Resensie: A century of South African theatre deur Loren Kruger

  • 1

A century of South African theatre
Loren Kruger
Uitgewer: Methuen Drama
Reeks: Cultural Histories of Theatre and Performance (Redakteurs: Claire Cochrane and Bruce McConachie)
ISBN: 9781350008014

Alhoewel onder ’n nuwe titel bemark, is A century of South African theatre eintlik nie ’n totale nuwe werk nie, maar ’n hersiening en veral ’n uitbreiding van Loren Kruger se bekende 1999-publikasie The drama of South Africa. Plays, pageants and publics since 1910 (Routledge). Die nuwe weergawe, nou heel gepas uitgegee deur Methuen Drama in hulle reeks Cultural Histories of Theatre and Performance (onder redaksie van Claire Cochrane and Bruce McConachie), is in 2018 voltooi en in 2019 gepubliseer, alhoewel die finale produk soos hier bespreek 2020 gedateer is. Gevolglik is die bygewerkte materiaal grootliks toegespits op gebeure wat oor die loop van die afgelope 20 jaar Kruger se aandag getrek het, alhoewel daar ook verskeie nuwe insigte oor en toevoegings tot vorige besprekings genoteer en by die onderskeie hoofstukke ingewerk is.

Op die buiteblad van die oorspronklike 1999-boek is daarna verwys as “the first comprehensive account of drama and performance in twentieth century South Africa”. In hierdie bygewerkte weergawe van 2020 is hierdie besondere bewering weggelaat, maar vind ons wel tog in die eerste sin van die Acknowledgements die stelling dat die boek “documents more than a hundred years of theatre and performance”. Op die buiteblad is ook ’n aanhaling uit ’n verslag deur Mark Sanders waarin hy beweer dat “Loren Kruger’s grasp of the history of South African theatre is unparalleled”. Flaptekste is natuurlik primêr daar om die boek te verkoop en vleiende algemeenhede is deel van die hele strategie, maar hierdie hiperboliese aannames van voorrang, omvangrykheid en uitsonderlikheid bied ’n nuttige wegspringplek vir my hieropvolgende bespreking van Kruger se nuutste publikasie.

Die basisprojek van 1999

Die oorspronklike 1999-studie was gebaseer op ’n hele reeks nuwe openbaringe en teoretiese modelle wat in die laat 1970’s en die 1980’s na vore gebring is deur ’n merkwaardige opbloei van drama- en teaternavorsing, en Kruger se boek was op sy tyd ’n sleutelpublikasie wat op ’n knap wyse ’n aantal nuwe radikale verskuiwings in ons siening van die aard en omvang van teater en teatersisteme en -bedrywighede in die land saamgevat en geïnterpreteer het.

So betrek sy daarin byvoorbeeld die resultate van die “herontdekking” in die 1970’s van ’n hele spektrum van vergete aanbiedingsvorme en tradisies, vanaf inheemse ritualistiese vertonings, danse en sang, via publieke vertoonstukke of “pageants”, tot die geleidelike ontwikkeling van allerlei nuwe, sinkretiese, stedelike en landelike aanbiedingsvorme, en natuurlik die opkoms van radikale protesvorme. Teen die 1980’s het daar n groeiende aantal publikasies oor en benutting van voorheen onbekende, onderdrukte of verswygde aanbiedingsvorme deur plaaslike teatermakers na vore begin kom, asook ‘n sterk nadruk in akademiese en teaterkringe op die sogenaamde betrokke (“committed”) kunste en teater van verset.

