Ramaphosa – wolf in skaapbaadjie, of skaap in wolfspajamas?

  • 2

Skets: Alex Hartman (Pixabay)

Die weeklikse brief deur president Cyril Ramaphosa is vandeesweek aan die Senekal-protes gewy en is uit vele oorde aangeprys, onder andere omdat ’n staatshoof hom vir die eerste keer sedert 1994 regstreeks teen plaasmoorde uitgespreek het. Dat dit egter ’n stap vorentoe is in die politiek van die beveiliging van boere kan ek nie mee saamstem nie. Inteendeel, as die bevestiging van die stagnante staatsfilosofie wat die status quo onderlê, is dit ’n stap agteruit, tensy die situasie op die grond vinnig verander.

Genoeg redes is vanuit regse geledere aangevoer vir hul eie skeptisisme, en daar is ’n paar aspekte van die hele plaasmoordkrisis – wat Max du Preez tereg ’n nasionale krisis noem – wat min of meer "gemene saak" oor die hele politieke spektrum is:

  • Dit het die Senekal-oproer (of die polisie of die boere dit nou begin het) gekos om die staatshoof so ver te kry om hom onomwonde teen plaasmoorde uit te spreek.
  • Boere leef in ’n staat van permanente vrees vir geweld teen hulle en permanente onsekerheid oor die planne van die regering en ander instansies met hul grond.
  • Plaasmoorde het wye sosiale, ekonomiese en politieke gevolge op plaaslike vlak.
  • Hoewel daar gevalle is van groot samewerking met boere, is die polisie deel van die probleem, en so ook ’n korrupte, wanfunksionele plaaslike regering.

Ek gaan nie uitbrei op hierdie aspekte nie; my doel is om vanuit ’n "linkse" perspektief te probeer sin maak van die President se benadering. Die groot verskil met ’n "regse" benadering draai rondom ons siening van die geskiedenis as ’n misdadige erflating waarmee nog glad nie afgereken is nie, en die nodigheid om grootskaalse grondhervorming deur te voer om geregtelike, maar ook blote ekonomiese en menslikheidsredes.

Ook hierop gaan ek nie fokus nie; eerder op punte ten opsigte waarvan ek nie met my "linkse" kollegas saamstem nie.

Vanuit ’n linkse oogpunt was plaasmoorde nog altyd ’n taai tameletjie. Veral baie Afrikaanssprekendes ken boere, besit self vakansiegrond of het tye as kinders deurgebring op plase. Vir almal gryp ’n plaasmoord jou die een of ander tyd aan as ’n aantasting van emosionele wortels. Vir my bly die skokkendste voorval nog Julius Malema se opskeur van ’n lys van slagoffers toe hy nog leier van die ANC-Jeugliga was; ek het gedink ek kry ’n hartaanval. Dit het my herinner aan ’n soortgelyke emosie toe Eugène Terre’Blanche ’n lys van duisende name opskeur wat ons as studente vergaar het om te vra vir die oopstel van teaters in Pretoria vir alle rasse. Ek was so woedend ek moes fisiek gekeer word om hom van die tweede verdieping van ’n winkelsentrum af te gooi.

Sedertdien het die stille goedkeuring van Malema se aksies deur sy meerderes – op enkele prominente uitsonderings na – my nog altyd dwars in die krop gesteek. Maar soos ander joernaliste wat al in die jare ‘90 die eerste plaasmoorde ondersoek het, was dit moeilik om dit buite die kwessie van die algemene ineenstorting van polisiëring te sien. Elke geval was anders, misdaad was die aanvanklike motivering, en daar was geen sprake van ’n gekoördineerde veldtog teen boere nie. Op die oog af was plaasmoorde nie polities gedrewe nie.

Ek sê op die oog af, want soos ’n kerklike onlangs geskryf het, is die amptelike stilte, dekades nou al, iets onnatuurliks, iets wat ’n mens tereg moet aanspreek – wat sou dit beteken? Soos so baie regeringskwessies is die uitdaging om te onderskei tussen blote onbevoegdheid en of daar iets meer sinisters aan die gang kan wees.

Die meeste mense wat met hierdie kognitiewe dissonansie worstel, kies toevlug in syfers. Daar was nou al so baie ontledings, niemand kan meer met sekerheid sê wat die ware statistieke is nie, hoewel ek die navorsing van James Myburgh, redakteur van Politicsweb, die hoogste punte gee. Daarvolgens is die kans dat ’n boer vermoor word, drie keer groter as ’n townshipbewoner s’n. Nogtans word die mantra byna daagliks in alle oorde geïnkanteer dat meer swart mense in die townships sterf aan misdaad en dat misdaad ’n universele probleem is.

Dit is hier waar ek my eerste probleem met Ramaphosa se skrywe het. Hy het drie name van slagoffers van misdaad in Delft genoem wat op dieselfde tyd as Brendin Horner gesterf het. Wat wil die President hê moet ek doen as my swaer Fanus iets oorkom op sy hoenderplaas buite Port Alfred? Moet ek na sy vrou Cherese gaan en sê (sy is Engels): "Cherese, I am so sorry, but in Mamelodi Sipho Matlatsi, John Mndebele and Piet Klaase were also killed, and that is just in Tshwane – I haven't had time to check the other metros. Let us observe a minute's silence for them too."

Gaan die regering ons hiermee help deur met elke plaasmoord ’n lys in die Staatskoerant te publiseer van ander mense wat doodgemaak is? En gaan hy voorstel dat as Sipho Matlatsi, John Mndebele and Piet Klaase in Mamelodi begrawe word, hulle ’n minuut se stilte handhaaf vir die boer, plaaswerker of vrou wat ook daardie dag vermoor is? En waarom stop by Suid-Afrika? Wat van die jongste slagoffer van Putin se moordbrigade, of van die Amerikaanse polisie? Of al die vermoordes op die honderde planete in die buiteruim wat soos die aarde lyk?

Dis natuurlik ’n reductio ad absurdum-argument, maar iets soortgelyks ís al gedoen, naamlik deur Thabo Mbeki se bulhond Essop Pahad, wat na die moord op Lucky Dube die Springbokke se kleedkamer binnegegaan en geëis het dat hulle die hoof vir ’n oomblik buig om oor hom te rou. Nie net was dit absurd en daarom minagtend teenoor Dube nie, daar was iets diep pervers daaraan.

Nie heeltemal so pervers nie, maar ewe verontrustend, is Ramaphosa se vreemde taalgebruik in sy brief. Horner se moord "should" ons almal kwaad en ontsteld maak. Soos ons oor die mense in Delft rou, "should" ons ook oor hom rou. Dit impliseer dat heelwat mense nie ontsteld en kwaad is nie, en dit eintlik ’n normale toestand is, hoewel tog jammer. Verder skryf hy dis ’n geleentheid vir "outreach" – die soort taal wat sakemanne gebruik as hulle nie regtig hul verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap of die omgewing wil erken nie, of wat woke mense "kumbaya diplomacy" sou noem.

Maar dit gaan dieper: Elders in die brief is daar nog "shoulds" en ander frases wat ’n idealistiese tematiek aan die orde stel. Hy eindig die brief met ’n wenslys van behoorlike polisiëring en administrasie, en kommunale kohesie waarin burgers medeburgers verklik wat misdaad pleeg. Dit dui op utopiese denke, maar ook die Messiaanse inslag van die ANC se politieke teologie.

Hierdie messianisme is iets wat werklik besig is om Suid-Afrika te vernietig. Soos Myburgh in sy boek The last Jacobins aandui, glo die ANC dat sy doelwit van die bevryding en emansipasie van swart mense, en spesifiek "Afrikane", dit wil sê nie lede van minderhede nie, nog nie bereik het nie. Eers wanneer dit bereik is, kan daar ’n werklike nierassigheid bestaan; tot tyd en wyl moet die ANC rasseklassifikasie handhaaf en die geleenthede gebruik wat ontstaan, wat insluit dat kaders deur die staat in diens geneem word en dat hulle, soos Ace Magashule dit stel, ryk word ter wille van die komende revolusie.

Tot tyd en wyl moet ons maar die swak administrasie, korrupsie en misdaad as tydelike verskynsels aanvaar. In die politieke teologie wat die ANC van die Christelike Weste geërf het, sal die koninkryk van die hemele opdaag eers wanneer die Antichris chaos en verwoesting gesaai het. Hoewel die sekulêre ANC-alliansie natuurlik nie hierdie idees regstreeks onderskryf nie, argumenteer filosowe soos Carl Schmitt dat hierdie messianisme deur die Christelik-gevormde eeue so ingeburger geraak het dat dit die metafisika vir amper alle Westerse stelsels verskaf – ook natuurlik die Marxisme wat die SAKP en daarmee baie denkers in die ANC aanvuur. Ramaphosa is inderdaad bekend vir sy godsdienstigheid as jeugdige.

