Reinet Nagtegaal kan vlieg, sê Delores

  • 1

Daar is ’n gapende gat in die breiwerk van die Kaap; ’n hele spul steke is laat val. Reinet Crouse-Nagtegaal; regsgeleerde, kunstenaar, lewenskunstenaar, filosoof en onstuitbare hedonis, is vort na haar voorvader toe.

Reinet se karakter Delores het gesê sy het nie ’n probleem met hulp nie, net sagte woorde. "As ek val, is dit gaaf as jy my optel, maar hou net jou bek wanneer jy dit doen." Reinet skryf in 2013 in Rapport (’n Lewe met kanker): “Ek vermy almal wat treur of my behandel asof hulle my groet. Ek verander van dokter na dokter sodra ek snuf kry hy of sy dink nie ek gaan dit maak nie.”

Reinet se suster Elna Pritchard vertel: “Selfs met haar siekte het sy absoluut nooit gekla nie. Sy sou met mens bespreek hoe sy die siekte-ding en die onvermydelike dood gaan hanteer, ja. Maar moet asseblief tog net nie haar bejammer of aan haar 'lek' soos sy dit uitgedruk het nie. En sy was gereed om te gaan. Sy was nuuskierig oor dit wat hierna kom. Regtig nuuskierig om dit te beleef. Absoluut geen vrees nie. Net concern vir dié wat sy agterlaat. En vir ons wat sy agterlaat, sal niks ooit weer dieselfde wees nie. Sy was die hart van ons familiekring.”

Elna onthou: “As kleuter was sy 'n handvol en is altyd deur mense beskryf as 'n rabbedoe, 'n woelwater, deur vriende die bynaam Mischief gegee. Toe sy skaars kon loop, het sy al weggeglip na die bure – dan kry mens haar met 'n gesiggie vol grondboontjiebotter en stroop en 'n doek wat op die kniegies hang.”

Elna vertel: “Omdat Henk so kort op haar hakke gevolg het (hulle het baie soos 'n tweeling grootgeword) moes ek dikwels na haar kyk as my ma besig was. Een voorval staan vir my uit. Ons het destyds in Port Elizabeth gebly en was die dag op Humewood Strand. Sy was 2 en ek 7. Sy het geen vrees vir die water gehad nie en mens moes haar fyn dophou. Ons het in die sand gespeel en skielik sien ek sy is weg. Daar was 'n gebou aan een kant van die strand, naby die water. Die branders het teenaan die gebou gebreek met hoogwater en ek was al in die moeilikheid daar, dus het ek die plek vermy. Toe ek sien sy is weg, het ek eerste aan die gevreesde plek gedink en soheentoe gehardloop. En weliswaar – ek sien haar op die kruin van 'n massiewe deurskynende golf, besig om uit te spoel. Die brander gooi haar uit sentimeters van die muur af. Toe die water terugtrek, raap ek haar op. Sy is grootoog en half verdrink, hare vol sand, maar sy huil nie. Sy kyk net verward om haar rond, as of sy probeer verstaan presies wat nou hier gebeur het.”

Pippa Maartens (Myburgh) het saam met Reinet grootgeword op Vryburg. Sy vertel: “Reinet and I were childhood friends bound together by things we shared that we did not even know about, much less understand. Reinet had such a zest for life, such a passion for the road less travelled, such an enormous heart and generous spirit that it is was difficult to believe she could ever die.”

In ’n brief aan Pippa onthou Reinet: “I think a lot about where I was formed these days. Dit het seker maar te doen met ’n gereedmaakproses, bestekopname van jou life, soeke na sense. Dis lekker om dit so aan die hand van 2 lewens te doen. Ek sal jou inlaat op my mental reis.

When I think of who I am, I somehow have to consider the dustdevils dancing along Livingstone Street. I think your street so near to the exit of the dry dorp had an advantage to Livingstone Street for the farmers drove in and out there, yours was tarred before ours. Those dusty streets are still part of us, though.

When I was outside, the world was bright and orange. There was a tree as big as a circus tent. Do you remember our tree? You also had one. Every house had one. At our previuos house in Stella Street, there were chickens and a vegetable garden. There was a neighbour who peeked over the fence and asked me to kiss him. I had to stand on the wheelbarrow to reach his disgusting mouth. In return I got a Wilson toffee from his pocket. And then it was my brother’s turn. We were good kissers.There were aunts with foundation garments and silk stockings. And there was a borehole with brackish water.This today is still my underlying reality.”

Ek het Reinet die eerste keer gesien by die destydse Boekehuis in Melville. Dit was die bekendstelling van haar roman Voorvaders kan vlieg, sê Delores, wenner van die debuutprys in die Groot Romanwedstryd van Sanlam, Insig en Kwêla. Sy het met groot entoesiasme gepraat, soos net sy kon praat. Ek en Jeanne Goosen het solank stoep toe gevlug waar die kos en wyn al uitgepak was. Deur die venster het ons haar sien praat en lag agter die mikrofoon. “Sy kan nie ’n regte skrywer wees nie,” het Jeanne gebrom. “Skrywers praat nie soveel nie.” Jeanne het later deeglik van mening verander. Reinet kon skryf EN praat, oor enigiets onder die son.

