seker nog harder geslaan het, want dis vandag algemene kennis dat die Kerk vir baie lank aanklagte van verkragting eenvoudig onder die mat ingevee het.
Die fliek word gedra deur die uitmuntende spel van Brendan Gleeson, goed aangevul deur Kelly Reilly (vroeër gesien in Flight) en Chris O’Dowd (The Sapphires). Die wilde, woeste Ierse See en landskap is só ’n treffende agtergrond dat dit eintlik ook as ’n karakter gereken kan word.
Calvary word hoog aanbeveel – vir die regte tipe kyker.
Sterre: 
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

