Amour (vertoon vanaf 19 Julie)
Draaiboek en regie: Michael Haneke
Rolverdeling: Jean-Louis Trintignant, Emmanuelle Riva, Isabelle Huppert
![]()
Sedert hierdie film vanjaar se Oscar vir beste buitelandse rolprent ontvang het, wag ek gretig daarvoor. Nog meer so toe fliekvriend André Crous uit Praag skryf dat ek dit nie moet misloop nie.
Nou het ek die voorskou gesien, en dis baie moeilik om oor die fliek te skryf. Dis een van dié waar ’n mens stil uit die teater moet stap en net huis toe gaan – ’n pratery daaroor is so ontoereikend. Nie omdat jou oë rooi gehuil is nie; Michael Haneke (Code Unknown, The Piano Teacher, The White Ribbon) maak nie gebruik van sentimentaliteit nie. Maar in hierdie film sny hy die kwessie van lewe en dood tot op die been oop sodat jy magteloos daarvoor staan. Op so ’n manier dat die titel, Liefde, die hele kosmos van ’n huweliksverhouding omvat.
Georges en Anne Laurent (Jean-Louis Trintignant en Emmanuelle Riva) is in hul tagtigs, afgetrede musiekonderwysers wat onafhanklik in hul gerieflike woonstel in Parys woon. Hul dogter Eva (Isabelle Huppert) is getroud met ’n Britse musikus, en hul seun is ook een. Ná ’n ligte beroerte is Anne aan die een kant verlam. Wat volg, is dit wat seker elke mens vrees: die aftakeling wat ouderdom en siekte bring, die verlies van onafhanklikheid en waardigheid, die las van ’n lewe wat alle sin verloor het en redundant geword het.
Ek kan hierdie uitstaande film nie sommerso aanbeveel nie. Dis lank en stadig en dis op geen manier vermaak nie – die kyker moet weet waarvoor hy hom inlaat. Vir diegene wat die fyn nuanses van Haneke se filmkuns kan waardeer, sal dit onvergeetlik wees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

