Resensie: Boekstaaf deur Nini Bennett

  • 3
Nini Bennett (foto: Mellet Moll)

Nini Bennett (foto: Mellet Moll)

Nini Bennett debuteer in 2011 as digter met die bundel Kodeks, uitgegee deur die minder bekende nisuitgewer Cordis Trust Publikasies. Haar tweede bundel, Boekstaaf, het vanjaar by dieselfde uitgewer verskyn. Intussen word Bennett ook geassosieer met aanlyn digtermentorskap (die CN-digkunsakademie). Gegewe Bennett se aanhang op die internet, haar eie taksering van Facebook-digters en die kanon (Bennett 2014), haar keuse van uitgewer en die meer “formele” resepsie van haar poësie sou daar gesê kon word dat sy haar as digter in ʼn tussenposisie bevind. Gevestigde kritici het gemengde reaksie op die debuutbundel getoon, met ʼn sterk neiging na die negatiewe en die onbesliste. Troebelhede is uitgewys ten opsigte van byvoorbeeld beeldsluiting en versopbou, en daar is beswaar gemaak teen die neiging tot woordoordaad. Bennett se werk is beskryf as ʼn digkuns wat in gees wel poëties aandoen, maar nog nie ten opsigte van uitvoering oortuig nie.

Boekstaaf verdien ʼn gunstiger ontvangs, want hierdie werk getuig van noemenswaardige groei. Die titel van die bundel, wat van dieselfde orde is as dié van die debuut, dui aan wat die aard en fokus van hierdie poësie steeds is en wil wees: beskrywing, optekening, onder woorde bring. Ten spyte van die gerigtheid dus op skrif, op skryf, bly dit ʼn poësie met ʼn eksterne lokus van kontrole. Amper soos by die simbolisme (ek dink hier ook aan die Nederlandse Tagtigers) is daar ’n gedrewe poging tot vasvang in woord en vers van die eie gemoedsbeweginge, ’n inkanterende besinging van ontwykende grootshede en die Ander – alteriteite wat in ʼn swaar woordnewel opgeroep word. Alles word in die stryd gewerp om woorde te vind/te maak – soos dit in “Parabel” gestel word: “die pelgrimstog na woorde/ self word die sending” (76). Anders as in die debuut is daar egter blyke van sterker digterlike beheersing en beheerstheid. Die bundel in sy geheel en die individuele afdelings en gedigte is meer deurdag en afgerond.

Die tematiek van Boekstaaf is opvallend deurlopend en die vier afdelings waaruit die bundel bestaan, vertoon hoogstens enkele klemverskuiwings binne die breër verband. Sentraal staan die bemeestering van die “kuns van afstanddoen” (73), soos dit in die gedig “Teleskoop” pakkend verwoord word. In die eerste afdeling word die tematiese kluster wat hierdie bundel saambind, aan die orde gestel: relasie, eensaamheid, stilte, leegte, geheim, verwonding, verlies, tyd en eksistensie, foto en film (veral The Unbearable Lightness of Being), en die digterlike “herhaal” van dit alles. “Ars poetica” (87), die slotgedig van die vierde afdeling en van die bundel, beklink hierdie digterlike projek as daar met verwysing na die “suiwerste poësie” gesê word: “dis die begeerte om stof tot stilte/ om te dig, om digterwordend/ die stilte te stoffeer, dis die metamorfose/ van die metafoor as hout fossiele word”. Die elegiese tematiek van afdeling I word in afdeling II verder gevoer, maar hier met ʼn inteleskopering op die ekologiese. Daar word ingegaan op sake soos evolusie, brose lewe en verweer. Bepaalde plant- en diersoorte word geteken op ʼn manier wat aan portretstudies herinner, dikwels vergesel van die wetenskaplike naam. Afdeling III bevat ʼn herbesoek aan die sentrale temas, maar nou aan die hand van intertekste, veral films wat op die digter-spreker ʼn sterk indruk gemaak het. Hier kom dan ook die geskiedenis (oorlog, kriminaliteit, ens) en ʼn metakyk op die filmiese aan die orde. In afdeling IV word tematies en poëtikaal uitgereik na sluiting ten opsigte van die digterlike bemeestering van afskeid en afstanddoen.