Hierdie denkraamwerke of denkpatrone wat die oplossing na die toekoms verplaas, na die parousia van die wederkoms of die revolusie, blyk uit sy voorskrif dat daar bloot beter koördinasie tussen die owerhede en die boere moet wees. Daar gaan nie aan die status quo getorring word nie, is die duidelike boodskap, terwyl hy voor sy siel weet dat die polisie in veral die omstreke van Senekal deel van die probleem is, indien nie die kern daarvan nie. Dit is soortgelyk aan die ANC se dissiplinêre verhore, waar die skelms mekaar verhoor, behalwe dat rondom Senekal jong lewens op die spel is.

Plaasmoorde gaan nie prioriteit kry nie; 76 000 lede van die Weermag gaan nie "employed" word soos tydens die huidige ramptoestand om plase te beskerm nie, al stel Ramaphosa dit in dieselfde brief dat plaasmoorde ’n bedreiging vir voedselsekerheid is.

Die heel vreemdste paragraaf is egter: "The brutal killing of a young white farmer, allegedly by black men, followed by the spectacle of white farmers storming a police station to get to a black suspect has opened up wounds that go back many generations."

Omtrent elke woord kry ekstra nuanses as jy die paragraaf ’n tweede keer lees. “Brutal” – die soort mediacliché wat objektiwtiteit insinueer, nie meer ontsteltenis nie. “Farmer” – Brendin was ’n voorman – word hy nou ’n "farmer" gemaak, soos in “Kill the Boer, kill the farmer”, of is dit net ’n onbenullige glipsie? “Allegedly” – nog ’n glipsie deur ’n oorversigtige toespraakskrywer, of spruit dit uit die soort geloof wat woke mense het dat alle wit mense weens hul ingebedde rassisme aanneem dat alle misdadigers swart is? “Followed by” – dit maak ’n sprong oor ’n hele reeks gebeure en vergaderings, en uitsprake oor leed en emosionele breekpunt onder verskeie groepe mense. “Spectacle” - direk op moord volg spektakel. ’n Legitieme protes, soos by talle ander landdroskantore tydens moordverhore, word hier gedemoniseer, met ’n skimp van ’n soort rassistiese leedvermaak: wit mense dink mos hulle maak nie so nie. “White farmers” – nie al die betogers was boere nie – dus weer eens die reduksie na die mitologiese "boer". “Storming” – dit laat uit dat die polisie skokgranate gebruik het en tussen die skare ingejaag het. “Police station” – dit was eintlik die selle. “To get to a black suspect” – ’n afwatering na ’n blote rasgedrewe aksie.

Watter van hierdie nuanses jy in die paragraaf inlees, hang natuurlik van jou politieke ingesteldheid af, maar die werklike kopkrapper is: "has opened wounds that go back many generations".

Wat presies bedoel Ramaphosa?

Toe ek die woorde die eerste maal te vinnig lees, het ek gedink dit verwys na aanvalle op polisiekantore deur guerrillas, en vroeër in die geskiedenis oproerige skares soos by Sharpeville. Bestorming van polisiekantore verskeie generasies terug kan dalk verwys na die enkele sodanige voorval waarvan ek weet, toe Christiaan de Wet in 1915 ’n landdros uit die hof gejaag het en op die plein met sy sweep toegetakel het omdat hy hom ’n boete van vyf sjielings opgelê het nadat De Wet ’n plaaswerker afgeransel het.

Die toneel word in Sol Plaatje se Native life in South Africa geskets, en die rebellie daarna is deur veral swart mense die Vyfsjieling-rebellie genoem.

Soos ek, is Ramaphosa ’n bewonderaar van Plaatje, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat kennis van die boek so algemeen is dat die konneksie in die "Senekal-spektakel" voor die hand liggend is. Klaarblyklik bedoel Ramaphosa die etlike gevalle in die koloniale en apartheidsdae toe oortreders op plase summier afgeransel is sonder veel verwysing na die wet.

Maar die "suspect" was toe reeds geïdentifiseer as ’n gewoontemisdadiger deur Ramaphosa se eie minister van polisie, Bheki Cele. Ramaphosa moet weet van die etlike verslae deur boere oor korrupte polisielede wat betrokke is by veediefstal, en die reuseskade wat boere ly. Ten spyte hiervan kom hy met ’n lomp poging om die verwonding weens die Horner-moord nie net gelyk te stel aan die verwondings van swart mense van die verlede nie, maar laasgenoemde die gewig van etlike generasies te gee.

