Reïnkarnasie

  • 32

Die idee van reïnkarnasie, dat mens ná jou dood weer in ‘n ander liggaam gebore kan word om nog ‘n keer te lewe, maak nie veel logiese sin nie. En tog het ek in my kinderjare enkele ervarings gehad wat my soms weer daaroor laat dink.

 

  • Toe ek so vier of vyf was, lank voordat ek nog van joga of Indië gehoor het, het ek spontaan begin om elke middag ure lank op ons grasperk twee ingewikkelde jogaposisies, bakasana en titibasana, te doen. Dít sonder dat ek die minste daarmee gesukkel of enigiemand my daarin touwys gemaak het. Soms het ek selfs ure lank in titibasana (’n eienaardige kontrepsie waar mens jou bene oor jou boarms laai en op jou hande gaan staan) op die TV-kamer se vloer gesit en Pinocchio gekyk. Ek kan dit tot vandag nog redelik maklik doen, al sukkel die meeste mense aanvanklik daarmee.
     
  • Toe ek so ses was, het ek saam met my ma in die familiemotor gery toe ons ’n vragmotor verbysteek met ’n magdom kratte vol hoenders agterop. “Mamma, waarheen gaan die hoendertjies?” het ek gevra. “Hulle gaan geslag word sodat jy hulle kan eet,” het my ma geantwoord. En op daardie oomblik, ondanks die feit dat ek op ’n plaas as deel van ’n boerefamilie grootgeword het, is ek deur ’n geweldige Weltschmerz-oorval en het ek voor my siel geweet iets is geweldig verkeerd met die wêreld en moet reggestel word, asof ek dit altyd geweet het.
  • Ek was omtrent agt toe ek een middag ons gesin se Kennis-ensiklopedie van die rak afgehaal en die inskrywing oor Boeddha nageslaan het. Ek kan nie dink wat ek op daardie stadium, as Kinderkranskind in die Paarl, al oor Boeddha sou gehoor het nie, maar dit sou beslis niks positiefs gewees het nie. Langs die inskrywing was ’n illustrasie van ’n maer man wat kruisbeen in die stof sit. Ek onthou nog spesifiek dat ek die deel oor die Boeddha se Vier Edele Insigte gelees en by myself gedink het: “Ja, ek stem volkome hiermee saam.” En toe maak ek Kennis weer toe en gaan speel buite.

Daar bestaan geen rede dat mens enigiets in insidente soos dié hoef in te lees nie, maar as ek die soort ou was wat aan reïnkarnasie geglo het, sou ek uit die bostaande begin vermoed het dat ek dalk voor my mees onlangse dood – waarskynlik in Indië of Nepal – onderneem het om in my huidige lewe een of ander Oosterse wysheid met die Boerevolk te kom deel. Wat daardie wysheid is, is ek nog nie heeltemal seker nie.

Van al die mensdom se bespiegelings oor die hiernamaals, insluitende die hemel, die hel, wegsinking in die groot gemenebes van siele en totale uitwissing, is reïnkarnasie maklik die mees onlogiese. Dit veronderstel dat daar iets van jou is wat oorbly nadat jou liggaam vergaan het en dat daardie iets op een of ander manier tot in ’n nuwe embrio gaan reis – albei groot geloofspronge.

Die Boeddha selfs het, ondanks die meeste van sy volgelinge se vaste geloof in hergeboorte, geleer dat die mens geen permanente siel het nie. So wat sou dan weer gebore kon word?
Die nuwe insigte van die filosofie, neurologie en bewussynsielkunde, soos vervat in die werke van skrywers soos Susan Blackmore, John Searle, Bruce Hood en David Chalmers, dui ook daarop dat die mens geen vaste self het wat oor die jare heen voortbestaan nie. Omtrent geen wetenskaplike of filosoof gaan vandag meer toegee dat jy ’n siel het wat los van jou liggaam kan funksioneer nie.

Dink net daaraan: elke agt jaar of so vervang jou liggaam al sy selle. Al jou opvattings en voorkeure kan ook oor die jare vervang word. Daar is niks aan jou persoon wat selfs in één lewe permanent is nie; hoe moet dit nog oor meer as een lewe lank voortbestaan?

En tog is dit nie net dom mense wat in reïnkarnasie glo nie. Hindoes, Boeddhiste en Djainiste oor die wêreld heen, sowel as baie Christene en New Agers, glo aan reïnkarnasie; en hulle is sekerlik nie almal idiote nie. Plato was oortuig ons leef elkeen meer as een keer. Skrywers  soos die Amerikaanse transendentaliste (weliswaar meer poëties ingestel as serebraal) het al by die idee aanklank gevind.

In Suid-Afrika was daar al ’n paar interessante gevalle, hoewel dit meer onder eksentriekes as onder die intellektuele elite voorgekom het. In die 1970’s het ’n jong Afrikaanse meisie, Joey Verwey, byvoorbeeld opslae gemaak toe Die Huisgenoot berig het sy kan verskeie vorige lewens onthou. Joey was byvoorbeeld nog klein toe haar ouers haar op besoek na die Kruger-huis in Pretoria geneem en sy daar “onthou” het hoe sy op die oudpresident se skoot gesit het terwyl hy vir haar stories vertel het. Sy het, so beweer Die Huisgenoot, allerlei besonderhede uit die ou Boererepublieke onthou wat mense verstom het. Sy het mense ook vertel van vorige lewens tydens die Groot Trek, in Birma en as ’n slavin in antieke Egipte. Uiteindelik het sy onder meer die aandag getrek van ’n sielkundige van die Universiteit van Virginia, Ian Stevenson, wat na Suid-Afrika gereis het om haar te kom ondervra.

Joey het by geleentheid op besoek aan ’n paleontologiese museum histeries geraak toe sy ’n terugflits beleef het na ’n keer toe sy in ’n vorige lewe deur ’n vleisvretende dinosourus gejaag is. “Hy was geweldig groot en het op sy agterpote geloop,” het sy vertel. (Baie mense sien laasgenoemde as ’n bewys dat sy ’n twakprater was. Mense het immers nooit die aarde met dinosourusse gedeel nie. Wat hulle egter nie in ag neem nie, is die moontlikheid dat sy in dié vorige lewe dalk self ’n dinosourus was.)