Die deurlopendheid van die tematiek hou verband met die sikliese. Die bundel open met die gedig “Da Capo”, ʼn musiekterm wat beteken “herhaal vanaf die begin, die kop”, en ook skakel met die hoed, die kapstok en die mooi “swaar kop” (2) van die aangesprokene in hierdie gedig. “Da Capo” staan ook in verband met die slotgedig van die bundel, wat só eindig: “Die digter, die magiër van ouds/ dek die altaar en alles/ neig van vooraf na vuur” (87). Heel gepas word die hoed egter nie ʼn deurlopende motief in die bundel nie. Gegewe die plasing in die openingsgedig fungeer dit eerder as poëtikale vertrekpunt. Die hoed word immers in “Da Capo” beskryf in terme van sy aanwesigheid aan en afwesigheid van die kapstok, waardeur “aankoms en vertrek” (2) gemarkeer word. ʼn Hoed hou verband met uitgaan in die wêreld, toegerus wees vir die reis na die onbekende, en dit is waaroor hierdie bundel handel en die “uitkoms” wat dit metafories, as vehicle, vir die leser wil help bewerkstellig. Danksy die omslagontwerp van Liekie Fouché, Another world is calling, wat ʼn man in hoed en jas en met ʼn tas toon wat met sy rug na die kyker gedraai na ʼn monochroom-blou see en wolke staan en kyk, is daar ook ʼn skakeling met die vierdelige reeks “Die man met die grys tas” (11–2). Die voorblad roep assosiasies met die bolhoedmotief in die werk van die surrealistiese skilder René Magritte op, asook met byvoorbeeld die aanvang van John Fowles se The French Lieutenant’s Woman (1969) en Caspar David Friedrich se skilderye Monk by the Sea (1809) en Wanderer Above the Sea of Fog (1818). Met verwysing na die Noordelike Romantiek beskryf Rosenblum (1975:215) Friedrich as ʼn skilder “who ... placed the spectator before an abyss that provoked ultimate questions whose answers, without traditional religious faith and imagery, remained as uncertain as the questions themselves”. Dít gaan ook op vir wat Bennett in Boekstaaf onderneem, en in hierdie opsig word voortgebou op Kodeks met sy gerigtheid op indeksering, heenwysing, dit wat groter en elders is.

Die uil uit “Nagwaak”, een van die meer geslaagde gedigte in Kodeks, duik meer as een keer weer in Boekstaaf op en hou verband met (verkenning van) die onbepaalde en nagtelike asook die verhouding met die geliefde wat vir die digter-spreker as “orakel” fungeer (vgl “Nagwakers”, 4, en “Drif”, 13–4). “Drif” open so: “Noudat ons uile is, beminde,/ breek ons deur die nag se radar/ en verdwyn in ʼn donker kraak” (13). Versreëls soos hierdie aktiveer ook die poësie van Breytenbach, bv “(tronkvoël)” wat begin met die woorde: “ek is ʼn nagvoël op reis na jou/ deur skeute in die tyd/ in tuite van die donker” (Breytenbach 2001:220). In Bennett se gedig “Meester” word vertel van iemand met “sy rug na my voor die boekrakke” (18) van wie sy nie net die swye geërf het nie, maar ook die swaar dra “aan die nerfaf rûe van boeke”:

Ek erf die geeste van baie skrywers
en wonder hoe het hy dit reggekry,
meester van sy stilte in ʼn beheersing
so donker en stip
soos die derde ooglid van ʼn uil
wat nie wyk in die fynkyk
van sy visie en meedoënloos
onbeskut teen sy wete soek. (18)

Uiteindelik, as alles vergaan het, word in die slot van “Blou” gesê: “dan sal net die lug oorbly/ en as selfs die lug leeggewaai is// sal ons blou word,/ want blou is die verste kleur/ ja, dan sal ons eendag word” (71). Hierdie gedig skakel met die merendeels sekure “Eikson”, wat ook verlies/wins verken en wat ek in sy geheel aanhaal:

Ek geloof in jou
soos ʼn mot vlok na ʼn kers
of Ikarus se tuimelvlug na die son
mot van die noodlot
ek geloof in jou
soos ʼn mot na die godeson
as die kers blouer brand
en in spiraalrook doof
ek vlok en klop
hartstondes nader, sekondes
in my ewigheidswaarde gewy
aan jou: as ons sou val
is ons óók heilig, geliefde
gegote soos ʼn eikson in die was. (5)

Ek vind heelwat gedigte in Boekstaaf egter minder suiwer van lyn wat betref beelding, stelwyse en styl. In “Nagwakers” (4) byvoorbeeld word die twee se gesamentlike nagtelike vlug beskryf as “satyngang” (reël 4) én as “fluweelvlug” (reël 12). In “Swanesang” is daar voor die laaste drie versreëls ʼn breuk in die digterlike betoog. Mens twyfel oor die woordsamehang van die versreël “Weet: as bottelborsels rooi in kwashale knal” (8). Deel iv van “Die man met die grys tas” doen, op die mooi slotakkoord na, geyk en onbeslis aan:

Die man met die grys tas
het ek liewer as my grootste vrees
of innigste geheim; die bitter stiltes
van ou bemindes, die slagvelde
van gevalle blomme en sinlike wit kruisies. (12)

By “Garsfontein” huiwer die leser oor “die branding/ van duine wat stroombelyn verwind” (17). “Hibernasie” bevat die volgende: “die dae breek stom in lae mis/ en heuwels brand wasem/ as ons wag met ontsag” (25). Die slot van “Kremetart” is nie beslissend geformuleer nie: “vee die inventaris van te veel sien/ en weet bonkig en bruut met hom mee” (31). “Cordis Brilliant” begin pleonasties met “Dringendrooi alarm” (39), terwyl “Rooi koningin”, wat handel oor ʼn leeu wat ʼn bok vang, eindig met die oortollig verklarende versreël “om te dood is delikaat” (43). In die geval van “Skulp” (49) huiwer ek op stilistiese gronde oor herhalende elemente wat mekaar op korter of langer afstand opvolg, bv “eensaamheid” (reël 13) en “alleenwees” (reël 14); “leeg” (reël 3), “leemte” (reël 4) en “vakuum” (reël 17); “verlies” (reëls 2 en 18). In “Gedenkskrif” is daar die geykte “verbleek tot kalligrafie van dooie letters” (55).

Sommige woorde wat om die een of ander rede (byvoorbeeld die hoogdrawendheid daarvan) mag steur, kom meer as een keer in die bundel voor, bv “daag” (6, 13), “skandeer” (12, 16, 58), “vliet” (46, 47, 86), “fluoressente” (4, 6), “nokturnies[e]” (4, 47).

Die gerigtheid daarop om die ekstratekstuele vasgevang te kry lei daartoe dat taal onder stremming geplaas en op intensiewe wyse ontgin word. Soos gesê, is daar in Boekstaaf in hierdie verband wel blyke van sterker tug as in die debuutbundel. Een van die maniere waarop seggingskrag in hierdie bundel verhoog probeer word, is deur samestellings. Sommige hiervan werk goed in die betrokke versverband, bv die pragtige “binnesonvensterbank” in “Garsfontein” (17). Samestelling (meestal bestaande uit twee dele) as procedé val wel besonder sterk op in Boekstaaf, en in nie alle gevalle word ʼn oortuigende en helder nuwe geheel gesmee nie. Lesers moet maar self binne die konteks van afsonderlike gedigte hieroor oordeel. Voorbeelde hiervan is: satyngang, fluweelvlug (3); eikson (5); wonddele (6); bronsappe (7); nimmerdig (8); voetlê (10); vliesknip (13); lieflê (14); rypgekneusdes, verwind, soutvlam (17); stomgebrande, fotofobies, sweisbrand (22); droomradar (24); wiggelrigtings (26); nerftrek, herfsmense, nonmense, brokmense, knettervuur, molsagte (28); welklig, slenterskadu’s (29); oermoedertjieboom, winterboom (30); vergeskrifte, hegstringe (31); broosbreek, vlugleef (32); vliesdun, ruitverwys (33); seinsenuwees, silwersag (35); marienegeheue, seevaartfabels, vinstrale (47); diggedroom, marienemomente, digterwondend (48); vulkaantyd, verweerkuns, windgeskrif (50); sugwater (51); grensdun, skemerlewe (52); swygskrif, grifskrif (in samehang met “griefskrif”), vergetelweet (55); binnevertel, wakkerpla, toevoubeurte (56); skandeertonnels (58); waaksin (in samehang met “waansin”), droomdekorum (60); woordtonele (63); vlymblink (66); sluipslapers, bedelhitte (68); kruisdoof (77); kransstandig (78).