Kruger se werk was dus nie die eerste of enigste wat dié soort nuwe insigte probeer interpreteer en verwerk het nie. In die twee dekades vóór die politieke omwenteling in Suid-Afrika tussen 1989 en 1994 het daar byvoorbeeld – benewens verskeie akademiese artikels, nagraadse verhandelings en proefskrifte - ’n ongekende aantal belangrike publikasies verskyn wat elkeen op ’n eie manier nuttige, en ook uiteenlopende, nuwe insigte oor hierdie gebied verskaf en bespreek het. Verder nog het daar, kort voor die verskyning van Kruger se eie boek, ook enkele studies verskyn wat – nes haar werk – vergelykend en met waardering oor die komplekse Suid-Afrikaanse taal-en-kultuur-spektrum heen oor aspekte van drama en teater in Suid-Afrika praat. (Vir verdere gedagtes rondom ’n aantal van hierdie hoofstrome in die ontwikkeling van teaternavorsing en kritiek in die land, sien byvoorbeeld my twee oorsigartikels in die verwysingslys hier onder, asook die bibliografie van die Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT) by https://esat.sun.ac.za/index.php/ESAT_Bibliography.)

Wat Kruger se werk indertyd wél uniek en nuttig gemaak het, veral vir studente, dosente en ander navorsers, was dat sy – anders as baie internasionale en plaaslike kommentators toe en tans – werklik heelwat minder parogiaal probeer wees het. In haar boek is sake bespreek en haar argumente gevoer aan die hand van uiteenlopende voorbeelde wat sy uit die breëre spektrum van die Suid-Afrikaanse taal- en kultuurgrense heen getrek het, en in die besprekings nie net werke wat in Engels geskryf en/of opgevoer (of ten minste in Engels beskikbaar) was, betrek nie. Sy bespreek daarin byvoorbeeld ook enkele sleutelwerke en -aanbiedings in Afrikaans en Kaaps, sowel as ’n aantal van die ander inheemse tale.

Die somtotaal van die materiaal wat ingesamel is, is vindingryk verwerk tot ’n stewige en tydige bydrae, een wat – in aansluiting by, en in kontras tot, die werk van ander kenners (plaaslik en internasionaal) reeds na verwys – ons kennis en insig van die evolusie en aard van die teater en teatrale gebeure in die land op ‘n uitsonderlike wyse verbreed en verdiep het.

Ek moet dus ruiterlik erken dat ek, nes baie ander teaternavorsers en -kritici, destyds, besonder beïndruk was en nog altyd Kruger se vroeëre boek as een van die meer nuttige en rigtinggewende oorsigte van sleuteltemas in die ontwikkeling van drama en teater in die land in die 20ste eeu beskou. Ek het dit derhalwe oor die jare vir talle buitelandse kollegas en alle nuwelinge op die vakgebied aanbeveel as noodsaaklike leesstof as mens die land se teater in sy geheel wil begin begryp. Dit veral omdat sy in haar argument interessante en tersaaklike stof en voorbeelde vanuit byna die volle spektrum van plaaslike tale en kulture getrek het om te bespreek – anders die meerderheid van die meer parogiale skrywers van vroeër in die eeu, wat geneig was om om historiese redes op ’n spesifieke taal, streek of vorm te fokus. Die boek het veral waarde vir anderstalige navorsers, omdat sy juis in Engels skryf oor werke en aktiwiteite wat in al die plaaslike tale, insluitend Afrikaans, geskryf of opgevoer is.

Maar my aanbeveling was al destyds altyd vergesel van twee ligte caveats aan lesers: Onthou, dis nie ’n maklik toeganklike kronologiese geskiedenis nie, dis ‘n ernstige akademiese interpretasie van sekere gebeure binne daardie komplekse en kontroversiële geskiedenis. En tweedens: Die boek handhaaf ’n betreklik noue fokus op die politieke teater van die 1980’s en veral dan ook stukke wat positiewe voorstelle vir verandering maak – die tipe werk wat natuurlik maar slegs ’n onderdeel uitmaak van die totale aanbod binne enige teatersisteem, wat normaalweg ook heelwat ander, minder literêre of toegepaste vorme behels. (Hierdie aspekte is ook destyds deur verskeie resensente van die 1999-boek genoem; sien bv Edwin Hees, SATJ, 2001:192).