Dan was daar ook die Pretoriase huisvrou Marie van der Post wat in dieselfde jare ’n boek, My Vervloekte Gawe, geskryf het waarin sy vertel het dat sy psigies is, al deur ruimtewesens besoek is, en soms astraal kan reis. Van der Post het vertel dat sy kon onthou hoe sy in Jan van Riebeeck se jare in die Kaap gelewe het.

Nou ja, baie van dié mense se stories laat reïnkarnasie effens verspot klink en mens moet toegee daar is weinig feitelike begronding daarvoor. Maar tog, soms dink ek nog aan die eksentrieke klein seuntjie wat ek eens was, in ’n eienaardige knoop op die grasperk van ons middelklas Afrikaanse woonhuis, sy hart vol simpatie vir plaasdiere en sy gedagtes heel gunstig teenoor die Boeddha, en dan wonder ek of mens nie tog maar ’n klein stukkie ruimte vir reïnkarnasie in jou agterkop moet ooplos nie.

As reïnkarnasie waar sou wees, wil ek die volgende denkeksperiment voorstel: Gestel ons word ná ons dood weer hergebore, maar dat dié proses nie net linieêr in tyd plaasvind nie. Met ander woorde, gestel jou volgende geboorte hoef nie ná jou volgende dood plaas te vind nie. Dalk is tyd irrelevant op die vlak van jou reis tussen liggame. Dit sou kon beteken dat jy na jou volgende dood in tyd terug kon reis en weer in antieke Peru gebore kon word. En dan ná daai dood weer vorentoe na die jaar 2986. En dan weer agteruit na die Steentydperk. En soms kan jy dalk horisontaal in tyd spring, sodat jy hier sterf, en dan in dieselfde era in Rusland weer gebore word. As laasgenoemde waar is, kan jou siel dalk gelyktydig in twee liggame bestaan. Soms loop jy dalk op straat in ’n ander liggaam by jouself verby.

Vat nou dié gedagte verder: As daar ’n oneindige hoeveelheid tyd is (want tyd maak nie saak as jy nie linieêr hoef te beweeg nie), beteken dit jy kan aanhoudend vorentoe, agtertoe, horisontaal, tussen lewens rondspring totdat jy, uiteindelik, elke lewe in die hede, verlede en toekoms gelewe het. Dit sou beteken elke mens (en waarskynlik dier) by wie jy verbyloop, is jy self wat besig is om ’n vorige of volgende lewe te lei.

Dit sou beteken almal is jy. En almal is ek. Jy wat hier lees, is ek wat hier skryf. En jy is ook Mandela. En Mao Zedong. En Moeder Teresa. En die Modimolle-monster. En die batteryhoenders in ’n fabrieksplaas. En die meeue in die lug.

Dit sou in elk geval verklaar hoekom so baie mense beweer hulle was in ’n vorige lewe Cleopatra of Napoleon. Ons álmál was Cleopatra! Én Napoleon!

’n Paar jaar gelede het ek ’n boek deur ’n kwantumfisikus gelees (en ek gee toe dat ek, as iemand wat matriek-skeinat deurgeskraap het, dit waarskynlik verkeerd verstaan het) waarin hy gesê het elke atoom flikker op elke oomblik iets soos ’n triljoen-triljoen-sentiljoen keer heen en weer tussen bestaan en niebestaan. Dit flits in die werklikheid in en weer daaruit.. Sê nou net, het hy bespiegel, daai atoom wat uit die bestaan verdwyn het, verskyn op daai mini-mini-mini-oomblik elders, en dat elke atoom eintlik ’n ander atoom is wat op ’n ander plek uit die bestaan uit geflikker het? Dalk, het hy bespiegel, bestaan die hele kosmos uit net een atoom, wat so vinnig van die een plek na die ander spring dat dit lyk asof dit gelyk oral is.

Indien ons siele het, wil ek voorstel dat iets soortgelyk met hulle gebeur. Dalk is daar een siel wat net oral heen en weer spring en weer gebore word, sodat dit lyk asof ons baie is, maar eintlik is ons een.

As dié gedagte waar is – en ek kan dit nie bewys nie, al hou ek vreeslik baie daarvan – het dit etiese implikasies. Dit beteken elke keer as ek iemand seermaak, selfs toe ek Hitler was en hulle Jode, of toe ek ’n trofeejagter was en hulle ’n bok, veroorsaak ek pyn wat ek self gaan moet beleef wanneer ek as die slagoffer weer gebore word. En elke keer as ek vir ’n honger mens kos gee of vir ’n ou mens glimlag, dan los ek ’n stukkie genade langs die pad vir myself om op te tel as ek weer hierlangs kom.

Dit sou rym met die idee van karma, dat ons die gevolge van al ons dade eendag weer gaan proe. En dalk sal dit mense aanspoor om hul optrede teenoor ander (wat dan eintlik glad nie ander is nie) bietjie meer versigtig te oorweeg.

Ag wat, dis seker alles onsin. Ek kan nie een enkele ding wat ek hier bo bespiegel het, logies begrond nie.

Maar hier is een ding wat ek wel kan sê, voordat ek afsluit. Ek was ’n klein seuntjie toe ek die eerste keer gehoor het hoenders word geslag. Die volgende keer dat ons op die plaas gekom het, het ek ’n skaap gaan soek en diep in sy oë gekyk. En ek het besef daai dier kyk na my terug, net soos ek na hom kyk. Dat hy my vra om hom genadig te wees, net soos wat ek genade vra van dié wat sterker as ek is. Dat ons eintlik glad nie veel verskil nie. Daar is iets geweldig subtiel, maar ook so tasbaar soos ’n rots, wat ons almal op die diepste vlak aan mekaar bind. Ons is veel nader aan mekaar as wat ons ooit sou kon bewys.

  • 32

Kommentaar

  • Johannes, dankie vir jou artikel.

