Reinet Nagtegaal (1956–2014)

  • 1

Gebore en getoë

Reinet Nagtegaal is op 27 Mei 1956 as ’n nooi Crouse in Port Elizabeth gebore. Sy is die middelste van vier kinders – sy het twee ouer susters Elna en Marianne en ’n jonger broer Henk, wat albei ook skrywers is. Sy word groot in Vryburg in die Noord-Kaap, waar sy matrikuleer. Hier op skool leer sy vir die eerste keer reëls ken. Sy vertel aan Susan Coetzer in Rooi Rose: “Ek was ’n veldkind wat likkewane, akkedisse, uile, spinnekoppe, muise en ander ondenkbare gediertetjies probeer mak maak het in ’n intense versugting om meer van hul wêreld te leer ken. Die heelal het bestaan uit klipkoppies en die noorse en die aalwyn en njoem-njoem soek. Later fietsry op ver plaaspaaie en gevaarlike dorpsroetes.”

Die een wat haar vergesel het op hierdie ongelooflike ontdekkingsreise, was haar broer Henk.

Sy het verder aan Rooi Rose vertel: "Ek het as tiener bewus geword van die baie stof en onvolmaaktheid rondom my. Deur my verbeelding moes ek skoonheid skep. En ek hét. Danksy my dierbare meneer Jannie Koekemoer. Elke kind in die Hoërskool Vryburg moes vir dié Afrikaans-onderwyser skoonheid versamel – in ’n Book of beauty. Ons het punte daarvoor gekry en ons was soos visse gehoek. Ons was voortdurend op soek na dinge wat mooi klink, dinge wat mooi lyk. Wat ons nie geweet het nie, was dat hy besig was om ons onderskeidende gees te voed. Hy’t ons kreatief begeester.”

Haar ouers het haar geleer om nie net ’n groepsmens te wees en ja en amen te sê nie, maar om haar eie opinies te vorm. Hulle etenstafel was die plek waar hulle probleme bespreek en probeer oplos het. Sy het in ’n Christelike huis grootgeword wat behoudend was, maar nooit eng nie en die kinders is aangemoedig om vry te dink en sake te bespreek.

Voordat sy skool toe is, is die belangrikheid van boeke al by haar ingeprent, want almal in die huis het gewoonlik met ’n boek gesit. "Ek is grootgemaak met stories. Elna het my as kind ure met wolhaarstories gestimuleer. Omdat sy soveel ouer was as ek, wou ek haar als nadoen; voortdurend aan die skryf en skets. Haar ryk verbeelding het my gevoed.

"My pa, Gawie, het dagboeke gehou en boeke vol gedig, en by my ma het ek my romantiese siel geërf en geleer om met die lewe te dans."

Dit was dus nie snaaks dat Reinet te midde van al hierdie kreatiewe prikkels in standerd ses ’n nasionale opstelwedstryd gewen het nie. Ook is haar "pubergedigte" in Poort opgeneem toe sy in standerd agt was.

Skryf was egter nie altyd haar grootste droom nie. Sy wou eerder met ’n Rooihuid trou. “Ek wou ’n slim en wyse man hê met ’n naam soos Standing Eagle. Trou was hoog op my eendag-agenda. Ek is ’n romantiese siel. Die feit dat die manlike en vroulike liggaam interafhanklik geskape is en mekaar oneindig plesier kan verskaf, fassineer my steeds.” Haar ouer suster het haar derhalwe op skool geleer om doelgerig na die ideale man te soek. En Reinet het seuns volgens hierdie lysies punte gegee.

Reinet het aan Sarie vertel: "My pa was ’n vraat vir die lewe. En hy het my geïnspireer om te lees. As kleuter raak ek die eerste keer van boeke bewus. Ek kon, sonder om ’n letter te kon lees, dae lank met ’n rooi boek onder die arm ronddwaal. Sodra ek my pa sien lees het, het ek by hom gaan sit en kastig so al met my vinger my rooi boek gelees. Danksy my pa se aanmoediging lees ek Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins op ’n vroeë ouderdom en was dit ’n belangrike merksteen op my lees- en skryfpad, aangesien ek daar vir die eerste keer met Jungiaanse denke kennis gemaak het. Die boek het my ook op hoërskool laat besef dat ek baie min weet en dat ek bitter graag verskriklik baie sou wou weet. Sedertdien dwing dit my om jaarliks nuwe velde te ondersoek. My pa het my ook vroeg geleer dat die versameling van kennis ’n plig is."

As kind op die plaas het sy langs die vure na verhale in Tswana geluister en dit is waar haar liefde vir stories gekweek is. "Op die plaas was my lekkerste konserte met die kleintjies om die vuur. Dis deel van die swart kultuur om stories met stem en gebaar oor te dra. Moet my nie kom vertel teater is vreemd aan Afrika nie.”

Die toneelspoor loop ook ver en diep. Reinet en Henk het garagekonserte gehou waarheen die bure se kinders en hul ouers genooi is. In ’n onderhoud met Schalk Schoombie in Insig van Oktober 2001 vertel sy: “My ma het ons toegelaat om met haar vuil wasgoed konsert te hou. Ons het kaartjies, Oros-koeldrank en ingelegde vrugte verkoop, klere aangetrek, gediggies opgesê en gesigte getrek. Later het ons die Hoërskool Vryburg oorgeneem met konsert hou. Elke maand het ons ’n nuwe stuk opgevoer. Dit was vet pret.”

