
Heindrich Wyngaard neem bestek op ná ’n gesprek met twee kundiges.
*
Suid-Afrika se 1996-Grondwet, wat hierdie jaar drie dekades gelede aanvaar is, word wyd geprys vir hoe “progressief” dit is; dat dit ander lande ver vooruit was met regte soos dié oor selfdegeslaghuwelike byvoorbeeld.
Maar van tyd tot tyd word dit nodig dat die grondwetlike grense getoets word deur aansoeke in die Konstitusionele Hof, wat die land se hoogste hof is en dus die laaste sê oor konstitusionele kwessies het.
Toenemend vind ’n mens egter dees se dae dat pres Cyril Ramaphosa die wenkbroue laat lig deur sy besluite om bepaalde funksies na sy kantoor te verskuif, terwyl dit in die algemeen as ministeriële funksies beskou word.
Hoe moet ons sin maak hiervan? was die vraag wat aan twee politieke kommentators – Pieter Duvenhage en Oscar van Heerden – gestel is in die eerste opname van Wyngaard Weekliks, LitNet se nuutste video-aanbod. Die vraag is gestel na aanleiding van die nuutste “ingryping”, naamlik die ondersoek na Iran se “onwettige” deelname aan ’n militêre oefening in Suid-Afrika.
Die President het nou aangekondig dat die saak van die ministerie van verdediging na sy kantoor oorgeplaas word en dat die ondersoekpaneel, onder leiding van regter Bernard Ngoepe, binne ’n maand regstreeks aan hom terugvoering moet gee. Die stap is deur hom gedoen, het sy mediaverklaring beklemtoon, in ooreenstemming met artikel 202(1) van die Grondwet, ingevolge waarvan die president die opperbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is.
Die gesprek begin by Suid-Afrika se regeringstelsel.
- Duvenhage: “Ons het ’n parlementêre stelsel met sterk uitvoerende magte vir die president. Die president word natuurlik deur die Nasionale Vergadering (NV) verkies en nie direk deur die volk nie. Ons stelsel is dus nader aan Duitsland s’n as aan byvoorbeeld Amerika of Frankryk s’n.”
- Van Heerden: “En partye ding mee om setels in die NV en die party wat die meeste setels kry, besluit in werklikheid wie die president is.”
Wat Ramaphosa genoop het om in te gryp in die Iran-kwessie word deur Duvenhage as ’n “vreemde ontwikkeling” beskryf, omdat ’n presidensiële opdrag klaarblyklik nie uitgevoer is nie, nóg deur die betrokke minister nóg deur haar generaals, terwyl Van Heerden dit as “kommerwekkend” bestempel. Die minister kon dus nie die ondersoek hanteer nie, verduidelik hulle, want sy mag dalk ook geïmpliseer word in die bevindings van die paneel.
Duvenhage wonder of die Iran-kwessie ’n verdere voorbeeld is van generaals “wat hul spierkrag wys” – en wat sou die breër implikasie daarvan wees? Van Heerden glo nie dat dit ’n doelbewuste ondermyning van die President se gesag is wat hier aan die orde van die dag is nie. Die weermag se topstruktuur, argumenteer hy, is “steeds MK-mense”, wat verwys na die ANC se eertydse militêre vleuel, nie die nuwe politieke party wat voor die 2024-verkiesing deur Ramaphosa se voorganger, Jacob Zuma, gestig is nie.
Ander onlangse voorbeelde van hoe Ramaphosa “ministeriële funksies” in die presidensie “absorbeer” het, sluit in die verskuiwing van die beheer oor die intelligensieportefeulje na sy kantoor. Dit was nadat die 2021-onluste aan die lig gebring het dat die land se polisiediens en intelligensie-owerhede geensins voorbereid was op die gebeure nie.
