Raak betrokke by skole, vra ATKV

  • 0

In sy reaksie op die jongste onderwyskrisis in Limpopo, waar talle skole nog nie hul halfjaarlikse subsidies ontvang het nie en eksamens uitgestel moes word omdat daar nie geld was om vraestelle te druk nie, het Seymour Bothman, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Senior Bestuurder: Onderwys, gesê dié organisasie is baie bekommerd oor die stand van onderwys in Suid-Afrika. 

"Skole, as sosiale en opvoedkundige instellings, is belangrik om leerders as toekomstige leiers voor te berei op verantwoordelike burgerskap."

Seymour Bothman

Bothman meen egter dat die opvoedingdoel vir die meeste Suid-Afrikaanse leerders steeds slegs ’n droom is. "Op die vooraand van Jeugdag 2013 is die harde werklikheid dat internasionale evaluerings en nasionale assesseringtoetse toon dat die prestasievlakke van Suid-Afrikaanse leerders op laerskool- en hoërskoolvlak onder aanvaarbare vlakke is."

Bothman meen die bereiking van ’n gelyke en regverdige onderwysbedeling het veral onder die soeklig gekom met die Section 27-skoolbesoeke in Limpopo, en die solidariteitsbesoeke van vooraanstaande Suid-Afrikaners aan twee skole in die Oos-Kaap enkele weke gelede.

"Section 27 het, na interaksie met skole, terugrapporteer dat die situasie by skole in Limpopo veral benard is, selfs as dit kom by iets soos basiese sanitêre geriewe. Baie skole beskik nie oor higiëniese badkamers vir gebruik deur leerders en onderwysers nie. In baie gevalle word daar nog putlatrines gebruik, of is die strukture bouvallig en die geriewe te min vir die oorvol skole. Sommige skole het glad nie funksionele toilette nie, en onderwysers en leerders is genoodsaak om die bos (veld) as toilet te moet gebruik."

Dis vir die ATKV kommerwekkend dat baie klaskamers nie eers stoele het nie. "Leerders moet hul eie stoele van die huis af bring en na verskillende klaskamers saamdra. By ander skole kry net die wat eerste opdaag – wat beteken leerders moet so vroeg as 06h00 al by die skool wees vir stoele om op te sit.  Die wat later opdaag, moet staan-staan leer, op die vloer sit of lessenaars of stoele met hul maats deel."

’n Ander probleem is oorvol klaskamers. "In sommige klasse is daar tussen 120 en 145 sekondêre skoolleerders in ’n enkele klaskamer. Waar leerlinge nie in ’n klaskamer gehuisves kan word nie, vind onderrig buite plaas waar hulle aan wind en weer blootgestel is."

 "Tydens die besoek van ‘n groep vooraanstaande Suid-Afrikaners – onder meer Elinor Sisulu, Zakes Mda en professore Njabulo Ndebele, Pierre de Vos en Graeme Bloch, aan skole in die Oos-Kaap – was daar in die oorvol Putuma Primary School meer as 100 leerders in die Graad 9-klas. De Vos het ná die besoek gesê hy besef weer hoe bevoorreg hy en die skool wat hy bygewoon het was in vergelyking met die fasiliteite en leerders wat hy by Putuma gesien het. Hy het ook gesê dat hy beslis nie sou gewees het waar hy vandag is as hy na Putuma moes gaan en die klas moes deel met ’n honderd ander leerders nie."

Bothman sê dis wonderlik om te hoor dat Putuma se leerders steeds goed presteer, ondanks hul ontberinge. "Hulle skoolkoor het die 2012 Nasionale Koorkampioenskappe gewen. Dit is opsigself ’n besondere prestasie wat die leerders kan aanspoor om ook op ander terreine suksesvol te wees. Indien die skool en leerders ondersteun kan word, bestaan daar ’n groter kans dat onderwysers en leerders hul volle potensiaal kan ontwikkel."     

Toestande by die Seaview High School is volgens Bothman ook kommerwekkend. "Nie net was die toilette vir  onderwysers en leerders in ’n haglike toestand nie, maar die addisionele klaskamers, wat deur die gemeenskap self gebou is, het nie aan strukturele standaarde voldoen nie, en kon selfs gevaarlik wees vir die leerders. Daar was ook slegs twee permanent aangestelde onderwysers by die skool, terwyl die norm is dat daar minstens vyftien permanente poste by ’n skool moet wees."

Vir Bothman, as onderwyskundige, is die situasie kommerwekkend. "As daar tans ’n beduidende aantal skole in Suid-Afrika is wat nie oor die basiese geriewe beskik om effektiewe onderrig te gee nie, hoe gaan gehalte leer en onderrig in alle skole bevorder word? Skole as opvoedkundige instellings is immers waar jeugdiges moet leer oor demokratiese praktyke, en is waar geleenthede geskep moet word vir die  grootmenswêreld wat op hulle wag."

Volgens hom is onderwyskenners en onderwysverwante organisasies dit eens dat dié gebrek aan minimum norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur een van die faktore is wat sosiale beweeglikheid en akademiese prestasie van die armste leerders nadelig beïnvloed. "Indien die situasie nie ernstig aangespreek word nie, gaan dit ernstige ekonomiese gevolge vir die land inhou. Die huidige werkloosheidsyfer van 4,6 miljoen mense is reeds kommerwekkend."

Bothman het dit benadruk dat die ATKV ’n ernstige beroep doen op die nasionale onderwysdepartement en die provinsiale departemente om die situasie aan te spreek en gebreke reg te stel waar daar ernstige onderwysbehoeftes voorkom. "Ons is ook van mening dat elke lid van die gemeenskap – en dit sluit jeugdiges in – verantwoordelikheid moet aanvaar en betrokke moet raak by die onderwys van alle kinders in Suid-Afrika."

Hy het weer namens die ATKV ’n beroep gedoen op skole waar dit goed gaan en instellings om uit te reik na skole wat probleme het. "Ondersteun hulle sodat onderwys in alle skole kan verbeter. Met die onderwysprojekte Handevat, Sterskole en Kopskuif onderneem die ATKV om ’n bydrae te maak om skole te ondersteun ten einde maatskaplike samehorigheid en akademiese uitnemendheid te bevorder. Kom ons gee elke leerder ’n regverdige kans om hulle te bekwaam om as selfstandige, aktiewe, verantwoordelike burgers deel van ’n suksesvolle gemeenskap te wees. Kom ons sit skouer aan die wiel en vat hande om skole in instellings te omskep wat leerders voorberei om hul plek in die samelewing vol te staan."

Vir meer inligting skakel gerus met Seymour Bothman by 083 251 5245

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top