
Foto: Canva.com
Rede radikaal
die vlam van praal parmant
skroei engelvlerke vas – in vlug
ja tot ’n nakomkind van niemandsland
kan ’n heerskappy laat skud
as hy stomsinne ontkwyt
en al snakkend na sy asem
ten spyte van sy waagmoed
ou vergete slagvelde ontsluit
almal waai wit sakdoeke
vir blinksels op die maan
(want daar’s mos geen
mensekind of kraai nie)
in stede van om ’n wang te draai
en hiér ’n sonplek af te staan
opgebruik-en-ongebruik
het al hemelhaat ontlok
en bitter spoeg laat spat
’n broer kan teen ’n broer baklei
en ’n vader teen sy kind
as die liefde uit die tong verdwyn
word nyd en stryd verbind
oorloë woed maar net vir vrede
uit die sluimer van hul rus
en oraloor deur eeue
dwaal ditto-onrusgeeste
oor dieselfde (goue) bloedgrond
in die mis


Kommentaar
Briljant alweer, Andries!
Ditto, stem saam. Briljant.
Baie dankie, Morne en Mich. Ek waardeer die saamlees.