Die aanbevelings van die Regterlike Dienskommissie vir die aanstelling van regters veroorsaak gedurig kwaai kopsere.
Onlangs is gemoedere weer erg omgekrap deur hoofregter Mogoeng se stelling dat dit in die eerste plek nie oor meriete gaan nie, maar oor die transformasie van die regbank. Toe kom oudregter Ngoepe en beweer dat senior advokate nie noodwendig goeie regters sal wees nie. Om alles te kroon bedank advokaat Izak Smuts, een van die Regterlike Dienskommissie se oudste en mees senior lede, omdat hy oortuig is die Kommissie diskrimineer teen wit kandidate.
Regters Mogoeng en Ngoepe se uitlatings kan gerieflik met genoegsame regsargumente doodgeslaan word.
Die Grondwet is baie duidelik. Vereistes by die aanstelling van regters is dat hulle gekwalifiseerd, bekwaam en geskik moet wees. Hierdie vereistes word ook in die regterseed bevestig wanneer regters tot die amp toetree en moet belowe dat hulle die Grondwet en die reg sonder vrees, gunste of vooroordeel sal toepas. Dit spreek tog vanself dat ’n regter sonder die nodige kwalifikasies nie in staat sal wees om uitvoering aan die voorskrifte van die Grondwet en reg te kan gee nie.
Die ellende kom egter as gevolg van die Grondwetbepaling dat die regbank breedweg die bevolkingsamestelling moet weerspieël. Natuurlik mag ons regbank, soos in die verlede, nie net hoofsaaklik uit lede van één bevolkingsgroep bestaan nie. (Hierdie aanwysing van aanstellings wat breedweg die bevolkingsamestelling moet weerspieël, kom ook voor as ’n rigtinggewing vir die staatsdiens. Tereg.)
Wat egter toe gebeur het, is dat hierdie aanwysing as ’n verpligting opgeneem word, tot so ’n mate dat daar nie meer veronderstel word dat die regbank die bevolkingsamestelling breedweg moet weerspieël nie, maar dat dit by aanstellings as ’n dwingende voorskrif opgeneem word. Daarom die gedurige opnames hoeveel regters wit is, hoeveel vrouens daar op die regbank is en hoeveel lede van die ander bevolkingsgroepe daar is.
Hierdie resep by die regtersaanstellings word dan in die naam van transformasie regverdig – wat prakties beteken dat wit kandidate agter in die ry moet staan, omdat daar nog steeds ’n meerderheid wit regters is. Soos advokaat Smuts agtergekom het.
Die eenvoudige waarheid is dat die woord transformasie nêrens in die Grondwet staan nie. En allermins as ’n oorkoepelende voorskrif afgedwing kan word. Want die hele Grondwet is in die geheel ’n reuse transformerende dokument wat die hele staatsbestel transformeer deur die invoering van algemene stemreg, beskerming van menseregte en die vaslegging van waardevoorskrifte soos ’n toerekeningsvatbare, oop en verantwoordelike regering. Ook is die Grondwet besonder sensitief vir sover dit apartheid-benadeeldes aangaan. (Let wel: nie “voorheen” benadeeldes nie, maar benadeeldes vir die hier en die nou!)
Nêrens in die Grondwet is daar egter regverdiging vir die praktyk om rassegroepe willens en wetens te bevoordeel ten koste van ’n ander rassegroep of -groepe nie.
Al die argumente wat hier bo geopper word oor die Regterlike Kommissie se verkeerde hantering van regtersaanstellings, is sekerlik standhoudend. Maar hulle neem nie die volle werklikheid in ag waarmee ons steeds gekonfronteer word nie.
Wit regters en wit regslui word steeds met agterdog bejeën, omdat hulle gesien word as eertydse toepassers en uitvoerders van die apartheidsbeleid. Natuurlik is dit so dat baie van hierdie regterskandidate soms teen wil en dank wrede apartheidsmaatreëls moes toepas. Sommige regters het dit met groot ywer gedoen, terwyl ander weer probeer het om apartheidsmaatreëls met omsigtigheid en respek vir die slagoffer se regte toe te pas. Onthou moet word dat die meeste swart regslui (en dit geld ook vir lede van die Regterlike Dienskommissie) se ervaring van die regbank hoofsaaklik op kriminele oortredings berus, waarvan hulle ook in vele gevalle die slagoffers was. Regspleging beduie in die eerste plek vir hulle strafregpleging. Van die hele arsenaal van siviele regspleging en die groot, uitstaande sivielregtelike uitsprake het die meeste lede weinig kennis en begrip. Hierdie beheptheid met strafregpleging uit die vorige bedeling verklaar hoekom wit kandidate in hul onderhoude dikwels op taamlik indiskrete en onsmaaklike maniere oor hul vorige politieke affiliasies en politieke opvattings gekarnuffel word.
