Resensie: Alleen onder die maan deur Willem Krog

  • 0

Alleen onder die maan
Willem Krog

Uitgewer: Jonathan Ball 
ISBN: 9781776190119

Die los blad in my boek wat deur die uitgewers afgelewer is – enkele ure voor inperking – lui as volg:

Nadat die ekonomie amper in duie stort, word die Suid-Afrikaanse regering gedwing om die land met ’n buitelandse rekenaarstelsel te regeer. Die rekenaarstelsel werk op kunsmatige intelligensie en reguleer feitlik elke aspek van mense se lewens. Selfs hofsake word deur ’n rekenaar behartig.

In hierdie distopiese wêreld is alles afhanklik van jou SOMSS-telling (System of Moral and Social Suitability). Dit bepaal waar jy mag woon, watter kos jy by People Eats mag bestel en hoe gereeld jy met People Move mag ry. Responsible Citizenship Learning, ’n verpligte SOMMS-module, leer jou die land se geskiedenis en wat dit verg om ’n goeie burger te wees.

Alleen onder die maan vertel die verhaal van Jaco, ’n 80-jarige individualis wat krities is oor hierdie totalitêre bestel, en sy seun, Pieter, wat as sy beroep rekenaarspeletjies toets en nie besef hoe die stelsel persoonlike vryheid bedreig nie.

Die boek het twee verhaallyne: Jaco se aangrypende herinneringe aan sy grootwordjare op ’n Vrystaatse plaas. Die tweede verhaallyn volg pa en seun op ’n laaste besoek aan die plaas buite Kroonstad in die huidige era waar alle plase gekonfiskeer en in megaplase omskep is en robotte en geoutomatiseerde voertuie al die werk doen.

Pieter is weer krities oor sy pa se generasie omdat hulle nooit opgestaan het teen apartheid nie, maar die ironie is dat hy nie besef hy leef in ’n ewe totalitêre wêreld nie.

Vooraan elke hoofstuk haal die skrywer uit Herbert Marcuse se One-Dimentional Man, aan. Die boek het in 1964 verskyn en is deur dié Duitse filosoof van die Frankfurt-skool, geskryf. Dis ’n militante werk wat beide kontemporêre kapitalisme en kommunisme kritiseer en dokumenteer nuwe vorme van sosiale onderdrukking in beide hierdie samelewings en ook die Weste se rewolusionêre potensiaal se verval.

Toe die bekroonde distopiese reeks, Black Mirror, wat na die moderne samelewing kyk waarin nuwe tegnologie – wat aanvanklik na ’n goeie plan klink – onvoorsiene gevolge vir gebruikers inhou, uitgesaai is, het ons al ’n klein voorsmakie gekry van hoe verkeerd dinge nou eintlik kan gaan. Maar verder, hoe ongesiens dit gebeur en voor jy jou kom kry, het die dryfsand jou heeltemal ingesluk.

Vandat ek die laaste bladsy van Krog se boek gelees het, tot ek myself so ver kon bring om die resensie te skryf, het sewe dae verloop. Sewe dae van die groter 35-dae-inperking, waar die hele volk saans angstig na die nuus kyk om te hoor watter besluit politieke leiers namens hulle neem.

Die gevoel van magteloosheid wat Pieter se bejaarde pa ervaar, oor sy seun nie kan insien hoe sy vryheid beperk word nie – wat ook nou in elke Suid-Afrikaner se kuite kom sit. Die onsekerheid oor die toekoms; die geykte frases "die nuwe normaal gaan anders lyk as wat ons ken" wat mense net verder verwar en bangmaak.

Krog kon sekerlik nie hierdie boek op ’n beter tyd die lig laat sien het nie: Hy kon natuurlik glad nie die koronavirus se omvangryke impak op die wêreld voorspel toe hy en sy uitgewer die laaste korreksies aangebring het nie. Ook nie toe hy by die Toyota US Woordfees skaars ses weke gelede met Schalk Schoombie en Lien Botha gesels het oor ’n toekoms verbeel nie.

Maar om tydens inperking hierdie boek te lees, waar daar vir my besluit word wat ek kan koop, eet, bestel, laat aflewer, dat ek nie uit my dorp mag ry nie en dat ek eintlik nou die polisie en weermag moet vrees wat woonbuurte patrolleer, voel so effe soos die wêreld waarin Pieter en sy pa hulle bevind.

Geen boekwinkels is oop nie; as jy nie boeke voor inperking gekoop het nie, is dit nou e-boeke vir jou. Hoe lag ek senuweeagtig hardop toe Krog se karakter vertel dat boeke in die toekoms met vloeibare stikstof gevries gaan word om uiteindelik paaie daarmee te bou. En hoe Pieter se pa rebelleer hierteen met die woorde: "Nee, dit is nie nét ’n boek nie. Hierdie is die simbool van vryheid. As jy ’n boek het en kan lees, is jy vry. Vry van bygeloof, vry om jou eie idees oor goed te vorm, vry van intellektuele slawerny.

"Jy as leser maak met die teks wat jý wil. Jy kan dit verwerp of jy kan daarvan hou. Jy kan daaroor nadink en ook jou eie idees daaroor vorm. Dit is vryheid."

AJ Opperman skryf in ’n resensie oor die boek: "[D]ie betreklike eensaamheid wat tegnologie die mens besorg, vind neerslag in Willem Krog se distopiese roman" en sê voorts dat Krog nie van die woord "distopies" hou nie, maar soos die Kanadese skrywer Margaret Atwood eerder "spekulatiewe fiksie" verkies.

Opperman skryf: "Krog fokus minder op tegnologie, want die boek is nie wetenskapfiksie nie." Hy haal Krog aan wat verduidelik dat veral ouer mense die tegnologie vandag onthutsend vind, "want goeters wat in die verlede lank geneem het om te doen, doen jy nou elektronies binne ’n paar minute. Ek probeer dit weergee soos wat ek dink dit in die toekoms gaan uitspeel."

My buurt se oumensies wat bedags by die hek kom lui en vra vir boeke om te lees omdat hulle nie e-boeke verstaan of kan aflaai of bekostig nie en die biblioteke is gesluit, speel voor my geestesoog af en laat my vlak asemhaal. Nog vlakker as die vrees dat hulle op straat gevang gaan word met ’n sakkie boeke – masker en handsanitasiemiddel ten spyt. Daar is gate op my boekrak van my boeke wat nou elders vreugde bring, en die lang lys van wie watter boeke het, is die enigste getuie dat ek wel hierdie kosbare boeke besit. Maar ek is bang hulle word stikstofgevries as ek hulle te lank onder my oë laat uitgaan.

Dis egter Krog se slotkommentaar waar ek vir ’n minuut of twee wil verpoos: "Die stelling wat ek eintlik maak, is dat dit wat jy vandag as polities ervaar, in die toekoms totaal irrelevant sal wees."

Dit gee my stof tot nadenke – dis nou bo-op al die tonne herkou wat die boek my gebied het. Want as die potsierlike politici wat saans oordele vel en reël op reël instel, wat nou ons hele bestaan oorheers, in die toekoms irrelevant gaan wees, dan juig ek.

Dan sit ek môre in my tuin met ’n ander boek – geen sosiale media en slegte nuus vir my nie. Net lieflike boeke waarin ek kan vry wees, veral van intellektuele slawerny.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top