Die nuwe weergawe van 2020

In A century of South African theatre behou Kruger tot ‘n groot mate die algemene aanslag soos hier bo beskryf, asook dieselfde basiese struktuur wat sy met die vorige boek aangewend het. Die titels van onderafdelings verskil wel soms om die nuwe, of bykomende, inligting en insigte te akkommodeer. Elke hoofstuk handel oor ’n spesifieke tema, alhoewel die hoofstukke ook mekaar op ’n plooibare wyse ondersteun deur middel van heelwat kruisverwysings na argumente wat elders gevoer word, en die geheel demonstreer Kruger se spesifieke en uitgesproke fokus op die antikoloniale en anti-apartheids- politieke vorme van aanbieding alte duidelik.

Na ’n redelik komplekse teoretiese inleiding (wel met enkele verwysings na voorbeelde uit Suid-Afrika) oor die aard van teater as publieke ruimte vir debatvoering en ’n wapen van protes en verset in ’n gefragmenteerde land, volg daar substansiële besprekings van ’n aantal hooftemas vanuit dié oogpunt. Die temas wentel almal om die idee van teater as ’n vorm van publieke protes en sluit in “Commemorating and contesting emancipation” (’n uiters waardevolle bespreking van publieke vieringe en herdenkingsgeleenthede as teatrale aanbiedings), “Neocolonial theatre and ‘An African National Dramatic Movement’” en “City against country” (albei in ’n sin oor die teaterteorieë en tekste van Herbert Dhlomo en die invloed van die sogenaamde New Africans op die verskeie tipes anti-apartheid protesteater wat sou volg), “Dry white seasons” (die opkoms en kwyning van die Afrikaner in sy politieke teater – interessant genoeg sonder enige verwysing na André P Brink se roman of sy dramas), “Dramas of Black Solidarity” (die teateraktiwiteite geïnspireer deur Swartbewussynsbeweging en hul ontwikkeling daarna – ’n belangrike nuwe tema in teaterstudies in die 1980’s veral), “Spaces and markets” (die rol van enkele onafhanklike geselskappe en teaterruimtes in die land), “Spring is rebellious” (’n bespreking van gebeure ná 1994 en die gang van wat sy – heel gepas dalk – “Post-Anti-Apartheid Theatre” noem), en laastens “The Constitution of South African theatre at the present time” (eintlik ’n misleidende titel, gegee die redelik enge fokus van daardie bespreking). Die geheel sluit af met ’n baie kort “coda” waarin sy haar eie (effens akademies-kriptiese) lys van vyf temas (“nodes of inquiry”) identifiseer en saamvat.

Benewens Kruger se eie stelling dat sy ’n eeu se teatergebeure dokumenteer, suggereer die titel en die inhoudsopgawe van die boek natuurlik ook ’n redelik omvattende oorsig van die teatergeskiedenis van Suid-Afrika, veral gegee dat die titel van die reeks waarin dit verskyn, Cultural Histories of Theatre and Performance is. Nes The drama of South Africa bied die boek uiteindelik egter nie werklik ’n toeganklike of omvangryke inleiding tot en oorsig van die geskiedenis van die drama en teater nie – veral nie ’n ware kronologiese oorsig daarvan nie. Dit is egter ook heel gou duidelik dat dit nie (gemeet aan inhoudelike bewyse) bedoel is om dit te doen nie. Wat die studie wél bied, is eerder ’n boeklengte- akademiese poging om ’n aantal stimulerende temas ernstig en krities-vergelykend oor ’n langer termyn te bekyk, spesifiek vanuit haar besondere teoretiese perspektief. Die werk bestaan dus – nes sy voorganger – veel eerder (en miskien veel, veel belangriker) uit ’n goedgestruktureerde stel indringende kultureel-sosiologiese en kultureel-politiese ontledings van uitgesoekte kantelpunte of temas binne daardie ontwikkelingsgang, en veral diepgaande, oorwegend geloofwaardige, akademiese interpretasies daarvan.

