Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.
In Valda Jansen se dialoog Refleksie vertolk Jill Levenberg en Lindzay Naidoo die rolle. Sandra Temmingh was in die regisseurstoel.
Refleksie
Dis ’n gesprek tussen ’n ma en haar dogter. Dit gaan oor die eis om ’n apologie. Die dogter wil dat die ma haar presies vertel wat dit aan haar is wat die ma so afstoot. Sy wil dat die ma aanspreeklikheid aanvaar; sy soek erkenning vir haar seer. Sy soek ’n geldige rede vir haar ma se afkeer. Sy soek die absolute waarheid.
Daar is ook, onder die oppervlak, die dogter se besef dat haar eks haar presies net soos haar ma behandel/mishandel het en ook nie berou toon nie.
Haar soeke na die “waarheid” wys na albei kante toe: haar ma, haar man.
Sy weet dis ’n retoriese vraag. Sy ken albei goed genoeg om te weet hulle sal nooit die antwoord gee wat hulle haar skuld nie.
Dis ’n konfrontasie wat jare lank gevoer word en nie opgelos word nie.
Dis soos ’n geoefende woordewisseling – die een weet reeds wat die ander gaan sê. Maar hierdie gesprek word op die spits gedryf omdat die dogter siek is en vermoed dat sy nie meer baie tyd op die aarde oor het nie. Die vraag na die waarheid is nou dringender.
Teen die einde van die gesprek praat hulle by mekaar verby.
Die ma se antwoorde is ’n gesprek oor en met haarself. Soos altyd, luister sy nie na wat haar dogter van haar vra nie.
Die dogter se lewe is ’n refleksie van die ma s’n. Die dogter weet sy sal ook haar straf kry, omdat sy self ook ’n kind het wat dieselfde aan haar kan doen: haar kan konfronteer en verwyt oor die foute wat sy met haar eie kind gemaak het.
***
Ma: Ek het nog altyd net my beste gedoen. Net my beste.
Dogter: Vir ander. Nie vir my nie.
Ma: Maar jy was die maklikste kind. Jy het altyd gou ingegee. En jy is sterk. Jy kan alles verdra. Ek kon altyd na jou toe gaan, op jou staatmaak. Sy dra vir my, het ek vir die mense gesê.
Dogter: ’n Kind moenie sterk wees nie. ’n Kind moet beskerm word.
Ma: Ek was trots om ’n sterk kind te hê. Kyk hoe sterk was jy toe jou kind gebore is en julle albei amper dood was. Nou onlangs met jou siekte. Die mense by die kerk sê ook hoe gelukkig ek is dat my kind so alles kan verdra.
Dogter: Hoekom het Mammie nie na my toe gekom nie?
Ma: My ma het nie na my toe gekom toe my kinders gebore is nie. So hoekom moes ek na jou toe kom?
Dogter: Dis wat Mammie altyd sê. Ook toe ek gebel het: Kom sit net hier langs my bed, ek is bang. En Mammie wou nie, was te besig by die kerk. Ek moet weet: Hoekom het jy nie gekom nie? Wat was die rede? Wie is ek vir jou? Hoekom stoot jy my weg? Hoekom gaan jy altyd ander mense tegemoet?
Ma: Maar ek het vir jou gebid. Daai tyd toe jy so siek was, toe jy chemo gekry het.
Dogter: God is nie my ma nie. Mammie is my ma.
Ma: Ek kan nie glo jy sê hierdie goed vir my nie.
Dogter: Jy ontken alles, jy skuif die skuld op my af. Jy verontskuldig jouself.
Ma: My kind.
Dogter: Ek sal nie weer vra nie – hierdie is die laaste keer. Ek is miskien weer siek, moet weer gaan vir toetse. Ek wil dat ons alles uitpraat.
Ma: Ek kan vir jou niks doen nie, ek kan net bid.
Dogter: Nou het my man my ook gelos. Ek was sy vermomming – hy het agter my geskuil, my bedrieg. Hulle wat geweet het, het saam met hom geswyg.
Ma: Ja, maar weet jy wat het jou pa aan my gedoen? Jou pa ...
Dogter: As jou man jou verlaat, verlaat almal jou.
Ma: My man het nie vir my gelos nie. Ek het hóm gelos.
Dogter: Ek weet ek sal my comeuppance kry; ek maak my gereed daarvoor.
Ma: Dit was jou skuld.
Dogter: Ek dien reeds my straf uit. My lewe lank.
Ma: Ek het ’n nuwe lewe begin, net met my twee kinders. Toe kom ek agter ek is swanger met jou!
Dogter: Ek neem al die skuld op my. Ek is ’n heks, ek plaas my op ’n brandstapel. Hierdie woorde is die vuurhoutjie.
Ma: Toe moet ek teruggaan na jou pa toe.
Dogter: Jy wil nie die waarheid in die oë kyk nie. Jy spreek ’n absolusie oor jouself uit.
Ma: Jy is nie soos ek nie. Ek weet nie hoekom is jy so nie. Ek is ’n vriendelike mens, almal sê altyd so.
Dogter: Ek het ’n kind. My kind is net soos ek.
Ma: Jy was van kleins af ’n nors kind. Almal sê so. Ek weet nooit hoekom is jy nie soos ek nie.
Dogter: Ek wil net hê iémand moet vir my die waarheid vertel.
***
Stemme is supported by the National Arts Council.
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar: