Resensie: Boomkastele: ‘n sprokie van ‘n stadsmens deur Schalk Schoombie

  • 1

boomkastele250

Titel: Boomkastele, 'n sprokie van 'n stadsmens
Skrywer: Schalk Schoombie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798167673

Boomkastele, die debuutroman van Schalk Schoombie, is tegelykertyd ‘n moderne sprokie, ‘n roman oor die lewe in die stad en ‘n versameling van ‘n verskeidenheid hedendaagse tekste wat op verrassende wyse in die lewe van uiteenlopende karakters geïntegreer word; ‘n veelfasettige stadsroman oor Johannesburg wat herinner aan die onlangs verskene Duisend stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer.

Die verhaal sentreer veral op die navorser, Hannes Moerdyk, wat onredelik en buite beheer woedend raak oor die afkap van twee skadubome op die rand van sy erf (“dit het begin met ‘n wit moerbeiboom en ‘n witstinkhoutboom”) en daarvandaan in ‘n jare lange vete gewikkel raak met die agterste bure oor takke, ganse, ‘n koliekbaba en ‘n papegaai terwyl hy sy eie reuseboom troetel en sy eie boomkasteel bou. Die ander verhaallyn wentel veral om sy dogter, Ina, ‘n misdaadjoernalis met ‘n swart gordel in karate wat op die spoor is van ‘n misterieuse graffitikunstenaar, die Sirkelman, wat die stad versier met nabootsings van Leonardo da Vinci se Vetruviaanse Man. Sy is so gefassineer deur hom dat sy meer aandag aan dié soektog spandeer as aan die moorde om haar, soos die gesinsmoord langs haar pa-hulle.

In die roman is daar die beskrywing van wisselende ruimtes tussen natuur en stad, voorstad en agterplaas teenoor die middestad “wat onophoudelik maal” (200), koerantkantoor, kroeë, die rekenaarwêreld van “Diepnet” en “Onderweb” en meer as een droomkasteel. In hierdie ruimtes kom ook ander karakters na vore: Dawid die seksbehepte, testosteroongedrewe Boertjie by wie Ina betrokke raak; die ma van die huis; Daniella, Ina se vriendin, wie se drankie gedokter word; die bure met wie die leser eers baie later kennis maak. Dit is langsamerhand duidelik dat elkeen maar “in sy eie web” (303) leef en uit daardie beperkte perspektief die ander slegs gedeeltelik ken. Soos die Sirkelman dit stel: “Blindelings in die stroom. Ons is onsself, maar ons is ook meer as onsself. Of minder. Ons leef asof ons in reality TV rondneuk, ons eie befokte klein movie … Ons is almal aktiviste, op ons eie klein mission” (191).

Dit ís dus onder andere die sprokie van Koos du Plessis se moderne stadskind wat tog nog met sprokies grootword, onder die neonboog geluk soek en in die onmoontlike glo, soos haar pa wat sy droom van ‘n boomkasteel verwesenlik. Soos in die tradisionele sprokies is daar ook die ewige stryd tussen Goed en Kwaad. Daar is byvoorbeeld die sprokie van “Die prinses wat alles gesien het” en die boom met ‘n naam: Sfinks, wat ‘n karakter op sy eie word, later selfs ‘n dreigende “monsterboom” (92), “onafhanklik en onstuitbaar” (175) wat wag op wraak (219.) Daar is ook die werklikheid van uiterste woede en geweld, hokvegtery en verkragters, internetbedrog en sindikate, ‘n Daisy de Melker-groep “wat gif voer vir scammers” (112), moorde en ongelukke, seks, bedrog oor die internet, mense se obsessies wat hulle voortdryf, die isolasie van mense en die absurde werklikhede soos weerspieël in die nuusberigte wat die navorser versamel. In hierdie “klein-vreemder-as-fiksie lewensgrepe” (287) is daar onder andere ‘n vermiste vrou wat by haar eie soekgeselskap aansluit en ‘n man wat vermoor word omdat hy meer van prosa as poësie hou. Maar daar is tog ook die liefde …

Schoombie maak gebruik van ‘n verskeidenheid oënskynlik totaal uiteenlopende tekste: die verskillende fokaliserings deur belangrike karakters, e-posse, gemorspos, nuusberigte, getranskribeerde onderhoude, kettingbriewe en ‘n sprokie wat onmiddellik daarna opgevolg word met die beskrywing van ekstreme geweld in ‘n hokgeveg. Hy maak ook gebruik van intertekstuele verwysings soos onder andere Die Bybel, uitsprake van en oor Einstein, Alice in Wonderland, George Borges se Labirinte, flieks, Where the wild things are, Les Misérables, Griet skryf ‘n sprokie om aan te sluit by die navorser en Ina se belangstellings, maar ook die motiewe en temas oor die lewe wat hy wil aanraak.

Verskillende motiewe word gebruik om hierdie verskeidenheid tekste, karakters en ruimtes te verbind tot ‘n web van geïntegreerde verwysings en motiewe soos ‘n veelvoud van sirkels, die spinnekopweb, kastele (want daar is meer as een), geweld, obsessies, drome en die soek na antwoorde op baie vrae waarop die antwoord soms “niks” is.

Die roman wissel vinnig tussen fokalisators, laslappieberigte, gemorspos en ander tekste. Waar die prosa soms besonder uitgebreid en oënskynlik oordrewe raak, soos in die beskrywing van die bome en die boomfluisteraar, help die wisselende en kort tekste weer om dit teë te werk. Vir sommige lesers kan beide die uitgesponne prosagedeeltes en die vinnige afwisseling met skynbaar onverwante kort tekste irriteer, totdat die verband later- tot so ver as 100 bladsye later - wel duidelik word. Die spanningslyn word ook volgehou deur die navorser se intense emosies en betrokkenheid by veral die bome en die vete met die bure, asook Ina se ewe gedrewe speurtog na die Sirkelman. Dit lei uiteindelik tot meer as een verrassende soort ontploffing en inploffing.

Soos die roman begin en eindig met die oorskouende perspektief op die voorstad uit die lug, is daar deurlopend die tema van ineengestrengelde sirkels in die mens se bestaan waarvan hulle self skaars bewus is, die gedurige wisseling van goed en kwaad, geweld en toenadering, die wisselwerking tussen natuur en mens, ‘n voortsnellende chaos waaruit die mens moet probeer sin maak. Dit word ‘n soort “road movie”, soos Ina aan die einde verduidelik: “’n Fliek sonder ‘n duidelike storie oor reisigers op pad na ‘n bekende-slash-onbekende bestemming. Gewoonlik ‘n onpaar karakters, vir humor en konflik. Die reis word die storie, die bestemming veronderstel ‘n keerpunt en persoonlike groei. Die pad loop na binne. So iets” (305).

Miskien was Schoombie oormoedig om soveel aspekte gelyktydig in een roman te probeer integreer, is die prosa soms net té oordadig, al pas dit by die betrokke fokalisator se karakter. Ek het ook aanvanklik my bedenkinge om bostaande redes gehad, maar soos ek al hoe meer betrokke geraak het by ruimte, karakter en motiewe het dit uiteindelik ‘n baie bevredigende leeservaring geword.

  • 1

Kommentaar

  • Aletta van der Merwe

    Die hoeveelheid van drade word genoegsaam saamgevleg dat dit nie aan die einde afbreuk doen aan die eenheid van die roman nie. En ten spyte van die definitiewe intellektuele aanslag, was daar aan die einde 'n heerlike "feel-good" gevoel vir die romantiese siel. Nie noodwendig maklike, maar bevredigende leesstof.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top