Dit is meer rasioneel as die EFF se fulminasies, maar val in dieselfde klas van mitologie. Die situasie op die grond maak weer eens nie saak nie – as daar ’n wit-swar teenstelling is, word dit onmiddellik in ’n anti-apartheidsmitologiese raamwerk geplaas. Die verwonding van Christus is natuurlik sentraal tot die Christendom en so ook tot die politieke teologieë wat daarvan afstam. 

Dit is dan ook waarom daar geen regstreekse verwysing na die EFF in die brief is nie, net ’n vae versoek dat ras nie ingesleep moet word nie, wat ’n mens ook as ’n poging kan lees om juis die ras-aspek op die voorgrond te plaas by wyse van uitsondering. Die EFF het hom skuldig gemaak aan kru haatspraak en aanhitsing tot geweld en burgeroorlog in die dae daarna, en is die soort platforms op TV en radio gegee wat die Interamhawe gekry het op Radio Télévision Libre des Mille Collines, die stasie wat geïdentifiseer is as ’n sleutelfaktor in die Rwandese volksmoord.

Hieroor het Ramaphosa niks te sê nie, iets wat werklik verontrustend is in die konteks van sy implisiete kondonering van die EFF se Clicks-veldtog.

Die volgende paar dae kan dalk meer lig werp op wat die werklike verhouding is tussen die ANC en die EFF, wat al deur ’n paar ANC-leiers geloof is as die draers van die ANC se idees en wense.

  • 2

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Redakteurs- en ander briewe, week na week, die laaste dekade al, lui só: Nóú, dié keer, waaragtig mense, die tyd vir praat is nou verby!

    Panopties beskou is die enigste doeners Afriforum, Solidariteit en Die Boere.

  • Wat ons sien is 'n uitvloeisel van die ANC se beleid om die land onregeerbaar te maak en 'n NP-regering wat nie geweet het om die toestand te hanteer nie.
    Die hele debat oor moorde vanaf die ANC gaan nie soseer oor die moorde van plaasboere nie, want swart boere en plaaswerkers loop ook deur maar oor dit wat hul besit, nl die grond.

    Dit was skokkende om te sien hoeveel tyd Malema op TV gekry het om wilde standpunte oor te dra aan sy aanhangers, ondermeer dat dit vir die betogende boere nooit oor die moorde en hartseer gegaan het, maar oor die grond.

    Hierdie week het ek van die skokkendste videomateriaal gesien, wat ek hoop nooit op sosiale media vertoon sal word nie. Die polisiemateriaal sluit in:
    2 Blanke vrouens wat poedelnakend mekaar in 'n parkeer terrein takel oor wie die meeste vir laggende Nigeriese pimps insamel, wat staan en kyk hoe twee blanke vrouens hulself tot in die afgrond verneder.

    Hoe polisie mense wat seksslawe deur dwelms geword het, bevry word en twee susters mekaar huilend omhels. Hoe 'n kleuter bevry word, wat gevange gehou is sodat sy ma 'n seksslaaf kon word.

    En dan nog meer skokkend om te sien hoe blankes soos plakkers lewe en net deur die genade van bo en helpende mense aan die lewe gehou word, en mans in blink motors soos wolwe rondry en wag dat laerskole uitkom omdat daar meisies is wat uit armoede en verslawing sal buk sodat die perverse mans hul luste kan bevredig.

    Om te hoor dat blanke mans hul vroue oor naweke pimp en donner as hul nie inkomste huistoe bring nie.

    Nou vra ek myself af hoe het 'n deel van die blanke bevolking weer beland in dieselfde haglike omstandighede as wat hul voorouers was en waaruit hul met bloedsweet opgehef is.

    Miskien moet joernaliste 'n bietjie dieper delf en die skokkende wêreld van dwelms en protitusie waarin ook baie blankes verval het ontbloot en die rol wat veral mense van Nigeriê daarin speel onder die aandag van die breë bring.

    As dit die nalenskap is van 'n demokratiese onderhandeling ,dan is ek jammer, maar ek en duisende ander het nie jare van ons lewe opgeoffer in 'n weermag om 'n herhaling van die geskiedenis te beleef nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top