Ratel

  • 0

Jy dra die vuil van vrees aanja
in die glim van jou manel.
Jy dommel met die dood –
in die donker van jou onderstel.
Elke klou van jou is vol haaknaels vir doldriftig duister tonnelgate grou en slinkse strikke stel.
Jy aapskeloerder, stormgereed, gelaai met geniepsug, sonder bang haar op jou kop of lyf.
Jy wat alle vleis – van aardvark tot vlakvark –
vind vir verslind.
Jy wat koekemakranka drink, maar latrines hou ten einde te kan paar en jou broers weg te stink.
Jy wat al wat adder en rinkhals is, lewend opvreet en bome inklim om byeneste se larwes op te slurp, jy is net so genade- en goddeloos soos menige dwelm-mag-meester van vandag wat slegs wil dink aan eie gewin en boep.
Jy vergestalt: sonder genade oorleef –  deur krag vermag – Lewe self  te wil
verkrag.
Wie het jou geskep?
’n Genade-God?
Of Lucifer?
Is daar geen ander leerskool
waarvoor jy lugtig vlug?
Is dit net vlammehel van veld wat brand en
jou lewend kan verkool?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top