Die nuwe stof wat nou in die 2020-boek opgeneem is, is klaarblyklik bedoel om die spesifiekhede aan te vul en – ten minste by implikasie en selfs in daad – te onderneem om regstellings voor te stel vir feite- en interpretasiefoute deur ander skrywers en kritici (bv wat terme en aannames betref).

Dit is alles knap gedoen, maar selfs met die bykomende stof en redaksionele snitte bied die boek steeds nie wat ek sou beskou as ’n toeganklike oorsig van die geheel van die land se teaterpraktyke nie, maar eerder – soos vantevore – ’n ryk stel skerpsinnige ontledings en besprekings (aan die hand van geselekteerde voorbeelde) van sekere strominge en wendinge in kernvelde binne die groter polisisteem van die teater en uitvoerende kunste in die land. Die benadering is verder ook nog primêr ‘n literêr-sosiologiese een, dus een waarin alles gemeet word aan ’n baie spesifieke maatstaf: die mate waartoe die teatergebeurtenisse wat bepreek word, ’n positiewe ingryping verteenwoordig, een wat pertinent sosiopolitieke kwessies aanspreek en alternatiewe oplossings bied. Dis natuurlik ’n benadering wat redelik algemeen was in die kulturele strydperk van die 1980’s, maar vandag ook weer voorkom in die geskrifte van die nuwe geslag kritici en teaternavorsers. (Miskien met ’n gewysigde fokus op hedendaagse werklikhede soos die benarde ekonomiese situasie, die eise van Afrikanisering van wetenskap en leerplanne, voortslepende onverdraagsaamheid en xenofobie, en ander vergelykbare kwessies.)

Wat my bring by enkele sake wat tóg ook in gedagte gehou moet word by die gebruik van hierdie nuwe publikasie.

Die benadering hier bo beskryf sal op ’n berekende en begryplike wyse heelwat aspekte van die groter, wydgestrekte, teatersisteem en -bedryf buite rekening laat. In hierdie geval geld dit byvoorbeeld vir menige puik maar apolitiese literêre werke; die meerderheid kommersiële werke, veral dié gemik op ligte vermaak; enige opvoerings van buitelandse werke wat nie sterk aangepas is om Suid-Afrikaanse kwessies aan te spreek nie; edm. Al is dit seker onvermydelik, pla dit tog effens dat daar op hierdie wyse in die studie sekere sleutelaspekte van die groter polisisteem van die teaterbedryf in die proses misgekyk of bloot geïgnoreer word. Benewens die feit dat die rol van staatbefondste instansies soos NTO, die Streeksrade, die Nasionale Kunsteraad, asook verskeie aktiewe toneelgroepe buite wat vandag bekend staan as  Gauteng en die Wes-Kaap, min aandag kry, word daar in die nuwe bywerking haas geen kennis geneem van die opkoms van die wydverspreide en multikulturele feeskultuur in die land en dié se kernrol in die aanspreek van die leemtes in die sosiopolitieke en kulturele bestel en die voortbestaan van die teater as ’n bedryf nie. Die laaste hoofstukke, toegespits op die nuwe millennium, word byvoorbeeld hoofsaaklike gewy aan ‘n beperkte handjievol geselskappe en ruimtes. So word die Markteater in Johannesburg ’n hoofitem, terwyl ander invloedryke ruimtes en geselskappe in die stad (soos die Soweto-teater of die Joburg Theatre) nie aandag kry nie. Met verwysing na Kaapstad weer word die Baxter-teater en Magnet Theatre redelik deeglik bespreek (en met reg), maar die vernuwende Fugard Theatre nie genoem nie.