Verdere studie en werk

Na matriek is Reinet na die Universiteit van Pretoria, waar sy drama studeer en haar BA-graad met ’n Hoër Onderwysdiploma opvolg. Sy gaan gee Engels op Calitzdorp, maar skoolhou het haar te veel aan bande gelê. Sy vertel dat die jare as onderwyseres vir haar wonderlike jare was, maar dat sy “nie die brieke het wat ’n mens nodig het om kinders gedissiplineerd te hou nie. Ek glo nie in brieke nie en kinders het dit glo nodig om veilig te voel. Die skoolhouery self het ek benouend beleef en ek glo dit verg enorme energie.”

Die gevolg is dat sy en haar man, Dirk Nagtegaal, saam regte by Unisa gaan studeer het, waar sy haar BProc-graad behaal. In 2001 studeer sy en Dirk ook saam filosofie. Sy het haar “eendag-man” op ’n laataandpartytjie by ’n klomp kunsstudente herken. “Met snaakse skoene en ’n hemp wat uithang. Ek was dadelik geïnteresseerd. Sy energie het ek nodig gehad, sy humor was aansteeklik en die feit dat sy hemp uitgehang het, was die seker teken dat hy gemaklik in sy lyf en klere sit.”

En hulle was hulle hele getroude lewe dol oor mekaar – “seker omdat ons so baie lag en partytjie hou, miskien omdat ons kan stil word, miskien omdat ons nog vir mekaar opdress, saam kos maak, of miskien omdat ons net so reg gekies het. Die bottom line is ons doen alles saam.” Saam met haar man en vennoot begin hulle ’n regsfirma vir advokate om as bemiddelaars en arbiters op te tree. Die firma is aanvanklik begin om huiswerkers met hulle probleme te help. In 2014 het Lipco Law for All by The African Legal Awards die prys vir die innoverendste regspan in Afrika ontvang.

Dirk en Reinet het twee kinders, Jan-Jan, ’n advokaat, en Jackie, wat ook ’n skrywer is. Haar kinders het Reinet se lewe verander. "Hulle gee my ’n stille selfvertroue en ek leer so baie by hulle. Jan-Jan is helder en warm soos sonskyn en Jackie is ’n donker poel waar goue vissies roer. Hulle is onafskeidbaar.”

Sy neem in ’n stadium sabbatsverlof van drie maande en begin aan haar eerste boek skryf. Dit was glo heerlik aan die begin, maar het baie gou eentonig geword. Sy skryf haar in by Riana Scheepers se skryfskool en so word haar skryflus verder geprikkel. Elke aand wanneer sy by die huis kom, moes Reinet die lesings woord vir woord met haar man en Jackie oor die eetkamertafel deel. So het hulle al drie aan die skryf geraak en uit gewoonte elke aand aangehou. Toe haar manuskrip amper klaar was, het Dirk die advertensie van die groot romanwedstryd vir haar gewys. Dít motiveer haar toe om die storie klaar te maak, en met Voorvaders kan vlieg, sê Delores wen sy in 2001 die debuutprys van die Sanlam/Insig-romanwedstryd. Sy vertel aan Susan Coetzer: “Ek het onmiddellik bewus geword van ’n aaklige skaamte soos van ’n kind wat iewers ingeslip het waar hy nie hoort nie. My man en kinders is groot bekke wat jou skaam maak met hul oordadigheid. Hulle dans vir my ’n riel.”

Delores is ’n vrou enig in haar soort en sy glo dat as dit moeilik gaan, jy nie op ’n ashoop moet gaan sit nie, maar jou moet mooimaak en straatteater skep. Reinet het aan Sarie vertel: "Ek en my dogter kon van kleintyd af in winkelsentrums skares tot stilstand dwing met ons spontane straatteater."

Op só ’n manier wou sy haar kinders leer om na die mense rondom hulle te kyk asof hulle na ’n rolprent kyk. Daar is baie van Reinet in Delores, maar slegs die verhouding met die pa is werklik outobiografies. 

In Volksblad van 12 November 2001 skryf Cecile Cilliers oor Delores: "Dis ’n oproerige, kleurvolle, lagwekkende en tog deernisvolle leeservaring. Delores is veertig en dis vir haar ’n tyd tot nadenke. Maar almal weet dat Delores selde lank genoeg tot stilstand kom om na te dink.

"Wat hulle miskien nie weet nie, is dat Delores ’n voorvader het, haar konstante metgesel. Hy rig haar denke, probeer (dikwels vergeefs) vir haar raadgee en deel in haar allesoorheersende sin vir die dramatiese. Soos sy, speel hy elke dag ’n ander rol; sy doen dit, soms saam met haar dogter, en gereeld in die openbaar. Hy is vir almal onsigbaar in sy tutu of sy narrepak of sy lamé-aandrok, behalwe natuurlik vir Delores. Hy is immers háár voorvader.

"En klink dit alles gans te vergesog, ’n wilde sprokie dalk? Ja, dit is, maar terselfdertyd is die roman in die wrede werklikheid gewortel. Delores se selfversekerde, selfgenoegsame sielkundige-ma word verkrag. Dit word ’n gesinskrisis. Daar is konfrontasie tussen Delores en haar tweelingbroer oor die geloof, tussen Delores en haar ma oor die verkragting, tussen Delores en haar hele familie omdat sy nie haar pa se begrafnis bywoon nie. Die krisisse word deurgepraat, deurgewerk en as daar nie altyd oplossings is nie, dan verskil dit nie soveel van die werklikheid om ons nie.

