Redding in ’n bottel cabernet

  • 1

Foto: Canva.com

Nog half slaapbeneweld, hou ek my hand, as beskerming, voor my neus. Hel, dis die suurste, bedompigste asem wat ek in my lewe geruik het. Stadig maak ek my oë oop. Hy lê hier voor my met kwyl wat uit sy mond loop. Ek deins telkens terug as hy diep sug en die suur asem oor my uitblaas. Hy is diep toegewikkel in die wolk van vergetelheid en slaap. ’n Mens sou sweer hy het ’n skoon gewete, dink ek wrang. Saggies tel ek my been van die bed af, druk lig met my arm en gly uit die bed.

In die kombuis staan ek deur die venster en kyk hoe die dag breek.

“Die môrestond het goud in die mond,” onthou ek die gesegde. Hmf, nie my môrestond nie. My môrestond ruik soos stront, en ek glimlag wrang oor my rymtalent. ’n Mens sou dink ek is die drankasem teen die tyd gewoond, maar ek sal dit nooit gewoond raak nie. Die walging kom sit so dik in my keel en ek moet sluk om dit weg te kry. Terwyl ek my koppie swart koffie neem en stoep toe stap, ontsnap ’n sug uit my bors. “Ja, mev Dokter.”

Dit is reeds die tweede week van inperking. Almal is steeds op hol oor die koronavirus wat ons klaarblyklik gaan afmaai soos vlieë. Dalk sal dit vir my ’n seën wees as ek, soos dit genoem word, COVID-19 kry. Kan ’n virus erger wees as my daaglikse toneelopvoering? Ja, opvoering, want ek speel toneel soos geen akteur kan nie. Ek verdien eintlik ’n Oscar. Niemand, wat die nimlike dr Steyn en sy gesin ken, sal kan raai dat daar ’n diep donkerte in hulle huishouding heers nie. ’n Diep donkerte wat soos ou suur wyn ruik.

Gerhard kan al twee weke lank nie uitgaan om sy daaglikse dosis drank in sy keelgat te gaan afgooi nie. Gelukkig? Ongelukkig? Ek weet nie. Ek dink ons is al verby die “gelukkig”, want Gerhard is ’n volslae alkoholis. Dis nog net hy wat tot daardie besef moet kom. Ek en die kinders weet dit. Ek het hulle lank daarteen probeer beskerm, maar kinders is nie onnosel nie. Die feit dat hy nie meer praktiseer nie, skryf hy daaraan toe dat hy probleme met sy geheue het. Hy het uitgetree as gevolg van gesondheidsredes, verduidelik hy altyd. Gesondheid my dinges. Jy suip jou gesondheid weg.

Eintlik het dit my gepas as hy besope tuiskom en in ’n byna stupor op die sitkamerbank neerval. Ten minste los hy my dan uit en is ek daardie aand veilig. Die afgelope twee weke was hel met hom langs my in die bed. Alkohol gaan sit in jou vel. Dit vreet in jou vel in en jy ruik vir ewig daarna. Jou binnegoed word suur en neem die reuk van die drank aan. Daarvan is ek oortuig. Hy het twee weke lank nog geen drank ingekry nie en tog bly die reuk in en aan hom.

“Lyla, waar de hel is jy?” hoor ek hom in die huis roep. Ek bly met opset doodstil sit en antwoord nie.

“Lyla, dêmmit, waar is jy nou weer?” Ek sak laer in die bank. Dalk sal hy my nie sien nie.

“Hier is jy! Hoekom de moer antwoord jy my nie? Jy hoor mos ek roep jou?”

“Ekskuus man, ek het jou regtig nie gehoor nie,” lieg ek met ’n gladde bek.

“Ek is honger. Het jy al kos gemaak?” wil hy bars weet.

“Nee, ek was nou net op pad om eiers te bak. Wil jy koffie hê?” vra ek met geveinsde vriendelikheid.

Terwyl hy bank toe stap om langs my neer te plof, bekyk ek hom met aandag. Waar is die man vir wie ek twintig jaar terug lief geword het? ’n Dinamiese man met murg in sy pype? Al wat nou oor is, is ’n patetiese drankslaaf.

Ek staan op en hy gryp my aan my arm. Harder en stywer as nodig.

“Moet nou nie weer die blêrrie toast brand soos gister nie.”

Ek stap kombuis toe. My arm brand waar hy dit gedruk het. Nog ’n bloukol.

Ek is verlig dat die kinders tydens die inperking in Vryheid by my ma-hulle is. Ek het geweet hierdie ruk wat Gerhard sonder sy drank moet wees, gaan hel wees.

