
Foto: Skrywer met toestemming van skilder, Esme Goosen
Reënkoningin
Op die vlakte naby die oewer van die Swartrivier wat deur sneeu en reën uit die magtige klowe van die Swartberge en deur fonteine gevoed word, het toentertyd ’n groot Khoikhoin-stam gewoon.
In goeie reën- en sneeujare was die gras en bossies welig, wild was talryk en die stam se boerbokke spekvet.
In ’n diep, donker waterkuil in die Swartrivier, dit het die stam geweet, woon die Reënkoningin. Haar gesig en bolyf is soos dié van ’n pragtige, jong vrou; haar onderlyf soos dié van ’n vis. Sy is nie soos die mens gevonnis tot die stryd teen tyd nie.
In die Groot Karoo was droogte die reël; reën die uitsondering. Wanneer langdurige droogtes geknel het, het die stamlede mismoedig geraak. Die fonteine se oë het toegegaan. Diep gate is in die rivierbedding gegrawe vir syferwater. Dis in volstruiseierdoppe opgevang. Om die kampvure het die mense saans pleitliedere tot die Reënkoningin gesing. Hulle het nie meer gedans nie. Die boerbokke het brandmaer geword; hul melk min. Lammers is keelaf gesny. Verswakte wild het weggetrek. Die manne moes vêr draf om wild te skiet. Die mense het plantknolle uitgegrawe om te eet.
Die stamkaptein het ’n sterk, jong meisie gekies om elke oggend ’n karba melk na die Reënkoningin se skuilte te neem en op ’n rots neer te sit. Mans het vir haar heuningkoeke aangedra. Met hierdie offers het die stam probeer om die koningin se guns te wen om reën en sneeu te maak.
Sy het die offers aanvaar en genoeg gehad om te eet en te drink. Sy het die vermoë gehad om na willekeur haar onderlyf met heupe en bene te vervang. So kon sy na bessies soek. ’n Doringstruik, die noem-noem, het soet, rooi bessies gedra. Dit was haar grootste lekkerny.
Die koningin het die mense jammer gekry en sneeu op die hoogste pieke laat neersif. Hewige donderbuie en gesmelte sneeu het die fonteine gevoed. Die rivier het afgekom en dikwels die oewers oorstroom. Water in die rivierkuile was heerlik, heilsaam en vars. Die veld het herstel. Wild en boerbokke het vet geword en kos was volop. Die lewe was weer lekker.
’n Stokou alleenloper, Goerab, was verslaaf aan ’n skaars bossieknol. Soos wat dit droër en droër geword het, het die voedingskrag van die knol toegeneem. Hy het dit saans geëet en in ’n salige beswyming gegaan. Wanneer water die aarde deurdrenk het, het die knol sy krag begin verloor. Dit het gaandeweg eindelik nutteloos geword. Goerab se lyf het seer geword van smag na die doepa. Hy was geïrriteerd en rusteloos. Sy kop was deurmekaar. Hy het die Reënkoningin vir sy dilemma verkwalik en probeer om haar dood te maak. Hy het haar bekruip terwyl sy op ’n rots digby haar kuil in die son gesit het. Met sy gooikierie het hy haar probeer tref. Maar sy het skerp oë en ore gehad en het altyd betyds die water ingegly.
Die koningin het later net mooi genoeg gehad van Goerab se aanvalle. Sy het dit langdurig laat sneeu en reën, lank genoeg vir Goerab om van die bande van sy verslawing los te kom. Hy het by die stam aangekom en is met ope arms ontvang, want die kaptein was oortuig dat Goerab die koningin sodanig behaag het dat sy dit so ongewoon lank en baie laat reën en sneeu het.
Die Reënkoningin was verlig dat haar plan gewerk het en haar lewe nie langer in gevaar was nie. En daarom sit sy sereen en gelukkig op ’n rots in helder sonskyn, met haar visonderlyf in kolkende water, met haar pêrelwit gesig en lang wit hare wat in die wind waaier.

