Reaksie op Jaco Fourie se kommentaar onderaan my brief van 15 Augustus 2016

  • 13

Dagsê Jaco

Ek gebruik maar dieselfde merkers as wat jy gebruik het in jou kommentaar.

Par 1: Jy kan nie praat van die ‘Afrikaner’ SAP-party nie want dit was hoofsaaklik ’n Engelse party. Daar was wel Afrikaners wat SAP gestem het (hoofsaaklik vanweë hulle agting vir Jan Smuts). Jan Smuts was in elk geval so ’n groot anglofiel ek sal verbaas wees as hy enige Afrikaanssprekende nasate het. Jan Smuts was ’n lojale Engelse onderdaan en die SAP-party kan allermins beskou word as ’n Afrikanerparty. Die stelling dat hulle SA vir die Afrikaner ingepalm het is loutere onsin; dit was ’n Engelse party.

Par 3 en 5: Of ek nou ‘wêreldberoemde Forbes’ se uitsprake betwyfel of nie is nie die kwessie nie. As hulle onder die teenswoordige rykstes in die NSA ’n paar Afrikaners lys, is dit geensins te sê dit gaan ekonomies beter met die Afrikaners nou as voorheen nie; die twee toestande is totaal disjunk. Dis so goed as om te sê dat, omdat Badou Jack die WBC-middelgewigkampioen is, is Sweedse mans beter bakleiers as die res van die wêreld se mans.

Die feit is dat, as die Jode as ’n aparte groep beskou word, is hulle die rykstes in SA, andersins is dit die Indiërs (terloops, die Indiërs was onderworpe aan dieselfde segregasiewette as die swartes maar het gevorder tot die rykste etniese groep in die land). Die hoeveelheid van Afrikaners wat sedert ’94 die land verlaat het, en die hoeveelheid Afrikaners in plakkerskampe en die hoeveelheid Afrikaners wat ophou boer het agv grondeise is ’n baie getrouer aanwyser van die ekonomiese stand van die Afrikaner in die NSA as vyf of ses Afrikaners op Forbes se lys. Nog ’n terloops, nog ’n ou wat beweer dit gaan nou ekonomies beter met die Afrikaner is Clem Sunter en dáár’s nou vir jou iemand wat die pot misgesit het, net so erg as Max en Piet (verskillende redes dalk; Max en Piet uit naïwiteit maar Clem dalk as meedoener aan die destabiliseringsagenda).

Par 6: Afriforum het ontstaan as gevolg van die toestand waarin die Afrikaner hom bevind sedert sogenaamde demokrasie. In die ou bedeling was iets soos Afriforum nie nodig nie en is hy dus ’n reaktiewe organisasie en ’n klinkklare bewys dat Clem en Piet en Max en Adriaan en jy absolute snert praat wanneer julle sê dat dit nou so goed gaan met die Afrikaner soos nog nooit tevore nie.

Praag het ook ontstaan agv die heksejag op Afrikaans en die Afrikaner maar hierdie ‘aksie’ teen ons is al aan die gang sedert 1902 maar, tot en met die stigting van Praag, was daar nog net niemand so pro-aktief soos Dan Roodt gewees nie.

Par 7: Jy kan maar weer gaan lees wat ek in my brief oor werkreservering gesê het want, wat jy daarop te sê gehad het in jou kommentaar, kom bloot neer op ‘issie’; jy gee maar weer net ’n persoonlike mening sonder enige stawing. Werkreservering is ’n verstektoestand en kom in enige land voor, Duitsers in Portugal kry moeiliker werk as Portugese byvoorbeeld. Ook, voor jy ’n visa vir enige land kry maak hulle doodseker jy gaan nie soontoe om te gaan werk nie.

Jy lees ook sonder begrip want nêrens het ek die Engelsman kwalik geneem vir die beleid in Openbare Werke nie; ek het dit bloot as voorbeeld genoem van hoe Engels die staatsdiens was om aan te toon hoe belaglik jou argument was dat die staatsdiens die Afrikaner ‘gepamperlang’ het.

Jy vra waar kry mens vierslaapkamerhuise en mense met 4x4’s so asof hierdie goed net onder Afrikaners voorkom. Die antwoord is oral (minder onder die Afrikaners nou met die Afrikanerdiaspora), Killarney, Houghton, Soweto, Marlboro, Sandhurst, Melrose, duisende plekke.

Jy sê ek moenie in ontkenning leef nie maar nêrens het ek persoonlike mening uitgespreek nie; ek het net feite genoem. Jy is die ou wat in ontkenning lewe en dink ook bietjie vir jouself man, moenie soos ’n skaap ouens soos Piet en Max napraat nie want hulle kan nie anders as om in ontkenning te leef nie weens hulle aandeel in die teenswoordige sirkus.

Jan Rap

  • 13

Kommentaar

  • Jan
    Ek wil nie die punte hierbo bearbei nie. Die verskil tussen jou en my response is dat ek aanhalings vanuit betroubare bronne gekwoteer het. Jy inteendeel het geen betroubare bronne gekwoteer nie, dus is alles wat jy hierbo skryf, jou subjektiewe persoonlike aannames.
    Vir die leser:
    Jan het verkies om meer as 'n maand later in 'n aparte skakel op my respons te reageer, wat die draad van die gesprek onderbreek. Indien jy belangstel om my respons te lees, is dit onder die volgende skakel te sien:
    https://www.litnet.co.za/reaksie-op-jaco-fourie-se-kommentaar-onderaan-brief-van-3-deser/

  • Net om een van Jan se duimsuig-bewerings hierbo vals te bewys, in hierdie geval mbt sy gevolgtrekking dat Indiërs meer verdien as blankes, vertel die jongste sensus ons dat: "On average, the annual income for white households stands at about 365,000 rand ($42,000) followed by Indians at 251,000 rand, mixed race/coloureds at 251,500 rand and blacks at 60,600 rand.
    http://www.ibtimes.com/south-african-census-reveals-nation-deeply-divided-race-income-856345
    Jan se bewering hierbo is: "Die feit is dat, as die Jode as ’n aparte groep beskou word, is hulle die rykstes in SA, andersins is dit die Indiërs." Nou watter betroubare bron sal hy kan kwoteer om sy sogenaamde "feit" mbt tot beide Jode en Indiërs te kan staaf?

  • Jaco, dis nie aanhalings wat tel nie maar feite. Honderdduisende Afrikaners is oorsee, 'n groot aantal (dalk duisende) in plakkerskampe, ons universiteite het verengels, ons skole is besig om te verengels en nie eers by die belasting- of polisieaanklagkantoor kan jy Afrikaans praat nie. Ons dorp- en plekname word verander en Afrikaanse radio en TV speel saam om Afrikaans te ondermyn.
    En Piet en Max en Clem sê dit het nog nooit so goed met die Afrikaner gegaan as nou nie en jy praat agterna net omdat Forbes 5 of 6 Afrikaners lys onder die rykstes in SA.
    Soos die blondine sê "helloooooooo!"

  • Jan

    Het jy nou erken dat dit met Afrikaner welvaart goed gaan, want die vorige klagte van jou tot die teendeel is afwesig in jou jongste kommentaar. Wat jy in jou jongste respons sanik, sanik jy vandat ek jou op SêNet ken, ek dink sedert 2008.

  • FC Boot

    Ten minste doen Jan die moeite om sy standpunte te stel. Wat doen jy behalwe as om ander se menings beide hier en elders te lug, sonder persoonlike oorspronklikheid?

  • Jaco
    Het jy temperetuur soos my wiskunde-onnie sou sê?
    Ek sê dan juis dat dit vrot gaan met die Afrikaner in vergelyking met sy toestand in die vorige bedeling, reëlreg in teenstelling met wat Piet, Max en Clem (en jy) sê.
    Ek sê weer: Piet Croucamp se stelling dat dit nog nooit so goed gegaan het met die Afrikaner as nou nie is loutere snert.

  • Jan
    Piet, Max, Clem, Adriaan en vele ander verwys na die EKONOMIESE WELVAART van die Afrikaner, wat wel baie beter af is in die nuwe bedeling as onder die ou bedeling, wat ek reeds vooraf bewys het vanuit betroubare bronne gekwoteer. Hierdie manne verwys nie na die polities/kulturele aspek van die Afrikaner nie wanneer hulle sê dit gaan baie goed met die Afrikaner.
    Jou klem is op die polities/kulturele vergelyking van die Afrikaner tussen die twee bedelings en konsentreer op die 4% van Afrikanerdom wat in haglike armoede woon as jou maatstaf vir die ander 96% Afrikanerwelvaart in die breër.
    Waar voorheen, onder die ou bedeling, die regering van die dag Afrikanerpolitiek en Afrikaner-kultuur beskerm het, sal die Afrikaner, veral kultureel, onder die huidige bestel sy eie branders moet maak en aanpassings dienooreenkomstig aanpak om sodoende beide die taal en kultuur te beskerm. En dit word gedoen deur onder andere AfriForum.

    • Jaco
      Niemand weet presies wat die getalle blankes is wat in armoede lewe in plakkerskampe nie, want die regering stel nie die syfers vry nie. Die gemiddelde inkomste vir Blanke-huishoudings was +- R 365 000 (stats sa) dws R30 400 pm, neem 'n mens inflasie in aanmerking afhangende waar jy woon is dit gelyk aan of effens beter as die jaarlikse inflasie. Onthou dit is vir werkende mense en nie bv die 62000 afgetrede spoorwegamptenare wat in armoede lewe.
      Hoe dit as baie beter beskou word hang seker af hoe jy daarna kyk. Die Sekretaris-General van die ANC sien dinge anders. By hom is R600 000 pj of R50 000 pm die norm. Gemeet daaraan is ’n baie groot persentasie Suid-Afrikaners armgatte, wat nie studiegeldverhogings kan bekostig nie.
      Ns syfers volgens 2011-statistiek

  • FC Boot
    Behalwe vir die blanke inkomste, is al jou ander syfers glad nie deel van die 2011 sensus, maar jou eie duimsuig. Die waarheid en feite van sensus 2011 opgegradeer 2014, is soos volg:-
    Verbeterde WELVAART (Inkomste) vanaf 2001 tot 2011. (bl 42 van die verslag)
    Swart: 22522 - 60613............ 63% verbetering
    Bruin: 51440 - 112172........... 54% verbetering
    Indier: 102606 - 251541........ 59% verbetering
    Blank: 193820 - 365134........ 47% verbetering
    WERKLOOS: (bl. 51 van die verslag)
    35.6% van swartes werkloos
    22.3% van bruin mense werkloos
    11.7% van Indiërs werkloos
    5.9% van blankes werkloos
    Ongetwyfeld is die blanke sedert 1994 by verre heel beter daarvan af ten spyte van die kleiner inkomsteverhogingpersentasie as die ander rasse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top