PW Botha en die Cradock Vier

  • 10

……

“Die eerste president van daardie nuwe bedeling, Nelson Mandela, het verwys na die dood van die Cradock Vier as die keerpunt van die vryheidstryd. Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkhonto en Sicelo Mhlauli is op die wreedste manier deur lede van die veiligheidsmagte buite Port Elizabeth vermoor.”

……

Vyf-en-dertig jaar gelede het Matthew Goniwe politieke amok gemaak in die Karoo. Hy en drie kamerade van Cradock is toe vermoor. Kort daarna het staatspresident PW Botha sy veelbesproke Rubicon-toespraak in Durban gelewer. Nou, met die terugskouing na 1985, kan ’n hertaksering gedoen word. Dié gebeure saam het Suid-Afrika se geskiedenis onherroeplik op koers geplaas na ’n nuwe bedeling.

Die eerste president van daardie nuwe bedeling, Nelson Mandela, het verwys na die dood van die Cradock Vier as die keerpunt van die vryheidstryd. Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkhonto en Sicelo Mhlauli is op die wreedste manier deur lede van die veiligheidsmagte buite Port Elizabeth vermoor.

Begrafnis van die Cradock Vier (Foto: Gille de Vlieg [CC BY 4.0], Wikimedia Commons)

In die tagtigerjare is die Oos-Kaap, en Cradock in die besonder, as die “naaf” van die revolusie beskou. Dit was veral te danke aan Goniwe en Calata. Hulle was onderwysers in die township Lingelihle buite Cradock.

My pa was in daardie tyd ’n dokter op die dorp. Hy het my eendag uit die bloute gebel en gesê hy wil my graag aan een van sy pasiënte voorstel. Goniwe was volgens my pa ’n besonderse mens. Ek was toe ’n aktualiteitsregisseur in die SAUK se politieke redaksie. My pa het gemeen ek sou meer insig kry in wat alles in die Oos-Kaap aan die gang is as ek met Goniwe praat.

Ek het begin reëlings tref om Cradock toe te gaan, maar voordat ek kon vertrek, is die nuus ontvang dat die vier vermoor is.

Goniwe was ’n gekwalifiseerde wiskunde- en wetenskaponderwyser. Maar hy was ook ’n aktivis. Hy was ’n streeksleier van die UDF in die Oos-Kaap. Die UDF was as ‘t ware die binnelandse burgerlike been van die verbode ANC. Daarby was Goniwe onder andere die voorsitter van Cradora, ’n inwonersvereniging van Cradock. Hy en Fort Calata het wyd gereis in die provinsie, en selfs nasionaal, om opstand te stook.

Met hulle aanmoediging het die swart raadslede van Cradock in Januarie 1985 almal bedank. Ander munisipaliteite in die Oos-Kaap is gevra om dieselfde te doen. Verskeie boikotte van (wit) besighede is ingestel. Mense wat die boikot verontagsaam het, se goedere is gekonfiskeer. Enkele “verraaiers” is gehalssnoer.

Cradock het basies in ooreenstemming met ANC-beleid onregeerbaar geword en was volgens die weermag in effek die eerste gebied in die land waar ’n alternatiewe regeringstruktuur suksesvol gevestig is.

Die “swart” Departement van Onderwys en Opleiding het besluit om Goniwe te neutraliseer deur hom aan die begin van 1984 na Graaff-Reinet te verplaas.

……

“Ek was toe ’n aktualiteitsregisseur in die SAUK se politieke redaksie. My pa het gemeen ek sou meer insig kry in wat alles in die Oos-Kaap aan die gang is as ek met Goniwe praat. Ek het begin reëlings tref om Cradock toe te gaan, maar voordat ek kon vertrek, is die nuus ontvang dat die vier vermoor is.”

……

Goniwe het geweier en uit protes is ’n onderwysboikot in Cradock se skole gereël wat sowat 15 maande geduur het. Die nuwe adjunkminister van dié departement, Sam de Beer, wat onder die Departement van Samewerking en Ontwikkeling geressorteer het, het geglo die oorplasing was onbillik en dat Goniwe eerder by sy ou skool heraangestel moet word, selfs as hoof. Só sou hy amptelik die status kry wat hy in elk geval in die gemeenskap gehad het. Dan sou met hom onderhandel kon word oor die oplossing van griewe onderliggend aan die opstand.