Ek is seker Kruger het haar eie afdoende redes hiervoor, maar dit is effe jammer dat dié redes nie met die lesers van die boek gedeel word nie. Om die waarheid te sê, die gekoppelde kwessies van kriptiese kommunikasie en moeilike toeganklikheid is moontlik die ware kernprobleem wat ek met die boek het.

Sommer met die intrapslag raak die leser bewus daarvan dat dié boek glad nie maklike leesstof gaan wees nie. Dit is ’n hoogs akademiese publikasie wat geskryf is om as ’n soort gesprek met eweknieë, ingewydes, nagraadse studente en kenners te dien. Helaas, vir enige ware nuwelinge in die veld (en hieronder sou ek studente asook navorsers in die buiteland tel) sal daar sekerlik probleme kan wees weens die intense, digte skryfstyl, die tersyde verwysings na talle teoretici en Kruger se waaghalsige gebruik om verwysings na stukke en gebeure te maak wat nie noodwendig binne die kennisveld van alle lesers aanwesig is (of verder bespreek word) nie. Die gevolg is dat daar ’n soort “Catch 22”-situasie ontstaan, veral wat voorgraadse studente en nie-akademiese teaterliefhebbers betref: Om die boek deeglik te kan verstaan en te gebruik as inleiding tot die veld, moet jy eintlik alreeds oor ’n redelik goeie kennis van die besonderhede van die Suid-Afrikaanse teatergeskiedenis en die kontekstuele sosiopolitieke situasie in die land beskik. Binne die kader van sy beoogde leserspubliek is hierdie vereiste egter nie ’n probleem nie, want een van die doelwitte is immers juis die tradisionele akademiese een van bevraagtekening waardeur die huidige oortuigings en aannames van lesers uitgedaag en selfs omgedop en reggestel word. En wat daardie doelwitte betref, is die boek grootliks in die kol.

’n Finale woord

Dus, om mee af te sluit wil ek, in die lig van my bespreking, net vir ’n oomblik terugkeer na die flapteks en Mark Sanders se verwysing na Kruger se “ongeëwenaarde” begrip van die teatergeskiedenis. Dit is ongetwyfeld waar dat Loren Kruger kundig en belese is, maar dit is ook waar dat hierdie soort stelling ietwat aanvegbaar sou wees oor énige persoon en in énige konteks. In hierdie spesifieke geval is dit veral dalk so, gegee die feit dat daar ’n verskeidenheid ander bekwame mense is wat ook in die veld werksaam is, soos ons vroeër reeds gesien het. Kruger self noem inderwaarheid op bladsy viii die name van byna 30 mense (oud en jonk, akademies en uit die bedryf, in Suid-Afrika en daarbuite) wat in die jare 1999 tot 2018, soos sy dit stel, interaktief met haar werk omgegaan het (“interacted with”). Baie van die name (asook nog ’n paar wat mens sou kon byvoeg) is dié van ewe uitsonderlike kundiges op die terrein van die uitvoerende kunste, individue met ’n goeie kennis van die breë patrone (of ten minste aspekte daarvan) binne die Suid-Afrikaanse teaterbestel. Soos Kruger, het ook hulle oor die jare belangrike bydraes gelewer – al strook hulle spesifieke velde en teoretiese uitgangspunte dalk nie altyd heeltemal met dié van Kruger nie. Miskien is “ongeëwenaard” dus dalk net so ’n bietjie té sterk gestel.

Maar dit gesê, laat ons toegee: Selfs binne daardie uitgelese garde van kundiges tel Loren Kruger lankal reeds onder die eerste linie – ’n formidabele kommentator, met ’n interessante eie perspektief en stimulerend-uitdagende aanslag, wie se sieninge, veral soos weerspieël in hierdie nuwe boek, sonder twyfel in ag geneem moet word by enige evaluering van die rol wat teater oor die afgelope eeu of meer in Suid-Afrika gespeel het. Al is die nuwe weergawe nou nie heeltemal die wye nuwe historiese oorsig en indringende analise wat mens by implikasie belowe is en voor gehoop het nie, en ten spyte van die enkele problematiese sakies wat ek hier bo aangestip het, is hierdie boek – nes sy voorganger – ’n belangrike en tydige bydrae tot ons teaterliteratuur. Dit is ’n goedversorgde, uitdagende en onontbeerlike werk wat tuis behoort te voel in die boekery van enige ernstige teaternavorser, teatermaker of student.

