Resensie: Blue | Orange

  • 0

Blue Orange
Teks: Joe Penhall
Regie: Clare Stopford
Met Andrew Buckland, Nicholas Pauling en Marty Kintu

Die kwessie rondom normaliteit is ’n bekende een. Soveel te meer in die psigiatrie. Daarmee saam ontstaan die probleem met die trek van die lyn wat tussen normaal en abnormaal onderskei en hoe dit die individu op die grens beïnvloed.

Blue Orange is ’n besonder diggeweefde teks wat onderwerpe soos sosiopolitieke persepsies, rassisme, klassisme en die kommerwekkende mag van die medici aanraak. Onder andere is ook problematisering van die naamgewing van ’n kondisie en ieder en elk se uiteindelike onderworpenheid aan gesag op die gesprekstafel.

Chris (Kintu), ’n pasiënt wat met grenspersoonlikheidstoornis gediagnoseer is, staan op die vooraand van ontslag uit ’n psigiatriese inrigting, vasgevang in ’n akademiese debat tussen sy psigiater, Bruce (Pauling), en dié se toesighouer en mentor, Robert (Buckland). Tydens die dokters se genadelose poging om mekaar te uitoorlê met moontlike diagnoses, raak die pasiënt maar ’n blote pion in hulle mediese spel, en om die beurt ’n spreekbuis vir elk se mening. Uiteindelik word die moontlike aansterk van die pasiënt ’n relatiewe saak soos wat die aanvaarde mediese praktyk rondom hom verval.

Die jargon van die twee dokters se dialoog sluit nie alleen die pasiënt uit die gesprek nie, maar ook lede van die gehoor wat minder belese is wat die onderwerp betref. Dit skep by die gehoor ’n interessante empatie met Chris se karakter, omdat dit hulle, soos Chris, getuies van die gebeure maak, terwyl  die gespesialiseerde taalgebruik hulle terselfdertyd van die aksie vervreem.

Buckland en Pauling kwyt hulle uitstekend van hulle taak in hul interpretasies en uitbeelding van die onderskeie psigiaters. Dit is juis die presiesheid waarmee hulle die twee pole in mediese opinie en praktyk voorstel wat aan die mediese wêreld wat die gehoor binnetree, soveel geloofwaardigheid gee. Kintu se noukeurige uitbeelding van sy karakter skep die akkurate verteenwoordiging van ’n individu vanuit ’n baie spesifieke demografiese plek en tyd, wat in sterk teenstelling met die gegewe mediese ruimte staan. Stopford se kenmerkend presiese regisseurshand is weer eens hier te siene en dra baie suksesvol by die tot die skep van ’n goed-afgewerkte, vinnig-bewegende en energieke toneelstuk.

Blue Orange moet beslis nie misgeloop word nie en is tot 14 Maart 2015 by die Baxter Golden Arrow Studio te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top