Die kabinet het dié benadering goedgekeur en besluit dat De Beer, sy minister, Gerrit Viljoen, die minister van verdediging, Magnus Malan, die polisieminister, Louis le Grange, en die polisiekommissaris, generaal Johann Coetzee, ’n strategie moet uitwerk om die plan in werking te stel.

De Beer het met verskeie rolspelers in Cradock gepraat terwyl hy tevergeefs gewag het vir die polisie se inset oor die voorgestelde heraanstelling van Goniwe.

Soos in minstens twee ondersoeke, en voor die Waarheid-en-versoeningskommissie getuig is, is in briefwisseling tussen lede van die Staatsveiligheidsraad in die Oos-Kaap ooreengekom  om van Goniwe “ontslae  te raak”. Ook dat hy “permanent uit die samelewing verwyder moes word”. Dit ondanks ’n kabinetsbesluit.

Calata se ma, Nomonde, vertel dat die hoof van die veiligheidspolisie in Cradock, majoor Eric Winter, een aand ’n tyd voor die moorde by hulle huis ingebars het. Hy wou weet waar Fort is. Winter sê toe: “Sê vir hom as ek hom in die hande kry, gaan hy  k**.”

Op die aand van 27 Junie 1985 is die Cradock Vier by ’n polisiepadblokkade in Port Elizabeth voorgelê nadat hulle ’n vergadering van die UDF bygewoon het. Goniwe en Calata is van die ander twee geskei. Al vier is veelvuldige kere met skerp voorwerpe gesteek en hulle lyke aan die brand gesteek. Goniwe en Calata se lyke is eers vyf  dae later by Bluewaterbaai buite Port Elizabeth gekry.

PW Botha in 1962

Die moorde van die Cradock Vier het skokgolwe deur die land gestuur en internasionaal opslae gemaak.

Die vier se begrafnis was ’n werklikheidsverskuiwingsgebeurtenis. Na raming het sowat 40 000 mense van heinde en ver na Cradock gestroom om die begrafnis op 20 Julie by te woon. Fort Calata se seun, Lukhanyo, vertel in ’n onlangse boek hy was maar drie jaar oud. Die begrafnis is al wat hy van sy pa kan onthou. ’n Mens kan jou voorstel watse uitwerking dit gehad het op ’n jong seun as derduisende mense toi-toi en luidkeels slagspreuke skreeu. Die aarde het letterlik gebewe en hy was bang die grond sou meegee en hulle insluk.

By die begrafnis was dit die eerste keer ooit dat so ’n massiewe rooi vlag van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en ook talle ANC-vlae van swart, groen en goud blatant rondgeswaai is. Vryheidsliedere is uit volle bors gesing.

Talle polisiemanne was teenwoordig, swaar bewapen en met Casspirs.

Maar hulle het net gestaan en toekyk ...

Kort na die begrafnis het die staatspresident, PW Botha, ’n noodtoestand in 36 landdrosdistrikte in die land  aangekondig.

Verskeie gevolgtrekkings kan gemaak word:

  • Die regering het in die townships begin beheer verloor.
  • Met die ongehinderde rondswaai van die ANC- en SAKP-vlae en sing van vryheidsliedere is ’n sielkundige grens na meer uitdagende verset oorgesteek.
  • Die Staatsveiligheidsraad het ’n gesagstruktuur geword wat parallel met die regering sy eie besluite geneem het.
  • Die bestaan van ’n moordbende in die geledere van die vryheidsmagte het al hoe waarskynliker gelyk.
  • Met die aankondiging van die noodtoestand (die eerste sedert Sharpeville in 1960) het die regering van PW Botha die weg van geweld eerder as onderhandeling ingeslaan. Dit is in sy Rubicon-toespraak minder as ’n maand later bevestig.

Groot gewag is daarvan gemaak dat PW Botha die spreekwoordelike Rubicon sou oorsteek met ’n aankondiging oor stappe vir die grondwetlike akkommodasie van swart mense in die regering. Die verligte minister van buitelandse sake, Pik Botha, het die boodskap internasionaal versprei. Die hervormingskonseptoespraak is saamgestel deur die minister van staatkundige ontwikkeling en beplanning, Chris Heunis, op grond van ’n kabinetsbespreking. Maar toe hy dit ontvang, het ’n ontstoke PW Botha gesê hy gaan nie ’n “Prog-toespraak” (met verwysing na die Progressiewe Party) lewer nie. Op 15 Augustus 1985 het Botha by die Nasionale Party se kongres in Durban dit op sy tipies bombastiese manier duidelik gemaak dat hy hom nie sal laat voorskryf nie. Van die veelbesproke Rubicon-beloftes het niks gekom nie. Die toespraak is glo regstreeks na meer as 200 miljoen mense in die wêreld uitgesaai. Die reaksie was oorweldigend negatief.

