Protes – in die proses

  • 0

Etienne van Heerden het na aanleiding van sy "Op my duimnael" vir 'n paar skrywers wat hy gemeen het van hom sal verskil, gevra om te reageer. Hier is Naomi Meyer se reaksie:

 

Wat verwag ’n gemeenskap van sy skrywers en kunstenaars? Hoe lyk protes, en het ’n land ooit genoeg daarvan?

Dié vrae laat my dink aan ’n Strafreglesing, jare gelede: vyf redes waarom tronkstraf toegedien word. Voorgeskrewe antwoord: die skuldige party word gestraf, die samelewing sien dat straf toegedien word, die oortreder word ’n kans tot rehabilitasie gebied ... Ek weet die lys het nog aangegaan – daar was nog méér “redes” waarom dit so danig geslaagd is om mense tronk toe te stuur. Maar wat my bybly van hierdie betrokke lesing is - kennelik - nie al die hoofpunte wat ek van die swartbord afgeskryf het nie. Wat ek wel helder onthou, is my dosent se siniese hoonlag terwyl hy die redes waarom tronkstraf as tug aangewend word, aan ons afgerammel het. Was dit dieselfde dosent wat ons klas een slag saam met die staatspatoloog lykshuis toe vergesel het, die een wat, met ’n kadawer onder die elmboog, vertel het van sy passie vir opera? Die dosent se sinisme omtrent tronkstraf onthou ek ook, want ek onthou hóm. Sy stille “protes” teen tronkstraf, soos geblyk het uit sy lyftaal, was bysaak. Die karakters uit daardie hoofstuk van my lewe, dís wat my bybly.

Kom ons begin voor: Hoe skryf ’n mens ’n storie?

Boy meets girl.

Maar moet om hemelsnaam tog nie dadelik toelaat dat dié twee saam in die bed spring nie, want dan blus ’n mens die vuur voor hy vlam vat. Die soektog moet so lank as moontlik duur – hou jou leser aan die raai. Moenie hom onmiddellik gee wat hy wil hê nie. En terwyl jy nou besig is om die karakters ’n bietjie vleis te gee, waarom dik jy nie sommer die agtergrond se intriges ook aan nie (dit dra immers by tot die aksie en die drama) - en hoe klink dit met ’n bietjie protes, op die koop toe?

Geld praat hard. Geld is magtiger as die pen.

Het skrywers werklik ’n groot rol gespeel om die val van Apartheid te bewerkstellig? Die Sensuurraad het hul boeke help verkoop, het veroorsaak dat skoolkinders agter die tennishuisies Kennis van die Aand gelees het, dis gewis.

Die BBC vertoon verlede jaar ’n uitstekende program, Seven Ages of Rock,  waarin hul onder meer verslag doen van protes wat so subtiel in Bruce Springsteen se "Born in the USA" versteek was dat dit uiteindelik tot groter verkope van die kunstenaar se werke gelei het – juis omdat die Reagan-regering, teen wie die verset gemik was, die lied as patrioties aan die volk voorgehou het.

Kunstenaars speel beslis ’n rol. Maar dalk is hul rol, soos iemand oor die Nigeriese skrywer Chimamanda Adichie se Half of a Yellow Sun skryf, om ’n geheue te help wees.

Groot kunswerke boekstaaf dikwels die geskiedenis: vader en seuns Brügel, Rembrandt, Goya en Dalí praat dieselfde taal, uit hul totaal uiteenlopende tydsgeeste: Só lyk die wêreld uit my oogpunt. Kyk saam met my, kyk mooi. En dan gaan jy weg en jy gaan sien die wêreld soos wat jy dit sien.

Dalk vat jy ’n stukkie van hom saam.

As jy hom eenmaal gesien het, is die verdrinkende hond daar uit die Prado eendag, jare later en ver weg van Madrid, onverwags weer in ’n mens se kop. Daar word bespiegel dat Goya hierdie skildery uit protes teen oorloë vroeg in die negentiende eeu geskilder het. Maar dis nie hoekom ek die skildery se atmosfeer onthou nie. Ek onthou dit want die kuns het gewerk.

Skryf kan ’n baie selfsugtige aksie wees.

Ja, mense skryf inderdaad om protes aan te teken, want mense skep kuns omdat iets tot hul spreek. Elkeen word van binne gedring om hul eie stempel af te druk: kyk, ek was hier, ek plant my vlag op die maan, ek skryf graffiti op jou (Facebook-) muur, ek het geleef, hier is ek, sien my raak!

Wat maak dit regtig saak as mense se motivering om iets te skryf enigiets met protes aanteken te make het?

Die grootste kuns is waarskynlik om ’n boek te skryf wat mense wat lees om te vergeet, sal onthou. Die karakters, die plot, die intriges. As die skrywer protes in die proses aanteken en nog steeds sy leser tot op die laaste bladsy behou, is dit geslaagd.

Want die belangrikste is nie of die protes geskrýf is nie.

Dis of die protes geléés is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top