Reaksie op Koos Kombuis se aanval op my en Deon Opperman (1)

  • 0

Beste Koos

Ek hoop jy sal my vergewe vir al die spelfoute en swak taalgebruik wat volg, maar ek vertrou dat jy nie sal probeer om aandag weg te neem van wat ek probeer sê deur aandag te vestig op hoe ek dit sê nie.

Dis my eerste skrywe aan LitNet. Dis nie dat die platform my nie interesseer of fassineer nie, dis net dat ek my fokus graag hou waar nodig. Ek is ? storieverteller. Punt. Nie ? politikus of guerrilla-stryder nie, maar ? kunstenaar wat met groot liefde terugkyk na die verlede en stories daar gaan haal wat my interesseer en waarby ek aanklank vind. Ek het nou nie soos jy ? outobiografie oor myself en my lewe gaan publiseer nie, want ek glo mens moet ten minste ? poging aanwend om ego en kuns van mekaar te verwyder.

Ek skryf ook nie artikels en rubrieke in reaksie op ander kunstenaars se werk nie, want ek wens elke kunstenaar net die beste toe, veral in die huidige ekonomiese klimaat. Dit gesê, identifiseer ek nie altyd met ander kunstenaars se raamwerke nie, maar hou dan maar eerder my mond. Maar ek verstaan jy’s ? persoon wat graag jou opinie lug – maar ek gaan nie duld dat jy in ? publieke forum vir my, of my “bende”, persoonlik aanval nie, in die naam van wat jy aanneem ons verskuilde agendas agter ons werk is.

Ek het gedink om my CV aan jou te stuur, maar het geweet jy sou dit nie wou lees oor al die spelfoute daarin nie. Dit traak my in elk geval min wat jy van my “kommersiële” werk dink. Ons loop almal ons pad, Koos.

As ? storieverteller kyk ek graag terug in die verlede na gebeurtenisse en karakters wat my aangryp. Ek het destyds Herman Charles Bosman se stories verwerk in ? kortfilm en aan M-Net gegee. Dit was goed ontvang, maar te duur om in ? vollengte reeks te omskep. Dis jammer, want daar is baie sulke stories in ons verlede wat nie die lig gaan sien omdat mense dikwels nie bereid is om ? finansiële kans te vat op verhale uit ons geskiedenis nie. Ons het toevallig in die proses baie geld verloor met die projek, maar aanbeweeg en dit as ? verlore kans afgeskryf.

? Ruk later begin ek navorsing doen oor ? ongelooflike karakter uit ons geskiedenis. Nee, nee ... nie hy nie, maar Shaka Zulu. Vir drie jaar van my lewe het ek navorsing gedoen rondom die projek en uiteindelik ? voorlegging aan minister Pallo Jordan gaan doen om die verhaal te omskep in ? volwaardige film of musiekblyspel. Sy raad aan my was die volgende: “Stick to the culture you know and leave this story to people who better understand this culture.” Ek het mismoedig uit die kantoor gestap maar van sy punte ingesien.

Nou bied ons ONS VIR JOU aan – werk ons, soos aanbeveel, met karakters uit ons eie kultuur – en word ek deur jou daarvan beskuldig dat ek oorlog wil voer; jy, Koos, wat onlangs ? nuwe CD onder die titel Bloedrivier uitgegee het! Met snitte daarop soos “Hoe lank moet ons nog sorry sê?”, en woorde in die song, “Waar is Mandela?” (mis jy die “goeie” ou dae, Koos?): “Uit die blou van onse hemel/Uit die wit van ons hart …” As jy besluit het om ? musiekblyspel oor De La Rey te skryf, dan sou ons almal moes aanvaar dis kuns. As ander dit doen, dan is hulle reaksionêr. Jy’s skynheilig, man. Ek kan my net indink wat jou reaksie sou gewees het as die titel van ons musiekblyspel nie ONS VIR JOU was nie, maar BLOEDRIVIER.

(Vervolg)

Sean Else

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top