
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Een van die eerste koloniale reste waarvan DF Malan se regering ontslae geraak het nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, was die reg van appèl na die regskomitee van die Geheime Raad in Londen. Dié komitee van die Britse Hoërhuis – die House of Lords – was destyds die laaste en finale geregshof vir lede van die Britse Statebond, asook vir die Britse kolonies.
Slegs 'n uitgelese groepie Suid-Afrikaanse regslui – onder wie TE Dönges en Bram Fischer – het die voorreg gehad om voor die Geheime Raad te verskyn. 'n Saak is na dié raad verwys nadat dit eers voor die Suid-Afrikaanse hoogste hof van appèl gedien het, en die appèlhof dan verlof verleen het vir 'n verdere appèl na die Geheime Raad. Dit is hierdie reg van appèl na die Geheime Raad wat die Malan-regering in 1950 afgeskaf het1.
Een van die paar Suid-Afrikaanse appèlle na die Geheime Raad is vanjaar 114 jaar "oud", as ek dit so mag stel. Dit is die saak Greyvensteyn versus Hattingh and Others2 – 'n appèl teen 'n uitspraak van die hooggeregshof van die Kaapkolonie wat gelewer is vóór Uniewording in 1910.
Die feite is interessant. Greyvensteyn se plaas in die distrik Molteno is deur 'n swerm voetgangersprinkane binnegeval. Die sprinkane het oor die plaas getrek in die rigting van Hattingh en ander boere se plase. Onderweg het hulle heelwat skade aan Greyvensteyn se plaas aangerig. Hattingh en die ander boere het die moeilikheid sien kom, en toe maatreëls getref om te keer dat die sprinkane hul plase binnedring. Ongelukkig blyk dit nie uit die hofverslag presies hoe hulle te werk gegaan het nie. Feit is, die oogmerk was om te sorg dat die sprinkane op Greyvensteyn se plaas bly. Die skade aan Greyvensteyn se plaas was geweldig.
Greyvensteyn het daarna saak gemaak teen Hattingh en die ander boere. Hy het aangevoer dat sy bure verplig was om toe te laat dat die sprinkane ook op hul grond gaan, omdat sprinkane net soos vloedwater is: hul natuurlike gang mag nie versteur word nie. Deur die sprinkane terug te jaag op Greyvensteyn se plaas – so is geargumenteer – het Hattingh en die ander boere onregmatig met 'n natuurverskynsel ingemeng, en was hul teenoor Greyvensteyn aanspreeklik vir skadevergoeding.
Die hoër hof in Kaapstad het téén Greyvensteyn beslis, waarna die ongelukkige boer na die Geheime Raad geappelleer het, soos ek reeds verduidelik het.
Drie lords – Macnaghten, Robson en Wilson – het die saak verhoor en op 28 Maart 1911 het lord Robson die komitee se uitspraak gelewer.
Lord Robson gebruik nogal 'n paar bekende Afrikaanse woorde in sy uitspraak. Hy praat van "voetgangers" (hy het seker gesê "woet-gêng-hirs"); hy praat van “veldt” (gespel met 'n "d" en 'n "t") en hy sê die sprinkane "trekked across the country on foot", ens.
Om verskillende redes het Greyvensteyn ook nie voor die Geheime Raad geslaag nie. Die slotsin in lord Robson se uitspraak verraai 'n ou tradisie: "Their Lordships will humbly advise His Majesty that this Appeal should be dismissed with costs." Formeel het die Lords van die Geheime Raad nooit self oor 'n saak beslis nie, maar slegs advies aan die Britse vors – die koning, in dié geval – gegee, wat egter altyd in die praktyk gevolg is.
Dis nogal 'n lang pad wat Greyvensteyn se saak geloop het: van Molteno via Kaapstad tot in Londen en oplaas ook tot op Sy Majesteit se lessenaar in Buckinghampaleis!