My gedagtes gaan op loop en met elke eier wat ek in die pan breek, onthou ek die houe. Soveel keer kon ek nie dorp toe gaan nie omdat ek merke op plekke gehad het wat ek nie onder klere kon wegsteek nie. Dit is seker een voordeel van die inperking. Nou mag ek nêrens heen nie en ek hoef niks weg te steek nie. Ek hoef vir niemand voor te gee nie. Dis net ons twee. Ek en my beduiwelde wederhelf. Ek moet net slim wees en uit sy pad bly soveel ek kan.

Die reuk van gebrande roosterbrood ruk my terug tot die hede. Ek gryp die warm brood en brand my vinger. “Verdomp!” mompel ek. My maag trek op ’n knop as ek hom hoor aankom.

“Het jy wragtig weer die toast gebrand! Jy tart my, nè? Ek sal jou wys wat doen ek met hande wat my kos brand!”

Voor ek hulle kan wegruk, gryp hy my hande en sleep my stoof toe. Hy draai die spiraalplaat op sy hoogste.

“Nee, asseblief Gerhard, dit was ’n ongeluk. Ek sweer. Ek sal ander maak. Asseblief!”

Asof hy doof is, druk hy my handpalms op die stoof. Ek ruik hoe my vleis brand. Ek gil en ruk my hande terug. Hy laat my gaan. Ek hardloop badkamer toe en sluit die deur. Angstig staan ek en luister of ek hom kan hoor. Dit bly doodstil. Ek baai my hande in koue water en smeer dan brandsalf aan. Ek bly ’n hele ruk in die badkamer agter die toe deur.

“Lyla? Lief?” hoor ek hom later roep. Omdat ek nog bewerig van die skok is en nie weer ’n soortgelyke voorval wil uitlok nie, antwoord ek sag.

“Ja, Gerhard?” Hy kom na my aangestap en hou sy arms na my uit. Vir ’n sekonde wil ek hom byna jammer kry. Hy is so pateties.

“Ek is jammer, lief. Dis hierdie damn inperking wat my so maak. Ek kan nie sulke goed hanteer nie. Ek wil gaan waar ek wil en wanneer ek wil en nou beheer ander mense my kom en gaan.”

Ek staan doodstil in sy omhelsing. Ek kan die suur neerslag van ou wyn ruik.

Ek wens ek kan vir hom iewers ’n bottel wyn in die hande kry. As hy sy daaglikse sopies in het, is hy minder aggressief. Nêrens mag ons drank koop tydens die inperking nie. Ek het al aan soveel planne gedink. Ek weet ’n mens kan op die swartmark kry, maar ek is bang om die kans te vat. Vir my sal dit ’n seën wees om in die tronk te gaan sit, maar ek het kinders.

Die vierde week van inperking breek aan. Die Here weet, as ek net drank in die hande kan kry! Gerhard het byna alle beheer verloor. Ek glo hy begin ook onttrekking kry. Hy is naar en braak sonder ophou. Hy bewe soos ’n riet. Uit pligsbesef en ter wille van sewentien jaar se gelukkige, dranklose, getroude lewe, wil ek hom help. Dalk net dalk kan hy heeltemal ophou drink? Hy gil soms so hard op my dat ek seker is die bure gaan kom kyk wat aangaan.

’n Glas gly uit my hand en val kletterend op die vloer. My asem stop in my keel. Ek staan en luister of ek kan hoor waar hy is. “Asseblief, moenie dat hy dit gehoor het nie,” prewel ek ’n skietgebed. Is dit sy voetstappe of is dit net die wind wat ek hoor?

Ek kyk na die flou namiddagsonstreep wat onderdeur die spensdeur, waar ek wegkruip, skyn. Ek is te bang om asem te haal. Ek is seker hy het gehoor toe die glas breek. As Gerhard my nou kry, gaan hy my waaragtig doodslaan. Die satan is behoorlik in hom vandag. Ek moet op ’n manier drank in hom kry. Ek maak my oë toe en bid.

“Here, U sien hoe swaar ek kry. Ek kan nie meer nie, Here, ek sweer, ek kan nie meer nie! Net een bottel drank. Net een. Dit sal die hel net ’n bietjie minder warm maak. Asseblief, Here.” Ek sluk die souttrane af en loer skelm om die kas se deur. Ek sien hom nie. Stadig klim ek uit en gaan staan regop. Doodstil. Waar sou hy wees, wonder ek. Voetjie vir voetjie stap ek in die gang af. Ek hoor hom steeds nie.

In die slaapkamer se deur gaan ek staan. Hy lê uitgestrek op ons bed. Sy asemhaling is diep en rustig. Ek ruik weer die suur. Dit wil-wil vir my voel of die reuk skerper en dieper is. Stadig stap ek om die bed en gaan staan voor hom, waar hy lê. My oë gly af na sy hand en ek snak na my asem.

Die bottel Cabernet het ’n bloedrooi kol op die matras gevlek.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top