Is daar regtig ’n haas in die maan
en is hy alleen of het hy ’n maat?
Is daar regtig ’n Vader Kersfees
of is dit net ’n leuen van kindwees?
Is daar regtig ’n tandemuis
en is hy wit of bruin of grys?
Is daar regtig ’n Klaasvakie
want hoekom kan ek nie slaap nie?
Is daar waarheid in die feëverhale
waarbinne my drome gaan dwaal het?
Is daar regtig ’n Liewe Jesus
wat in alles my troos is?
Is daar regtig ’n God
of net die gemantelde noodlot?
Is daar regtig ’n hemel
daar bo by die maan se sekel?
Hoekom moes ons ooit gevra het,
die stories nie maar net aanvaar het?
Want nou is ons almal groot
en hoop gaan werklik somtyds dood.