    Ek glo saam met jou dat daar reinkarnasie is. Ek glo dat elke mens gebore word met `n vorige lewe se wysheid, want alles wat jy weet, kan jy nie net in een leeftyd opbou nie. Daardie deja-vu gevoel wat sommige ervaar - jy ken `n plek, `n mens, jy weet wat gaan gebeur want jy was al hier - laat my dink dat ons terugkom weer en weer. Ek glo jy kry mense met ou siele - hulle wat al lank gereinkarneer was en is, en jong siele, want maar pas begin het, en stadig maar seker die kennisopbou.

    Ek glo nie dat almal wel gereinkarneer word nie, net sommige. Ek glo op `n kol het jy jou doel gedien, en word jou siel letterlik tot ruste gelê.

    Nou ja, jou brief en my kommentaar sal sekerlik wye reaksie lok, veral onder die Christene - onthou net, elkeen het sy eie sienswyse.

     

    Groete

  • Baie dankie vir 'n baie stimulerende artikel wat myns insiens die waarheid goed belig. Aangesien logika altyd gebaseer is op (noodwendig intuïtiewe) aannames, kan die letterlike geloof in reïnkarnasie nie gesien word as minder logies as die geloof in 'n hemel en hel (of selfs die nie-bestaan van die siel) nie. Soos wat jy egter baie poêties (en logies) wys, mens kan heelwat meer daaruit haal (soos ook uit die hemel/hel metafoor).

  • Hermanus Kepanus

     Reinkarnasie is nie vir my so vreemde gedagte nie. ‘n Geloof in ‘n lewe na die dood is algemeen – en reinkarnasie beteken maar net bloot dat jy jou geloof aanpas om ‘n lewe voor jou geboorte ook in te sluit. Dat jy geoordeel word wanneer jy sterf maak ook sin – moraliteit lei na ‘n goeie volgende lewe, en immoraliteit na ‘n slegte een, en jou destinasie sal bepaal word wanneer jy sterf.

    Reinkarnasie het vir my nog ‘n wonderlike newe-effek – dat die hel nie vir ewig hoef te wees nie maar dat mense steeds die volle gevolge van hul lewens moet dra. Ons kan lang draaie loop, gevul met baie pyn indien ons aanjaag (verbeel jou waar trek iemand soos Hitler of Stalin volgens hierdie skema, waar hul die reaksie sal kry vir miljoene moorde) maar sal iewers weer die kans kry om ons agterent in rat te kry. Dit is regverdig en terselfde tyd ook genadig.

    Maar iets in hierdie stuk wat vir my vreemd is, is die idee van die self waarmee gespeel word. Die idee van Een Siel is basies monisme – dat die absolute realiteit op die ou eind ‘n ongedifferensieerde eenheid is, en dat individualiteit slegs ‘n illusie is wat te voorskyn kom wanneer bewussyn in hierdie wêreld van dualiteit reflekteer word. Maar persoonlik voel ek dat individualiteit te sentraal is aan ‘n bewussynservaring en alles wat vir my waarde het. Om bewus te wees is om bewus te wees van iets, as iets. Enige verhouding vereis ook ‘n tipe individualiteit – want verhoudings kan net bestaan tussen ietse. Nee wat, ek dink ek is iets en jy is ook iets, en ek dink nie daar is iets wat ons daaromtrent kan doen om dit te verander nie.

    Indien dit waar is dat daar dalk  net “een siel is wat net oral heen en weer spring en weer gebore word, sodat dit lyk asof ons baie is, maar eintlik is ons een” dan impliseer dit dat almal eintlik God is – God moet bewus wees om te bestaan, en as daar eintlik net een bewussyn is, dan is ons almal daardie bewussyn. Maar as ek kyk na my eie ervaring van die lewe, is dit vir my baie duidelik dat daar nie net een wilskrag – my eie – is wat my realiteit beinvloed nie. Daar is tallose ander individue wat wil en begeer en wat my beinvloed sonder dat ek dit kan keer. Tergelyke tyd is die hele heelal besig om te beweeg – asof dit gedruk word deur ‘n groter wil. Kyk maar hoe druk Tyd alle lewende wesens vorentoe – dit forseer jou om besluite te maak en om die gevolge te dra, en druk jou op die ou eind tot binne in die graf (en dan moontlik weer tot binne in die volgende baarmoeder). Daar is ‘n deel van my - dieselfde deel van my wat nooit die skottelgoed wil was of geirriteerd raak as iemand met my wil gesels terwyl ek televisie kyk -  wat wil dink “Ja, ek is eintlik God, alles is eintlik Ek en Ek is eintlik alles.” Maar as ek dan gesig eerste binne in die muur van my eie beperkings vashardloop – soos onverwagse diaree terwyl ek vassit in spitsverkeer of wanneer ek in die tandarts se stoel le en wonder of ek more net gaan kan sop eet – tye soos dit dan betwyfel ek nogal sterk dat ek rerig daardie Een bewussyn is wat alles laat beweeg.

  • Ek het my nou al vir baie jare dood gesoek na Marie van der Post se boek "My vervloekte gawe". Het al gedink ek het my verbeel dat ek dit sowat 20 jaar gelede gelees het! Het die boek uitgeleen en natuurlik nooit terug gekry nie "soos dit mos maar met boeke en geleende goed is" en wil vreeslik graag weer lees maar al my navorsing oor die boek is 'n "doodloopstraat"!

