Raka, ’n rally en die lang pad na Worcester

  • 4

Ilza Roggeband deel haar indrukke van vanjaar se Pioneer Rally, 'n fondsinsamelingsprojek van die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester.

Die vroue het hom die eerste gewaar
in die loom namiddag toe die arbeid klaar was …

Ons sit in die wit Audi A1, Sarel van der Westhuizen en ek. Op sy skoot lê die wit bundel met die instruksies. Voor die tyd het ’n paar mense vir my gesê Sarel hou van gesels. Waldemar Schultz het gesê hy onthou hom van ’n tienertoneelkompetisie. Toks van der Linde sê Sarel hou van musiek. Een van die organiseerders vertel hoe baie Sarel lees. Ons sal baie hê om oor te praat, Sarel en ek.

pioneer_1

Sarel van der Westhuizen en Ilza Roggeband

Hier sit ons, span nommer 14, en wag vir die wegspring.

Dit was vanjaar die tiende keer wat die Pioneer Rally gehou is, ’n fondsinsamelingsprojek van die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester. Daar is 39 bekendes wat elk ’n Audi by Audi Somset-Wes kry en dan die roete van Somerset-Wes moet volg. Dit is deur die legendariese Sarel van der Merwe beplan en die eindpunt is die Golden Valley Casino in Worcester. Jou navigator is ’n gesiggestremde wat die aanwysings in Braille lees en jou met haar of sy vingers op die blaaie tot in Worcester lei.

“Ek hou baie van digkuns,” sê Sarel terwyl ek kyk hoe ek die blitsige Audi moet aanskakel. “NP van Wyk Louw is my gunstelingdigter.”
“Ek het Raka op hoërskool gedoen,” sê ek.
“Die vroue het hom die eerste gewaar
in die loom namiddag toe die arbeid klaar was,” sê Sarel.

Ons trek weg. Dis die derde keer wat ek gevra is om deel van die Rally te wees, maar my hande is steeds bewerig. Ons ry op die N2 in Somerset-Wes van die een verkeerslig na die volgende. Ons draai regs na Gordonsbaai, deur Kleinmond en Bettysbaai.

“Die see is nou regs van ons,” sê ek vir Sarel. Hy is op 25 weke gebore en het as gevolg van mediese komplikasies sy sig verloor. Hy kan net lig en donker onderskei. Die radio in die Audi is op Smile FM.

“Jis,” roep Sarel skielik hard uit, so hard dat ek ruk van die skrik. Daar is egter nie fout nie, dis die musiek wat hom so opgewonde maak. “Dis ’n lekker plaat,” sê hy. Net ’n noot of drie en Sarel weet wat die liedjie is en wie die kunstenaar is.

Ons gesels land en sand. Oor boeke en skryf, musiek en toneel. Hy vertel dat hy die vorige aand van pure opwinding nie kon slaap nie en Marita van der Vyver se Die Avonture van Hanna Hoekom klaar gelees het.

Ek volg sy instrukies. Hier is ’n stopstraat, daar moet jy ’n sekere spoed ry.

Ons ry verby die ingang na Arabella, draai links Grabouw se kant toe.

Hy vra uit oor skryfwerk. Vertel weer van sy gedigte, hoe hy soms nie kan ophou as hy eers begin het nie. Van die artikels wat hy vir die skoolkoerant skryf.

Sarel is in matriek en volgende jaar gaan hy bemarking in Worcester studeer. Hy speel kitaar en hy mis nie Skrywers en Boeke, Vers en Klank of enige van die radiodrama’s op RSG nie.

pioneer_4

Kurt Darren, Helen Zille en Deon Lotz

Hoe hard ek ook al probeer, Sarel kan my nie op my naam noem nie. Ek is juffrou en basta. Hy verduidelik aan my hoe hy sy selfoon gebruik. Van die toepassing (sy woord, ek sal dit sommer ’n app noem) wat hy afgelaai het en hoe hy sy foon as ’n Braille-sleutelbord kan gebruik. Hy kan Google, Facebook, boodskappe stuur – enige ding wat ’n siende mens kan doen.

Ons draai regs van die N2 na Grabouw, ry later deur Villiersdorp. Dis so mooi, wil ek sê, maar weet nie of ek kan nie. Hoe verduidelik jy aan iemand wat net lig en donker kan sien hoe groen die wingerde is, hoe mooi die velde is waar daar onlangs geoes is?

By die derde kontrolepunt vind ons uit ons is agt minute agter. Ek jaag. Sarel jil van plesier. By die vierde kontrolepunt is ons drie minute agter. Ek jaag verder. By die eindpunt sê hy: “Juffrou het hom lekker getrap, nè?” en skater van die lag.

Die middag by die hotel by die Golden Valley Casino is waar daar net Rally gepraat word. Die navigators is huis toe en die jaers, want dit is eintlik al wat ons is, wil elkeen hul storie vertel. Van hul navigators, wat die vinnigste is wat hulle gery het, wat hulle dink hulle kans is om te wen.

Die akteur Marcel van Heerden sê hy wil asseblief tog net ’n foto saam met Sarel van der Merwe hê. So het ons almal ons helde.

Die deftige funksie die aand is by Goudini Spa. Die tafels is almal deur besighede van Worcester en omstreke geborg. Ek en Sarel sit by een van die tafels wat Absa geborg het.

pioneer_3

Dawie Roodt en sy navigator, Hein Wagner

Daar is vermaak, ’n veiling en Sarel van der Merwe kondig die spanne se posisies aan. Ek en my Sarel kom 25ste. Nie so goed soos ek gehoop het nie, maar ten minste beter as ’n paar ander. Die wenners is die sanger Kevin Leo en sy navigator, Elna Dürr. In die tweede plek is verlede jaar se wenners, die ekonoom Dawie Roodt en sy navigator Hein Wagner. Daar is net een sekonde verskil tussen die eerste en die tweede plek.

Sarel raak aan my arm. Hy het ’n boekie waarin hy handtekeninge bymekaar maak. Hy noem wie se handtekeninge hy wil hê, een daarvan die akteur Deon Lotz, wat vanjaar die eerste keer deelgeneem het.

Later kom sit Deon by ons tafel. Hy en Sarel gesels land en sand. Sarel kan stukke dialoog opsê van radiodramas waarin Deon gespeel het.

In die kar vroeër die dag het Sarel my vertel hoe graag hy op ’n Vrydagmiddag saam met sy pa in hul motorhuis in Kempton Park kuier. Sy pa, ’n skrynwerker, sal houtwerk doen, hulle sal gesels en musiek luister. Eendag, het Sarel vir my gesê, wil hy nog ’n radiodrama skryf oor hierdie spesiale tyd tussen hom en sy pa.

“Vertel vir Deon van die radiodrama wat jy wil skryf,” sê ek.

Sarel vertel. Deon luister. En toe sê Sarel: “Die ander dag het ek en my pa gery en toe sê hy hy is trots op my”. En hy begin huil. Deon trek hom teen sy bors vas en hou hom vas, troos hom met ’n hand teen sy rug.

pioneer_2

Danie Niehaus, Nadia Valvekens en Ivan Zimmermann

Deon het trane in sy oë, ek het trane in my oë, die hele tafel het trane in hul oë. As ek ooit gaan terugdink aan die Pioneer Rally van 2016, sal ek nie dink aan die 160 km/h wat ek gejaag het of die kuier of die min slaap en die baie lag nie, ek sal daardie oomblik onthou. Daardie oomblik toe Deon Lotz vir Sarel van der Westhuizen teen sy bors vasgedruk het.

Jy kan onmoontlik dieselfde mens wees ná ’n Pioneer Rally. Daar is ’n rede hoekom mense soos Margit Meyer-Rödenbeck, Toks van der 
Linde, Richard van der Westhuizen en Danie Niehaus dit jaar na jaar ja sê; hoekom Ivan Zimmermann op sy laaste fietstog van China tot in Turkye iewers langs die pad in die vreemde vir Annelette Kemp, die formidabele organiseerder, ’n e-pos gestuur het om te laat weet hy is November terug in die land en hy wil weer ry. Hoekom Helen Zille hierdie jaar ingestem het om die eerste keer deel te neem. Hoekom Kurt Darren, Sandra Prinsloo en Nadia Valvekens ’n Saterdagaand sal opoffer om daar te wees.

Die Rally maak jou nederig, dit raak jou hart. Dit gaan nie eintlik oor wen of verloor nie, dit gaan oor ’n dag in jou lewe wat jou met ander oë na die wêreld laat kyk.

In 2014, die eerste jaar wat ek gery het, was Hein Wagner een van die gassprekers. In sy toespraak het hy gesê: “If you change the way you look at things, the things you look at change.”

Sarel het, soos my navigators Karin in 2014 en Ernie in 2015, my weer met ander oë laat kyk. En Sarel, as jy dalk hier lees: Ons wag vir die radiodrama.

Foto's: verskaf

  • 4

Kommentaar

    • Ronelle Beukes

      Ek is ook baie bly oor my jare saam met gesiggestremdes, Rika. Hierdie skrywe is 'n pragtige getuigskrif vir ons blinde en swaksiende vriende. Ek het by Pionierskool, Worcester gewerk en baie lewenswysheid daar geleer. Onder andere om nie mense op gesigswaarde te oordeel nie.

  • Ai, kyk hoe sit ek nou hier met vogtige oë in die vreemde en verlang na Worcester en Suid-Afrika se wonderlike, warmhartige mense! Dankie vir die hartroerende stuk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top