Resensie: Buhr van die Bokveld, saamgestel deur Hermann Giliomee

  • 1

buhr300Titel: Buhr van die Bokveld: ‘’n Sprankelende Intelligensie’
Samesteller: Hermann Giliomee
Uitgewer: Africana Uitgewers
ISBN: 9780620666138 

Koop die boek hier.

Ek wil graag vertel van ‘n besonder aangename en verrassende bloemlesing. Dit heet Buhr van die Bokveld: ‘’n Sprankelende Intelligensie’. (Waarom die enkelaanhalingstekens hier gelaat word, verduidelik ek in die laaste paragraaf hier onder.) Dit is saamgestel deur die historikus Hermann Giliomee en die navorsing en teksversorging is deur Anton Naudé. Dit is ‘n publikasie van Africana Uitgewers en kan bestel word by africanapublishers@mwebbiz.co.za

Met hierdie bloemlesing word die joernalis en kortverhaalskrywer 75 jaar ná sy dood aan die vergetelheid ontruk. Giliomee beskryf hom só: “Buhr was een van die blinkste sterre van die jonger generasie van Afrikaanse joernaliste in die vyftien jaar nadat Afrikaans in 1925 ampstaal geword het.”

Giliomee gee vir ons biografiese besonderhede. Buhr is op 26 September 1900 op die plaas Grasberg naby Nieuwoudtville gebore. In 1918 word hy student op Stellenbosch, wat toe pas ‘n volwaardige universiteit geword het. Eers verloop alles nie vlot genoeg nie, kan hy nie sy BA-eksamen aflê nie, en werk hy eers ’n tyd lank vir Die Burger. Hy keer in 1923 terug. Hy beskryf die lotgevalle van so ‘n teruggekeerde student in sy artikel “Die teruggekeerde student se nagmerrie” (Die Burger, 24 Junie 1931): “Solank (so ‘n student) net voel dat die wêreld hierlangs op sy kop staan, gaan dit nog, maar daar kom die dag wanneer dit vir hom ’n onweerstaanbare behoefte word om die wêreld hierlangs weer op sy bene te laat staan. Dit is waar die stryd begin, en die teleurstelling en ontgogeling in wrewel en bitterheid oorslaan. Hy word soos die buffelbul wat snags met sy agterwêreld in ’n doringbos staan om sy humeur gaande te hou.”

Buhr word studenteraadsvoorsitter. In dié amp moet hy op 4 Mei 1925 die Prins van Wallis op Stellenbosch verwelkom. (Hy verslaap byna die funksie.) Hy sê ‘n ent weg deur sy toespraak: “I am afraid your Highness will find that all our most popular heroes are people who have either been in gaol for political crimes or in hospital for fractured bones. I must admit that the fact that your Highness has never been in gaol is a serious disqualification, which I sincerely trust your Highness will manage to get remedied before leaving the country.“ Later doen Johann verslag aan sy pa: “Die Prins, tussen ons gesê, is ‘n taamlike hopelose ‘specimen of humanity’. Hy is uiters senuagtig, ... en boesem jou nie die minste ontsag in nie. ... Hy het een groot goeie karaktertrek en dit is dat hy probeer om aangenaam te wees. Ek vrees egter hulle oorwerk die arme kêrel.”

Ná Johann sy BA-graad behaal het, werk hy ‘n jaar by The Times of Natal in Pietermaritzburg. Hy kom weer terug na Stellenbosch, nou vir ‘n graad in die regte. In 1929 sluit hy hom aan by die redaksie van Die Burger. Maar in 1930 word hy ‘n teringlyer. Tot sy dood op 20 November 1940 woon hy op Grasberg. Steeds stuur hy artikels en kortverhale vir Die Burger en Die Huisgenoot.

Die bloemlesing bestaan uit drie afdelings: “Toesprake en briewe”, “Artikels en essays” en dan “Verhale”.

