Quo vadis Maties?

  • 4

 

konvokasie650

Matieland is by ’n kruispad.

Die Universiteit Stellenbosch staar ’n enorme uitdaging in die gesig. Hoe transformeer mens ’n diep verdeelde universiteit oor kleur- en taalgrense heen sonder om sy unieke karakter van uitnemendheid prys te gee?

Dit is teen hierdie agtergrond dat die universiteit se konvokasie op 26 Januarie by die Coetzenburgsentrum vergader. Die geskeduleerde vergadering vir 5 November 2015 moes vanweë buitengewone omstandighede uitgestel word.

Daar is besluit om dit weens die groot belangstelling na die Coetzenbergsentrum te verskuif toe dit begin duidelik word dat ander geboue en lokale moontlik te klein sou wees om almal wat die vergadering wil bywoon te akkommodeer.

Dit is veral die intense debatte wat verlede jaar op die kampus gevoer is oor sake soos #Feesmusfall, die aantal swart professore aan die US en Afrikaans as onderrigtaal wat bygedra het tot die groot belangstelling in vanjaar se vergadering.

Vanjaar se sprekerslys weerspieël dan ook die diversiteit en woelinge wat steeds op die kampus heers. En met Breyten Breytenbach wat op nommer 99 tot vanjaar se sprekerslys bygevoeg is, het die belangstelling in vanjaar se konvokasievergadering ’n nuwe hoogtepunt bereik.

Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, is die hoofspreker by die geleentheid met die onderwerp: “Die Universiteit Stellenbosch: Vorentoe!”

In die ander hoek is die uitgesproke skrywer en digter Breyten Breytenbach, uit wie se pen daar eersdaags weer ’n nuwe digbundel verskyn. Die tema van sy toespraak is “Die Koei in die Bosch: die raamwerk waarbinne oor taal besin word”.

Die derde gasspreker is Lovelyn Nwadeyi, oudstudenteleier en PhD-kandidaat (politieke wetenskap) aan die US. Sy het as Nigeriese meisie by Maties geland en moes op die harde manier leer hoe moeilik en ingewikkeld transformasie is. Die titel van haar toespraak is “Courage, Compassion and Complexity: Reflections on the new Matieland and South Africa”.

Maar hoe lyk die nuwe Matieland waaroor almal praat?

Hoewel die onlangse woelinge op die kampus nie ’n spesifieke punt op die konvokasie se agenda is nie, het al drie die sprekers, in mindere of meerdere mate, ’n rol gespeel in die jongste gebeure aan die universiteit. Die verwagting is dat daar tydens die vergadering terugverwys sal word na gebeure wat hulle in 2015 afgespeel het. 

Meer as 100 000 US-gegradueerdes, US-gediplomeerdes ná 2010 en voltydse akademiese personeellede van die US is lede van die konvokasie. Hoewel die demografie van die konvokasie vinnig besig is om te verander, is die samestelling van sy lede ’n gegewe en verteenwoordig reeds ’n wye spektrum van menings en standpunte.

Maar is die US-konvokasie nog enigsins relevant in die huidige gees van verandering en transformasie?

Aan die US verkies die konvokasie ses van die 30 universiteitsraadslede. (’n Verkiesing vir vier raadslede is juis nou aan die gang.) Die uitvoerende komitee van die konvokasie, wys, by monde van die president, ook ’n verteenwoordiger aan op die aanstellingskomitees vir senior poste. (Twee sulke komitees is juis nou besig met die vul van twee viserektorsposte.) Twee lede van die Institusionele Forum word deur die konvokasie aangewys.

Verder het die konvokasie geen uitvoerende mag nie, maar dit sou ’n fout wees om die invloed van die konvokasie te geringskat of te ignoreer.

Die konvokasie se onderpresident, Jan Heunis, glo dié liggaam is beslis nog relevant. Heunis se naam word genoem om Christo Viljoen as president van die konvokasie op te volg indien Viljoen nie weer verkiesbaar is nie.

Vir Heunis was die konvokasie in die verlede te onbetrokke by die werksaamhede van die universiteit. Hy meen dit behoort in die toekoms meer gereeld en as ’n produk van groter deelname van sy lede by verwikkelinge aan die universiteit betrokke te wees.

“Dit is mense met ’n liefde vir die universiteit en baie van hulle het die verwagting dat hulle kinders en kleinkinders aan dié universiteit sal studeer. Baie van hulle is ook donateurs. Hul menings en voorkeure behoort vir die universiteit belangrik te wees,” sê Heunis.

Dit sal egter Salomo se wysheid en Job se geduld kos om die ideale van die grootste gros lede van die konvokasie en die rektor se bestuurspan te verenig ná verlede jaar se vertrouensbreuk.

Mens hoef nie ’n profeet te wees om te voorspel dat daar tydens die konvokasievergadering na beide kante toe vreesloos standpunt ingeneem gaan word nie.

Die konvokasie sal waarskynlik alles in sy vermoë sal doen om homself, ook wat Afrikaans betref, te laat geld.

Hoewel pro-Afrikaanses nog ’n sterk teenwoordigheid via die konvokasie se raadslede in die universiteit se besluitnemingstrukture het, is daar al hoe meer “nuwe” en alternatiewe stemme in die konvokasie wat gehoor wil word.

Indien Viljoen besluit om die tuig neer te lê, is dit dus onwaarskynlik dat Heunis onbestrede tot nuwe president verkies sal word. Ingeligte waarnemers meen so ’n verkiesing sou neerkom op ’n keuse tussen Heunis en iemand soos Llewellyn MacMaster, afhangend van wie die transformasiegroepe nomineer – en hulle sal sonder twyfel iemand nomineer as Viljoen sou besluit om die tuig neer te lê. Die uitslag sal bepaal word deur wie by die vergadering opdaag.

Verlede jaar se omstrede besluit deur die rektor se bestuurspan om die universiteit se taalbeleid te wysig was volgens Heunis direk teenstrydig met die konvokasie se standpunt oor die voortgesette rol van Afrikaans aan die universiteit.

“Dit was ook teenstrydig met die rol van die US Raad met betrekking tot die bepaling van ’n taalbeleid,” sê Heunis. 

Vir die konvokasie se bestuur was dit ’n skok. Die president, Christo Viljoen, het ook sy misnoeë met die bestuurspan se besluit in die openbaar te kenne gegee.

Heunis glo as die rektor se bestuurspan toegelaat word om die raad se beleidmakende rol oor te neem, is die dood vir Afrikaans as gelyke taal en selfs as akademiese taal by die US in die pot. Die raad het reeds duidelik te kenne gegee dat hulle nie daarmee gediend sal wees nie.

Die vrees dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat die US heeltemal verengels, is volgens Heunis grootliks te wyte aan die besluit deur die rektor se bestuurspan om die taalbeleid te verander sonder om al die rolspelers te raadpleeg.

Paradoksaal was dit dalk ’n bedekte seën, meen Heunis. “Daar kan nou geen twyfel meer daaroor wees nie dat ’n saakmakende deel van die Afrikaanssprekende bevolking (en Engelssprekendes) duidelik te kenne gegee het dat Afrikaans se gelyke status aan die US beskerm moet word.”

Maar hoe gemaak wanneer die veranderende studenteomgewing mettertyd ook ’n verandering in die ledesamestelling van die konvokasie tot gevolg het?

Hieroor is Heunis nie bekommerd nie, mits diegene wat sterk voel oor Afrikaans bereid is om hulle stemme te laat hoor.

Hy sê as die konvokasie se aandrang dat Afrikaans ’n primêre taal van onderrig aan die US moet bly, suksesvol is, behoort die veranderende studenteomgewing, en die gevolglike verandering in die ledesamestelling van die konvokasie, nie tot gevolg te hê dat die universiteit se taalbeleid in die toekoms so sal verander dat Afrikaans nie steeds ’n primêre taal van onderrig sal bly nie.

Een van die konvokasie se jonger stemme is Nadia Marais. Sy woon al sedert haar tweede jaar al die konvokasie se jaarvergaderings by en is op die oomblik sekretaris daarvan. Sy deel nie noodwendig al die konvokasie se standpunte nie en sê sy woon die vergaderings by omdat die gesprekke en die sprekers jaar vir jaar so interessant en belangrik is.

Daar is by haar geen twyfel dat vanjaar se vergadering deurslaggewend gaan wees nie. Oor die afgelope jare is daar groter belangstelling by jongmense in die konvokasie se werksaamhede. Nadia sê in die verlede is die debatte wat binne die konvokasie gevoer is, dikwels deur jongmense vermy, maar dit is besig om te verander.

“Dit is duidelik dat jonger mense toenemend oor die afgelope paar jaar betrokke begin raak het by die konvokasie – nie alleenlik deur bywoning van die jaarvergaderings nie, maar ook deur hulleself beskikbaar te stel vir verkiesing op die uitvoerende komitee.”

