Bernie
Regisseur: Richard Linklater
Rolverdeling: Jack Black, Shirley MacLaine, Matthew McConaughey, Brady Coleman
![]()
Jack Black is een van daardie akteurs oor wie min fliekkykers neutraal voel – dis mal oor hom of haat hom. Ek het hom die eerste keer in High Fidelity (2000) gesien, waarin hy ’n uiters onbeskofte assistent in ’n musiekwinkel was. Sy CV is ’n lang lys wat strek van vervaardiging tot stemwerk (die bekendste daarvan Kung-fu Panda), maar ten spyte van sy onteenseglike talent het ek hom nog nie weer in ’n substansiële rol gesien nie. Tot Bernie.
Bernie Tiede (Black) is die assistentlykbesorger in Carthage in Texas. Vroegmiddeljarig, taamlik geset, pynlik netjies, altyd vriendelik en uiters professioneel in sy werk. Veral die ou tannies is mal oor hom, want met die begrawe van hul eggenote is Bernie só simpatiek, só ondersteunend. Hy raak selfs bevriend met die gemeenste weduwee in rou, die skatryk Marjorie Nugent (Shirley MacLaine). Sy koop vir hom duur geskenke en nooi hom saam op eksotiese reise. Maar mettertyd raak die melk suur ...
Die draaiboek is gegrond op ’n ware gebeurtenis, een van daardie gevalle van die werklikheid wat vreemder is as fiksie. Die verhaal word as ’n kammadokumentêr aangebied, met dorpenaars wat die werklike Bernie geken het wat elkeen hul stukkie van die storie vertel. Dit dra grootliks by tot die oddball gevoel van die film. Shirley MacLaine en Matthew McConaughey lewer die tipe puik spel wat ’n mens van hulle verwag, maar Jack Black se vertolking is werklik van Oscar-gehalte.
Hierdie is nie ’n tipiese (Amerikaanse) komedie nie; die humor is uiters subtiel. Vir kykers wat hou van iets anders word dit hoog aanbeveel.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

