Protea Boekhuis vier 25 jaar van publikasies

  • 1

Tyd. Ons meet dit in sekondes, minute, ure. Later word die ure dae, maande en selfs jare. Vyf en twintig jaar om spesifiek te wees, en ná ’n kwarteeu van boeke uitgee, is Protea Boekhuis nog volstoom op pad vorentoe.

As jy rondgekyk het by die feesviering wat Woensdagaand 3 Mei 2017 by Ruslamere in die Kaap plaas gevind het, sou jy kon sien hoe wyd Protea Boekhuis se netwerk strek. Die atmosfeer was gesellig, soos ou vriende wat saamkuier.

Nicol Stassen, die besturende direkteur en stigter van Protea Boekhuis, het die vreugdes en hartseer van Protea gedeel.

Nicol Stassen aan die woord

Die hartseer wat swaarste op die geleentheid gedruk het, is die sterwe van Karel Schoeman slegs 2 dae tevore. Karel was ’n bekende Suid-Afrikaanse skrywer, wat wêreldwye erkenning ontvang het. Protea Boekhuis en Schoeman stap al ’n lang pad saam, en van sy laaste woorde is geskryf in ’n e-pos aan Nicol Stassen. Schoeman het in Desember dele van sy planne met Nicol bespreek, en hierdie e-pos het die laaste verslae van sy besoek aan Lesotho ingesluit. Schoeman skryf: “Ek teken hierdie dinge op uit pligsgevoel, as ’t ware onder dwang, want dit is nie meer vir my vanselfsprekend om te skryf nie. Nie meer ’n vreugde nie, laat staan nog ’n bevryding, en woorde kom ook nie meer vanself nie.”

Daar was reeds geskeduleer dat Protea Boekhuis twee boeke van Karel Schoeman vanjaar sal uitgee. Die eerste, reeds by die drukker, is Afskeid aan Europa, wat ’n aanduiding is dat hy met die afskeidsproses besig was. Dit is ’n intense en persoonlike boek, en aangrypend in die tyd wat dit verskyn. Die tweede boek is van selfs nog meer persoonlike aard, Die slot van die dag. Dit is, soos die titel aandui, ’n persoonlike slot tot sy lewe en hy verduidelik ook die redes vir die besluite wat hy geneem het. Sy verslae vanuit Lesotho sal ook uitgegee word, onder die naam Die laaste reis.

Die e-pos lui “Moenie moeite doen om hierop te reageer nie, want ek staan op die punt om my rekenaar simbolies af te skakel.” Karel Schoeman sal ’n groot leemte in letterkunde laat, maar hy sal in sy boeke en harte voortleef.

Nicol Stassen oor Karel Schoeman se laaste woorde:

Stassen het ook die suksesse in die boekwêreld gedeel. Verslae wat kyk na die Suid-Afrikaanse boekbedryf vanaf 2009-2015 wys algemene groei in Afrikaans. Veral in Afrikaanse kinderboeke waar 90% groei in fiksie en ’n verstommende 291% groei in niefiksie getoon word. “Maak die slim besluit en gee Afrikaans uit.” Nicol het genoem dat die hoër pryse van ingevoerde boeke moontlik ’n rol speel, maar dat die groei al vir jare getoon word en dat hy glo hierdie tendens sal voortgaan, veral aangesien uitgewers toegang het tot meer en meer hoë kwaliteit werke.

Die prestasies van Protea Boekhuis en skrywers is ook uitgelig:

  • Cas Wepener was een van die ses finaliste vir die UJ-prys met sy boek Syferfontein. Verlede jaar het Ena Jansen se boek Soos familie (ook gepubliseer deur Protea Boekhuis) die prys gewen.
  • Daniel Hugo se vertaling van Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn het vanjaar die SA Akademie se prys vir vertaalde werk verower – die tweede keer dat hy dié prys kry. Publikasies deur Protea Boekhuis het vyf keer ná mekaar die driejaarlikse toekenning ontvang: ’n trotse rekord van 15 jaar.
  • Kobus Geldenhuys het die IBBY-erelys vanjaar gehaal vir sy vertaling van Hoe om jou draak te tem.
  • Wolf Erlbruch het vanjaar die sogenaamde “Nobelprys” vir kinderboeke – die Astrid Lindgren Memorial Award – tydens die Bologna Boekebeurs ontvang. Protea het al twee van Erlbruch se boeke in Afrikaans vertaal. Werke van die wenner van twee jaar gelede, Guus Kuijer, is ook al deur Protea gepubliseer. Vanjaar word daar nog verdere werke van Kuijer gepubliseer.
  • Die filmweergawe van Johnny is nie dood nie, geskryf deur Malan Steyn, het pas begin draai en wen talle pryse op die Silwerskermfees.
  • Nicol Stassen ontvang SA Akademie se erepenning vir die bevordering van geskiedenis.
  • En laaste, maar beslis nie die minste nie, ontvang Protea Boekhuis ’n Tinteltongtoekenning vanaf Afriforum vir die uitgewer wat Afrikaans die meeste bevorder.

Om sulke merkwaardige toekennings te ontvang is egter nie die werk van een persoon nie, maar dui op die span en samewerking in Protea Boekhuis.

Dit is maklik om Protea in jare te meet, en lekker om koek te eet om 25 jaar te vier. Maar die ware prestasie was besonders saamgevat in ’n geskenk wat aan Nicol Stassen oorhandig is. Die plakkaat gevul met die voorblaaie van die boeke wat deur Protea uitgegee is – al 1064 van hulle – is ’n kragtige opsomming van die werk wat die Protea Boekhuis-span lewer. 

Die plakkaat word aan Nicol Stassen oorhandig.

Ons lig ’n glasie op die 25 jaar wat nou in die verlede lê, maar verwag vele meer in die jare wat kom.

Foto's: Suki Lock

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Danie de Villiers

    Baie geluk Nicol met die wonderlike boekeskat wat jy vir ons gegee het. Ek is baie dankbaar. Sterkte vorentoe. Danie de Villiers, Bellville.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top