Op die oomblik is drie van die vyf persone op die UK jonger as 35 jaar.

Nadia bepleit egter geen kunsmatige opstelling van die konvokasie teenoor die rektor se bestuurspan nie. Sy sê beide is toegewyd aan die voortgesette welwese van die Universiteit Stellenbosch.

“Uiteraard beteken dit nie dat daar oor elke saak 'n onkritiese, algehele instemming en ooreenstemming kan wees nie, maar dat juis hierdie gedeelde toewyding aan die US in die dinamika van kritiese gesprekke oor transformasie – onder alumni, binne die universiteit, en ook hopelik by hierdie jaarvergadering – tot uitdrukking kom.”

Vir die nuwe geslag Maties soos Nadia is dit belangrik dat al die verskillende gespreksgenote aktief deelneem aan die debat oor transformasie op die kampus.

Dit sluit die konvokasie en sy tradisionele lede in, maar ook die noodsaaklikheid om na alternatiewe stemme en standpunte binne die konvokasie se geledere te luister.

“Dit sou ’n vreemde soort transformasie wees indien sekere stemme en menings opsetlik en doelbewus in die kiem probeer smoor word,” sê sy.

Die huidige gesprekke oor transformasie wat reeds onder Russel Botman se leiding as rektor en visekanselier begin het, is vir diegene wat soos sy voel ’n kernsaak.

En dalk is juis dit die uitdaging van hierdie tyd, en ook aan die konvokasie: naamlik dat transformasie, sowel as die maniere waarop daar oor transformasie gepraat en geworstel word, met wysheid en fyn onderskeiding oorweeg, bespreek, en geïmplementeer word.

Christo Viljoen sê hy staan steeds verbaas oor die lojaliteit van oud-Maties teenoor hul alma mater, wat op ’n veel hoër vlak is as wat algemeen aan ander Suid-Afrikaanse universiteite voorkom.

“Ons word dikwels genader deur ander plaaslike universiteite (selfs groot en gevestigde universiteite) oor die vraag hoe ons dit regkry.” Viljoen sê Matie-lojaliteit is iets wat vanself kom: ’n ingeboude lojaliteit wat deel van jou word terwyl jy vir drie of vier of meer jaar student in die Eikestad (of sy kampusse te Bellville, Tygerberg en Saldanha) is.

Viljoen is deeglik daarvan bewus dat die universiteit se demografiese verteenwoordiging die afgelope dekade drasties verander het namate die US ook al hoe meer daarop gerig is om die hele Suid-Afrika se bevolking te bedien.

“Internasionale studente op die kampus kom tans uit meer as 120 lande. Konvokasielede se getalle het drasties toegeneem op die Afrika-vasteland buite Suid-Afrika se grense.”

Die US-konvokasie se meer as 129 500 alumni as lede se menings dek ’n wye spektrum. Viljoen sê daar kan kwalik verwag word dat hulle uit een mond sal praat.

“Dit is belangrik dat konvokasielede kennis neem van verskillende opinies onder alumni, veral van die meer onlangse geslag van alumni. Hulle mag nie altyd saamstem en mag nie altyd hou van wat gesê word nie, maar in die gees van die akademiese debat glo ek dat ons na mekaar moet luister op ’n beskaafde wyse, met respek vir verskillende menings.”

Die US se Institusionele Plan (2012 tot 2016) beskryf transformasie as 'n voortgesette reis wat ten doel het om die universiteit na ’n vlak te neem waar dit beduidend anders en beter is vergeleke met die verlede.

Hopelik is volgende week se konvokasievergadering die voortsetting van ’n reis na ’n beter bestemming vir Matieland – ’n universiteit waar diversiteit in al sy kleur- en taalskakerings kan gedy sonder om enige groep weg te transformeer. Eers dan kan Stellenbosch werklik sê hy staan vir ’n idee.

  • Konvokasielede wat die geleentheid wil bywoon, moet vooraf kennis gee van hul voorneme by rsvp@sun.ac.za. Alle US-gegradueerdes, US-gediplomeerdes ná 2010 en voltydse akademiese personeellede van die US is lede van die konvokasie. Die konvokasie se jaarvergadering is nie ’n openbare byeenkoms nie, maar slegs vir lede van die konvokasie. Elke konvokasielid mag ’n gade saambring.
  • 4

Kommentaar

  • Een van die eise van #FeesMustFall is reeds vroeg in 2016 aan Nzimande gestel: all education must be in English only.
    Al hoe Afrikaans as wetenskapstaal, vrye akademie en outonomiteit beveilig kan word, is dat die US transformeer, na 'n private universiteit waar ook "die plaaswerker se dogter"(RB) bemagtig kan word.
    Wie is die hedendaagse visioenêre magnate wat Jannie Marais op Stellenbosch se plek as die grootste weldoener gaan inneem en sy Wes-Kaapse erflating beveilig?
    Gaan die Het Jan Marais Trustees, Naspers, die Curro-groep, kanselier Rupert, donateurs en al die ander welaf alumni ook kapituleer om die politieke onregte van die verlede te herstel met 'n Engels alleenlik op US?
    Ek herinner my die volgende:
    Met verwysing na die Taalmonument, is Afrikaans as die “ugliest language in the world” deur die Britse ontwerptydskrif, Wallpaper (Sept 2005), beskryf.
    Johann Rupert (voorsitter van Remgro en Richemont) se moedertaal was beledig, en hy het onmiddellik alle advertensies vir luukse handelsmerke soos Cartier, Montblanc, ea uit hierdie gewilde glanstydskrif onttrek.
    Dekades voorheen het 'n ander welaf Stellenbosser en kampvegter vir sy moedertaal, Jannie Marais, die totstandkoming van 'n nuwe universiteit met 'n reuse erflating befonds en sodoende verengelsing deur die destydse Unieregering verhoed. Een voorwaarde was minstens 50% Afrikaans as onderrigtaal, en “geen mindere plaats dan de andere officiële landstaal zal innemen”.
    Dit is honderd jaar later, en wéér word Afrikaans bedreig en nou selfs uitgesonder as die sondebok wat vir apartheid se sondes geoffer moet word. Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die sestigerskrywers reeds meer as vyftig jaar gelede Afrikaans bevry het van die apartheid-broederbond se taalmisbruike.

    • Hoop van harte daar is Afrikaanse magnate wat sal waarborg dat Afrikaans aan die US sal kan voortbestaan. Ek is egter nie voorstaander van aer trek nie. Met 'n man aan hoof van een van die Mediese skool se departemente en die ma van twee dogters wat dokters is, een het klaar aan die US gespesialiseer en die ander een is besig om te spesialiseer by Tukkies se mediese skool ('n mediese skool wat sy deure behoort te sluit agv die swak spesialis-opleiding) weet ek dat dit belangrik is dat beide Engelse en Afrikaanse vaktaal belangrik is om in ons land of elders in die wêreld te kan werk. Die geheim is balans, soos met alles in die lewe. Dan kan en mag ons nie vergeet watter skade die apartheidsregering aan die opvoeding van ons mede-landgenote gedoen het nie. In 'n sekere sin kry ons terug wat ons uitgedeel het!

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die kern van die saak is: Wim de Villiers en Afrikaans kan nie saam aan die US voortbestaan nie. Daar moet gekies word. Ek kies Afrikaans.

  • Die vraag is Quo Vadis Maties?
    Wim de Villiers is nie die enigste Trojaanse perd aan die US nie, saam met hom is dit die bestuur, senaat, "226" ondertekenaars, en professore soos Gouws, de Lange, van der Walt, van Niekerk en kie wie swig voor die intimidasie van die militante OS (nie die gekastreerde bul nie). Voor de Villiers was die aanvoorwerk reeds deur vise-kanselier Brink gedoen. Interessant, almal met Afrikaanse vanne.
    Vreemd is dit dat akademici aan US wie vir Afrikaans se voortbestaan is, tjoepstil is in die openbare politieke taaldebat. Waarom? Dit is oud-Maties as skrywers en akademici verbonde aan Engelse universiteite wie die drogredenasies van die Trojaanse perde op die US aan die kaak stel.
    My vraag is: wat as die Trojaanse perde die meerderheid stemme tydens die Konvokasievergaderings in die toekoms oorheers?
    Alleenlik 'n PRIVAAT outonome universiteit kan die vyande van Afrikaans uit Stellenbosch hou, duidelik nie die grondwet nie. Afrikaansprekers is die meerderheid in die Wes-Kaap. Die tyd is NOU dat almal hul VERSET en EIS dat hul Marais-erfenis teruggegee/gekoop word en PRIVATISEER tot voordeel van bruin, wit en swart Afrikaanstaliges. Dit is die enigste reguit pad vorentoe hoe die onreg van apartheid op US reggestel kan word, en nie die onseker roete van Wim en kie wat die voorwaardes van Marais se skenking met 'n politiekkorrekte geveinsdheid probeer systap nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top