Red ons taal

  • 4

spel650

Afrikaanse grammatika is in die moeilikheid. Mense gee al hoe minder om hoe hulle spel en gewone taalfoute is deesdae aan die orde van die dag. Maar dit is nie net die taal wat daaronder ly nie. Leerders se ondersoek- en denkvaardighede word ernstig in die wiele gery as gevolg daarvan. Jean Oosthuizen het met Michele van der Merwe van die Departement Kurrikulumstudies: Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde gesels oor die stand van Afrikaans se grammatika.

Mens hoor al hoe meer die klagte dat mense nie meer kan spel nie. Selfs eenvoudige woorde soos deernis, galery en interessant word gereeld verkeerd gespel en baie bekende idiome is deesdae vir baie kinders onbekend. Vroeër jare moes kinders op skool die reëls van grammatika uit hul kop ken, maar dit wil voorkom of grammatika-onderrig besig om vinnig agteruit te gaan. Waarom word daar deesdae so min aandag aan taalkundeonderrig gegee?

Vanuit ’n opvoedkundige perspektief is die antwoord drieërlei, naamlik die kommunikatiewe-taalonderrig-benadering wat in skole gevolg word, die tydstoewysing vir taalkundeonderrig in die huistaalkurrikula wat tans nul is, en die lae puntegewig van taalkunde in die matriekvraestelle.

Een van die nadele van die kommunikatiewe benadering ten opsigte van taalonderrig is die verskraling van taalkundeonderrig. Volgens die 2011 Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV) wat tans in skole gevolg word, is daar geen tydstoewysing vir die onderrig van taalstrukture en -konvensies nie, aangesien dit “geïntegreerd met die onderrig van letterkunde en skryfvaardighede” aangebied moet word. Daar word van onderwysers verwag om veel groter klem te lê op prosa en poësie as op sinskonstruksie en spelreëls. Letterkunde-onderrig kry voorkeur, aangesien die matriekletterkundevraestel 80 punte tel en grammatika slegs 30 punte. Die meeste opvoeders is geneig om meer aandag aan letterkunde te bestee, aangesien dit die meeste punte tydens assessering tel. Hulle hou nie rekening met die feit dat leerders oor goeie sintaktiese vaardighede en uitgebreide woordeskatontwikkeling moet beskik om goed te kan skryf nie.

Wanneer daar oor taalfoute gekla word, sê baie mense doodgewoon dit is nie belangrik om taalreëls te ken nie, want almal verstaan tog wat hulle bedoel. Hoekom is goeie grammatika so belangrik?

Hoewel grammatika-onderrig kontroversieel is in navorsing oor taalonderrig en die volume en tydsduur daarvan ’n netelige kwessie bly vir taalopvoeders, is dit ’n uiters belangrike aspek van leerders se opvoeding. Dit is veral die komponente semantiek, sintaksis, spelling en etimologie wat saak maak.

Die Britse navorsers Hudson en Walmsley wys daarop dat grammatika-onderrig help om leerders se taalbevoegdheid te versterk. Hulle meen voldoende grammatika-onderrig kan leerders se praktiese taalgebruik – skryf, lees, praat en luister – aansienlik verbeter.

Wanneer opvoeders en leerders ’n gedeelde metataal – grammatika – gebruik, beskik hulle oor die hulpmiddels om oor taalbevoegdheid te kommunikeer en om ingewikkelde skakels te ontdek, byvoorbeeld tussen grammatiese strukture en genres.

Grammatika-onderrig help leerders se ondersoek- en denkvaardighede ontwikkel, dien as ’n goeie inleiding tot die gebruik van wetenskaplike metodes en bevorder ook akademiese geletterdheid. Dit sluit aan by die KABV, waarvolgens taal as instrument vir kritiese en kreatiewe denke gebruik kan word. Grammatika word as leerders se hoofinstrument beskou om oor logiese verbande soos klassifikasie, kousaliteit en tyd te praat. Grammatika is ’n ingewikkelde kognitiewe netwerksisteem.

Iemand skryf nou die dag op Facebook die brein is ’n wonderlike ding en kan baie mooi uitwerk wat die persoon probeer sê het sonder om op ander se foute te let. Hoe antwoord mens sulke persone wat geen erg het aan korrekte taalgebruik nie?

Afrikaans beskik oor norme en standaarde wat deur die jare geskep is, asook ’n goedontwikkelde wetenskapstaal en akademiese taal – ons hoef dus nie woorde of terme te gaan soek nie, dit bestaan reeds en ons kan dit gebruik. Die manier waarop ons dit gebruik, hang van sprekers se houding teenoor taalgebruik af.

’n Duidelike bewustheid van grammatiese strukture kan leerders help om ingewikkelder grammatiese patrone wat benodig word vir die volwasse lewe, te gebruik. Laasgenoemde patrone kom nie in leerders se informele gesprekke voor nie en hulle sal dit nie noodwendig aanleer sonder doelbewuste onderrig nie. Dit kan verwarring soos die volgende voorkom: “Wie veroordeel vanjaar die debat?” In plaas van “Wie beoordeel vanjaar die debat?”

Grammatika-onderrig kan help om ’n kritiese reaksie te ontwikkel teenoor sommige wyses waarop taal in die alledaagse omgewing gebruik word. Dit sluit aan by die ontwikkeling van leerders se ondersoekvaardighede. Pleonasmes soos “’n ware feit”, “hulle stap te voet”, “herhaal dit weer” en “ek persoonlik” kan ondersoek word. Pleonasmes kom in die taal voor as gevolg van sprekers se gebrekkige kennis van taal. Kennis van grammatika, verbande tussen woorde en die vaardigheid om dit te gebruik stel die taalgebruiker in staat om taal doeltreffend te kan beheer en kan suksesvolle kommunikasie in die hand werk. Wankommunikasie soos “Sy perspireer om opvoeder te word” in plaas van “aspireer” kan sodoende reggestel en verduidelik word.

Daar is wel nog baie sprekers (insluitende onderwysers en leerders) van Afrikaans wat die waarde van goeie taalgebruik besef en vir wie dit belangrik is om byvoorbeeld skryfwerk met goedgeformuleerde sinskonstruksies sonder grammatiese foute te lewer.

Moderne tegnologie soos selfone en selfs Facebook het ’n nuwe en dikwels irriterende manier van skryf tot gevolg. Woorde en sinne word sonder enige grammatikareëls geskryf of afgekort. Watter invloed het dit op mense se taalingesteldheid en die manier van kommunikeer?

Dit wil voorkom asof ander reëls (indien enige) op sosiale media geld. Die taal is baie meer “los” en informeel. Mense is ook baie meer op visuele kommunikasie ingestel en daarom is foto’s en video’s so belangrik. Selfs mense in die gedrukte media besef dat lesers van korter skryfwyses hou en korter, eenvoudiger sinne het die norm in hedendaagse beriggewing geword.

Mens sou eintlik verwag dat mense beter spel omdat die gemiddelde persoon vandag baie meer skryf as voorheen en feitlik heeldag besig is om skriftelik per e-pos of selfoon te kommunikeer. Maar dit lyk of die teenoorgetelde besig om te gebeur en mense al hoe swakker spel en minder omgee om taalfoute te maak.

Op skool word swak/verkeerde spelling baie meer oor die hoof gesien, want in taalvraestelle word bitter min punte vir verkeerde spelling afgetrek. In inhoudsvakke word geen punte vir verkeerde spelling afgetrek nie en indien ’n woord min of meer “reg lyk”, word ’n punt toegeken. Dit laat leerders met die idee dat korrekte spelling nie eintlik saak maak nie.

Ons ken almal CP Hoogenhout se gedig “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor. Dink jy die feit dat Engels as kommunikasietaal besig is om ’n al hoe groter rol te speel dra by tot die vervlakking van Afrikaans?

Engels as kommunikasietaal is besig om geweldig te groei as gevolg van tegnologiese toepassings. Dosente aan universiteite in Duits, Deens en Nederlands wys ook daarop dat Engelse invloed op hul tale beduidend is. So word Duitse naamvalle nie meer korrek deur Duitssprekende skoolkinders gebruik nie en navorsers merk op dat kinders beduidend swakker spel.

