“Projek Candy” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
***
Projek Candy
Ewald gryp ’n nat lap in die kombuis en vee die spoeg van sy linkerskouer af. Sy oë brand. Hy maak die yskas oop en grou daarin, op soek na melk vir sy koffie. Dan hoor hy weer die baba huil. Hy stap terug kamer toe, maar sy vrou ontmoet hom in die gang.
“Hoe laat is dit?” Anneli trek die pienk kamerjas stywer om haar middel.
Ewald kyk vlugtig na sy horlosie. “Net na ses.”
Hy is laat. Vandag is die dag. Hy soen sy vrou op haar deurmekaarbos hare voor hy omdraai en koers vat deur toe. Buite klim hy in sy wit Toyota-langbak-bakkie. Sy oog vang sy refleksie in die truspieëltjie. Behalwe nou vir die nat kol op sy skouer, lyk hy nes ’n boertjie met sy two-tone hemp. Maar hy is nie vandag op pad na ’n vandisie nie. Hy soek in sy sak vir sy studentekaart. Hy glimlag toe hy dit uithaal, want volgens die kaartjie swot hy al vir jare kernfisika by ’n bekende Pretoria-universiteit. Die kaart is egter sy toegang tot die uraanaanleg. Ewald loer na die ruimte agter die rugleuning. As mens dit nie weet nie, sal jy nie raai dat dit twee versteekte houtkaste huisves nie. Hy kies koers Hartebeespoortdam toe.
***
Pieter stap om die hoek van die plaashuis. Jorik staan met sy rug teen die muur en druk sy sigaret dood teen die beton agter hom.
“Hoeveel tyd het ons?” vra Jorik.
“Bietjie minder as ’n uur.”
Jorik skud nog ’n sigaret uit die pakkie en hou dit na Pieter toe uit. Pieter trek eers sy skouers op en aarsel ’n oomblik voor hy ook een met bewende hande neem.
“Ek’s veronderstel om ’n week terug op te gehou het,” sê Pieter terwyl hy die rook diep inasem.
“Jy’s mal om nou te wil ophou rook. Ons veg vir vryheid en jy’s bekommerd oor jou gesondheid.” Jorik skud sy kop.
“Ek weet, ek weet, dis net, Charlotte hou nie van…”
Pieter se woorde raak weg toe ’n lang blondine by hulle aansluit.
“Julle reg?” vra sy in haar gebroke Engelse aksent.
Sy loer van Pieter na die sigaret, maar sê niks.
Pieter doen sy bes om die rook uit haar gesig te hou. Charlotte gaan sit kruisbeen op die gras tussen hulle en Pieter sukkel om sy oë van haar af te hou. Die patrone op haar kleurvolle minirok fassineer hom en hy moet homself forseer om na Jorik te kyk toe hy weer begin praat.
“Yes! Ná vandag sal almal weet wat die apartheidsregering wil wegsteek.”
Charlotte en Pieter knik instemmend. Hulle het mekaar twee jaar terug by ’n Marxistiese leesgroep by Wits ontmoet wat deur Jorik georganiseer is en ’n hegte vriendskap gevorm weens hul gesamentlike haat vir die Suid-Afrikaanse pers.
“Die media basuin steeds dat hier net mediese radio-isotope gemaak word,” sê Jorik.
Charlotte trek ingedagte grashalms uit die grond.
“You have to admit that it’s an excellent cover story. Helping cancer patients?” sê-vra Charlotte ingedagte.
“Dis ons plig om die totalitêre politieke stelsel te ontbloot,” gaan Jorik voort. “Die media gaan dit duidelik nie doen nie.”
“Het julle vanoggend met Jurgens gepraat?” vra Pieter met ’n frons.
“Nee. Geen kontak tot volgende week nie. Hy ken die plan.” Jorik trap die sigaret met sy swart stewel dood. “Kom, ons moet begin regmaak.”
