Hallo Jaco
Die Unie wat die Afrikaner volgens jou sou inpalm vir homself het nooit gebeur nie. Ek neem aan jy praat van 1948 en toe was dit maar net ’n politieke party wat die verkiesing gewen het. Daar was geen slim diplomasie nie; daar was net ’n klomp Afrikaners wat toe Nat ipv Sap gestem het en ons was maar steeds nog net ’n Britse kolonie.
Ek stem saam dat, om die huidige jammerlike toestand te verander, is geweld glad nie ’n opsie nie, maar wel diplomasie. Eerste stap is die kerke en die betrokke leiers moet hulle verskoning vir sogenaamde apartheid terugtrek en so die rede vir wraak teen wittes in die algemeen en die Afrikaner spesifiek nietig te maak. Dit sluit in die staak van die gedurige oproepe tot versoening want dit laat ons skuldig lyk vir iets waaraan ons geen skuld het nie (en sou ons hê is dit onbeduidend teen dié van ander volkere en groeperinge hier). Tegelykertyd sal ons moet ophou om ons soos kruipers en agterryers te gedra, so al asof ons wel een of ander doodsonde gepleeg het.
Jy sê “Max is eintlik reg wanneer hy sê dat die Afrikaner vandag ekonomies beter daar uitsien as onder die vorige bedeling”. Terloops, dis Piet Croucamp wat ek hierdie stelling hoor maak het maar ek kan my goed voorstel dat Max ook met iets soortgelyks vorendag kan kom. Hoe dit ook al sy, ek weet nie hoe dr Croucamp dit uitwerk nie; daar is tienduisende Afrikaners verlore vir die SA ekonomie – ‘n groot gros, meestal witboordjiewerkers, is weg hoofsaaklik Engeland en sy voormalige kolonies toe en ’n klomp ander, meestal blouboordjiewerkers, is plakkerskampe toe.
Verder, Afrikaanse universiteite het verdwyn, Afrikaanse skole is onder beleg, boere is van hulle plase ‘afgeplakker’ en meeste van die wat oor is leef in onsekerheid weens grondeise en geweld. Afrikaners word afgejak as hulle Afrikaans praat by openbare instellings, Afrikaanse dorps-, plek- en straatname word vervang en dit is maar net ’n paar aspekte. Verteenwoordig dit ’n verbetering van lewensgehalte wat die Afrikaners betref? Die antwoord is ’n besliste nee.
Jou byhaal van Forbes is baie verdag omdat daar nie Indiërs by is nie; blykbaar is die rykste volksgroep in SA die Indiërs. Terloops, snaaks genoeg, die Indiërs was ook onderwerp aan die apartheidswette. Hoe verklaar mens dit?
AfriForum en sy filiale – waarvoor ek baie respek het – het juis ontstaan omdat dit sleg gaan met die Afrikaner. As dinge so klopdisselboom was as wat Piet en Max beweer, het ’n reaktiewe organisasie soos AfriForum nooit ontstaan nie. Max en Piet móét natuurlik vol lof wees vir die huidige bedeling en met sulke slenters vorendag kom want hulle het hulself beywer vir hierdie klaaglike toestand. Hulle kan nou nie anders as om heeltyd die keiser se wonderlike klere te besing nie.
Jou stelling dat die Afrikaner gepamperlang was in die “ ... staatsdiens, die weermag, poskantoor, banke, myne ...” is nie waar nie. Die staatsdiens, weermag en poskantoor was voorheen Engels en, toe die NP aan bewind kom, het hulle maar dieselfde ‘old school tie’-beginsel as die Engelse toegepas. Ek het byvoorbeeld in die 70’s (20+ jaar na die 48-verkiesing) by Openbare Werke gewerk en die plek was nog steeds Engels; alle tekeninge moes in Engels wees, as jy wou kon jy dit tweetalig maak deur Afrikaans by te sit (terwyl die oorgrote meerderheid van kontrakteurs Afrikaans was).
Die banke, myne an ander ekonomiese instellings was Engels en Joods en het allermins die Afrikaner gepamperlang. Inteendeel, die Afrikaner was stief behandel deur hierdie instansies, juis een van die redes waarom instansies soos Volkskas, Sanlam en Federale Mynbou deur die Afrikaner begin is. Interessant; die mynbase (lw nie Afrikaners nie) het goedkoop arbeid ingevoer vanaf ander Afrikastate en dié het (sonder hulle vrouens) in hostels onder baie swak toestande gebly. Soos maar gebeur wanneer jy kulture bymekaargooi, en lae lone betaal, het daar dikwels oproer uitgebreek wat die arme SAP dan moes kom onderdruk en dan verskyn die foto’s in die koerante van wat se onregverdighede die Afrikaner (SAP) teenoor die swartes pleeg.
Wat werkreservering betref: Die grootste teenstanders daarvan was die nywerheids- en besigheidsbase want, was dit nie daarvoor nie, kon hulle werkers en arbeiders aanstel teen baie laer lone. Die liberale kampvegters se motiewe was toe nie so edel nie. Selfs vandag is daar werkreservering – groot boetes word gehef wanneer vreemdelinge (Zambiërs, Kongolese ens) aangestel word in plaas van Suid-Afrikaners. Ek twyfel of daar ’n land in die wêreld is waar een of ander vorm van werkreservering nie ingestel is nie.
So, om op te som: Dit gaan NIE beter as ooit met die Afrikaner soos wat Piet Croucamp beweer nie.
Groetnis
Jan Rap
Kommentaar
Dag Jan Rap,
Erg leesbare stuk, dankie.
Duitswester
Ek verstom my dat mense kan dink dat dit goed gaan met Afrikaners. Ek vermoed hulle het gevestigde belange in die hoofstroombedeling.
Kla-kous, ek glo nie hulle is so naïef om werklik te dink dit gaan goed met die Afrikaner nie. Hulle het nie die morele moed om te erken die keiser is kaal nie en moet dus maar voortgaan met die charade.
Jan
Mbt tot jou respons hierbo:
Par 1: Die ABO bittereinde generaals Louis Botha en Jan Smuts het die Unie Van Suid-Afrika deur slim diplomasie vir die Afrikaner ingepalm in 1910, en sedertdien het Afrikaners die hele Suid-Afrika polities ononderbroke tot 1994, hetsy onder die Afrikaner SAP-party of die Afrikaner NAT-party, en ononderbroke onder die leiding van uitsluitlike Afrikanerpremiers of -presidente.
Par 3: Piet Croucamp is nie die enigste wat die ooglopende uitgespreek het nie, nl dat Afrikaners vandag beter ekonomies daar uitsien as voor 1994. Max du Preez; Adriaan Basson se ope brief aan Flip Buys; en vele ander het dit ook al genoem. Ek het dit feitlik in my brief genoem, en dit is histories feitlik opgeskryf.
Par 5: Jy betwyfel die wêreldberoemde Forbes? Vir jou inligting, van die rykste 12 in SA is ses Afrikaners, vier Engels, een Indiër, een Swart. Lees die skakel ter bevestiging daarvan, nl: http://www.africaranking.com/top-10-richest-people-in-south-africa/ Die ses Afrikaners is Johan Rupert, Christo Wiese, Koos Bekker, Lauritz Dippenaar, Jannie Mouton, en Gerrit Ferreira.
Par 6: Jou reaktiewe stelling dat AfriForum 'n reaktiewe instelling is openbaar jou skreiende onkunde mbt die organisasie. Hulle pro-aktiewe optredes is daar vir almal om te gewaar. Inteendeel Praag het reaktief ontstaan juis as gevolg van jou beweringe vir AfriForum, en Praag bly reaktief.
Par 7 en die daaropvolgende paragrawe: Werksreservering voor 1994 was juridies deur Afrikaners ingestel, juis ten doel om die Afrikaner te pamperlang in die werksplek en diegene wat dit probeer enigsins regverdig, het nie 'n been om op te staan wanneer hulle BEE, ens wil bevraagteken nie.
In jou Openbare Werke voorbeeld, was die departement onder die duim van die Afrikanerregering. Indien die departement Engels gedrewe was, blameer die Afrikanerregering van die dag en nie die Engelsman daarvoor nie.
Laaste Par: Probeer die duisende Afrikaners jou stelling oortuig wat met hulle 4X4's die wêreld platry; Waterkloofrif in Pretoria en ander soortgelyke voorstede in die land; die tientalle paleise op die Vaalrivier ens. Van die rykstes Afrikaners in die land. Probeer die honderdeduisende Afrikaners oortuig met gemaklik middelklashuise, naweke hulle braai's met vriende geniet. Waar kry jy soortgelyke swart rykmansbuurte soos onder die Afrikaners? Waar kry jy middelklas buurte met drie en vierslaapkamerwonings, selfs met twee badkamers soos die geval met Afrikaners, onder swartes?
Moenie in ontkenning leef nie, en wees ten minste eerlik in jou analise van die Suid-Afrikaanse samelewing.