  • Reïnkarnasie bestaan. Dit wat ek met julle deel is nie opgemaak of gelees nie, maar het werklik met my gebeur in Mei1979. Ek is vandag 57 jaar oud en toe dit met my gebeur het in 1979 was ek 18 jaar oud. Ek onthou dit soos gister. Ek is gebore in daai tyd sê Suidwes-Afrika in Windhoek en was nog nooit uit Windhoek op daai ouderdom na die suide van Windhoek nie, maar na die noorde baie. Ek het virdie SAS&H begin werk as ‘n baanmeester en moes na Bloemfontein gaan vir my eerste Kollege-opleiding. Ek het met die trein gereis na Bloemfontein, die aand 12H00 op Bloemfontein aangekom, oorgeslaap op die trein en die kondukteur het gesê hy maak my wakker, dan kom haal die kollege-mensê my die oggend 7h00.
    Die oggend 6h30 is ek wakker gemaak en het ek my tassê geneem en na die stasie sê deure geloop net toe dit begin lig word. Die oomblik wat ek by die stasie sê deur uitloop, en opkyk, herken ek die dorp. Ek kry die gevoel ek is weer by die huis. Ek kyk in die straat af en ek weet as jy regs draai in die volgende straat ... daar het my winkel gesit. Ek kyk na die woonstel in die straat af en weet op die tweede vloer as jy by die hysbak uitkom was my woonstel waar ek gebly het en my plaas is net buite Bloemfontein na die oostekant. Ek staan verbaas en wonder nog daaroor toe druk die bussie toeter langs my en vra of dit ek is wat vir die kollege kom. Ek sê ja, klim in en so ver as wat ons ry herken ek die area, maar sê vir mysêlf dit kan nie wees nie. By die kollege gekom, het ek ingeboek en na die klaskamer gegaan.
    Wat nou volgende gebeur het, sal ek probeer om alles vertel. Daar in die klas sit ‘n manspersoon en staar my aan dat ek ongemaklik begin voel. Die eerste breek wat die klas het, kom die persoon na my en steek sy hand uit en groet my op ‘n naam wat ek nie ken nie. Hy vra wat het van my geword, almal soek na my. Ek sê hom ek is Koos en kom van Suidwes af. Hy lag en sê ek lieg, hy weier om my te glo. Die hele dag dring hy hom aan my op as ons ’n breek het. Ek probeer hom vermy en die aand in die bed dink ek net daaraan.
    So het dit die hele week gegaan tot Vrydag. Die persoon sê naam was Hans en hy het gesê hy kom haal my Saterdag dan kan ek by hom kom kuier en hoef nie so alleen in die koshuis te bly nie. Ek stem in, en wat volgende gebeur, het my verskriklik geskok. Hy kom tel my op en ons ry Bloemfontein toe - die koshuis was so 12 km buite die stad. Hy ry reguit na die woonstel wat ek herken het, hou stil voor die woonstel. Ek kyk hom verbaas aan en ek sê en wys na die straat wat regs draai en sê my winkel was daar. Hy lag en sê hy het my mos gesê dit is ek en ek lieg maar ons sal sien. Hy sê kom ons gaan in ek sê nee kom ons ry, op die tweede vloer was my woonstel as jy by die hysbak uitkom. Hy kyk my verbaas aan, maar ek weier om uit te klim. Hy smeek my en amper ‘n uur later stem ek in dat ek sal uitklim. Hy sê net vinnig inloer dan ry ons. Ons klim in die hysbak en stop op die tweede vloer, stap uit; hy klop aan die woonsteldeur reg voor die hysbak. Ek voel verskriklik ongemaklik en wil loop, maar hy gryp my aan die arm, vra mooi, net vining man sê hy.
    Die deur is nie gesluit nie, hy maak dit oop en ons stap binne. Ek herken die kombuis. Hy sê wag en sluit die kombuisdeur dat ek nie kan uitgaan nie. Ek hoor hom praat, hy sê kom kyk wie het ek gebring. Daar verskyn ‘n ouerige vrou so in haar laat 40 en die vrou val amper flou toe sy my sien. Sy gil, lag en gryp my vas, soen my en met trane vra sy hoekom het ek weggegaan en vir so lank. Ek staan verbaas, maar die vrou kan ek nie onthou nie. Ek hoor ‘n manstem en ek kyk na hom. Hy vra haar waar kom die D@#$$#, Bli@##$ nou vandaan. Het hy uit die dood opgestaan? Is hy dan nie vrek nie sê hy. Oor die bakleiery en vloek kan ek nie alles onthou, ek weet dat Hans moes ry. Sy het net geweier om my te laat gaan. Hulle sluit my in die badkamer toe en Hans sê deur die deur hy kom haal my drieuur weer.
    Ek sit verbaas en wonder wat gaan eintlik aan. Ek herken die stad die woonstel en my winkel maar nie die mense nie. Die vrou hou aan sê ek lieg en kom nie uit Suidwes nie. Gelukkig met die stryery tussen haar en haar man neem ek aan het sy later ingestem om my uit die woonstel te laat gaan. Ek hoor haar praat oor die telefoon en hoor haar sê jy kan hom kom haal voordat my man hom doodmaak. Ek kom uiteindelik uit die woonstel uit, hardloop die trappe af en wil net wegkom. By die deur kry ek Hans; ek vloek hom en sê ek loop, ek is klaar met hom. Hy smeek en sê hy sal my terugvat.
    Ons ry, hy draai regs en hou voor die winkel stil. Ek sê ja dit was my winkel, hy lag en sê hou net op om te lieg; dit is ek en hy noem my die naam. Ek sê nee man, ek kom van Suidwes af. Hy praat terwyl ons ry en sê hy stop net gou by sy meisie, dan laai hy my af. Ons hou stil by ‘n huis; hy sê ek kan maar sit, hy sal nie lank wees nie. Hulle kom uitgestap en hy hou die meisie se oë toe en by die kar sê hy vir my klim uit asb. Ek klim uit en hy haal sy hande van die meisie se oë af. Sy gee net een gil en val flou. Ek vra hom wat de donner gaan nou aan. Mense storm uit die huis uit en almal is so verbaas om my te sien, ek besluit nou loop ek terug, ek is nou moeg vir die dinge, ek begin loop ek hoor hulle sê, ja laat hy net loop en bring hom net nooit weer hiernatoe nie.
    Ek stap die 12 km terug en ek hoor later ‘n kar agter my stop. Dis Hans wat sê asb hy sal my terug vat, hy belowe. Ek sê dis reg maar ek donder hom as hy nog na ‘n ander plek toe ry. Hy sê hy belowe. Toe ons by die kollege kom vra ek hom wie was die vrou by die woonstel. Hy sê dit was my skelmpie en die meisie vra ek hom. Hy sê my verloofde. Sy het my gevang met daai vrou, ek het net verdwyn en almal het gesê ek het selfmoord gepleeg.
    Hy vra noudat ek almal weer gesien het, wie herken ek en ek sê nie een, dit is ‘n storie, hulle verwar my met iemand anders. Hy sê, kom ons ry na jou plaas toe, dan oortuig hy my die volk wat daar werk as hulle my ook erken dan is dit ek. Ek sit lank stil en hy bly praat, maar my kop sing; ek is nog steeds verbaas wat vandag gebeur het. Ek sê oukei kom ons ry en as ek hulle nie herken dan kom haal hy my nooit weer nie. Ons ry en toe ons afdraai van die hoofpad, sê ek vir myself ek ken die plek. Net vorentoe staan my oupa se blou trekker, werk nie meer nie, maar is ‘n monument met sy twee ysterwieletjies voor. Ons ry en daar staan die trekker - ek sê niks - ons ry tot by die huis en daar kom ‘n swart man aangestap. Hy kyk na my, val opsy knie en sê dankie tog ek het teruggekom. Ek sê vir Hans nou is dit genoeg, kom ons ry.
    Die volgende week vermy ek vir Hans, praat glad nie met hom nie. Die derde week kom hy weer na my toe, en vrae asb hy soek net my adres in Windhoek indien hy eendag kan kom kuier. Ek gee hom die volledige adres, waar presies ek bly, straatnaam, huisnommer, alles en ek sê hom om vir daai ou vrou te sê sy kan maar kom na die kollege. Hulle kom roep my dat daar ‘n besoeker is, maar ek sluit my toe in die kamer, mis party etes en net as ek voel nou is ek te honger dan gaan eet ek net gou. Hy sê hy sal vir haar sê, maar die laaste ses weke het Hans my uitgelos en ek het nie weer die vrou by die kollege gewaar nie.
    Ek het klaargemaak, is terug stasie toe en op die trein geklim en teruggegaan Suidwes toe. Dit wat ek in Bloemfontein my kom vasloop het, het nog lank by my gespook. By die huis gekom in Windhoek vra my ma my wat het in daai Bloemfontein aangegaan. Sy vertel van die vrou wat in Windhoek was met omtrent ‘n storie oor my. My ma moes haar na my ouma toe vat om te sê dat ek nie is wat sy sê ek is nie. Met groot baklei en stry is die vrou weer terug Bloemfontein toe. Ek het nooit weer in Bloemfontein gekom nie.
    Ek het die plekke herken, maar nie die mense nie.