 

 Verwysings

ESAT. Bibliografie: https://esat.sun.ac.za/index.php/ESAT_Bibliography (7 Februarie 2020 geraadpleeg).

ESAT. Inskrywing oor Loren Kruger: https://esat.sun.ac.za/index.php/Loren_Kruger (7 Februarie 2020 geraadpleeg).

Hauptfleisch, Temple. 2011. From trance dance to PaR: Theatre and performance studies in South Africa. In Trends in twenty-first century African theatre and performance. Geredigeer deur Kene Igweonu. Amsterdam, New York, NY: Rodopi.

—. 2014. Critical responses: The evolution of the theatre critic in South Africa. In Syncretic arenas. Essays in postcolonial African drama and theatre for Esiaba Irobi. Geredigeer deur Isidore Diala as Volume 177 van die vaktydskrif Cross/Cultures. Amsterdam: Rodopi.

Hees, Edwin. 2001. Loren Kruger: The drama of South Africa. Plays, pageants and publics since 1910. Resensie in South African Theatre Journal, 15:192-4).

Kruger, Loren. 1999. The drama of South Africa. Plays, pageants and publics since 1910. Londen: Routledge.

—. 2020. A century of South African theatre. Londen: Methuen Drama.

Lewis, Simon. 2001. Lewis on Kruger. “The drama of South Africa. Plays, pageants and publics since 1910”. Resensie in H-AfrLitCine, Februarie 2001.

* Vir samevattings van hierdie hoofstrome in die ontwikkeling van teaternavorsing en -kritiek in die land, sien byvoorbeeld die artikels “From Trance Dance to PaR: Theatre and Performance Studies in South Africa (In: Trends in Twenty-First Century African Theatre and Performance. Geredigeer deur Kene Igweonu. Amsterdam/New York, NY Rodopi 2011) en “Critical Responses: The Evolution of the Theatre Critic in South Africa” (in Syncretic Arenas. Essays in Postcolonial African Drama and Theatre for Esiaba Irobi, geredigeer deur Isidore Diala as Volume 177 van die vaktydskrif Cross/Cultures. Amsterdam, Rodopi: 2014.) Vir die titels van talle ander publikasies wat handel oor die teater in Suid-Afrika aan die einde van die 20ste eeu, kan die Bibliografie van die Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT) geraadpleeg word by https://esat.sun.ac.za/index.php/ESAT_Bibliography

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Herman Meulemans

    De recensie nodigt onmiddellijk uit tot het lezen van het boek. Het “nieuwe” boek wordt in het perspectief geplaatst van het “oude”. Daaruit blijkt dat theater zich voortdurend aanpast aan nieuwe maatschappelijke problemen en voor geen enkel thema uit de weg gaat.
    Voor Temple Hauptfleisch is het duidelijk dat Loren Kruger in haar benadering zowel van boeiende toneelstukken vertrekt, als van theoretische kapstokken naar toneelstukken toe gaat. Deze moeilijke evenwichtsoefening tussen inductie en deductie maakt van “A century of South African Theatre” ongetwijfeld een tijdsdocument van Zuid-Afrika in volle transformatie.
    Hoewel het geen gemakkelijke lectuur is, zo waarschuwt de Temple Hauptfleish ons, is de verleiding toch heel groot om meer te vernemen van het Zuid-Afrikaanse theaterleven van de afgelopen eeuw en van de laatste twintig cruciale jaren.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top