On record deur Schalk van der Merwe: ’n resensie

  • 0

On Record - Popular Afrikaans Music & Society, 1900–2017
Schalk van der Merwe
Uitgewer: African SUN MeDIA

ISBN: 9781928357117

Schalk van der Merwe het ’n fassinerende boek oor populêre Afrikaanse musiek gepubliseer. Net soos wat die volledige titel dit beskryf, bied On record meer as ’n eeu se oorsig van populêre Afrikaanse musiek, in die historiese konteks van hoe Afrikaners as ’n etnonasionale gemeenskap binne die samelewing gevorm is en ook self besluit het om te ontwikkel. Noodwendig hanteer hierdie akademiese monografie daarom Afrikaners en Afrikaans se moeilike geskiedenis gedurende die 20ste eeu. Dit is nie iets ongewoon vir geskiedskrywing in die algemeen nie, maar beslis ietwat ongewone terrein vir geskiedskrywing aan die hand van Afrikaanse populêre musiek.

On record is gevolglik belangrik vir enigiemand wat wil verstaan hoe die 19de-eeuse politieke idee van nasionalisme Afrikaners se musiekkulturele wêreldblik gedurende die 20ste eeu help vorm het. Dit bied verder ook ’n tentatiewe oorweging van hoe hierdie wêreldblik in die postapartheid era deur nostalgie vir die psigiese sekuriteit van die 20ste-eeuse Afrikanernasionalisme besiel word. Met hierdie twee stellings bedoel ek dat Van der Merwe baie moeite – aan die hand van sterk empiriese boekstawing – doen om verskillende fases in sy afgebakende ondersoektermyn aan die ekonomiese, maatskaplike en geestelike welvarendheid van Afrikaners deur die 20ste eeu en vroeë 21ste eeu te koppel. As geskiedkundige bring hy ’n oorvloed bronmateriaal in ’n landgoed in wat andersins minder effektief deur musikoloë geploeg sou word. Deurentyd was ek beïndruk met die wydheid van die leeswerk (in geskiedenis en in musiek) wat hy gedoen het om sy idees oortuigend te maak. Verder is die objektiwiteit waarmee hy sy narratief vertel, en die versigtigheid waarmee hy na verskillende kante van Afrikaners se gesamentlike ideologiese kraaines luister, merkwaardig.

Hierdie boek is nie die soort leeswerk wat onkritiese luisteraars van Afrikaanse populêre musiek gemaklik sal laat nie. Dit is nie ensiklopedies daarop gemik om ’n koffietafelboek se neutraal eerbiedige tydskelet van Afrikaanse treffers te bied nie. Inteendeel word lesers aanhoudend tot die besef gebring van hoe bekende en onkontroversiële liedjies in die groter geskiedenis van Suid-Afrika pas. Politieke geskiedenis word regdeur On record bespreek, en Van der Merwe posisioneer daardeur ’n genealogie van gewoonlik onpolitiese populêre Afrikaanse musiek binne ’n konteks waar dit nietemin baie duidelik aan Afrikaners se politiek deelgeneem het en voorts deelneem. Saam met hierdie hoofstroom van onpolitiese musiek (Gé Korsten, Bles Bridges en vele meer) dokumenteer hy ook hoe ’n alternatiewe stroom van aspris politiese musiek (sommige Musiek-en-Liriek, maar veral Voëlvry) mettertyd ontstaan het om Afrikaners wakker vir die sosiopolitiese omstandighede van hulle land te maak.

As mens ’n groter argument in On record kan uitlug, dan is dit hoe Afrikaanse musiek se kulturele en politiese inhoud aanhoudend verander het na gelang van hoe Afrikaners toenemende blootstelling aan tegnologiese ontwikkelinge soos klankopnames, radio en televisie gekry het. Dit is deurgaans ook interessant om te sien hoe kultuurinstansies soos die SAUK, FAK en ATKV histories aktief was om musiek te reguleer, sodat Afrikaners op idealistiese en beheerde maniere moes groei. Verskeie soorte volksvreemde musiek is baie duidelik deur verskillende soorte propaganda en sensuur van Afrikaners weerhou. Van der Merwe geniet dit dan duidelik om te ontleed hoe daardie verskansing van kultuur op spontane maniere ondermyn is, juis omdat musiek ’n kunsvorm is waarin kulturele vermenging en verbastering onvermydelik plaasvind. Sy navorsing maak dit ook duidelik dat ten minste die ATKV oor hierdie aspek van musiek wakkergeword het, en dat dit nou moeite doen om die Afrikaner se musikale kultuur doelbewus binne ’n interaktiewe multikulturele samelewing te koester en ontwikkel.

Van der Merwe is baie ooglopend lief vir sy onderwerp, iets wat duidelik word in hoe hy sy eie verhaal (en sy aktiwiteite as praktiserende musikant) op enkele plekke deel van hierdie boek maak. Sy nuuskierigheid oor die opnames van Afrikaanse populêre musiek wat bestaan, stuur hom op ’n interessante heilige graal se soektog, tot so ver as die heel eerste opnames van Afrikaanse musiek. Hiermee herinner hy musiekkenners daaraan dat die onderskeid tussen die populêre en die ernstige van Afrikaanse musiek nie nog altyd deur ’n duidelike skeidslyn getref is nie. Dit is inteendeel eers gedurende die 1930’s, met die opbloei van boeremusiek en die gelyktydige versameling van Afrikaanse volksmusiek, dat daar ’n beduidende klasonderskeid tussen lekkermusiek en ernstige musiek (eerstens patriotiese volksliedere en kerkmusiek, maar later ook Suid-Afrikaanse kunsmusiek) ontstaan het.

Van der Merwe doen baie moeite – met dikwelse verwysing na Willemien Froneman se navorsing – om boeremusiek se komplekse geskiedenis te verstaan en aan lesers oor te dra. Hy plaas dit verder langs ander musieksoorte soos kwêla om Afrikaners se musiekgeskiedenis, op een van verskeie plekke in sy boek, binne Suid-Afrika se breër musiekgeskiedenis, maar ook binne die VSA en VK se populêremusiekgeskiedenis, te plaas. En so bly mens konstant bewus van hoe Afrikaanse musiek, ten spyte van geografiese en intellektuele afsondering, deel van ’n groter prentjie is. Nietemin is iets wat Van der Merwe moontlik in toekomstige navorsing kan oorweeg, hoe Afrikaanse populêre musiek se sosiopolitiese aspek ooreenstem met (of dan nie) die soortgelyke historiese en ideologiese omstandighede van die voormalige Oosbloklande. Dit kan vir boeiende leesstof sorg.

Dan die een aspek van hierdie boek wat pla: die relatiewe afwesigheid of slegs marginale teenwoordigheid van die bruin Afrikaanse gemeenskap se populêre musiek binne hierdie geskiedenis van Afrikaanse (nie Afrikaner se nie) populêre musiek. Daar is natuurlik redes vir hierdie leemte. Een is miskien dat kulture deur apartheid van mekaar geskei was, sodat selfs navorsers vandag sukkel met die verbeeldingrykheid om inklusiewe maniere van geskiedskrywing te ontdek. Maar die skrywer van hierdie boek is slim genoeg om so iets reg te kry. Uiteindelik skryf ek die tekort aan bruin mense se musiek in hierdie sorgvuldige studie daaraan toe dat Van der Merwe metodologies daarop konsentreer om kommersiële opnames van Afrikaanse populêre musiek te katalogiseer en ontleed. Dit is moontlik ’n fout dat sy boek On record genoem is en dat hy homself op Afrikaanse populêremusiekopnames toespits. Want opnames van bruin Afrikaanssprekendes se populêre musiek was nooit deel van die hoofstroom nie, en was gevolglik nie kommersieel in dieselfde bevoorregte posisie as wit Afrikaners se musiek nie – Emo Adams en David Kramer se opnames nieteenstaande.

Daar is natuurlik skrywers soos Denis-Constant Martin wat spesialiseer in die bruin Afrikaanse gemeenskap se populêre musiek, en wat alreeds in vele besonderhede daaroor geskryf het. Van der Merwe verwys genoeg na Martin se idees oor kultuur, maar bring ongelukkig te min van die musiek waaroor daar alreeds baie navorsing gedoen is in hierdie nuwe boek oor Afrikaanse musiek in. Alhoewel bruin mense baie goeie kennis van Afrikaners se populêre musiek dra, is die teenoorgestelde nie regtig waar nie. ’n Meer inklusiewe prentjie van Afrikaanse populêre musiek sou dus noodwendig by die bate van ’n gedeelde taal ook die idee van gedeelde kultuurgoedere en gedeelde musiek kon aanmoedig.

Ten spyte van hierdie laaste punt van kritiek kan ek hierdie boek heelhartig aanbeveel. Nie slegs vir mense wat in die ivoortoring van die akademie werk nie, maar ook vir algemene lesers wat Afrikaanse populêre musiek se vervlegtheid met Afrikanerskap beter wil verstaan. Alhoewel On record ongelukkig in Engels geskryf is om ’n wyer leserskap te tref, bied dit ’n skatkis van inligting wat populêre Afrikaanse musiek as vakgebied verhelder. Dit is die moeite werd om te lees en om te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top