Sy en Dirk was vele mense se goeie feë. Hulle het ’n regsversekeringsmaatskappy begin wat landwyd ’n suksesverhaal is en hul rykdom vryelik gedeel. Hulle was vurige ondersteuners van kuns, van sukkelende kunstenaars en buitestanders. Hul geesdrif was aansteeklik. Hulle kon jou in jouself laat glo. Reinet het die lewe liewer gehad as enigiemand anders wat ek ooit geken het. Sy en Dirk het oomblikke met soveel oorgawe geniet dat hulle die res van die wêreld vaal en depressief laat lyk het, soos mense wat nog nie daardie eerste koppie oggendkoffie agter die blad het nie.

Hier is ’n paar huldeblyke wat ek van Facebook gelig het:

Hettie Scholtz: Geliefde Reinet Nagtegaal
Sterwe is: diep in ons slaap, ons droom, skuil daar ’n blom,
van kleure, geure en bloeisels, onvergelyklik.
Ontwaak ons, kwyn hy weg …
Dan op ’n dag wat voor ons blik
Daag sonder daeraad, buig ons verwonderd, pluk ons hom.
- Antonio Machado

Marinda Ehlers: Rus in vrede, dierbare Reinet. Jy was 'n vrou der vroue.

Ilza Roggeband: Reinet Nagtegaal was een van die merkwaardigste vroue wat ek nog ooit geken het. Altyd geglimlag, altyd 'n storie gehad, altyd uit haar pad gegaan om jou spesiaal te laat voel. Die wêreld is baie armer.

Martie Retief Meiring: Onvergelyklik – dis nogal die raakwoord vir Reinet. Watter wonderlike energie sal mos ook van haar onthou word.

Carien Loubser: A Woman in harmony with her spirit is like a river flowing. She goes where she will without pretense and arrives at her destination prepared to be herself and only herself. Reinet, hierdie wêreld is soveel armer sonder JOU daarin.

Louis Esterhuizen: In my lewe het ek uitsonderlike vroue ontmoet. Reinet Nagtegaal was een van hulle.

Reinet se geliefde suster Elna vertel: “Sy was altyd energiek, vol ondernemingsgees, propvol lewensvreugde en altyd positief. Geen probleem was ooit vir haar onoorkomelik nie.”

Nog ’n paar woorde van Reinet:

“Wanneer dood ’n realiteit word, verloor dit abstraksie. Dit word ’n afgrond waaroor jy gaan tuimel, ’n oorverdowende waterval, en die drang na oorlewing word ’n byna onstuitbare krag wat jou met vrees bestuur.

Ek beleef die lewe tans as ontman van alle tyd. Dis die vryheid wat vreesloosheid bring. When time stops, fear stops, and all starts flowing freely. Selfs pyn raak irrelevant wanneer dit nie meer tyd kan koop nie. Dis hoop wat so seer is. Hoop is so ’n kosbare kleinood dat dit ons breek om dit te hê. Die mens word nie opgevoed om eksistensieël te bestaan nie.”

Vlieg vry en surf die kruin van daai massiewe deurskynende golf, Reinet met die wêreld se empatie en nuuskierigheid in jou oë en die mooiste kuiltjies in die heelal. Ons sal jou onthou.

Die foto's by hierdie bydrae dateer uit Reinet Nagtegaal se jeug. Deborah Steinmair het dit by haar jeugvriendin Pippa Maartens gekry. Die onderskrifte by drie van die foto's is in Reinet se handskrif. Die onderste foto is van Reinet (links) en Pippa.

Lees ook 'n bydrae wat vroeër deur Reinet Nagtegaal geskryf is.

Lees Marlize Hobbs se huldeblyk aan Reinet Nagtegaal.

Lees Jeanne Goosen se huldeblyk aan Reinet Nagtegaal.

  • 1

Kommentaar

  • Amanda Victor

    Sjoe ek wil so graag iets van Juffrou Reinet sê, maar waar begin ek.  Sy het vir my Duits gegee aan die Hoërskool Calitzdorp.  Sy het vir my ongelooflik baie beteken en ek het so baie by haar geleer.  Ek het nou onlangs haar weer raakgeloop en sy het my genooi om by haar te kom kuier in McGregor, maar ek het nooit daar uitgekom nie.  Juffrou, dankie vir alles, dankie dat Juffrou my verstaan het, dankie dat Juffrou geweet het daar is fout as ander nie geweet het nie.  Juffrou sal altyd in my gedagtes wees en Juffrou se foto sal ek nooit van my selfoon afhaal nie.  I LOVE YOU!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top