In die tweede afdeling word ‘n paar opspraakwekkende gebeurtenisse uit die verlede vir ons ‘n onmiddellike werklikheid gemaak.

In 1929 probeer kaptein Malcolm Campbell om met sy Bluebird ‘n wêreldsnelheidsrekord op land op te stel. Johann Buhr beskryf Verneukpan se lugspieëlings en wat Campbell tussendeur doen: grammofoon speel, ’n krieketbal rondslaan. Buhr kry “die geluk van sy lewe”. Die publiek moet ‘n myl van die baan af staan. Hý mag saam in ‘n polisiemotor ry en kan alles van ongeveer 200 treë gadeslaan. Hy sien die Bluebird in sy “sierlike vorm; alles behalwe die wiele wat in die lug weggesmelt het¸ sodat dit meer gelyk het soos ’n vliegtuig wat teen geweldige vaart naby die aarde” verbygaan.

In Desember 1926 reis hy saam met generaal JBM Hertzog per trein. Dit is ‘n triomftog nadat die generaal sterk opgetree het tydens ‘n Rykskonferensie. Sy pleidooi sou daartoe lei dat alle lande van die Britse Statebond as outonome gemeenskappe sou funksioneer.

Buhr gee indrukke van wat op die stasies gebeur. So is hulle op Saterdag 18 Desember om 20:20 op Worcester. ‘n Dogtertjie kom gee ‘n ruiker vir die generaal, ‘n ander ‘n kissie droëvrugte. Die generaal soen hulle. “Die blomme en vrugte begin in te stroom; dit klap van soene. Die ruikers word al groter en die dogters ook ...”

Tussen 8 Desember 1926 en Januarie 1927 reis hy weer per trein, hierdie keer op versoek van akteur André Huguenet. Hy skryf vir Die Burger die artikelreeks “Agter die gordyne” oor die lotgevalle van die eerste Afrikaanse beroeptoneelgeselskappe. André (self ‘n goeie joernalis) het dit as reklame beplan, byvoorbeeld vir hulle toer met Jan van Ees se As mans huishou. Toe ek teen 2003 navorsing by die letterkundige museum (NALN) in Bloemfontein gedoen het vir my boek juis oor hierdie toneelpioniers, Voetligte en applous!, het ek een wintersoggend in die toneelhistorikus FCL Bosman se toneelknipsellêers op hierdie artikels afgekom. Ek het my verlustig in sy evokatiewe beskrywings van gebruike en avonture. Hoe hulle in ‘n treinkoepee op ‘n stormnag by Mosselbaai by kerslig gerepeteer het. Gilliomee konsentreer meer op sy betoë oor die negatiewe omstandighede waaronder hulle gewerk het. Buhr se opmerkings oor akteurs soos Wena Naudé en Mathilda en Hendrik Hanekom se voortreflikhede, en veral beperkthede, is seker waar van die beginjare toe hy hulle ervaar het, maar dit is dan juis ‘n uitdaging om dit met hulle latere prestasies, veral by die streekrade, te vergelyk.

In die laaste afdeling is daar 11 verhale. Dis opmerklik hoe hy die geskiedenis betrek en dan daarmee heel ongewone inhoude skep. Met “Die heilige moeder” van Die Huisgenoot van 13 en 20 Augustus 1937 beleef ons byvoorbeeld die Spaanse Burgeroorlog. Hier is insigte in die Rooms-Katolisisme, die beeldhoukuns en die morele oorwegings met oorlogvoering. ’n Ou kunsskool op die heuweltjie, “vroeër die trots van Torrajeda”, is in puin – sal die “handjievol verdedigers, vuil en verflenter, half-verhonger en half-vergaan, van ontbering, spanning en slapeloosheid” hulle “onverbiddelike verweer” kan volhou? Buhr skryf sterk dramaties; die sinsbou is indrukwekkend ritmies. (Vergelyk ook “Die perd van Attila”, bl 155.) Daar’s helder besonderhede. Soos dié oor ‘n majoor wat voor ‘n vuurpeloton moet sterf: Hy hef eers sy linkervuis op en roep: “Lewe Spanje!” Maar dan, “toe die blinddoek die lig voor sy oë uitsluit”, val hy op sy knieë en smeek om genade. Die teks kan as ‘n novelle beskou word.

