Psigedeliese kitaarnote en selferkende vegans

  • 1

Richard Hawley – Standing At The Sky’s Edge

Koop Standing At The Sky’s Edge by Kalahari.com.

Richard Hawley se sewende album se titel herinner mens aan Jimi Hendrix se gevleuelde woorde: “’Scuse me while I kiss the sky.” Psigedeliese musiek.

En dit is ook wat Hawley op hierdie album probeer doen – effense heavy kitaarklanke ingevoeg in sy eie soort lakonieke, melancholiese musiek. Hy het sedert hy by Pulp weg is al ’n styl van sy eie gevestig: musiek wat klink asof dit net gemaak kan word in ’n nagklub waar almal kettingrokers is en Hawley self soos Bogart van ouds met ’n sigaret in die een mondhoek sing.

Vergeet maar eers van die visuals wat dié beskrywing by mens oproep – Hawley is, alles in ag genome, iemand wat die letsels van sy haaslip met trots dra.

Die musiek is belaglik goed. My klankversterker kan nie hoog genoeg oopgedraai word daarvoor nie. Die openingsnit, “She Brings The Light”, begin met so ’n lang atmosferiese psigedeliese opbou, en dan neem Hawley gans die kosmos oor met sy dreunende kitaar.

Die titelsnit handel oor die Sky Edge-buurt van Sheffield in Engeland, waar misdaad die norm is. Die kontras van die musiek met die hunkering in Hawley se lirieke, die weemoed en meevoerende depro-lirieke is opvallend. Hy hou daarvan om jou op ’n sekere manier te laat reageer, en dan val hy weg met ’n solo wat in ’n ander rigting beur. Om nie te vergeet van die effens verwronge (erm, psigedeliese) kitaarnote wat lank oor uitgerek word terwyl Hawley van daardie eensame vrou op die kaai sing nie.

Eienaardig genoeg is dit ’n liedjie wat handel oor ’n pa wat sy kinders neem om hul vlieërs te vlieg, “Don’t Stare At The Sun”, wat uiteindelik die plaat se hoogtepunt is.

Maar miskien is dit ’n kwessie van smaak, omdat ek versot is op Hawley se sagter klanke.

Net ’n woord van vermaning: As jy nog nie Hawley se albums Coles Corner (2005) en Truelove’s Gutter (2009) in jou versameling het nie, wonder ek hoekom jy die moeite gedoen het om in 2012 te kom aanmeld. Wakkerskrik!


Blackie and The Rodeo Kings – Kings and Queens

My vriend Pieter Swart in Vancouver het my leer luister na hierdie swaaiballe. Hulle is ’n Kanadese country-groep met ’n sleg gewoonte om soms soos ’n ou Skotse folk-groep te klink in onbewaakte oomblikke.

Vir hierdie album het hulle ’n klompie chanteuses nadergetrek, en hulle maak die album ’n 14-snit-wonderwerk. Mense soos Lucinda Williams, Sara Watkins, Cassandra Wilson, Patti Scialfa, Emmylou Harris en so meer. Vrouens wat kán sing.

Ek kon niks swaks op die album vind nie – wat mens nogal laat wonder wat jy nóg mis as iets só skitterends nie maklik verkrygbaar in Suid-Afrika is nie. Slaan dus die internet, koop en laai af. Die klankgreep wat ek aanhaak, is “Another Free Woman gets To Walk Away”, die snit waarop Sara Watkins saam met die groep sing. Dit sal hopelik genoeg motivering wees.

Kortliks
Koop The Idler Wheel Is Wiser Than the Driver of the Screw and Whipping Cords Will Serve You More Than Ropes Will Ever Do by Kalahari.com.
Koop Love is A Four Letter Word by Kalahari.com.


Joe Jackson – The Duke:
Ek is ’n baie groot bewonderaar van Joe Jackson, maar sy poging om die musiek van een van my helde, Duke Ellington, vir ’n moderne gehoor luisterbaar te maak, is afgryslik. Vermy dit as jy goeie smaak het.

Fiona Apple – The Idler Wheel Is Wiser Than the Driver of the Screw and Whipping Cords Will Serve You More Than Ropes Will Ever Do: Tori Amos het dit nooit vir my gedoen nie. Fiona Apple het ’n beter kans, omdat sy goeie musiek skryf. Wat ’n mens van haar moet weet, is dat sy op 12-jarige ouderdom verkrag is, dat sy ’n selferkende vegan is, en dat sy al haar musiek en lirieke self skryf. Dit is onmoontlik om na hierdie album, haar vierde, te luister as jy in ’n optimistiese, vrolike bui is. Sy gaan jou lem. Haar musiek is ’n oop wond, het een Amerikaanse kritikus gesê, en hy het vergeet om te noem van haar humor. Op “Periphery” speel sy die klavier en sing. Ek vermoed die voetstappe op gruis wat mens hoor, is ook hare. Ek moet erken, sy kruip mettertyd onder mens se vel in. Mens kan nie anders as om te hou van die manier waarop sy haar mansvriend op “Regret” karnuffel nie. Maar wees gewaarsku, Fiona Apple is nie maklik nie.

Jason Mraz – Love is A Four Letter Word: Jason Mraz is ’n vegan, nes Fiona Apple, en hy is ook versot op die gebruik van lirieke wat aaneenloop, wat klink asof hy sinne sing wat nooit punte het nie. Nes Apple. Maar Mraz is nie so introspektief en intens soos Apple nie, en hy het ’n ystergreep op die ding wat Apple so knaend ontwyk, die melodie. Hierdie album is ’n geringe verbetering op We sing. We dance. We steal things (2008) – maar daardie plaat was reusagtig goed, en mens kon nie te veel van ’n sprong verwag het nie. Die kitaarspel is steeds opvallend goed, en die klankproduksie weer eens ’n lus vir die oor. Hy ken nog van trefferliedjies komponeer (“I won’t give up”), wat sekerlik nie onwelkom is nie, selfs al maak die man sy eintlike geld as avokado- en aarbei-boer.

  • 1

Kommentaar

  • Bly te kenne Blackie and the Rodeo Kings, dankie vir die bekendstelling, Kerneels - daai liedjie "Another free woman ..." het skop, wil graag meer van hulle hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top