"Maar dit is nie die sentrale tema nie. Laasgenoemde is Delores se soeke tussen al die rolle deur na haarself, na wie of wat sy eintlik wil wees en of sy haar Geliefde van jare gelede wil terughê.

"Die boek loop teen ’n geweldige pas, vol van die bruisende energie wat van Delores af uitgaan. Sy bly lank in die geheue steek: haar lewenslus, haar vrese, haar liefde vir kook en dans, haar weerloosheid, haar vrae, haar moed. Maar die boek is meer as net die vitale karakter van Delores en haar immerteenwoordige voorvader. Dis deurvleg van ’n wysheid en ’n insig wat niemand spesifiek in die mond gelê word nie, nooit onder die neus gedruk word nie, maar wat vir hulle wat op 40 nog soekende en vir hulle wat lank daarna nog steeds wroegende is, tot verbasende troos is.

"'Amazing om mens te wees op God se aarde,' sê Delores (bl 64). Sy is goed gebek, hierdie Nagtegaal, en sy en haar Delores sing hulle lied met oorgawe."

Delores is in 2002 deur Alexa Strachan verwerk tot ’n verhoogstuk wat in daardie jaar by die KKNK opgevoer is met Sandra Prinsloo as regisseur en Alexa en Wicus du Toit as akteurs. Die vervaardiger was Nagtegaal-produksies en die musiek se lirieke is deur die digter Henning Pieterse geskryf en deur Herman van den Bergh getoonset. In 2007 is Voorvaders kan vlieg, sê Delores in Engels vertaal onder die titel According to Delores en deur Genugtig! uitgegee.

Toe Delores eers die lewe gesien het en uitgegee is, was dit asof Reinet in ’n lugleegte geleef het. Sy het Jung se boeke gekoop en ’n storie aangepak oor ’n afgetrede regter wat in ’n biblioteek sit. “Hy is ’n alchemis wat Jack Daniels suip en mense met sy geweldige kennis dophou.”

Die storie is in 2007 deur Genugtig! Uitgewers gepubliseer onder die titel Abra k’ dabra.

Martie Swanepoel vertel in Sarie: "In hierdie roman laat Reinet ’n regter, ’n advokaat en ’n skoonmaker toe om die strak regstelsel so ’n bietjie met die metafisiese te terg."

Hoe sy aan die idee van die storie gekom het, het sy aan Swanepoel vertel: "Die werklikheid is vreemder as fiksie. ’n Mens kyk net om jou en skryf neer wat jy sien en dan dink almal jy het ’n verskriklike verbeelding. Delores was ’n maklike boek wat ek byna outomaties uit my onbewuste geskryf het. Abra k’ dabra is baie meer serebraal geskryf. Die verskil is soos om ’n sonnet te skryf nadat jy vrye verse geskryf het.”

Reinet vertel aan Melt Myburgh op LitNet meer oor Abra k’ dabra: "Die boek gaan grootliks oor oeroue rituele waarvolgens die ou Jode 'golems' geskep het deur die gebruik van klanke en energieë. Drie vroue binne ’n regspraktyk (’n regter, ’n advokaat en ’n skoonmaker) ontdek opnuut die tradisie van die ou alchemiste en die Boek van die Skepping, en speel dan daarmee binne die strak parameters van ’n regspraktyk. Natuurlik met tragiese gevolge.”

Sy vertel aan Alita Vorster hoekom sy Abra k’ dabra wou skryf. “Jy kry die werklikheid, en jy kry die waarheid. Abra k’ dabra is nie werklikheid nie, dit is die waarheid. Pandoor, die hoofkarakter in die boek het die resep van hoe die wêreld werk. Dit is iets wat die ou Jode al geweet het en die Christendom het dit geannekseer en gesê ons gryp dit om ons geloof te bemark. Dit is: glo en jy sal kry, soek en fokus en jy sal vind. Dit wil sê als wat jy sterk genoeg glo kan jy manifesteer. Nie net in jou eie lewe nie, maar ook in ander mense se lewens.”

Ronel Nel (Beeld, 1 Mei 2007) skryf dat as jy Abra k’ dabra die eerste keer sien, jy dadelik besef dat hierdie boek anders is: nagemaakte rooi leer vir die buiteblad met goue letters op en ’n lint waarmee jy jou plek in die boek kan hou.

Reeds met Delores was die toordery in Reinet Nagtegaal se skryfwerk aanwesig. "Nagtegaal se sensibilities dobber speels – en in die trant van mago-realistiese skrywers soos Isabelle Allende en Salman Rushdie – iewers tussen ’n klinkklare realiteit en ’n ongesiene wêreld van magiese stuwing.

"In haar nuutste roman, Abra k’dabra, ondersoek sy hierdie tweeledige spel, dié van die tasbare en die onsigbare, selfs verder. En dié keer maak sy gebruik van haar eie realiteit as agtergrond: die wêreld van die wet (sy is ’n regsgeleerde) – en die oorkruising daarvan met die kragte van die woord: gesproke, gesonge of geskrewe.

"Abra k’dabra handel egter nie slegs oor die botsing van twee ver verwyderde realms nie. Soos die mediavrystelling sê: dit handel essensieel oor drie vroue wat 'soos wafferse hekse met ou resepte van alchemiste en die geheime uit die titel van die skepping speel. Die verhaal ondersoek die skeppingskrag van woorde en hoe die karakters deur taalgebruik hul woorde laat transponeer in werklikheid en so verantwoordelik raak vir hul eie en ander se noodlot'.