  • Pingback: Moenie die ramp misloop nie - Blydskap

  • Henning Janse van Vuuren

    Gesprekke soos hierdie lei dikwels tot ʼn tipe wedloop waar sommige vas ‘glo’ hulle sal uiteindelik ʼn hoër posisie op God se podium inneem as ander. Gesprekke soos hierdie het ook al daartoe gelei dat ek amper my tande verloor.

    Johannes, ek dink jy slaan die spyker so byna-byna op die kop.

    Ek het vreeslik aan die skryf gegaan, al hoe willer en deurmekaarder. My hare woes. Ek het selfs ʼn bier oopgemaak, maar helaas besef ek sal net myself kan oortuig. Elkeen is presies waar hy moet wees en sal bloot begryp wat sy kan.

    Daar is geen hel nie.

    Kyk daai hoender in die oog, sê dankie, en eet hom want hy is jy. Tensy jy die hoender is. Eet jouself. Of nie. Nes jy wil ‒ laat die gees jou lei.

    Lees gerus hierdie: https://www.amazon.com/Children-Remember-Previous-Lives-Reincarnation/dp/0786409134

    Prosit!

  • Ek het altyd gedink reïnkarnasie is sommer maar net ’n menslike breinskepping omdat hy gedurig na ’n ewige lewe smag. Nou glo ek ook daaraan, want kyk, hier voor my oë word my ou vriend, Cornelius Henn, gereïnkarneer. As ek mooi kyk, sal ek dalk nog vir Kobus de Klerk ook sien. Of het hy dalk gereïnkarneer in ’n sprinkaan? As die twee terugkeer, al is dit in gereïnkarneerde vorm, sal die vonke weer spat hier op SêNet.

  • Henning Janse van Vuuren

    Angus, ek lees vandag in Beeld van alle plekke dat die 45-jarige Charlize Theron vyf jaar gelede twee kinders aangeneem het. Ene Jackson (nou 8) en August (5 jaar oud). Eersgenoemde is klaarblyklik ʼn seun gebore, maar het vyf jaar gelede aan Charlize gesê hy is eintlik ʼn meisie en daarom verskyn sy saam met haar twee dogters op sosiale media. Hy was dus drie toe hy sy meisieskap verklaar en Charlize reken daai is dan shanana.

    So what? vra jy seker, het dit met al my pittighede oor reïnkarnasie te doen. (Heel snaaks by tye.)

    Ek weet jy sal nie die boek lees waarna ek hier iewers verwys nie, maar daarin word aangedui dat baie kinders tot sewe jaar oud met geslag/gender uit ʼn vorige lewe identifiseer. Ek dink die arme aktrise het die kat aan die bal beet en moet die teuels eers intrek.

    Anyway.

    Die lekker ding van reïnkarnasie is die siel ervaar die lewe ongestoor deur die ego. ʼn Bietjie soos jou lyf gegroei het, sonder dat jy daaroor hoef te gewonder het. Die huidige staat van jou liggaam is ʼn ander vraag. Dis ook soos ons skolesisteem, jy word outomaties deurgesit.

    Jy het lanklaas soveel goeie nuus op een slag gehoor!

    Die volgende is nogal interessant as jy vir ʼn uur op jou alie kan stilsit.
    https://www.youtube.com/watch?v=78SkTuk8Zd4

    ʼn Vriend van my het natuurlik altyd gesê: Wat wonder jy so, jy gaan in elk geval uitvind.

    Ns. Ek is nie oortuig dat baie mense na ewige lewe smag nie. Reïnkarnasie kan nie pa staan vir hierdie wanopvatting nie.

  • Henning Janse van Vuuren, dankie vir jou interessante skrywe. Ongelukkig het ek rooimiere en sal nie sommer na die video kan kyk nie. Is daar enige wetenskaplike bewyse dat die kinders ervaringe het uit 'n vorige lewe? Ek is seker daar is nie; dus hou ek die knippie sout maar byderhand. Reïnkarnasie is deel van baie gelowe terwyl ander gelowe weer glo in afterlife. Vir my is dit maar vinkel en koljander.

