Titel: Alchemie van my muse
Skrywer: Pieter Hugo
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426738
Ek sit en lees Pieter Hugo se digbundel Alchemie van my muse by 'n backpackers in Wildernis met 'n verstommende uitsig oor die see. Sy gedigte lees ek hardop, verlustig my in die klank van die woorde met die branders as agtergrondmusiek. (Terloops, ek beveel dit sterk aan om gedigte so gereeld as moontlik só te lees – Antjie Krog se mede-wete het ek op Kogelbaai se strand verslind en 'n enkele seemeeu het vir meer as 20 minute saam geluister.)
Die eerste gedig, “Stippeltjie”, begin groots – met die Oerknal – en eindig klein en spesifiek:
en ek besef die magtige Melkweg is
maar een van biljoene ander
sterrestelsels en ons son is
maar een van meer as
200 biljoen sterre in
die Melkweg en
ons aarde net
'n klippie is
waar ek
en jy
bly
.
Brr. Ek kyk op en jou waaragtag, daar is 'n walvis op die horison, seker 'n humpback aan’t reise na warmer waters toe. Oor en oor breek sy stert deur die waters, 'n stippeltjie in die see.
Die bundel word opgedra aan Hugo se “merkwaardige muse”, wat inderdaad merkwaardige inspirasie moes verskaf het vir 'n debuutbundel van soveel tematiese omvang. Die bundel is verdeel in nege dele, elk met min of meer 'n ander tema, en die gedigte daarin varieer telkens van speels tot roerend; soms is hulle snydend (soos waar Hugo 'n stuiwer in die armbeurs gooi oor die Afrikaanse taalstryd in “Ons geliefde taaltjie”), soms hartstogtelik. Ek geniet die intertekstualiteit wat byna onmiddellik verskyn, die verwysing na en gesprekvoering met ander digters, soos in “Afrikaans in die hiernamaals” waarin Van Wyk Louw en Boerneef in die ander wêreld sit en bespiegel oor die heenkome van Afrikaans:
Nee neef, Lucas skeur toe die lug hierheen. Dis naar,
sê hy, hoe proffies oor Kampuskaans kan kyf.
En Karel kom sê in daardie lewe het hy al klaar
die laaste Afrikaanse boek geskryf.
Die hele bundel is só deurspek met easter eggs ('n verskynsel waarin filmmakers rolprente vol binnegrappe en verwysings na ander films prop, suiwer vir die ontdekkingsgenot van getroue fliekgangers). In “My Beaufort-Wes I: Vir NPvWL” open die gedig met
ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word,
en ek voel vlugtig nostalgies na hoërskool-Afrikaansklasse, waar ek Van Wyk Louw se gedig vir die eerste keer teëgekom en liefgekry het. Hugo se liefde en respek vir die kuns van sy voorgangers blyk duidelik in die bundel en ek wonder met tye of die titelmuse nie moontlik die ganse letterkundige oeuvre is nie – al die beiteltjies wat voor hom al skoonheid uit die taal gekap het. Sy gesprekvoering met Gert Vlok Nel veral is aangrypend, onder andere in “Gert”, waarvan 'n vroeëre weergawe in Nuwe stemme 4 verskyn het. Ek lees dié gedig 'n tweede keer hardop, om my opnuut in te leef in die klank en die ritme daarvan.
Gedigte oor die digkuns, gedigte wat speel en eksperimenteer met die vorm en die aard daarvan, word afgewissel met roerend persoonlike oomblikke. Nadat ek “nie pa se gedig nie” ('n gedig juis aan die spreker se pa, en tog ook nie) gelees het, sit ek eers 'n bietjie in stilte. Dis baie mooi. In 'n volgende deel van die bundel verskyn 'n variëteit liefdesgedigte, poësie wat die omvang, die vreugde en die pyn van die liefde breedvoerig verken. Hierdie verkenning beaam die spreker juis in “Al die fasette”, waarin hy verklaar dat hy ál die sye van die liefde wil deurleef, want
dan eers
het ek volkome lief
gehad.
Elders, soos in “eintlik” en “gebedsaak”, speel hy heerlik met die liefdesmetafore, met versreëls soos
En boonop, as jy dan
heilig was, sou ek
jou nie so ongoddelik
lief kon hê nie, my lief.
Bid jou aan! Ons sou glad
nie so duiwels lekker
saam te gronde kon gaan nie.
(Uit “gebedsaak”)
Die voorlaaste gedig, “Kwatryne”, is eintlik ‘n versameling vierreëlgediggies, elk speels, elk eintlik gewigtig:
Smeer maar dik die marmelade
ja, smeer maar dik die marmelade.
Die lewensbrood is bittersoet,
'n jubeljeremiade.
Dit gaan oor die lewe hier, oor die vreugde en die verwarring daarvan, en die wysheid word met skootjies erns in rympievorm by die leser tuisgebring. Dís hoe die hele bundel my tref: as iets speels en tog gewigtig, as 'n besinning oor die lewe, oor kunstenaarskap, taal, identiteit, liefde, die sin en sinloosheid van bestaan, wat met gelyke mates selfbewustheid en skroomlose intimiteit oorgedra word. Die geheeleffek is soms onewe: die bundel lees nie soos 'n gladde, eenstemmige vertelling waarvan 'n mens die ritme kan leer ken en mee meegesleur kan word nie. Maar die veranderlikheid aan die verse is presies wat dit boeiend en verrassend maak en 'n sjarme aan die bundel verleen. Op elke bladsy kon ek opnuut iets anders vind wat my roer of bewonderend laat stilstaan voor 'n vernuftige stukkie woordspel.
Die bundel eindig op 'n somber noot met “Stil”
die stilste stil is
onder in die kis
maar ná die tyd draal 'n repliek daarop by my, die laaste strofes in “Gert”:
want woestyn is die woord waardeur ons reis
moenie laat jou woorde leeg in jou hand lê nie gert
anyway laasjaar nou die dag eergister
moet jy weer droom dat jy weer in jou eie mooiste woorde woon
soos op die môre van die agste dag
daar kom 'n man daar kom ‘n man
hy is van morrison ja daai een gert die moerse moerige
morrison en
hy sê gert
gert sê hy
the show must go on.
Lees ook: