Queen of the Free State deur Jennifer Friedman: ’n resensie

  • 1

Queen of the Free State
Jennifer Friedman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081616

Hier is een antwoord op wat ’n skrywer laat begin skryf.

Dit boei gewis: die kinderjare van ’n Joodse dogtertjie op die Vrystaatse platteland in die 1950’s en 60’s. Dié jong dogtertjie, haar ouers se oudste kind, wat ’n verjaardag met Haar Majesteit deel.

Dit is waar die skrywer en digter (en loods) Jennifer Friedman se storie begin. Die skrywer se agtergrond lok ’n mens na so ’n memoir, ’n boek wat jou ook na jouself laat kyk.

Jy wonder hoe jóú storie sou lees met die neerskryf. Waar sou jy begin? Wat insluit of skrap? Maar oor die ontstaan van ’n skrywer: sekerlik lei allerlei soorte blootstellings daartoe en terselfdertyd ’n lewensverhaal wat iets unieks bevat.

Tog is dit opvallend dat Friedman soveel parallelle met die befaamde, ontslape Afrikaanse Joodse digter, Olga Kirsch het. Kirsch het immers ’n  paar dekades voor Friedman dieselfde hede ervaar – in Koppies in die Vrystaat en sy was ook Joods.

Albei het in Afrikaans gedigte gepubliseer.

En hoe wonderlik is dit nie om ’n skrywer se vormingsjare te sien afspeel nie, so visueel is hierdie vertellings. Ditto die gebruik van die teenwoordige tyd vir gebeure van ongeveer vyf, ses dekades gelede. Dis herkenbare scenario’s wat jy jou werklik kan voorstel. En dis lieflik om die wêreld van daardie tyd deur die oë van ’n kind te sien, soos baie boeke se hoofkarakters nog in ’n kinderkleed. (Dink maar aan Roepman en Ons is nie almal so nie, toevallig twee boeke wat min of meer tydperke in Friedman se grootwordjare weerspieël.)

Sy laat skryf ook eenvoudig lyk, maar die subteks weeg swaar. Tog is dit werklik so mooi verwoord. Dis glad nie oorbeskryf nie, maar tog word fyn aandag aan detail gegee. En sy gebruik ’n lekker soort Engels, maar is ook nie skaam vir die insluit van Afrikaanse woorde nie.

Die keuse van die eerste sin “Tell me a story, Ma” verhelp dit en verhoog dit verder. Dié eerste hoofstuk se skaars drie bladsye neem die leser klaar op toer.

Vir ’n oomblik dink die resensent aan die bundel Herinnering se wei waar skrywers oor hul grootwordjare vertel.

Queen of die Free State kon as fiksie net so goed gewerk het, want hier word die kuns van storie-vertel vervolmaak.

Soos wat sy ook later in haar lewe ’n loods geword het, is elke hoofstuk ’n ander vlug waarop sy jou neem.

En die gebeure in haar lewe wek verskillende emosies. Veral aandoenlik is die skrywe waar sy ’n VLU (Vrouelandbou-unie) -ontmoeting onderbreek toe hulle by die skool ingelig is om die moord op HF Verwoerd aan hul ouers te gaan oordra.

So figureer baie karakters uit haar kleintyd telkens, Marta, Isak, die hond Sandy en later Sara (wat nie so lank deel van haar lewe was nie). Ook word met smaak van haar Joodse grootouers vertel.

As getroude vrou het sy en haar gesin in Australië gebly. Sy het ’n gekwalifiseerde loods geword (kyk uit vir haar pa se misnoeë met dié loopbaankeuse).

Die epiloog bly die sterkste by my.

Sy het haar hoërskoolloopbaan aan die Kaap voltooi. In daardie stadium het haar ma met ’n telegram laat weet dat hulle ook Kaap toe sou verhuis. Die epiloog is soos ’n skrywe ter afsluiting ... so roerend.

Dis so hartseer, maar so lewendig, dáárdie opskryf – letterlik die einde van ’n hoofstuk. Dis ’n tydperk wat verby is, maar ’n storie wat bly.

Foto van Jennifer Friedman: verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Hi ... terloops jou interview op RSG gehoor.
    Ek is ook 'n vrou wat groot geword het in die VS. Ek is ook fotograaf en dis in my kop om fotos van die VS te neem om die mooi daarvan uit te beeld vir die mense wat niks weet van die VS. Gaan verseker jou boek lees! My Pa vertel altyd vir my die stories van die ou dae! Ek kan nie wag om jou boek te koop en te lees nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top