Volgens die destydse president van die Reserwebank, Gerhard de Kock, het die toespraak die land minstens een miljoen rand per woord gekos soos wat buitelandse beleggingsgeld en lenings onttrek is. Die land kon nie meer sy skuld betaal nie en was verplig om ’n moratorium te verklaar. Verskeie lande het sanksies teen die land afgekondig.   

……

“Met die terugskouing na 35 jaar gelede is dit duidelik dat Matthew Goniwe en die dorpie Cradock in die Oos-Kaap wesenlik bygedra het tot ’n versnelde politieke proses na demokrasie. PW Botha het met sy politieke weerbarstigheid in die Rubicon-toespraak in Durban, en die ekonomiese uitval daarna, ook die proses verhaas … maar soos hy hoegenaamd nie wou nie.”

……

In die eerste ses maande van die noodtoestand is na raming 575 mense in onluste dood. Daarna is die noodtoestand opgehef, maar dit moes gou heringestel word, en boonop landswyd. Binne ’n jaar is nagenoeg 26 000 mense in hegtenis geneem. Verskeie kommentators het al bespiegel dat die apartheidsregering waarskynlik nog jare die politieke opstand militêr sou kon weerstaan het, maar ekonomies was hy bankrot. 

Met die terugskouing na 35 jaar gelede is dit duidelik dat Matthew Goniwe en die dorpie Cradock in die Oos-Kaap wesenlik bygedra het tot ’n versnelde politieke proses na demokrasie. PW Botha het met sy politieke weerbarstigheid in die Rubicon-toespraak in Durban, en die ekonomiese uitval daarna, ook die proses verhaas … maar soos hy hoegenaamd nie wou nie.

Dit blyk dis nog nie die einde van die Cradock Vier-storie nie. Tydens die sitting van die Waarheid-en-versoeningskommissie oor die saak in 1998 het sewe lede van die polisie en weermag amnestie gevra vir hulle aandeel aan die moorde van die vier. Dis geweier omdat die volle verhaal nie vertel is nie. Nou het die Nasionale Vervolgingsgesag aangedui dat sulke gevalle van politieke moorde ondersoek gaan word.

Diegene wat gedink het die permanente verwydering van Goniwe uit die samelewing sou sy storie stilmaak, kan ontnugter word. 

  • 10

Kommentaar

  • Amper tipiese grawe uit die koeie se sloot net om die huidige, weersinswekkende gewelddadigheid van die "Black Lives Matter" te ondersteun. Die apartheidsjare is DOOD! Hierdie daad is ten volle afgehandel deur die Waarheids- en Versoeningkommissie! Die blote verwysing na hierdie tyd neem die fokus weg van die huidige vernieting van die Mandela-nalatenskap. (BLM, Freek). Waarom jy nét hierdie insident gebruik as die sogenaamde "draaipunt", is bloot nie waar nie. Fokus op vandag se wreedhede, asseblief.

  • Gedurende 1998/9 het ons die infrastruktuur in van die townships, aan die Oos-rand, soos rioollyne, wateraansluitings, ens. gedoen. In baie van die townships was die NP toe nie meer in beheer gewees nie. Alhoewel hulle dit geglo het. Ek onthou toe ek ’n voorstel op een van die terreinvergaderings gemaak het, nadat ons gekaap en gesaboteur is, dat ons met die ANC moet onderhandel het almal my vuil aangekyk en reguit gesê hulle onderhandel nie met terroriste nie. ’n Maand of twee later het ons, ons het gereeld vergaderings gehou en ons kon die projekte voltooi.

  • Daardie tydstip in my lewe was chaoties as15jarige skoolgaande, opgesluit sónder dat verwante weet waar ek is vir 28dae sonder verhoor

  • Avatar
    Chris Erasmus

    My beskeie mening is, en ek glo nie ek is verkeerd nie, dat Mnr Robinson een of ander tyd in sy lewe as 'n befaamde joernalis, 'n bloutjie met Mnr PW Botha geloop het. Al raad wat ek het is, Mnr Robinson, beweeg aan. Mnr PW Botha is ter ruste gelê. Jy kan nie ou koeie uit die sloot grawe nie. 'n Saak het altyd drie kante. Myne joune en die waarheid. Ek kan nie die kloutjie by die oor kry nie. Wat is jou punt?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top