Van die ander verhale is humoristies, byvoorbeeld “Die skoolmeester se sukses”, “Die plaasvryery” (oor ‘n dominee se pogings om twee oumense wat byna ‘n driekwarteeu lank soos kat en hond gelewe het saam te laat bid) of die geestige “Gekuier oor die Jordaan” (oor “spookklops” wanneer ‘n mens geeste uitnooi).

Buhr het herhaaldelik in sy skryfwerk moeite gedoen om misverstande oor die name van drie landstreke uit te wis. Mense het in daardie jare Boesmanland, Namakwaland en Buhr se heimat, die Bokveld by Nieuwoudtville, verwar. Heel moontlik gebeur dit vandag nog. Oor hierdie onderwerp is hy op sy aller amusantste in sy skets uit 1935 in Die Huisgenoot, “In Boesmanland”. Daniel Hugo het dit in 2002 opgeneem in Tydskrif 2: ‘n Herontmoeting met vroeë Afrikaanse kortverhale (Lapa). Giliomee haal Hugo se karakterisering van Buhr se werk aan: “‘skalkse styl’ waarmee hy, meer ongenadiglik as voorgangers, sy wêreld beskryf” (bl 12).

“In Boesmanland” is as ’t ware ‘n gunstige reaksie op die werk van ‘n medeskrywer uit die Bokveld: E de Roubaix (1880–1944). Pieter Strauss stel in 2010 ’n bloemlesing saam uit De Roubaix se bundels kontreiverhale, soos Boesmanlandse sketse en verhale (1926), Uit Boesmanland – kykies in die volkslewe (1928) en Giel Ool en ander verhale uit die Boesmanland (1929). Die bloemlesing heet Vlam uit die vlaktes: ‘n keur uit die prosa van E de Roubaix.

Bessie nooi vir Johann Buhr uit om by haar en haar pa, mnr Lintvelt, op hulle plaas in die Boesmanland te kom kuier. Toe Johann hom ontmoet, verseker mnr Lintvelt hom: “Ek hoop jy sal agterkom dat die ou Boesmanland nie halfpad so eenvoudig is as wat baie mense dink nie.” Nadat “Bessie die boedel van die aandete beredder het”, begin haar pa by die etenstafel ‘n De Roubaix-verhaal in ‘n tydskrif lees. Johann en Bessie verkeer heel aangenaam op die stoep. “Daar het ‘n duik gekom in Bessie se netjies versorgde kring krulletjies waar hulle teen my skouer gerus het. In ons albei se siel het die rus en tevredenheid van die horisonlose vlaktes gedring.”

Ongelukkig nie lank nie! “Die rustige stilte is deurboor deur die onstigtelikste van alle geluide, dié van ‘n mens wat alleen lag.”

Dis dan mnr. Lintvelt wat so geweldig lag vir die Roubaix-verhaal. Hy kom gesels op die stoep. Hy bewonder die goeie beskrywing van die mense. Wonder of ‘n mens regtig nog sulke eenvoudige mense kry as dié wat De Roubaix beskryf.

Die ontknoping van die skets gaan ek nie verklap nie!

Redaksioneel is besluit om “so min as moontlik (te) verander aan ouer taal- en spellingverskynsels asook woordkeuses om dit steeds ’n historiese teksuitgawe te maak”. Dit sorg vir woorde wat ’n mens bewonderend wil aanteken en gebruik. Jy is verstom oor ellelange sinne wat ook lang paragrawe skep. Maar die teks raak “onhistories” deurdat enkelaanhalingstekens gebruik word. Die dubbelaanhalingstekens kom nie voor nie. Dis ‘n steurende afwyking van die skryfwerk toe en nou.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top