"Die drie vroue is almal op een of ander manier betrokke by die regte. Pandoor, die skoonmaker en by verre die mees aangrypende karakter, word in die nag ’n woordewisselaar, ’n taal-shaman, ’n skepper. Haar skripsie handel oor ‘die klanke van die alfabet as sleutel tot die geskiedenis van die mens,’ en haar insigte oor die beloftes van taal kry gestalte in haar hordes volgeskribbelde notaboekies. Haar werk wys sy egter slegs aan die regter, ’n naamlose karakter, en die enigste toeganklike een in die swart-en-wit-wêreld van wat reg en verkeerd is.

"’n Derde karakter, die smeulende Lilli, is ’n prokureur wat in haar selfgemaakte taal die mensdom uitskel. Lilli staan sentraal tot die roman se ontknoping, en die leser val saam met haar onder die spel van Pandoor se taalkonkoksies.

Nagtegaal haal kwistig aan uit die Sefer Yitzirah, die Boek van die Skepping, een van die oudste Joodse geskrifte wat bestaan, en wat onder meer handel oor letterwaardes wat volgens oorlewering gebruik is om lewe mee te skep.

"Soms struikel die dialoog in die boek effe, maar origens is dit ’n onthutsende, surrealistiese geskrif, deurspek met donker humor en ’n deernisvolle blik op die fragiliteit van mense. Uiteindelik ontsluit dié boeiende roman in ’n a-tipiese som van liefde en verraad, en Nagtegaal se poging om dít wat hoog en verhewe lyk, te ontmasker, is prysenswaardig. Haar slotsom onderstreep dat dit sinloosheid is wat karakters dwing om die wysheid te soek, maar ook dat wysheid hul uiteindelik weer met sinloosheid konfronteer."

In 2002 borg Dirk en Reinet die Nagtegaal-kompetisie waarin nuwe drama- en kabarettekste in Afrikaans bekroon word. Reinet glo dat die huidige generasie die een is wat dinge moet laat gebeur. “Somehow glo ek daar sal ’n boom groei. Daar moet.” Die eerste wenner van die Nagtegaal-kompetisie was Pieter Fourie vir Koggelmanderman. Na vier jaar, in 2006, kom die verbintenis tussen die Nagtegaal-prys en die KKNK tot ’n einde. In die plek daarvan word ’n dramatekskompetisie wat nie aan die KKNK gekoppel sou wees nie, bekendgestel. Die kompetisie sou as die Genugtig!-prys bekend staan.

In 2010 is die prys gestaak. Dirk het in Die Burger van 5 Junie 2010 verduidelik: "Die beëindiging van die prys was nóg ’n skielike, nóg ’n maklike besluit. Omdat ons ook ’n produksiehuis op die been gebring het, het dit nie eties reg gevoel om aan die een kant ’n teksprys te oorhandig vir ’n produksie wat ons dan self op die planke bring nie. Dit was absoluut ’n persoonlike besluit om nie meer die prys toe te ken nie.

"Ek hoop dat die beëindiging van die teksprys nie ’n leemte in die geledere van Afrikaanse drama sal laat nie en dat dramaturge sal aanhou om hul tekste vir sy produksiehuis te stuur. Ek het besef dat ons elke jaar met ’n paar rou tekste wat potensiaal getoon het, bly sit het wat onder die hand van ’n ervare dramaturg ontwikkel sou kon word, maar daar was nooit tyd daarvoor nie. Nou sal ons tekste op hierdie manier kan ontwikkel.”

Die einde van die teksprys is met hartseer en skok deur dramaturge en ander rolspelers in die teaterbedryf begroet.

Kobus Burger, destyds programbestuurder van die Absa KKNK, het gesê die teksprys was ’n finansiële hupstoot vir skrywers. “Kunstefeeste is altyd op soek na nuwe Afrikaanse dramas en skrywers- en tekspryse was die afgelope paar jaar ’n groot aansporing vir mense om te begin skryf,” het hy bygevoeg.

Hennie van Greunen, wat spelleiding verskaf het vir die suksesvolle Nagtegaal-tekspryswenner Die naaimasjien en ook op die Nagtegaal-beoordelaarspaneel was, het gesê dat dit “baie hartseer” is. “Met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater wat ook geval het, is daar nou ’n baie groot gat in die ontwikkeling van Afrikaanse dramatekste.”

In 2003 begin hulle die uitgewery Genugtig! om aan debuutskrywers die geleentheid te gee om hul werk in druk te sien. In die beginjare van die uitgewery het die skrywer Jeanne Goosen nou saam met hulle gewerk. Later was Reinet nie meer so intens betrokke by die uitgewery nie en is die leisels oorhandig aan Jackie en haar lewensmaat, Vera. Die naam van die uitgewery is intussen verander na Joho! om daardeur ook die buitelandse mark aan te spreek. Werk van gevestigde én debuutskrywers word nou uitgegee.

In 2009 word In limbo deur Jackie en Reinet by Joho! gepubliseer. Jare gelede as skolier op Stellenbosch het Jackie straatkinders se stories begin neerskryf. Die stories het met verloop van tyd een lang verhaal geword wat gaan oor ’n ma en dogter wat albei alkoholiste is en die probleme wat hulle op hulle lewenspad ervaar.

In Desember 2008 het Jackie vir Reinet dele van die manuskrip gegee om te lees. Reinet het baie van die verhaal gehou, maar het gevoel dat Jackie se simpatie met die ma-karakter darem te effens was. In ’n onderhoud met Karin Burger (Rapport) vertel Reinet: “Ek het gevra of ek nie die karakter meer diepte kan gee nie. Jackie het gou gereageer op my voorstelle en die dogter-karakter aangepas en so is die roman binne twee maande klaar geskryf. Die titel van die boek verwys na die groef waarin die hoofkarakters vasgevang is."

Jackie het egter gewaarsku dat die boek nie bedoel is vir ma's wat dink dit sal hulle verhoudings met hul dogters verbeter nie.

In In limbo is daar hierdie keer nie vis in die punch nie en voorvaders vlieg ook nie, maar “daar’s muggies in die port” (p 68). In Beeld  van 24 Augustus 2009 skryf Susanne Harper dat In limbo "steeds skreeusnaaks is, steeds deurspek met ongure en Engelse woorde, meer gesofistikeerd en deftiger – maar ook met tekens van ’n geestelike vergroening, ’n spirituele wedergeboorte."

Op die agterblad word die verhaal opgesom as ’n "insiggewende verhaal wat die delikate verhouding tussen ’n ma en haar dogter skets. Die twee leef in limbo in hul rykmanswêreld teen die hange van Tafelberg, in ’n huis wat hulle besig is om te vergroen.

"Die ma, Dette, verdryf haar tyd as lewensmentor saam met haar poedel en katelknaap. Die dogter is ’n jong entrepreneur wat haar wins gebruik en die land vol rits om opbouende praatjies oor straatkinders te lewer.

Iets moet gebeur, iets moet verander, maar terwyl hulle wag, durf hulle die lewe aan in ’n waas van alkohol, voortdurend gewapen met ’n fles vodka in die sak. Die situasies waarin die twee beland, is tegelykertyd skreeusnaaks en hartverskeurend. Aldus die kleurryke agterblad."

Harper gaan voort met haar bespreking: "Twee duidelike stemme, dié van ma en dogter, word deurgaans onderskei. Aan die begin van die boek word die ma beskryf as ’n lyk op die agtersitplek van ’n motor. Die ma is ’n lewensmentor wat ander mense se lewens coach, maar nie haar eie lewe kan bestuur nie.

"Die dogter, Tommy, wens die ma was ’n lewensgroot lappop wat haar kan vashou en sag is om by te wees, maar beslis een wat haar bek hou. Ma en dogter is aan mekaar verslaaf en kan nie van mekaar losbreek nie. Soos die eggenoot en pa sê: 'Julle twee ... is soos ’n aansteeklike siekte vir mekaar. Julle kry nooit kans om gesond te word nie.'

"Ma en dogter het in die boek seks met dieselfde katelknaap, die Duitser Hans Schwabe, ’n swerwer wat op ouer, ryk vroue teer. Pragtige beskrywings dui op ’n buitengewone gawe vir skryf.

"Tommy neem die straatkinders na haar huis in Rondebosch en sorg daar vir hulle om haar skuldgevoelens te paai: 'As hy maar net weet hoe ek enigiets sal doen om my guilt te sus.'

"Die boek wemel van verwysings na weelde, na canapés, salm-happies, martini’s, garnale, sjampanje, kaviaar, olywe, spa’s, klubs vir die rykes, orgideë, koi-visse, Egiptiese beddegoed, Jenni Button-pakkies, Chanel-lipstiffies, besigheidsklasvlugte en jaarlikse vakansies in Griekeland. Soos in Daar’s vis in die punch is hierdie boek ook deurspek met Engelse woorde, wat wel deesdae in Afrikaanse gesprekke gebruik word. Veel erger egter is die kwistige vloekwoorde en kru taal.

"Talle komiese beskrywings is werklik skreeusnaaks. Dette druk haar kop in die yskas om van haar gloede van wellus vir die jong man ontslae te raak. Sy smeek haar hond, wat soms ’n halsband met Swarovski-kristalle dra, om haar man in Amerika te bel, maar die hond kyk haar net aan. Dié poedel, Warhol, word opgetooi en aangetrek om by die geleentheid te pas. (...) Teen die (gelukkige) einde van die boek is ma en dogter albei van hul alkoholisme verlos.

"Alhoewel die boek eintlik maklik lees, sal nie alle lesers seker gedwing voel om die byna 200 bladsye end-uit te lees nie; sommige kan dalk verveeld raak met beskrywings van alkoholiese dwelmwase en orgasmiese ervarings van die rykes in weelderige huise, in Griekeland of kaal op die strand. Te erg is soms te erg. Hierdie klein muggies in die port kan pla. Die boek is dus nie vir almal nie, maar vir diegene wat verslaaf is aan die onkonvensionele. Só word die boek eintlik ’n satire op aardse rykdom, statussimbole en ’n rykmanslewe. As sodanig het dit wel deeglik bestaansreg."

By die Woordfees van 2009 het Reinet en Jackie in gesprek getree met Reinet se broer, Henk, oor In limbo.

Jackie het vanuit die dogter se perspektief geskryf en Reinet uit die ma s’n. “Ons het elke Vrydag bymekaargekom om te skryf,” het Jackie gesê.

Die boek is opgedra aan ’n aantal straatkinders waarmee Jackie in haar tweede jaar op universiteit kennis gemaak het. “Hulle het in die voorportaal van my woonstelblok geslaap.”

In die boek raak die karakters ook by straatkinders betrokke. Jackie het gesê al die staaltjies oor dié kinders is waar, maar volgens haar is die boek nie verder outobiografies nie.

Reinet vertel aan Martie Swanepoel dat sy haar karakters vooraf lewe gee. “Ek kan nie skryf as ek nie iemand voor my sien nie. Ek weet nie of almal so werk nie, maar ek moet iemand van vlees en bloed uit ons fisieke wêreld voor my sien. En dis hoe ek die werklikheid transponeer, want daardie karakter van vlees en bloed begin dan in die werklikheid wat jý vir hom of haar skep, leef en op ’n sekere manier optree. Die karakters lei my en voltooi my verhaal.”

Vir Reinet is die heel beste tyd om saans na nege te skryf. Wanneer Dirk besig is met sy e-pos, gaan sit sy en skryf, soms tot diep in die nag. Dit is in die stilte van die middernagure wanneer sy haar inspirasie vind en hard werk. Sy vertel aan Alita Vorster (Rapport, 21 November 2007): “Ek is op ’n wonderlike plek in my lewe, en was nog nooit so gelukkig nie. Ek kan nou doen wat ek wil en ek kan nie vir jou vertel hoe lekker dit is nie.”

Oor ’n boek wat haar lewe verander het, het Reinet as volg aan Beeld van 7 Mei 2001 vertel: ”Boeke moet jou slim maak, sê my pa wanneer hy my Woensdae-aande op sy skouers biblioteek toe dra. Hy leer my om kieskeurig te lees en kon nie wag dat ek oud genoeg sou word om die boek van alle boeke, nl Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins te lees nie. Ek was maar in graad 1 toe die boek in 1962 verskyn het. Hy moes dus lank wag.

"Sedertdien het ek die boek 'n paar keer gelees (nou nie elke jaar in Junie met Leroux se verjaardag soos my pa aanbeveel het nie) en besef ek elke keer dat ek ouer en wyser geword het om nog meer uit dié meesterwerk te haal.

"Sewe dae is op die oog af 'n sardoniese mallemeule van inisiasies waardeur die skynbaar onskuldige individu gaan om deel te word van die massa. Op suiwer genotsvlak, is hierdie werklik 'n Alice in Wonderland-verhaal waarin die leser hom eenvoudig kan oorgee aan die fantasieë wat opgetower word. Henry van Eeden gaan vir sewe dae na die plaas van sy aanstaande, Salome Silberstein, om haar liberale, dekadente familie te leer ken. Henry moet leer tuishoort. Sy aanstaande skoonpa eis dat hy die kwaad moet proe, omdat 'jy die duiwel eers moet leer ken voor jy die poorte van die hemele kan ingaan'.

"Maar dit is ook 'n ingewikkelde filosofiese werk met simbole, misteries, gnostiek en verwysings waarin jy met ontdekkings beloon word indien jy intussen jou huiswerk gedoen het. Die boek het vir my 'n heerlike barometer geword om voortdurend my insig en intellektuele groei aan te meet."

In Junie 2011 het Reinet en haar seun, Jan-Jan, die komiese toneelstuk My pa dink hy’s Elvis geskryf. Dit handel oor ’n seun wat sy pa vergesel op sy mal togte na klein plattelandse dorpies as ’n Elvis-nabootser. Dit is deur Albert Maritz op die planke gebring, met Ben Kruger en die opkomende ster Vilje Maritz in die rolverdeling.

Vir hierdie stuk is die twee Nagtegaals geïnspireer deur die ingewikkelde verhouding wat daar tussen ’n pa en ’n seun kan ontstaan en waardeur enige jong seun moet werk.

“Ek was nuuskierig oor die interaksie in gesinne en oor die rol wat ouers in kinders se lewe speel. Ek het ook baie as student getob oor die transformasie wat ’n kind moet deurgaan om sy eie self te vorm. Dis ’n baie moeiliker proses as waarna dit met die eerste oogopslag lyk,” het Jan-Jan aan Die Burger (2 Junie 2011) verduidelik.

Die Elvis-karakter was nodig om te illustreer hoe “ouers meer dikwels nog as kinders soek na iets nuuts, na inspirasie, na verandering,” sê Reinet.

Die samewerking tussen ma en seun het gelukkig nie vir enige vuurwerke gesorg nie, behalwe dié van ’n skeppende aard. “Ek dink ons vul mekaar wonderlik aan, ons daag mekaar uit oor sekere persepsies en gedagtepatrone. Ons redeneer graag,” sê Jan-Jan.

Die tema van Elvis, “om uit gesonde uitdaging te groei” is ook van toepassing op hulle eie verhouding. “Ek daag my ma dikwels om haarself oop te stel vir iets vreemds of onbekends, want tussen ouer en kind gebeur dit te maklik dat die ouer in absolute ontkenning staan teenoor al die nuwighede wat die kind inbring. Die meeste ouers wend nie eens ’n poging aan om dit te leer ken nie. Dit belemmer enige hoop op krea­tiwiteit en ervaring.”

Die belangrikste deel van die stuk was die fassinasie wat daar na al die jare nog steeds met Elvis bestaan. “Hy sal nooit sy ikoonstatus verloor nie, omdat hy onnabootsbaar uniek was,” beklemtoon Reinet.