  • Henning Janse van Vuuren

    Wel, ek hoop jy het lekker gedans en is goed uitgerus. Die woorde “wetenskaplik bewys” is so vol gate soos die stoel waarop jy sit, meer niks as iets. ‘Wetenskaplik bewys’ het die gevoel van sien is glo, tot jy middernag op ʼn wolklose nag in die tuin uitstap en na ʼn helder ster wys. Jô! Wetenskaplik bewys is die gesprek tussen twee goudvisse in die glasbak in ʼn kind se slaapkamer rakende die waarskynlikheid van lewe op ander plekke. Dit is ook die mens wat nie ʼn geluid kan hoor nie se: ha-ha-ha, daai bestaan nie; kan jy dit wetenskaplik bewys? Die wetenskap het inderdaad aangetoon honde hoor tot 45kHz en mense digby 23kHz, maar die frekwensie het nie die wetenskap nodig gehad om te wees nie. Die wetenskap kom dikwels sleepvoet agterna.

    Kan bewys word dat die stormsee mooi is of liefde nie ʼn illusie nie?

    Ek verkies taamlik onwillig misterie bo die wetenskap. Ongeduldig. Hierdie helse belewenis se intensiteit sal afwater as voorsetting van bewussyn “wetenskaplik bewys” kan word om sommiges se senuwees te sus. Die gedagte is dan juis om inbors te na te streef, ongelowige Angus. Inbors, iets wat geen wetenskaplike in hierdie stadium met ʼn Trump of Zuma sal vermag nie. Daar is natuurlik spekulasie oor siel-ooreenkomste. Dit behels dat een siel toestem om ʼn boeliebaba te wees sodat ʼn ander siel die volle spektrum van “Aarde” kan beleef. (Sonde is na my mening sinoniem met onaanvaarbare gedrag en moet as sulks deur Aardlinge aangespreek word.) ʼn Siel sal haar in so geval moet uitleef deur die liggaam wat hy vir die spesifieke avontuur gekies het. Ja, ʼn bietjie soos teater, waar akteurs aan die einde van die aand van die verhoog stap en die boosdoener bloot ʼn rol vertolk het. Die druppel val terug in die see. Die see is die druppel. Ek kan dit nie wetenskaplik bewys nie, maar ons howe is taamlik inskiklik om ʼn geloofwaardige mens se weergawe van gebeure te aanvaar.

    Wat dink jy van die konsep van lewe as projeksie? M.a.w. verbeelde gebeure gebeur eintlik sentraal (soos in ʼn brein) en projekteer as iets wat sintuiglik beleef word? Bv. sê nou Elon Musk plant sy mikroskyfie in my kop en alles wat ek dink projekteer op ʼn skerm terwyl die karakters in my gedagtes ‘voel’ wat met hulle gebeur, al dink ék eintlik al die stront uit. Die arme donders. Soos ʼn Playstation 10. Dis tog maar die voortsetting van bewussyn, al stoor ek die gefabriseerde data. Wat reïnkarnasie gevolglik moontlik maak. Jy kan dit selfs ʼn geloof noem as dit jou beter en in beheer laat voel. ʼn Bietjie soos ʼn God. ʼn Boss.

  • Sonder 'hande vol met' clichés sou 'n mens seker maar ook met 'n bekvol tande gesit het? Of hoe sê ek?
    Ek het na beide jou videos gekyk. Die eerste is kontensieus, die tweede, vervelig.

  • Henning Janse van Vuuren

    Jy is dus bereid om toe te gee dat jy vervelig is en die eerste video nie verstaan nie. Sal ons met jou mond vol tande volstaan. Now I thank you for your time and you can thank me for mine. Tensy jy iets sinvol bydra, het jy minder impak as die hondedrol wat op ons grasperk vir my lê en wag. Lees intussen iets soos 'The Parasitic Mind' of Dan Sleigh se 'Eilande'. Wie weet, jy ontpop dalk.

  • Hier op SêNet is dit die wet van die Mede en Perse: as jy iets beweer, moet jy uithaal en wys. Jy het dit tog so teen die wetenskap; “wetenskaplik bewys” beweer jy, is so vol gate as die stoel waarop ek sit. Waarom sê jy so? O! dit voel vir jou soos sien is glo. Dan is ek bevrees: jy voel op verkeerde plekke. Die wetenskap het niks met glo en geloof te make nie. Dis slegs ‘n kwessie van weet. Dit help ook nie om deur die mis na die ster te wys nie. Nee, ou boeta! Jy’t teleskope daarvoor nodig. Jou twee goudvissies sal vrek as jy nie die water wetenskaplik behandel en ook sorg dat hulle genoeg suurstof kry nie. Waarom moet die wetenskap vir jou sê wat die verskil tussen die mens en die dierlike oor is? Waarom het jy nie gat op jou stoel daarvoor ingespan nie?
    Alles in die kop, en die brein is omkoopbaar. Hoe meer die testosteroon, hoe mooier. Draai die kraantjie toe en alles word weer lelik. ‘n bietjie te veel mampoer het veroorsaak dat ‘n nefie van my ons oorlede oupa op die stoel voor sy bed sien sit. En hoe het hy geweet dis ons oupa? O, hy het hom herken aan sy baard en die pyp!
    Vir die res van jou brief wil ek net Chomsky se grammaties korrekte, semanties sinnelose sin aanhaal.
    Colorless green ideas sleep furiously.

  • Henning Janse van Vuuren

    Ek help jou met die stoel, wat die res betref is jy op jou eie. Jy sal hiervan hou, ek dink dis wetenskaplik bewys:

    https://www.sciencealert.com/99-9999999-of-your-body-is-empty-space

    'n Nadeel van die "long game" is dat jy later met jouself sit en speel, verkleurmannetjie. Come on, Angy, let loose.

    "Forget It"

    But thanks for your time
    Then you can thank me for mine
    And after that's said
    Forget it.

    Don't be inane
    There's no one to blame
    No reason why
    You should stay here
    And lie to me.

    Don't say anymore
    Just walk out the door
    I'll get along fine
    You'll see.

    But thanks for your time
    Then you can thank me for mine
    And after that's said
    Forget it.

    If there was a word
    But magic's absurd
    I'd make one dream come true.

    It didn't work out
    But don't ever doubt
    How I felt about you.

    But thanks for your time
    Then you can thank me for mine
    And after that's said
    Forget it.

    Hoop nie die liriek verveel jou nie.

    Ek hou van die tjomgedeelte van jou skrywe, die hoogtepunt. As jy antwoord, gooi daai aanhalings. Amper slaaptyd vir jou, of hoe?

  • Beste Henning Janse van Vuuren,
    Ek het al Dan Sleigh se boek Eilande gelees – ek dink sowat twintig jaar gelede. Ek lees soms fiksie, maar verloor gou belangstelling. Nie-fiksie is eintlik maar waarin ek belang stel. Aangesien jy so behep is met die bonatuurlike, dink ek jy kan gerus Sherry Seethaler se Lies, Damned Lies, and Science, lees. Dit sal jou deumekaar kop miskien regruk en op die regte spoor bring.
    Ek het Dan Sleigh sowat 35 jaar in Stellenbosch ontmoet. Hy was toe besig met sy doktorale tesis. As ek reg kan onthou, het dit oor sy navorsing oor die Hugenote gegaan.
    Ek verstaan jou video waarmee jy so spog wel deeglik. Ek sal vat daaraan kry as astrale liggame en auras WETENSKAPLIK BEWYS kan word. Ek glo nie, ek moet weet.
    Jy kan bly wees my ouma ken jou nie, anders was jou bek lankal met seepsoda uitgewas.
    Groete,
    Angus

  • Henning Janse van Vuuren

    Jy kan my maar met jou ouma dreig, Angus, maar ek woon hier in die ou-Transvaal. Jy weet mos: haelgeweer onder die matras, pistool in die paneelkissie, rewolwer onder die kopkussing en ʼn ekstra jagmes tussen die boude vasgeknyp as jy dit op LitNet waag. Ek is bevrees maar ons kan nie langer die buffer tussen die barbare en Stellenbos wees nie. (JM Coetzee was gisteraand hier by my aan tafel toe hy vertel van die aanspraak van die ongestreelde ego en hoe onnosel onderwysers eintlik is.)

    Die bonatuurlike sal vir hom met beperkte insig bonatuurlik bly. Jy blyk so koel soos jou nefie se komkommer te wees (ek hou daarvan), maar pretensie is gekondisioneerde gedrag. Jou morele hoëgrond is bloot om jou vriende te beïndruk. Skel gerus, soos mnr. Bolhuis tereg aandui is letters en klank eintlik heel onskadelik.

    Ek wens ek kon jou vrees vir die dood besweer, maar ek kan nie.

    O ja, ek sê vanmiddag vir die klip by die voordeur as jy nie van die volgende liedjie hou nie, het ek nie meer raad met die fokken ateïste nie.

    https://www.youtube.com/watch?v=EL3pNJqLmo8

  • Henning Janse van Vuuren

    My sielsgenoot/lewensmaat, Angus, het so hier en daar 'n kommentaar van my gewaar en is nie geneë met die toonaard nie. Sarkasme, ironie, onnodige bombasme. Ek het aan haar verduidelik dat jy, synde 'n man van die wetenskap, begrip het vir die chemikalieë se werking in my deurmekaar lobbe. Soos bv. testosteroon. "Ek" staan nie te blameer vir fabrieksfoute nie. No hard feelings, of hoe?

  • Ja, julle jong, ongetroude outjies hoef nie skuldig te voel nie. Doet so voort en speel maar. Dit hou julle uit die moeilikheid, en is 'n goeie behoeder teen die kanker.
    Ek help jou gou reg met jou gediggie -- verder is jy op jou eie.
    Forget it dra swaar aan betekenis, maar meestal: dit wat ek gesê het of beweer het, is onmoontlik. Forget it. So, vertroetel jou siel maar mooi; hy sal nie astraal wegvlieg nie, en dis gesond.

  • Henning Janse van Vuuren

    Staan nader student van die letterkunde, afgodedienaar van die wetenskap en wetenskapisme, hy wat ore het om te hoor en oë het om te sien. Proe hoe wrang die wetenskap kan pootjie ‒ Elon Musk gaan Jimmy Swaggart nog na Piet Muis laat lyk. (Het jy Sherry Seethaler se Lies, Damned Lies, and Science self uitgedink?)

    https://www.youtube.com/watch?v=FPeyJvXU68k

  • Henning Janse van Vuuren

    Betekenis, is jy hier om lippediens aan Angie te lewer? BA! Kon jy ruik hoe kielie die feromone sy gender as hy my formidabele naam uitspreek. Ag, sê ek altyd: Whatever floats your boat, baby. Dankie vir die opheldering rakende Sixto se liriek. Kan jy dalk verduidelik wat beteken: “Maar as geheel raak die meeste verse nóg kant nóg wal. Dit kort vormtug en die gedigte beweeg alte dikwels verby die slot wat moet sluit.”

  • Beste Angus
    Ai man jy maak darem nie mooi met die mense nie. Jy gryp na ribbebene en sê dan dit is wat Christenene glo. Glo my, dit was ook nie waar nie en as dit so was het sy beslis nie daaruit onstaan, maar eerder uit Adam se sy.
    Nou ja die systorie werk ook nie lekker nie en darem eerder uit die baculum en dit is nou die rede dat die manlike spesie nie langer ‘n baculum het, dws ‘n been wat nie aan die skelet geheg is nie maar wat aan die voorpunt van die manlike geslagsorgaan geheg was.
    Omdat ons oervoorgeslagte uit klein groepies bestaan het, reken diegene wat ‘n bietjie oor die onderwerp nagedink en nagevors het dat seksuele mededinging vir aandag van die ‘skone’ geslag minder was en die mans in ieder geval op lang jagtogte afwesig was.’n Baculum vir dieper penetrasie en om te verhoed dat jy vir ander se kleintjies moet sorg was nie langer nodig nie.
    Ek dink nou weer dat dit God se plan was om oorbevolking te keer en die velklere so tong in die kies beter te laat pas.
    Jy verstaan ook nie lekker nie, want jy reken dat in die Genesisskeppingsverhaal God suurstof ingeblaas het en toe het die mens ‘n lewendige siel geword.
    Nee, dit gaan nie oor die biologiese ontstaan van die mens nie. Dit gaan oor ‘n bewuswording dat daar ‘n God is, ‘n Wese wat agter die ontstaan van ons heelal en alles wat daarin is, staan.
    Die bewuswording is nie eie aan die Christelike geloof nie. Dit is ‘n kerngedagte aan alle gelowe dwarsoor die wêreld. Ons bewussyn lê in ons brein met meer verbindings as wat daar sterre in ons waarneembare heelal is. Die gedagtes wat so spontaan onstaan kan beelde vorm sonder dat ons dit werklik sigbaar gesien het,maar net van gehoor het of dalk prentjies in storieboeke of ander gesien het.
    Hierdie gedagtes is vorm ook inligting wat ons in ons langtermyngeheue bêre en dan na vore kom as daar iets is wat dit aktiveer. Jy het dus ‘n brein nodig om bewus te wees en as die beskadig word verander ons en verminder ons herkenningsvermoë.
    As ons dus doodgaan, gaan ons ‘n ewige slaap in totdat ons opgewek word om in die finale oordeel te verskyn en verslag te doen oor ons doen en late hier op aarde.
    Ons word dan in ‘n ander astrale liggaam verenig en nou moet jy mooi luister al daai versteekte gedagtes kom dan bymekaar en moet jy bietjie verduidelik. Nou sal jy verstaan dat ons Skepper (maar ‘n swak menslike word) ons evolusioneer so laat ontwikkel het dat ons ‘n gewete en langtermyngeheue het.So skryf God sy groot boek en is geheue verlies nie ‘n verskoning nie.
    Gelukkig vir elkeen wat Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker aangeneem het het ons ‘n advokaat soos min, wat ons borgtog betaal het en vry gekoop het met ‘n daad wat buite ons begripsvermoë val.
    Nou ja my tyd op aarde raak alhoe minder. Nou ja wat is tyd. Niks meer as ‘n illusie - en as jy reken dit is nie - gee dan ‘n definisie van tyd. Want die son kom nie op en gaan onder nie. Ek moet eerder sê my reise op planeet aarde om die son raak minder, dalk as alles goed gaan nog so ses keer.
    So maak nou jou mind op want jou reise is ook getel.

    Lekker dag.

  • Beste Henning Janse van Vuuren,
    Die maklikste manier om Sherry Seethaler se boek te lees is via Kindle en Amazon. Dit sal jou ongelukkig sowat $16 uit die sak ruk, maar dis die moeite werd om jou van jou opgeblasenheid te verlig. Jy sal beslis na die lees daarvan nie meer dink jy is so slim nie.

  • Henning Janse van Vuuren

    Boude figureer taamlik gereeld in die Afrikaanse literatuurlandskap as tafereel van bekoring, nie waar nie. Dink hier aan boude sonder puisies; boobs, boude, bene; boudjies vetter as die bassline; hoenderboude; I make it leka for your boude; beesteboude; lekker sagte ronde stywe boude; moan jy weer te sê ek slat jou boude seer; potte; as jy jou boude swaai; wys jou vleis; stoute boude; daai boude, baby; stampie boude; wikkel daardie boude; that filthy old fat sow Hamboud (https://mg.co.za/article/2012-09-07-00-how-brink-slaved-over-slavery/) en bicycle ry dat jy kan mooi boude kry. “Ever since his debut in 1962 with Lobola vir die Lewe, Brink regularly made the Afrikaner establishment choke on its KWV brandy.”

    Dít alles bloot obiter dictum.

    Ek is eintlik hier om te gesels oor wat ʼn seekat die mens kan wysmaak. Hipotese, scientific method en all en all. En reïnkarnasie, natuurlik.

    “Reflections on why we sleep have existed since the beginning of recorded history. Some 2,000 years ago, Leucippus, the first “atomist,” described sleep as something that happened to the body when ‘the excretion of fine-textured atoms exceeds the accretion of psychic warmth.’ Fanciful. Another famed ancient, Lucretius, thought sleep is caused by the spirit being attacked and weakened into a state of senescence by mysterious air particles. Absurd.” (Hel, ek het die skakel misplaas.)

    Waar is daai woelgees?

    Sit koppe bymekaar, manne. Twee koppe is mos beter as een, of wat praat ek alles.

  • Beste Henning Janse van Vuuren,
    Die maklikste manier om Sherry Seethaler se boek te lees is via Kindle en Amazon. Dit sal jou ongelukkig sowat $16 uit die sak ruk, maar dis die moeite werd om jou van jou opgeblasenheid te verlig. Jy sal beslis na die lees daarvan nie meer dink jy is so slim nie.

  • Henning Janse van Vuuren

    Dankie, Angus. Ek het reeds die lusmakertjie afgelaai, maar is myle agter met die lees.

    Jy sal verbaas wees. Ek is 'n resilient en industrious little fucker (uit Into the Wild) en daar is geen einde aan my selfvertroue en ook vermoë om interne turbulensie te beheer nie. Jy kan gerus meer in jouself glo, nieteenstaande die kastyding wat jy gereeld onder Boot se skerp tong moet verduur.

  • Henning Janse van Vuuren

    Hier op LitNet gaan dit soms so dol soos by die poskantoor, 'n brief verdwyn om dan heelwat later weer te verskyn. Ander kere daag dieselfde brief in twee koeverte, vol Fangus, tegelyk en betekenisloos in parallelle heelalle op.

  • Die hoogste wysheid van mense is nog maar dwaasheid by God. Die dwaasheid van God is hoër as die hoogste wysheid van mense. Jesus het vir die mens gesê dat daar so baie is wat ek julle nog wil leer, maar julle verstaan nie die goed op aarde wat nog van die dinge daar bo. Baie dinge is nie so onsin as wat dit mag klink nie, ek het meeste bonatuurlike dinge al self beleef van 'n ouderdom van 6 jaar. Ek het baie vrae gehad en mense kan mens nie antwoord nie, soos jou verhouding met Abba, Jesus, en heilige Gees sterker raak, verduidelik Hy al die vrae op jou intelektuele vlak, sommige van dit maak nie kognitief sin nie, maar die vrae is nie fiesies nie, maar geeslik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top