Nog ’n rede waarom die meerderheid van die Regterlike Dienskommissie die aanstelling of bevordering van wit regters met agterdog bejeën, is die diepgewortelde oortuiging dat wit mense as gevolg van hul bevoorregte posisies en agtergronde nie die behoeftes en ellendes van die armes en behoeftiges sal verstaan nie. Veral as hierdie armes “voorheen benadeeldes” was. Transformasie van die regbank beteken dus vir die Kommissie dat die regters wat aangestel word, nie slegs sensitief vir die nood van die ellendiges moet wees nie, maar in hul uitsprake hierdie nood ook moet verdiskonteer.
Dit moet gesê word dat die Kommissie se beoordeling van kandidate se kwalifikasies dikwels maar taamlik oppervlakkig is. ’n Kandidaat met ’n regsgraad en ’n curriculum vitae aangevul met die bywoning van ’n groot getal werkswinkels, seminare en geleerde vergaderings word sonder meer as gekwalifiseerd aanvaar. Selde word die gehalte van die regsopleiding, die kandidaat se prestasies as regstudent en die omvang van sy of haar praktiese ondervinding onder die loep geneem. Wanneer regters vir bevordering oorweeg word, word daar selde indringend gevra na die gehalte van hul uitsprake en hantering van regsgedinge.
Nou kom boonop nog die argument van oudregter Ngoepe dat senior advokate nie altyd goeie regters sal wees nie. Dit mag wees dat sommige senior advokate so afgeslote in hul besige regswêreld gelewe het dat hulle uit voeling geraak het met die sosio-ekonomiese en politieke werklikhede van ons nuwe bedeling en ook nie die omvang en diepte van Grondwet in hul regsdenke kan akkommodeer nie. Dat hulle dink dat wetstoepassing en regterlike bevindings op die ou regspositivistiese manier voortgesit kan word. Of erger, dat hulle hul jonger en minder ervare ampsbroers of -susters met ’n mate van argwaan en selfs minagting bejeën. Hierdie soort senior advokate gaan beslis nie goeie regters wees nie. Maar hulle is beslis ’n klein minderheid. Die oorgrote meerderheid senior advokate, met hul ervaring van regspraktyke en uitgebreide kennis van die reg wat hulle sekerlik moes gehad het om seniorstatus te bereik, sal sekerlik uitmuntende regters wees.
Die Grondwet voorsien dat ’n kwessie wat geregtigheid aanspreek, direk na die konstitusionele hof geneem kan word. So ’n kwessie is sekerlik die vrae oor die aanstelling van regters en die Regterlike Dienskommissie se opvattings daaroor. Of ’n uitspraak van die konstitusionele hof veel lig op die saak gaan werp, is nogal te bevraagteken, want die meerderheid van die regters is uitgesproke aanhangers van die transformasie-leerstellings en sal waarskynlik die hoofregter se standpunt onderskryf.
Die gevolg mag wees dat ons al hoe meer ongekwalifiseerde en onervare regters gaan kry. Met swak uitsprake of vertragings by die lewering van uitsprake wat maande en maande of selfs jare kan duur. Ook miskenning van goeie regspraktyke en selfs oneerlikheid, soos regters wat persoonlike belange by die uitkoms van die saak het.
Die brandende vraag is hoe hierdie toedrag van sake beredder kan word. Een manier sou wees vir regslui en ook die Kommissie om die kwellinge oor die aanstellings van regters en ook ander regsprekende amptenare soos landdroste, in ’n gesamentlike beraad openhartig op die tafel te sit en tesame oplossings te probeer soek.
’n Ander, meer praktiese oplossing sou wees om ’n instituut of skool vir die verdere opleiding van regters op te rig om veral onervare regters van meerdere kennis te voorsien oor die breë omvang van die reg en regspraktyke. Dit is verblydend dat die regering reeds op ’n konkrete manier aan hierdie moontlikheid gedink het en inderdaad ’n hoogs senior afgetrede regter vir aanstelling as hoof benoem het. Maar ongelukkig het die planne skeefgeloop, omdat die Departement van Justisie so ’n opleidingskool onder sy vlerke wou neem en daardeur die onafhanklikheid van die instelling bedreig het. Want verdere opleiding van regters mag tog beslis nie onder die invloed van ’n regeringsinstelling soos die Departement en sy politieke hoof, die minister van justisie, geskied nie. Dit is ’n taak wat deur die regbank self onderneem moet word.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