Jan is geïnspireer deur Elvis se vrye gees. “Elvis kon hom losmaak van die waardes en idees van sy tyd. Só kon hy ’n reusesprong met sy musiek maak. Mense wat so voor hul tyd is, gee ons ’n voorsmakie van die onbekende, of dit wat nog gaan kom."

In Maart 2012 is Reinet met lewerkanker gediagnoseer. In ’n artikel in Rapport se My Tyd-tydskrif  (22 Februarie 2013) vertel Reinet hoe sy gevoel het nadat sy gediagnoseer is: "Wanneer dood ’n realiteit word, verloor dit abstraksie. Dit word ’n afgrond waaroor jy gaan tuimel, ’n oorverdowende waterval, en die drang na oorlewing word ’n byna onstuitbare krag wat jou met vrees bestuur. Vrees vir pyn, vrees vir swaarkry, vrees vir eindes, alles deel van ’n allesoorheersende begeerte na méér lewe. Die vrees is so oorheersend dat jy dit met iets moet temper om te keer dat jou hart gaan staan!

"En dis hoe gelatenheid so maklik jou diep rivier word. Daardie sagte, gevaarlike kussing waarop jy gaan sit. Gelatenheid. Dit domp vrees en sit jou in ’n lewende beswyming. Jy dryf net voort op ’n stroom en hoef geen energie te gebruik om jouself in enige rigting te stuur nie.

"Tot verbystering van my gesin en almal om my het ek besluit om te dryf. Ses verskillende dokters kan geen genesing voorsien nie. Chemo kan my maande bygee, kan dalk die letsels laat krimp om dit verder met mikrogolwe te bestraal, maar ook dít koop net ’n paar jaar. Dan is gelate doodgaan makliker.

"Maar ek leer gou dat gelatenheid ’n vrugbare teelaarde vir depressie is en ek verpes depressie. Ek skryf Lord Tennyson teen my muur: I must lose myself in action lest I wither in despair.

"So, om die vaal hond wat so om my hakskene snuffel eenkant toe te du, begin ek op praktiese dinge konsentreer om myself emosioneel te buffer. Testament, boedelbelasting, lewende bemakings en die skryf van briewe neem weke in beslag en laat my voel asof ek minstens nog beheer oor die praktiese sy van my lewe het.

"'Jy moet sin maak hieruit,' sê my broer. 'Jy moet oor afstand na jouself kan kyk. Jy moet ’n waarnemer sonder ’n standpunt word,' por my seun my aan. En ek probeer kyk. Ek word tegelyk waarnemer en deelnemer. Aan die een kant beleef ek hierdie vreesaanjaende siekte op ’n baie persoonlike, subjektiewe vlak asof dit mý kanker is en aan die ander kant sien ek hoedat die kankerselle in my lyf ’n impak op die werklikheid van almal om my het.

"Ons is psigo-fisieke wesens. Ons kan nie die komponente een van die ander skei nie. Kanker tref nie net jou organe nie, dit laat groei ook gedisoriënteerde selle in jou bewussyn, in jou belewenis van alles om jou. Dis ’n kwantumbelewenis. Asof selle met mekaar kommunikeer en die stand van jou gedagtes na mekaar toe SMS.

"Wanneer jy ’n hulpelose toeskouer van jou eie lewe word, kan jy letterlik die energie uit jou ledemate voel onttrek. Kanker teer op wanhoop. Nou kom die stadium waaruit jy nie sonder ’n ondersteuningsnetwerk kan kom nie. Waar jou drif verlore gaan, het jy die voortstuwende energie van buite nodig om jou op te lig. Ek het dit persoonlik in aksie gesien. Hoedat SMS’e, besoeke, gebede en goeie wense my pyn letterlik laat bedaar. Asof die mense van buite wat so weier om te los op ’n metafisiese manier hoop binne jou selle kweek.

"'Dis ’n donker siekte, maar jy is mos ’n brave girl,' sê my ma. '’n Brave girl behoort heel eerste haar oog na die son toe te draai,' sê my broer. 'Jy móét jouself bemagtig,' smeek my geliefde. 'Jy moet astraal sweef,' sê my seun. My dogter dra dik pakke internetverwysings aan. Ons gaan sien dokter nr 7.

"Hierdie dokter sê: 'Ek kan jou nie gesond maak nie, maar ek kan gehalte aan jou lewe gee en ek kan jou verseker dat niemand regtig tyd kan voorspel nie. Die dood sal jou ook maar verras soos wat dit my gaan verras.'

"Ek besef dit nie in daardie stadium nie, maar die feit dat hy glo ek behoort steeds my eie gesondheid met dieet en oefening te bestuur, maak die eerste duik in die wanhoop wat so ’n troue bondgenoot geword het. ’n Vriendin stuur vir my ’n verjaarsdagskildery van son wat deur water breek, ’n opswem na die lig. Ek hang dit oorkant my sitstoel. Ek swem in daardie stroom. Elke dag. Ek verander my dieet, ek oefen. Ek begin die lewe op ’n afstand dissekteer. Die lewensdrang, as gemene deler tussen ons en alle lewende wesens.

"As die drang na lewe so sterk is dat dit so ’n intense emosie soos vrees kan skep, moet dit tog geweldig belangrik wees om so lank as moontlik binne hierdie spesifieke bewussyn te leef. Selfs al kan ons dit nog nie presies dissekteer nie, is dit die elikser wat ons aan die lewe hou. Met hierdie gewaarwordinge begin my eie drang na lewe weer toeneem en voor ek my oë kan uitvee, dryf die doodsvrees my terug onkoloë toe. (...)

