Program oor Adam Small op RSG

  • 3

Vriende

Rosalie Small het my laat weet dat RSG vanaand, Dinsdag, na die nuus om nege 'n spesiale program uitsaai oor 'n lang gedig wat Adam spesiaal vir Madiba se 95ste verjaardag geskryf het. Die digter gaan die gedig self voorlees.

Groete
Michael le Cordeur, ATR

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Le Cordeur is die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Onlangs het hy dit wenslik geag om Nelson Mandela namens die ATR op LitNet met sy verjaardag geluk te wens. Vandag is sy entoesiasme blykbaar nie net deur die "Madiba"-gedig geprikkel nie, maar ook omdat hy eerder Kaaps as Standaardafrikaans propageer. Daarby kom ook etniese oorwegings wanneer hy Small se werk ondersteun. Sou Le Cordeur ons aandag op 'n program gevestig het wat Standaardafrikaans besing en/of die aandeel van Afrikaners daarin?

    Myns insiens is dit uiters belangrik dat die ATR hom by taalsake bepaal en die openbare beeld ontwikkel dat die heil van Afrikaans, veral Standaardafrikaans, vir hom erns is.

    Johannes Comestor 

  • Michael le Cordeur

    Liewe Johannes

     
    Prof Small se gedig vir mnr Mandela is nie in Kaaps nie, maar Standaardafrikaans geskryf. Ironies is jy die een wat met 'n rassistiese bril na SA kyk.
     
    Nie almal wat bruin is, praat Kaaps nie, en nie almal wat Afrikaner is, verafsku Kaaps nie.
     
    En wat is verkeerd om Madiba geluk te wens? As jy om jou kyk en luister, sal jy sien die hele wêreld doen dit.
     
    Die Afrikaanse Taalraad bevorder nie net standaardafrikaans nie, maar Afrikaans met al sy varieteite, en standaardafrikaans is maar net een varieteit.
     
    Groetnis
     
    Michael le Cordeur
     
  • Johannes Comestor

    Dit is goed dat Le Cordeur hom verwerdig om kennis te neem van wat selfs iemand soos ek skryf, al lyk dit asof ek sy geduld beproef. Voorspelbaar word onverdiend beweer dat ek met 'n rassistiese bril kyk.

    Ek het nie beweer Small se gedig is in Kaaps nie. Hoe sou ek so iets voor die uitsending kon weet? Daar is geen sprake dat ek Kaaps verafsku nie. In Kaaps is daar ook variasies. Die taal waarin Small soms skryf, is vir my baie meer aanvaarbaar as dié van bv Nathan Trantraal en die koerant Son. Dit is onnodig om vir my te leer dat alle bruines nie Kaaps praat nie. Ek was meer jare as Le Cordeur op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland.

    Nelson Mandela is 'n politieke figuur. Sy geskiedenis is sodanig dat daar talle Suid-Afrikaners is wat hom nie wil vereer nie. Politiek het 'n verdelende uitwerking in samelewings. Juis daarom moet die Afrikaanse Taalraad (ATR) uit die politiek bly. Die argument dat die hele wêreld Mandela gelukwens het, is oordrewe en ongeldig. Die hele wêreld het eens gedink die Aarde is plat en is verkeerd bewys.

    My hoofbeswaar teen Le Cordeur se reaksie is dat Standaardafrikaans volgens hom maar net een van die variëteite van Afrikaans is. Soos in die politiek met mense gedoen word, verklaar Le Cordeur alle soorte Afrikaans gelyk, bv ewe waardevol. Wat by Le Cordeur en die ander ATR-raadslede nodig is, is om hulle politieke en etniese voorkeure agterweë te laat en hulle toe te spits op taalsake, veral hoe om 'n toekoms vir Afrikaans te verseker.

    Dan kan daar geen sprake wees dat alle variëteite van Afrikaans gelyk en ewe waardevol is in die stryd om voortbestaan teen Engels nie. Variëteite van Afrikaans wat dermate deurspek met Engels is dat dit soms moeilik herkenbaar as Afrikaans is en nie sonder kennis van Engels verstaanbaar is nie, kan onmoontlik as skans teen onnodige verengelsing gebruik word. Daar is by my geen beswaar as die ATR die bestaan van alle variëteite van Afrikaans erken nie.

    Dit sou egter dwaas van die ATR wees om energie en middele te gebruik om al hierdie variëteite sonder onderskeid in dieselfde mate te bevorder. Dit sou 'n geval wees van verdeelde aksies sonder om Engelse invloed doeltreffend te weer. Die ATR sal sy vertroue in 'n enkele Afrikaans-variëteit moet plaas. Vir hierdie doel is daar net een sinvolle kandidaat, naamlik Standaardafrikaans. Dit is lankal tyd dat die ATR dit besef en die knoop deurhaak.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top