Iets van die tweeledigheid van die samestellings word ook gevind in die veelvuldige gebruik van “en” en “of”, bv: leeg en eensaam; gearriveer of gegaan; aankoms en vertrek; hier en ver (2); drup en pers; broos en bang; passie en protes; naakwees of vrees; liefdes- en noodlotslyne (7); lyk- of nimmerdig (8); windings en grense (10); nokke en kerktorings (13); strooilig en sluiter (16); ouderdom/ en rotstuine (17); donker en stip (18); wondbaar en donkerblou; fladder en kwinkeleer (21); vrees en ongeloof; skermskut/ en brandmuur; verlange/ en vergissing (22); groots en suiwer; ys en gletsers (25); takke en blindings (28); tydgewrig en beendigtheid; sinsoek en oorlewing (30); bonkig en bruut (31); silwersag en pynlik (35); moedig en gehard; liefde en eg; nerftrek en oorgee; parshuid en potpouri (39); slap en ontdaan (41); struike en leegtes, vrees/ en vlugloop (42); memento’s en memoires (44); ravyn en slenkdal; sis en skuim; donslig en waterwolk (46); lief- en lyfmense; gesprekke en gevegte; telefoonhokkies en gedempte plekke (56); ruimte en tyd (74); ou gedig of gebed (74); onthou en weersien (75); amber en robyn; winterblare en katedraalglas; jeug en kinderlywe; beenkoud en sereen; skaduwee en as (80); verenig en skei; formeer en vliet (86).

Voorts word die byvoeglike naamwoord ietwat oorbenut: toegewyde eensaamheid (3); fluoressente stof; dowe klankskrif (4); fluoressente draad; wondbare mond; serene motte; keëldun kokonne (6); onbewaakte grense (7); swewende wolke; forensiese presisie; lewendige maal (13); bewapende beton; monochrone veiligheid; meedoënlose visier; sierlike vlerkbeheer; dodelike drif (14); flikkerende/ figmente (15); gebrandskilderde vlerke (20); stomgebrande gras (22); molsagte grond (28); beleërde eensaamheid (29); sagte sukkulente krag (31); deurgehaalde duisternis (33); stofvergulde gangportrette (36); ouwêreldse roseboog; suurstofryke bloed (39); nokturniese grotte; sardoniese tande; burleske vierbeen (47); meedoënlose verhouding; frikatiewe binnesug; asemlose vakuum (49); ligdig duisternis (63); vlymblink skyngestaltes (66); fokale verlange; mitiese mimiek (73); dromerige/ fynkyk (75); dapper betoë; volmaakte idiolek (76); forensiese afstanddoen (82).

Daar word ook meermale van die “van”-konstruksie gebruik gemaak; bv.: ons haltes/ van vergeet (2); die blare/ van my digterword (8); flitsberigte van vrees (13); matrys van tyd (16); die berghitte van onthou (44); skandeertonnels/ van vrees (58); brandaltare van verrassings (70); die heilige akker van die dood; die ligbrand van waarheid; anatomie van stilte (74); die vuuraltare/ van katarsis (81).

Die genoemde stylkenmerke van die bundel val op mikrovlak minder sterk op en is in daardie kontekste soms selfs funksioneel, maar alles bymekaar beskou, konstitueer hierdie sake aandagpunte vir die verdere ontwikkeling en verfyning van hierdie digterskap.