Die besluit het nog nie enige ooglopende resultate opgelewer het, aldus Duvenhage en Van Heerden. “Niks is nog aan die lig gebring oor wie uiteindelik verantwoordelik was vir die gebeure nie,” sê Duvenhage, terwyl Van Heerden teenproduktiewe rooi ligte van faksievorming in die polisiediens sien flikker met die uitsprake op 6 Julie verlede jaar deur Nhlanhla Mkhwanazi. “Almal weet daar is ’n politieke veldtog teen [Senzo] Mchunu [die minister van polisie wat deur Ramaphosa op verlof geplaas is ná Mkhwanazi se bewerings],” voer Van Heerden aan.
Faksies, meen Duvenhage, is ’n werklikheid van die “komplekse politieke stelsel” waarbinne Suid-Afrikaners hul bevind. Die ingryping van die President, sê hy, is eintlik dan ook aan hierdie “stelselprobleem” toe te skryf, want: “Die ANC se faksies bepaal hoe die kabinet saamgestel word. Die President moet dan werk met wat hy het, terwyl hy dalk dinge anders wil doen of vinniger wil beweeg.”
Die nuutste voorbeeld wat die Wyngaard Weekliks-paneel bespreek het, was die President se aankondiging in sy 2026-staatsrede dat die nasionale krisis met watervoorsiening ook nou in sy kantoor gevestig sal wees. ’n Verdere stap sou wees dat funksies van munisipaliteite deur ander regeringsentiteite oorgeneem sou word as die plaaslike owerheid in gebreke bly om dienste behoorlik te lewer, het Ramaphosa in sy toespraak gesê. Die moontlikheid van strafregtelike optrede teen munisipale bestuurders en ander amptenare wat hulself skuldig maak aan wandade in die uitvoering van hul pligte, word deur Van Heerden ook opgehaal as ’n teken van Ramaphosa se erns met die saak.
Duvenhage help verduidelik die President se stap: “Ook op plaaslike vlak ondervind jy ’n uitdaging met kundigheid. ’n Wateringenieur moet byvoorbeeld aangestel word, maar dan gebeur dit gewoon net nie. Wat kortkom, is dat aanspreeklikheid nie altyd binne hierdie komplekse politieke meganismes van ANC-politiek geskied nie.”
Wat is die langtermynrisiko verbonde aan presidensiële oorname van funksies wat in werklikheid dié van ministers is? En wat gebeur met hierdie soort “uitgebreide magte” in die hande van ’n staatshoof wat, anders as Ramaphosa, nie beskou word as ’n leier wat verantwoordelik met sodanige magte kan omgaan nie?
“Ministers moet eintlik skaam wees of oorweeg om te bedank wanneer die President hul funksies oorneem,” antwoord Van Heerden, “omdat die President eintlik sê ‘Ek moet nou jou werk vir jou doen.’” Nogtans meen hy dat daar tans meer bewyse van suksesse as negatiewe gevolge is aan die ingrypings deur Ramaphosa.
Duvenhage kom ewe optimisties voor: “Ek dink daar is teenwigte,” sê hy, wat kan voorkom dat ’n Ramaphosa-opvolger hom of haar vergryp aan dié soort ingrypings. Of, soos Van Heerden dit stel, “wat die hele show wil run”. (Dit is dalk wat Zuma in gedagte gehad het toe hy op ’n keer opgemerk het dat hy wens hy kan vir ses maande as ’n diktator regeer sodat hy die land op dié wyse kon regruk.) Duvenhage lys die “teenwigte” waarna hy verwys het, beginnende by die Konstitusionele Hof en gevolg deur hoofstuk 9-instellings en parlementêre portefeuljekomitees “wat al meer tande wys”; ook Suid-Afrika se onafhanklike media en “sterk burgerlike samelewing”.
’n Kompliment vir die President: “Hy’s ’n bekwame man,” sluit Duvenhage af, “maar [hy] sit met ’n komplekse stelsel wat hy moet maak werk.” Dit doen hy nou op sy eie manier – al wil dit voorkom of hy soms ’n té groot hap vat.
- Kyk die volledige gesprek hier.