"Ek behou beheer oor my lyf deur te dieet en te oefen. Ek verdryf die chemo-naarheid met groentesappe en die treadmill. Ek dwing myself om te erken dat ek nog lank wil lewe. Ek maak rolprente in my kop oor myself saam met my geliefde en my kleinkinders oor tien jaar en ek kyk hierdie flieks honderd maal per dag. Ek leer my lewer ken en sing vir haar marsliedere! Ek sweep haar op om saam met my oorlog te maak. Ek kommandeer ook almal wat ek ken om my in die lewe in te dink. Ek vermy almal wat treur of my behandel asof hulle my groet. Ek verander van dokter na dokter sodra ek snuf kry hy of sy dink nie ek gaan dit maak nie."

By die ATKV-Mediaveertjies se toekennings vir 2014 het Reinet ’n Veertjie ingepalm vir die beste essay, rubriek of blog met die storie wat in Rapport se My Tyd-tydskrif verskyn het.

Op 15 Desember 2014 is Reinet Nagtegaal aan huis in Melkbosstrand oorlede. Ten tye van haar dood het sy die Damhuis-restaurant in Melkbosstrand bestuur. Sy laat haar man, Dirk, kinders, Jan-Jan en Jackie, haar skoondogters, Vera en Lara, en twee kleinkinders, Anna Finn en Dirk, agter, asook haar susters en broer en haar ma, Jackie Crouse.

Só sal sy onthou word:

  • Dirk Nagtegaal, haar man: "Ek sal haar onthou vir haar ongelooflike wysheid en kennis, die manier waarop sy kon praat met ’n breë spektrum van mense, van die armste tot die rykste. Enigiemand wat haar ervaar het, sou weet sy was in hul lewe." (Die Burger, 17 Desember 2014)
  • Amanda Strydom: "Jackie laat weet dat sy vol vrede was en omring met liefde. Ek het ’n ontsettende bewondering vir jou gehad, liewe Reinet." (Die Burger, 17 Desember 2014)
  • Joan Hambidge: "Ek onthou haar as ’n gul mens en lewensgenieter. Sy was iemand wat ellendes kon troef met humor." (Die Burger, 17 Desember 2014)
  • Ilza Roggeband: "Reinet Nagtegaal was een van die merkwaardigste vroue wat ek geken het. Sy het altyd geglimlag met die mooie, mooie kuiltjies, sy het altyd stories gehad om te vertel, sy was ’n goeie luisteraar, ’n uitnemende gasvrou, sy het ’n ruim hart gehad en was baie vrygewig, haar lag aansteeklik, sy was ondersteunend, opreg en het ’n gawe gehad om almal in haar geselskap spesiaal te laat voel. Die wêreld is ’n armer plek sonder haar." (Die Burger, 17 Desember 2014)
  • Louis Esterhuizen: "Ek sal Reinet Nagtegaal onthou vir haar ongelooflike kreatiwiteit en medemenslikheid, die wyse waarop sy mense ondersteun en aangemoedig het. Sy was blymoedig en het baie van haarself gegee. Haar dood is ’n tragiese verlies." (Die Burger, 17 Desember 2014)
  • Deborah Steinmair: "Reinet het die lewe liewer gehad as enigiemand anders wat ek ooit geken het. Sy en Dirk het oomblikke met soveel oorgawe geniet dat hulle die res van die wêreld vaal en depressief laat lyk het, soos mense wat nog nie daardie eerste koppie oggendkoffie agter die blad het nie." (LitNet, 17 Desember 2014)

Publikasies

Publikasie

Voorvaders kan vlieg, sê Delores

Publikasiedatum

2001

ISBN

0624040321 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Debuutpryswenner in Sanlam/Insig/Kwela-Romanwedstryd 2001

Vertalings

Engels 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Abra k’ dabra

Publikasiedatum

2007

ISBN

978-0958488068 (sb)

Uitgewer

Parklands: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In Limbo (saam met Jackie Nagtegaal)

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780980275476 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Joho! Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Loorita se Griekse voorskoot / saam met Dirk Nagtegaal

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799356502 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Resepteboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels deur en oor Reinet Nagtegaal beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Aangrypend!! 'n Enorme verlies op persoonlike vlak vir almal in haar lewe. Vir ons wat buite op 'n afstand was maar met belangstelling gelees en gevolg het, is die verlies eweneens net so groot. Ons het gekies om te lees en te luister na haar as mens en wat sy (en haar gesin) skep en dit word ons nou ontneem. Die dood is nooit tydig nie en mens se hart gaan uit na almal wat haar in hul gedagtes abba en, so glo ek, steeds saam op "reis" sal gaan omdat sy met haar stories leef en blydend is.

     (Was saam met Dirk in dieselfde koshuis en selfde gang op Kovsies - gang 8, laaste gang bo met 'n uitsig op Idahlia se koshuis waar voornemende verpleegsters nes geskop het. Dirk het sy gang name en identiteit gegee en so ook diegene, veral eerstejaars, wat grootoog, verward en dwalend was. Dit het bygedra dat mens met 'n nuwe oog na iets soos "die lewe" self begin kyk het ... Sterkte aan jou en die familie Dirk. Ek's egter oortuig dat iemand soos jy haar "vlam" op een of ander manier brandend sal hou, hetsy in die kombuis of in die gedagtes waar sy voortdurend vir jou sal dans ... )

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top