In ’n onlangse artikel indie Tydskrif vir Taalonderrig skryf jy dat die afname in Afrikaanse taalkundeonderrig ook toegeskryf kan word aan verskeie kurrikulumveranderinge die afgelope 18 jaar. Kan jy kortliks verduidelik waarom jy so sê?

’n Algemene en eenvormige kurrikulum vir tale in Suid-Afrika is ontwikkel en ingestel, met die uiteinde dat ’n eenvormige benadering tot taalkundeonderrig in die hoërskool gevolg word. Dié eenvormige benadering tot Suid-Afrikaanse tale het gelei tot ’n verskraling van taalkundeonderrig in Afrikaans.

Taalonderrig in Afrikaans het tradisioneel uit twee hoofkomponente, naamlik taalkunde en letterkunde, bestaan. Met die verandering in die kurrikulum is die twee komponente nie meer in ewewig met mekaar nie; trouens taalkundeonderrig is aansienlik afgeskaal tot so ’n mate dat daar geen amptelike klastyd meer vir die onderrig van taalkunde beplan word nie.

In 1997 is ’n algemene kurrikulum vir al elf amptelike tale in Suid-Afrika opgestel – die sogenaamde uitkomsgebaseerde kurrikulum (Murray 2012:88). Die kurrikulum is gekonseptualiseer en opgestel in Engels, en is grootliks deur Engelssprekende lande soos Australië beïnvloed. Volgens Murray (2012:88) het dit ’n groot klemverskuiwing in die Engelse kurrikulum teweeggebring, maar nog meer in die Afrikaanse en Afrikatale-kurrikulums. In 2001 is die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring uitgereik om die kurrikulum te versterk en in ooreenstemming met al die taalkurrikulums te bring (Murray 2012:88). Weer eens is die kurrikulumverklaring in Engels gekonseptualiseer met behulp van ’n meertalige span van taalopvoeders en taalkundiges. Die kerndokument is in die tien ander tale vertaal, alhoewel slegs die Engelse weergawe vir openbare kommentaar gepubliseer is. Sodoende is kommentaar en konstruksie van die taalkurrikulum feitlik tot Engelssprekendes beperk. Presies dieselfde proses is met die konseptualisering van die KABV gevolg.

Die groot invloed van die kurrikulum vir Engels op die kurrikulum vir Afrikaans verklaar waarskynlik die fokusverskuiwing van taalkundeonderrig na hoofsaaklik letterkunde-onderrig, asook die aansienlike verskraling van die posisie van taalkundeonderrig.

(Die term taalstrukture en taalkonvensies word in die KABV gebruik om na taalkundeonderrig te verwys.) In die KABV word skaars melding gemaak van formele grammatika en taalstrukture, terwyl dit nog as van die hoofuitkomste in die Nasionale Kurrikulumverklaring gemeld is. Tekenend van die verskraling van taalstrukture en -konvensies in die kurrikulum is dit tot ’n addendum aan die einde van die dokument gereduseer.

Die implikasie is dat taalkunde op ’n geïntegreerde wyse met letterkunde en skryfwerk onderrig moet word. By tydsindeling in die KABV word genoem dat taalstrukture en -konvensies as geïntegreerd met die vaardighede van lees, kyk, skryf, luister en praat aangebied behoort te word. Geen amptelike voorsiening word dus vir grammatika-onderrig gemaak nie, met die gepaardgaande implikasie dat dit nie belangrik geag word nie.

Wat moet gedoen word om taalonderrig van gehalte te verseker?

Taalkurrikula behoort die waarde en belangrike rol van grammatika binne taalonderrig te erken en te verseker en voorsiening daarvoor te maak. Voornemende taalopvoeders (en dit geld al die tale in Suid-Afrika) behoort voldoende opleiding te ontvang in die metodiek van grammatika-onderrig. Taalopvoeders moet nie net opgelei word volgens die huidige taalkurrikulum se vereistes nie, maar hulle moet oor voldoende vakkennis en kurrikulumkennis beskik om tale op die beste moontlike manier te onderrig.

Grammatika-onderrig kan wel volgens ’n kommunikatiewe raamwerk plaasvind. Die uiteindelike doelwit van die kommunikatiewe benadering is die ontwikkeling van leerders se funksionele vermoë om taal as ’n effektiewe instrument in ’n gegewe situasie te gebruik. Van der Walt, Evans en Kilfoil (2009:40) wys op die relevansie van goeie kommunikasievermoëns in ’n meertalige samelewing soos Suid-Afrika. Leerders moet op so ’n wyse onderrig word dat hulle in ’n verskeidenheid situasies met selfvertroue en effektief kan kommunikeer. Volgens Richards, Platt en Platt (1992:65) is kommunikatiewe bevoegdheid die belangrikste konsep wat die kommunikatiewe benadering kenmerk en leerders is kommunikatief bevoeg slegs wanneer hulle die bevoegdheid het om grammatikareëls van ’n taal toe te pas ten einde grammaties korrekte sinne te vorm, maar ook weet wanneer om hierdie sinne te gebruik, waar en teenoor watter ontvanger.

Grammatikale bevoegdheid (Van der Walt ea 2009:40) verwys na linguistieke bevoegdheid wat kennis van grammatika en woordeskatinsluit. Indien ’n leerder oor grammatikale bevoegdheid beskik, is die implikasie dat hy/sy grammatikareëls korrek kan toepas.

Die taakgerigte benadering is leerdergesentreerd en pas goed by die leerteorie van sosiale konstruktivisme. Taakgerigte taalonderrig behels om leerders se lewenswerklikheid betekenisvol met onderwys te integreer met behulp van outentieke tekste en aktiwiteite. Van der Walt ea (2009:51) beskryf ’n taak as ’n betekenisvolle aksie wat ’n leerder moet uitvoer om inhoud beter te verstaan of te bemeester. Dit is ’n gefokuste aktiwiteit waar leerders met nuwe inhoud gekonfronteer word en waar leer plaasvind, byvoorbeeld die voltooi van ’n werkkaart, lees van ’n uittreksel, skryf van ’n paragraaf, die naslaan van woorde in ’n woordeboek, of luister om ’n aantal feite te identifiseer. Viviers (1997:11–2) onderskei drie taaktipes, naamlik handelingstake, probleemoplossingstake en inligtingverwerkingstake.

In jou artikel in die Tydskrif vir Taalonderrig verwys jy onder meer na taalkundiges se navorsing oor die agteruitgang en uiteindelike ondergang van grammatika-onderrig in die vorige eeu in Britse skole en ander Engelssprekende lande waar die Britse kurrikulum gevolg is. Is hierdie agteruitgang ook Afrikaans se voorland?

Ja, beslis. Van Dyk (2005:45) beweer dat omtrent een derde van eerstejaarstudente by die Noordwes-Universiteit, Universiteit van Pretoria en Universiteit Stellenbosch die risiko loop om nie hulle studie in die voorgestelde tyd klaar te maak nie. Volgens Weideman (2007:vi) is taalvaardigheid nie die enigste voorspeller van leerdersukses nie, maar swak taalkennis en -vaardighede dra tot swak studenteprestasie by. Skryfwerk en kritiese denke is volgens Weigle (2002:5) nou verwant aan mekaar en skryfwerk kan ’n aanduiding wees of studente die kognitiewe vaardighede bemeester het wat vir universiteitswerk nodig is. Wanneer studente nie oor voldoende akademiese skryfvaardighede beskik nie, word dit beskou as die gevolg van ’n gebrek aan kritiese en kreatiewe denke. Uit voorgaande is dit duidelik dat leerders se taalvaardigheid nie voldoende ontwikkel word tydens hulle skoolloopbane nie.

Murray (2012:29) bewys in ’n evaluering van NKV-eksamenvraestelle dat Afrikaans-opvoeders en opvoeders van Afrikatale dit eens is dat “grammatika-vrae te min was, verskriklik maklik was en dat dit leerders nie voorberei om tale op universiteit te bestudeer nie.”

Watter hulpmiddels sou jy vir leerders en volwassenes aanbeveel wat graag ’n beter taalvermoë wil ontwikkel vir wanneer hulle skryf?

HAT-Longman het verlede jaar ’n opvoedkundige webwerf bekendgestel waar leerders en opvoeders onder meer toegang het tot elektroniese skoolwoordeboeke. Op die webwerf is ook talle woordeboekaktiwiteite en grammatikagerigte aktiwiteite waar leerders byvoorbeeld oefening in die gebruik van morfologie kan kry. Spelling kan daagliks geoefen word deur aan te sluit by die webwerf Beter Afrikaans. Dié webwerf maak voorsiening vir verskillende taalvlakke en leerders kan elke dag probeer om hulle spelling te verbeter deur vier vrae elektronies te beantwoord (wat dadelik nagesien word).

Benewens Standaardafrikaans bestaan daar etlike ander variëteite van Afrikaans. Ek dink byvoorbeeld aan wat bekend staan as Kaapse Afrikaans. Watter een is nou eintlik die regte een en ís daar ’n regte een?

Taalvariasie en taalgebruik kan gemaklik binne die taakgerigte benadering binne ’n kommunikatiewe raamwerk onderrig word, veral met die gebruik van ’n verskeidenheid tekste. Leerders behoort bewus gemaak te word van die feit dat daar benewens Standaardafrikaans etlike ander variëteite van Afrikaans bestaan. Sensitiwiteit vir die bestaan van taalvariasie kan sodoende in die klas gekweek word.

Sou mens byvoorbeeld een of ander tyd ook sogenaamde SMS-taal as ’n variëteit naas Standaardafrikaans kon beskou en hoe moet mens dit hanteer?

Dit wil voorkom asof SMS-taal hier is om te bly, veral onder leerders, en dit is wenslik om die verskynsel in die taalklas te bestuur eerder as om dit te sensureer. SMS-taal vereis wel sekere taalvaardighede en in ’n mate is leerders baie meer besig met die kognitiewe prosesse van lees en skryf as wat voor die koms van selfoontegnologie die geval was. David Crystal skryf in sy boek Txtng: The gr8 db8 dat daar heelwat “taalreëls” vir SMS-taal bestaan en dat die meeste gebruikers daarby hou.

SMS-taal kan byvoorbeeld as ’n variëteit naas Standaardafrikaans in die klas ondersoek word en daar is verskeie aktiwiteite wat daarmee kan plaasvind, byvoorbeeld die oorskryf van SMS-taal in Standaardafrikaans, die behandel van klankverskynsels, sintaktiese verskynsels, asook die saamstel van ’n SMS-woordeboek.

Vroeër jare was die “Groen Bybel van Afrikaans” die wet van die Mede en Perse, maar baie mense steur hulle deesdae glad nie meer daaraan nie. Wat behoort vandag die riglyn te wees vir goeie en aanvaarbare Afrikaans?

Naas goeie handboeke, taalkundige bronne soos woordeboeke, insluitend vakwoordeboeke, die AWS, maar in ’n meer bruikbare en gebruiksvriendelike formaat vir beide opvoeder en leerder.

Waarom bly grammatika-onderrig belangrik in vandag se samelewing en watter onderrigbenadering moet opvoeders gebruik om toe te sien dat grammatika-onderrig in hoërskole tot sy reg kom?

Taalkunde behoort nie in isolasie onderrig te word nie, maar altyd met inagneming van die toepassing daarvan in funksionele taalgebruik binne konteks. Taalonderrig behoort onder andere die betekenis en samehang van sinne, woorde en paragrawe binne groter geheel in te sluit. ’n Benadering wat suksesvol binne die kommunikatiewe onderrigbenadering toegepas kan word, is die taakgerigte benadering. Grammatika-onderrig behoort “pasgemaak” te wees om in die behoeftes van leerders te voorsien, en preskriptiewe en deskriptiewe praktyke moet ingeweef met mekaar wees om relevante en betekenisvolle onderrig te verseker.

In die praktyk kan opvoeders wat volgens die KABV se doelstellings werk, vasstel wat leerders se kennis is deur dit te assesseer en lesse volledig beplan. Opvoeders kan elke week drie of vier grammatikale vaardighede onderrig, volgens die taakgerigte benadering. Opvoeders behoort te eksperimenteer met onderrigbenaderings en -metodes (al is dit eklekties) om uit te vind wat vir ’n klas werk en dit daarvolgens uit te voer.

Al die aspekte van taalkunde, naamlik semantiek, sintaksis, spelling en etimologie, wat relevant is vir die hoërskool, kan met welslae met behulp van die taakgerigte benadering onderrig word. Dit bied ook talle moontlikhede vir verdere navorsing in Afrikaans. Opvoeders, onderwysstudente, kurrikulumopstellers, asook vakkundiges behoort kennis te dra van die werking en die voordele van die taakgerigte benadering vir huistaalonderrig.

Taalkenners waarsku ons gaan almal verarm as die huidige tendens voortduur en grammatika-onderrig heeltemal verdwyn. Sommige meen selfs skoolverlaters sal later oor geen kennis van grammatika beskik nie. Hoe bekommerd moet ons regtig wees oor hierdie verskraling van taalgebruik en kan dit nog gekeer word?

Ons moet baie bekommerd wees en iets daadwerkliks moet gedoen word. Onvoldoende leiding word in die taalkurrikula aan opvoeders verskaf oor hoe om met taalkundeonderrig in die skool om te gaan, ten spyte van die belangrikheid daarvan vir die algehele taalontwikkeling van leerders.

’n Engelse kollega maak die opmerking dat sy haar sintaksis 30 jaar gelede in die Afrikaansklas geleer het en met vrug in Engels toegepas het, want daar is geen sintaksis in die Engelsklas behandel nie, slegs letterkunde.

  • 4

Kommentaar

  • Studente betaal 'n groot prys - in terme van tyd en finansies - vir hul onkunde van grammatika op universiteit. Veral van sintaksis is daar baie meer gedetailleerde kennis nodig - om argumente te kan maak moet die student bewapen wees met kennis van sintaksis.
    Daar is 'n groot verskil tussen gesproke kommunikasie en geskrewe kommunikasie en om 'n graad te kry moet jy kan skryf. In geskrewe kommunikasie moet jy jou grammatika ken om dit na wense te kan bestuur, te kan manipuleer, daarmee te kan speel.
    Grammatika is 'n hoër orde dinkfunksie, 'n abstrakte, formele dinkfunksie, en om dit nie in te oefen op skool nie, boemerang later op die student.
    Effektiewe dosering van grammatika vereis dan ook 'n onderwyser wat DEEGLIK onderlê is daarin, en wat dit dus ook na behore kan WAARDEER. Dalk begin die probleem by taalonderwysers se vlak kennis en waardering van grammatika.
    Kortom: Te veel fokus op kommunikasie ten koste van die abstrakte boustene van taal skiet sigself in die voet en ons betaal uiteindelik op sosio-politiese vlak vir hierdie swak bestuursvaardighede van kommunikasiemiddele.

  • Robert Sadler

    Die fout lê nie by die skole nie, maar by die uitgewers van boeke. Hoe moet enigiemand Afrikaans leer reg gebruik as Afrikaanse boeke amper 50% in Engels geskryf is?

  • Is daar 'n webwerf waar studente (en gewone mense) taalnavrae kan rig? Ek weet deesdae nie meer wat is aanvaarbaar en wat is nie aanvaarbaar nie. Mens hoor byvoorbeeld gereeld dat daar op RSG gepraat word van "drie jare in 'n ry" in plaas van "drie jaar agtermekaar". Of is eersgenoemde deesdae goeie Afrikaans? Nog iets: Bestaan daar 'n woord soos "alternatiewelik"? So dikwels word hierdie laaaang en myns insiens lomp woord gebruik in plaas van "of" of "anders", byvoorbeeld: "Jy kan vir ons 'n SMS stuur; alternatiewelik kan jy 'n e-pos stuur."

  • Ek gaan akkoord met die legio redes soos beliggaam in die artikel van Jean Oosthuizen supra. Sela.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top