Jorik bal sy regtervuis saam en skreeu “Amandla” voor hy by die huis in verdwyn.
Pieter kyk vlugtig weer na die sambreelvormige koeltorings wat net-net sigbaar is oor die horison. Dit lyk soos reusagtige betonpiramides met stoom wat saggies uit die punte kring. Die naam is so gepas, dink hy. In isiZulu beteken dit “einde van die storie” en ná vandag sal dit ’n einde maak aan die media en die regering se leuens oor die bestaan van ’n atoombom. Hy vat Charlotte se hand om haar van die grond af op te help. Hul volg Jorik die huis binne.
***
Ewald swaai die bakkie by die lang reguit aanloop na die ingang van die aanleg in. Hy gewaar manne in bruin weermagklere in die lang gras. Die herfslug wat by die venster instroom is koel, maar sweet vorm op sy voorkop en hy vee dit met die agterkant van sy hand af. Dit moet net kommandomanne wees wat besig is met oefeninge. Dit sal niks met hom te doen hê nie. Ewald sluk toe hy die gemonteerde LMG met patroonband sien wat op die ingang gerig is. Daar is meer sekuriteitswagte as gewoonlik en hulle loop almal met 9 mm Uzi’s styf aan hulle sye. Moet hy omdraai? Nee, dit gaan meer aandag trek. Hy kan nie verdag voorkom nie. En duidelik is die LMG-groep die stoppergroep om omdraaiers af te sny. Hy haal diep asem en verminder sy spoed om reg voor die ingang te stop. Die wag wat Ewald tegemoetstap, vra kortaf vir sy ID. Hy bekyk die studentekaart, frons en roep ’n wag in gewone drag nader. Dit moet veiligheidspolisie wees, dink Ewald, vandaar die siviele voorkoms.
“Klim uit,” bulder die man in jeans en ’n T-hemp.
Ewald se hart stoot by sy keel op en hy loer na die paneelkassie. Daarin is twee briewe van onderskeidelik die hoof van polisie en weermag met opskrifte: GEEN IDENTIFISERING OF DEURSOEKING TOELAATBAAR NIE. Projek Candy is uiters geheim en slegs hoogs geklassifiseerde amptenare mag weet waarmee Ewald besig is.
“Deursoek die bestuurder en die voertuig,” gee die wag die bevel.
“Julle kan my nie deursoek nie,” protesteer Ewald. Hy leun oor om die briewe uit te haal.
Die volgende oomblik word Ewald sonder seremonie uit die bakkie geruk. Die Uzi word oorgehaal. Ewald vries. Hy weet dat die wapen met die geringste beweging kan afgaan, en met 25 rondtes van 9 mm patrone kan dit groot skade maak.
“Beweeg,” skreeu die wag en beduie met die wapen dat Ewald die wag in gewone drag moet volg.
In die klein kantoortjie langs die ingang word Ewald beveel om sy hande op die toonbank te plaas. Hulle konfiskeer sy bakkie se sleutels.
“Kyk net na die briewe,” kry Ewald dit uit, maar hy word strak geïgnoreer.
Die wag in gewone klere roep ’n kollega nader en Ewald sluk swaar toe hy die band om die hond se nek sien. Dit is ’n plofstofhond. Die brak stap tot by die bakkie en gaan sit regop by die bestuurder se oop deur. Sy snoet beduie na die agterkant van die sitplek. Die bakkie en veral die houtkaste beweeg gereeld in en uit die plofstofarea van die monteringsaanleg waar Ewald werk. Die hond se slim neus moes die plofstof opgetel het.
“Ontruim,” beveel die hond se hanteerder. Al die voertuie naby die ingang word geskuif, die bakkie se battery word ontkoppel en die sitplek word vorentoe geslaan. Met groot versigtigheid bestudeer die wagte die bedrading. Twee klim onder die bakkie in met ’n spieël om dit van nader te bekyk.
Ewald probeer vinnig dink. Wat doen hy nou?