Die mees geslaagde gedigte is dan ook dié waarin bogenoemde stilistiese steurnisse (grootliks) ontbreek en daar ʼn skoner lyn in terme van versgang, beelding en woordkeuse verkry word. Daar is immers ʼn reuseverskil tussen kompleksiteit en troebelheid. Voorbeelde van gedigte in Boekstaaf wat as geheel oortuig, is: “Eikson” (5), “Voyageur” (9), “Hadeda” (37) en “Ars poetica” (87). Ander gedigte weer is in bepaalde opsigte of gedeeltes treffend of welgevormd, byvoorbeeld die slot van “Da Capo” (2), “Garsfontein” (17), “Memento mori” (56), “Terugflits, 1982” (65) en “Blou” (71). “Sywurm” (6) voer die leser konseptueel en beeldend mee, ofskoon die woordkeuse nie deurgaans trefseker is nie. Vergelyk maar net die slotgedeelte:

Kyk na my mond, my wondbare mond
spin vir ons ʼn vers tot my wonddele
ons uit larf-wees amorf na digter
syspore van die liefde weef en ons eendag
serene motte uit keëldun kokonne daag. (6)

Bennett beoefen in Boekstaaf steeds grootliks die vrye vers. Daar is al meermale beweer dat vrye vers in bepaalde opsigte eintlik “moeiliker” is as die vormvaste poësie. Om poëtiese binding in hierdie soort poësie te bewerkstellig, is ʼn besondere uitdaging. Bennett slaag toenemend daarin om sinvolle, afgeronde vrye vers te lewer. Daar is enkele ekskursies in die rigting van vaste vorme. Sy waag haar hand twee maal aan die villanelle (“Changing of the guards” en “Apollo-ligte, 1969”), maar nie een van die twee word meer as betreklik houterige skryfoefeninge nie. “Heksagone” (26) besit hegte eindrym, wat gegewe die tema van hierdie gedig wel funksioneel is.

Die slotgedig, “Ars poetica”, open met die stelling: “Die suiwerste poësie is sonder taal” (87). Uiteraard kan die digkuns nooit wegkom van taal nie, maar gegewe hierdie uitspraak en die reeds genoemde versugting wat in hierdie gedig verwoord word om uitdrukking aan die stilte te gee, is die woordgewig waaraan Bennett se poësie dra, minder in pas met en bevorderlik vir só ’n digterlike onderneming. In menige gedig, wat andersins (byvoorbeeld konseptueel en metafories) dalk heel gaaf mag wees, klont woorde helaas op onooglike wyse saam en trek die gedig af.

“[D]ie kuns van afstanddoen” moet nog vollediger bemeester word.

Bibliografie

Bennett, Nini. 2011. Kodeks. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

—. 2014. Die bedryf van ʼn aanlyn digkunsakademie. https://www.litnet.co.za/poolshoogte-die-bedryf-van-n-aanlyn-digkunsakademie (7 Julie 2015 geraadpleeg).

—. 2015. Boekstaaf. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

Breytenbach, Breyten. 2001. Ysterkoei-blues. Kaapstad: Human & Rousseau.

Rosenblum, R. 1975. Modern Painting and the Northern Romantic Tradition. Londen: Thames & Hudson.

  • 3

Kommentaar

  • Die resensie is uiters volledig en baie deeglik nagevors. Elke stelling is gestaaf, elke indruk is helder en volledig uitgewys. Ek moet die resensent komplimenteer want dit stel 'n hoë standaard en getuig van akademiese volwassenheid. Dit gee krediet waar dit verdien word en dit bied leerpunte aan beide die digter en ander lesers. Ek wens meer resensente wil so volledig en deurdag werk. Dankie vir die voorbeeld wat hier gestel word.

    Aan Nini - jou bundel is sterk genoeg om 'n ontleding van hierdie diepte te kon uitlok. Vir dit alles, en nog baie meer is ek oneindig trots op jou.

  • Diepgaande en gefundeerde resensie. Die konsep van "evidence-based" is beslis hier van toepassing en die resensent verdien vermelding daarvoor.

    Ek stem saam met Mellet dat slegs 'n bundel met diepte en waarde so 'n volledige resensie voorafgaan. Boekstaaf is 'n werk waarop jy trots kan wees, Nini.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top