Die kunsuitstalling Re-Imagine Kaapstad is te sien by vanjaar se Suidoosterfees, 29 Januarie tot 2 Februarie plaas. Naomi Bruwer het vir die kurator, Chris Koch, gevra wat kunsliefhebbers by hierdie uitstalling kan verwag.
Die titel van die kunsuitstalling by vanjaar se Suidoosterfees is Re-Imagine Kaapstad. Hoekom is daar besluit op hierdie tema en wat was die opdrag aan die deelnemende kunstenaars?
Ek het gedink dat dit 'n uitdagende titel is om mee te werk. Dit is ook 'n baie "wye" titel, met vele interpretasies. Jy kan Kaapstad, sy mense en kulture "re-imagine", of in die toekoms, die hede en die verlede. Elke kunstenaar het 'n swart raam ontvang en hulle kon enige medium gebruik, solank die swart raam deel van die kunswerk vorm. Daar is wonderlike werk op die uitstalling en dis baie duidelik dat elke kunstenaar hulle eie stempel op die tema afgedruk het.
Watter beroepskunstenaars se werk is te sien by die uitstalling?
Dit is 'n voorreg om soveel talentvolle kunstenaars van internasionale formaat oor 'n wye spektrum saam te snoer in een uitstalling. Die kunstenaars wat deelneem, is Christiaan Diedericks, Chris Koch, Conrad Theys, Dathini Mzayiya, Henk Serfontein, Judy Woodborne, Lien Botha, Luan Nel, Madelein Marinkowitz, Ndikhumbule Ngqinambi, Paul Birchall, Richard Mudariki, Sandra Hanekom, Selvin November, Selwyn Pekeur, Shany van den Berg, Theo Kleynhans, Tyrone Appollis, Willie Bester en Zyma Amien.

Is daar ’n gemene deler tussen die kunstenaars se styl en agtergrond, of is die groep juis gekies om verskeidenheid te weerspieël?
Ten eerste is die groep gekies omdat hulle almal van ons land se voorste kunstenaars is – party baie gevestig en ander meer opkomend. Die groep weerspieël 'n breë spektrum van diversiteit van die Wes-Kaap. Daar is skilders, grafiese kunstenaars, fotograwe en selfs driedimensioneel-kunstenaars.
Die beroepskunstenaars se werk word aangevul deur 20 werke deur kunsstudente van Stellenbosch en Kaapstad. Hoekom is daar op hierdie kombinasie besluit en hoe is te werk gegaan om die deelnemende studente te kies?
Ons wou graag ook vir studente 'n kans gee om deel te neem aan die uitstalling en dit strook met die Suidoosterfees-beleid van opvoeding en opheffing. Die tien studente van Universiteit Stellenbosch is in samewerking met hulle dosente gekies en daar is baie interessante werk wat ons van hulle ontvang het. Die tien studente van Cape Town School of Photography is gekies omdat fotografie al hoe meer as kunsvorm aandag kry. Hulle werk is fantasties en gaan kykers 'n hele nuwe perspektief van Kaapstad laat sien. Daar sal ook animasie van die Animation School in Kaapstad vertoon word tydens die uitstalling. Die animasie is van wêreldgehalte en maak my baie trots om dit as deel van die uitstalling te hê.

Op wie is die uitstalling gemik? Is dit iets vir die kunsbelegger of sal die publiek ook daarby aanklank vind?
Op die breë publiek, maar ook op ernstige kunsversamelaars – as jy kyk na die beroepskunstenaars wat uitstal, sal jy sien dat die meeste van hulle baie bekende kunstenaars plaaslik sowel as internasionaal is!

Re-Imagine Kaapstad
Wo 29 Jan – So 2 Feb @ 10:00 – 22:00
Gratis
Operahuis Marble Foyer Extention
Besoek http://suidoosterfees.co.za vir die volledige program.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