“Kan ek my bestuurder bel?” vra hy onseker. Hy het nog nie voorheen interne oproepe gemaak nie, maar weet wel wat die uitbreiding is.
Die wag gee onwillig toestemming en kom staan reg langs Ewald toe hy die telefoon aangee. Met bewende vingers skakel Ewald die uitbreiding, maar daar is net ’n snaakse geluid aan die ander kant van die foon.
Die wag loer na Ewald. “Hoe is jy ’n student wat al vir jare hier navorsing doen, maar jy weet nie daar’s ’n kode om intern te bel nie?”
Ewald kyk in die oorgehaalde Uzi se loop vas. Hy het nie ’n antwoord daarop nie.
Die hoof van sekuriteit word oor die radio geroep om te besluit of die bomeenheid van die polisie ontbied moet word. Hy kom vinnig aangestap, maar toe hy Ewald sien vertraag, hy sy spoed. Ewald kan nie help om te glimlag nie. Hy was lanklaas so bly om iemand te sien.
Die hoof van sekuriteit skud Ewald se blad en knipoog terwyl hy vra: “Hoe gaan dit met die swottings?”
Die wagte staar met oop monde.
“Laat sak julle wapens en maak hulle veilig,” beveel hy.
Die wagte luister onwillig. Een vra dan: “Maar hy’s ’n student, sy bakkie het bewyse van plofstofoorblyfsels en wat’s in die houtkaste agter sy sitplek?”
Die hoof van sekuriteit ignoreer die wag en begelei Ewald na sy bakkie toe.
“Ek kan nie nou details bespreek nie,” fluister hy, “maar kyk vanaand die nuus. My manne het amper gedink jy’s een van hulle.”
Ewald kyk op toe ’n weermaghelikopter gevolg deur ’n polisiehelikopter laag oor die ingang vlieg.
***
Ná Ewald die verarmde uraan veilig weggesteek het in die houtkaste agter sy sitplek, ry hy sonder insident terug na sy werksplek. Dis sy taak om die hoeveelheid verarmde uraan, waarna spottend verwys word as “candy”, gereeld van die kernaanleg na die wapenmonteringsaanleg te neem om as pantserbreekammunisie gebruik te word. Dit moet egter hoogs geheim gehou word, want vir elke kilogram verrykte uraan wat vervaardig word, is daar ’n sekere hoeveelheid verarmde uraan. Indien die hoeveelheid verarmde uraan bekend gemaak word, sal dit maklik wees om die verrykte uraan te bepaal en dan ’n idee te kry van hoeveel atoombomme vervaardig word.
***
Terug by die huis word Ewald vriendelik gegroet.
“Hi Pappie, hoe was jou dag?” Anneli is besig om kos te maak, met hul babadogter wat in ’n drasak knus op haar bors slaap.
“Besig,” sê Ewald en kom soen haar op die voorkop. “Ek gaan net gou nuus kyk,” sê hy en verdwyn sitkamer toe.
Hy het net die TV aangeskakel toe die nuus begin. “’n Student is vandag naby ’n kernaanleg doodgeskiet. Die manlike slagoffer is geïdentifiseer as Jurgens Braadtvedt. Drie ander studente is in hegtenis geneem. Die groep was deel was van ’n hoogs opgeleide militêre sel van Umkhonto we Sizwe wat ’n aanval op die aanleg beplan het.”
Anneli kom sluit by Ewald aan. “Wie sou kon dink dat studente sulke goed kan aanvang?” sê-vra sy.
Ewald trek sy skouers op. Hy dink aan die studentekaart in sy eie beursie.
Die nuusleser gaan voort: “Talle gewere, handgranate en ’n SAM7-missiellanseerder is in hul besit gevind. Pieter Steenkamp, Jorik Popović en Charlotte Whitford is aangekeer by ’n plaashuis in Broederstroom, naby die kernaanleg, Pelindaba.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie